
...
Maar daar is hoop, sê Mostert, en verwys na De Bono wat reeds in die tagtigerjare gesê het denke kan aangeleer word, “soos klavier speel of sokker”.
...
Heindrich Wyngaard neem bestek op ná ’n video-gesprek met die toekomskundige Morné Mostert en die politieke wetenskaplike Alida Kok oor die vraag: “Hoe dink Suid-Afrikaners oor dit wat rondom ons aangaan?”
*
Hy meen die eerste vraag is die maklike een. Die vraag is wat die definisie van denke is en waarom denke saak maak. “Die menslike verstand is ’n komplekse ding,” sê hy. “Ons is nie masjiene nie.” Maar hy verduidelik nie heeltemal wat hy daarmee bedoel nie. Of dien die volgende stelling as verduideliking? “Met die eerste industriële revolusie is masjiene voorgestel as die dominante model van sukses en werk, ens. Dit het gelei tot negatiewe wyses waarop ons ons verstand gebruik.”
Hierdie verdere gedagte raak meer verteerbaar: “Wanneer jy nie [self of vir jouself] kan dink nie,” sê hy, “is jy blootgestel aan die gety van die samelewing en die wêreld rondom jou.” Dit is wat hy, Morne Mostert, ’n toekomskundige en stelselsdenker, glo. “Jy dryf eintlik dan maar saam met wat rondom jou gebeur, terwyl as jy jou denkvermoë ontwikkel, stel dit jou in staat om ’n aktiewe verhouding met jou omgewing te skep en kan jy só probleme oplos vir jouself, jou familie, jou organisasie en jou samelewing.”
Hy het ’n gespreksgenoot. Haar naam is Alida Kok, ’n dosent in politieke wetenskap aan Akademia. In haar rubrieke hou sy haar veral besig met die denke of denkwyses van ander. “Die woord dink moet versigtig gebruik word,” maan sy, want mense word “maklik meegesleur deur aannames, persepsie, emosie”.
Die groot ding waarop vandag klem gelê word, sê sy verder, “is die daad – die groot politieke ding wat moet gebeur”, maar dan word sodanige daad nie altyd “deur denke onderlê nie”. Mense, mense, mense: Julle verloor te maklik julle kop “omdat julle so maklik meegesleur word” deur wat byvoorbeeld op sosiale media en deur algoritmes aangebied word. Alida Kok sê so; sy sê ook: “Mense raak nie genoeg stil nie.”
Om jou te help sin maak hiervan, haal sy die storie by Plato se “grotwet” aan. In dié ou metafoor sit ’n klompie mense vasgekeer in ’n grot – en staar na die skadu’s teen die grotmuur. Hulle glo dit is die werklikheid wat hulle aanskou. Maar Plato se bedoeling met dié verhaal, verduidelik sy, is om jou aan te moedig om uit die donker van die metaforiese grot te kom en in die sonlig buite die grot ’n gewaarwording te ontwikkel. “Maar jy kan dit nie hê as jy nie stil word nie,” sê sy. Dit is die groot verskil tussen “kontemplatief” (of nadenkend) lewe teenoor ’n aktiewe lewe (in die politiek byvoorbeeld).
Die Wyngaard Weekliks-gesprek tussen Kok en Mostert het sowel gewone landsburgers as “senior leiersfigure” in die politiek en die openbare én private sektor in gedagte. Mostert sien egter ’n skaarste aan die “kontemplatiewe” ingesteldheid waarna Kok verwys het in sy werk met senior leiers in die korporatiewe omgewing.
In die openingsin van die voorwoord van sy nuwe boek, Executive futures – a quest for quantum curriculum, stel hy dit skroomloos: “Most executives know more about how to use ChatGPT than they know about their own forms of intellectual processing.” Die titel van die voorwoord is “Artificially intelligent”. Maar daar is hoop, sê Mostert, en verwys na De Bono wat reeds in die tagtigerjare gesê het denke kan aangeleer word, “soos klavier speel of sokker”.
Dit gebeur op drie vlakke: die inhoud van jou denke; die vlak van jou denke (operasioneel of strategies); en die metodiek van jou denke. Hierdie laasgenoemde vlak van denke, sê Mostert, het te doen met “die tipe vrae wat jy vra, met ander woorde hoe jy ondersoek instel na jou probleem”. Wat is die voordeel daarvan? Dit kan tot velerlei oplossings lei.
Die belangrikheid van eie oplossings deur eie denke skakel goed in by Hannah Arendt se idees oor die totalitêre staat. Dit is nie Alida Kok wat so sê nie; dit is die skrywer van hierdie artikel wat die afleiding maak. Kok se meestersgraadverhandeling bied ’n kritiese bespreking van die openbare sfeer en politieke handeling in die politieke teorie van Arendt, waarin Kok poog “om handeling – of ‘politieke aksie’ – weer terug in verhouding met die huis te plaas”.
“Ons kom van ’n huis af,” sê sy nou. “Ons het ’n oorsprongverhaal,” bou sy daarop voort, “en soos ’n mens ouer word, wil jy altyd terugkeer huis toe, maar jy kan nie. Wat politiek eintlik is, is om altyd skeppend in die toekoms in te projekteer. Die samehang van die tradisie is nie in die verlede nie; dis in die toekoms.”
Ons kan die tegnologie – ook KI – en die vordering wat dit beteken, nie ignoreer nie, sê Kok. Maar in die politiek, wat veronderstel is om kreatief te wees, sit jy met ’n klomp individue in hierdie prentjie wat die politiek betref en almal het hulle eie begeertes, of “desire”, wat hulle dryf. Dit bekommer haar dat jongmense, wat vandag KI vir alles gebruik, geen vuur meer in hulle het nie, want hulle kry net onmiddellik antwoorde op al hulle vrae – as hulle enigsins nog ’n vraag kan uitdink. Fataal, finaal: Hulle is nie meer nuuskierig oor enigiets nie.
“Maar die politiek is so – en die denke is so – dat dit nie gaan oor die antwoorde nie, maar oor die vrae,” sê sy. Sy haal die digter Maria Rilke Rainer aan uit sy briewe aan ’n jong digter: “... dat jy die vrae so lief moet hê soos geslote kamers waarvan jy die deur nie kan oopforseer nie”.
Mostert sien egter nog (in sy internasionale werkservaring) nie slegs ’n nuuskierigheid onder jongmense nie, maar ook ’n bereidwilligheid om met kreatiewe voorstelle nuut te dink en te skep, soos ’n nuwe stad in ’n Saoedi-Arabiese omgewing, wat gemik is op “speel”. Die oorhoofse vraag vir hom is: “Hoe sou jy anders dink as jy aanvaar die toekoms bestaan?” Waarmee hy egter meermale (in Suid-Afrika, in elk geval) gekonfronteer word, is ’n soort heimwee in die dialoog (“as ons maar net kan terugkeer”), en as dit nie werk nie, opgevolg met ’n “ja, maar onthou ...”. In werklikheid is daar ’n enorme risiko in die “terugkykbenadering”, dikwels aangebied in “back-to-basics”-programme, en dit bekommer Mostert.
Die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) se werk en funksionaliteit kom ook onder die loep in die gesprek: Mostert is ’n NBK-kommissaris; Kok huldig ’n mening wat ’n onderskeid tref tussen die benadering tot instellings soos die kommissie van mense in die Noorde teenoor dié in die Suide van die land: “Dit is asof daai goed mense net glad nie interesseer nie. Dit is nie deel van hulle dashboard nie.”
Nostalgie dalk wel, stel die gespreksleier voor. Dit is baie betekenisvol dat die woord nostalgie hier gebruik word, sê sy, want die oorsprong van nostalgie is nóstos (in Grieks die “tuiskoms” van die held). Mense het ’n behoefte om “terug te keer huis toe”, hulle wat om verskeie redes uit die openbare sfeer geskuif is – “en gevolglik is al hierdie meganistiese dinge van die regering [soos die NBK], hierdie geweldig korrupte regering, hierdie mafiastaat van ons in vele opsigte, net besig om mense die josie in te maak”. Uit verskeie oorde is mense daarom besig om op hul eie herstel teweeg te bring, eerder as om op die staat te sit en wag, sê Kok.
Wat sou die kunste hieroor te sê hê, of wat sou dit met ’n gesprek oor denke te make hê? “Ek dink ons het baie te leer deur die wyse waarop kunstenaars dink,” antwoord Mostert. “Dikwels as ons die kunstenaars bestudeer, sien ons hulle stel nie belang in herstel nie, maar in [daar]stel,” sê hy. Herstel: agtertoe; daarstel: vorentoe. “Die kunstenaars wil eintlik iets uitwys, soms propagandeer; soms wil hulle ondermyn,” verduidelik hy, “maar hulle eerste vraag is eintlik om te dink oor ‘wat is my boodskap en my medium en op watter manier kan ek die waarnemer op ’n reis neem?’. En dikwels het dit te make met die konneksies eerder as die aparte dele.”
’n Laaste inset van Kok oor die wyse waarop mense dikwels slegs op die ontledings van byvoorbeeld politieke kommentators staatmaak om hulle te help om gebeure beter te verstaan en hulle denke te help ontwikkel: “Hulle kan nie nét daarop staatmaak nie; dit is maar deel van hierdie getye wat hulle kan vat van een kant na die ander kant toe,” sê sy.

