Poësiewerkswinkel met Bibi Slippers by die Breytenbach Galery: ’n onderhoud

  • 0

Bibi Slippers vertel vir Naomi Meyer van ’n poësiewerkswinkel wat sy binnekort by die Breytenbach Galery aanbied.

Bibi, kom ek vra jou eerste oor jou naam. Was jou naam al jou eerste gedig? Wat is jou volle naam of name en hoekom is dit nou Bibi?

My volle name is Beatrice Barbara Slippers. Van die B en die B kom Bibi. As dit ’n gedig is, is dit nie my werk nie, maar my ouers s’n. 

Ek vra jou hierdie vraag omdat ek om ’n draai vir jou vra of enigiemand wat gedigte wil skryf, ’n manier moet hê om anders na die lewe te kyk. Of dalk sinopties moet kan dink. Is daar voorvereistes vir digterskap?

........
Ek dink eerlikwaar ons is almal bedraad om digters te wees, dat poësie so deel van ons elkeen is soos die ritme van ons hartklop en ons asemhaling, en die neiging na taal. Poësie is ouer as geletterdheid en verskyn gewoonlik, in byna elke kultuur, voor prosa. So, menslikheid is die enigste voorvereiste vir digterskap.
........

Ek dink eerlikwaar ons is almal bedraad om digters te wees, dat poësie so deel van ons elkeen is soos die ritme van ons hartklop en ons asemhaling, en die neiging na taal. Poësie is ouer as geletterdheid en verskyn gewoonlik, in byna elke kultuur, voor prosa. So, menslikheid is die enigste voorvereiste vir digterskap. Dat sekere mense beter digters is as ander is egter ook waar – en ek dink dit gaan oor die ontwikkeling van spesifieke breinfunksies. My teorie is dat mense wat multidimensioneel kan dink (aan baie dinge gelyk), maklik gaan snap hoe mens goeie gedigte maak. Gevoeligheid is ook belangrik, die vermoë om aandagtig te wees, ’n obsessie met die rou materiaal van poësie, naamlik woorde. Die ander vereiste is ’n liefde vir lees, veral die lees van poësie. Dis die beste manier om die poësiespier te oefen.

Bibi Slippers (foto: Wikus de Wet)

Bibi, ek wil jou inderwaarheid vra oor die praktiese poësiewerkswinkel wat jy binnekort in Wellington aanbied. Wat gaan daardie dag gebeur?

Ons gaan vir ’n paar ure stip kyk na gedigte, en lesse uit daardie gedigte probeer leer wat op die skryf van jou eie gedigte toegepas kan word. Die werkswinkel is ’n kombinasie van lees, analise, praktiese oefeninge, teorie, inspirasie – en hopelik heelwat kennis wat in die proses oorgedra word, en waarmee mense kan huis toe gaan en wat hulle kan gaan toepas, en verder kan gaan werk aan hulle skryfwerk.

Wie is die ideale kursusganger? 

Enige iemand wat reeds lief is vir poësie, en graag wil leer hoe om daardie liefde te vertaal na kennis, insig en vaardighede om hulle eie skryfwerk te verbeter. 

Gaan mense wat graag wil skryf, maar dalk skaam is om hul gedigte vir andere voor te lees, ook kan kom? Is gedigte skryf ’n privaat- of ’n voorlees-gebeurtenis? Gaan jy mense privaatleiding ook gee, saam met hulle hul gedigte lees en terugvoer gee?

Daar is geen druk om tydens so ’n werkwinkel enige iets voor te lees as jy nie wil nie. Dis min tyd om ’n volledige gedig te probeer skryf. Die mikpunt sou eerder wees om vingeroefeninge te demonstreer wat jou vaardigheid met tyd kan help slyp, en om jou kritiese blik te ontwikkel, sodat jy self jou eie skryfwerk kan takseer en verbeter.

Daar is sekerlik mense vir wie gedigte skryf ’n privaat aangeleentheid is, maar die meeste digters wat ek al ontmoet het, het eintlik ’n behoefte om hulle werk met ander te deel. Nie almal hou egter van voorlees nie – party mense wil net graag gelees wees. Dis altyd leersaam om as groep na deelnemers se werk te kyk en om terugvoer te gee wat almal kan help, maar niemand word in ’n hoek gedruk of gedwing om hulle werk te deel nie. ’n Werkswinkel soos hierdie, waar ’n hele groep saam deelneem, is nie 100% geskik vir diepgaande terugvoer op individuele digters se werk nie – daar is ander geleenthede en platforms daarvoor, waaroor digters ook by dié geleentheid sal leer.  

Bibi Slippers by ’n poësiewerkswinkel in Johannesburg (foto: Jo Prins)

Is ’n mens se eerste poging tot ’n gedig ’n goeie poging? Meestal, soms, nooit? Hoekom of hoekom nie?

Die eerste poging is nie gewoonlik die beste weergawe nie. Sukses kom met oefening, soos met enige ander ding. Iemand wat môre vir die eerste maal begin draf, gaan waarskynlik nie oormôre vir Gerda Steyn by die Comrades weghol nie. Dis maar presies dieselfde met skryf. Om goeie poësie te skryf verg ’n groot klomp tegniek wat aangeleer en ingeoefen moet word. En selfs al is jy goed geolie en reeds ’n goeie skrywer, geld die geykte ou reël steeds vir almal: Skryf is herskryf.

........
En selfs al is jy goed geolie en reeds ’n goeie skrywer, geld die geykte ou reël steeds vir almal: Skryf is herskryf.
........

Kan een mens ’n ander mens leer om gedigte te skryf? 

Mens kan definitief lesse by iemand anders leer ja, maar jy moet ook self oefen om dit suksesvol toe te pas. Ek weet een mens kan ’n ander mens leer, want Marlene van Niekerk en Willem Anker het my geleer. Jy kan egter net soveel en meer leer deur goeie digters te lees. Ek dink werklik lees is die beste leerskool vir ’n digter. Maar dit help as iemand jou ook leer hoe om te lees, waarna om te kyk, en hoe om die dinge wat jy in ander se gedigte raaksien, self toe te pas.

Wie is jou gunstelingdigters? In enige taal – ook in Afrikaans.

Anne Carson. Antjie Krog. Anne Michaels. Jolyn Phillips. Sam Riviere. Loftus Marais. Jack Underwood. Danie Marais. Emily Berry. Charl-Pierre Naudé. Ben Lerner. Breyten Breytenbach. Mark Doty. Sheila Cussons. Tony Hoagland. Isobel Dixon. Billy Collins. Finuala Dowling.

Ek kan heeldag aanhou met hierdie lys. 

Moet mense wat inskryf, voor die tyd gedigte lees? Sou dit nie hulle eie digterstemme vertroebel nie?

Dis interessant – indien mense nie regtig lees nie, maar gedigte skryf, word hulle stemme in elk geval vertroebel deur die laaste gedigte wat hulle wel gelees het – en dan is dit dikwels die rympies wat hulle as kleuters geleer het. So, lees asseblief, en laat jou stem asseblief vertroebel word deur meer onlangse invloede. En dan kan ons gesels oor Harold Bloom se idees oor die angs van beïnvloeding, en kyk wat hedendaagse digters daarmee maak.

Bibi, wat moet mense nog weet? Hoe skryf hulle in, wat moet hulle saambring?

Mense kan die Breytenbach Sentrum kontak vir navrae – stuur ’n e-pos aan jessica@breytenbachsentrum.co.za.

Volg hierdie skakel om te bespreek: https://forms.gle/Bc5xuSvx3M4pjXMa9.

Die koste beloop R850 per persoon, en sluit middagete in. Daar is twee plekke beskikbaar vir kursusgangers wat nie die inskrywingsgeld kan bekostig nie, maar graag wil deelneem. Kontak vir Jessica by die bogenoemde e-pos-adres vir navrae oor die twee “beurse”. 

Bring ’n pen en ’n notaboek en jou brein!

Hier is die skakel na die inligting: https://www.instagram.com/p/DJGwM6WO8rf.

Lees ook:

Om te skep: Cradock-paragrawe en lesse van lepels

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Bibi Slippers

Om Bibi Slippers in Gqeberha te vind: ’n lesersindruk van Soekenjin

LitNet Akademies-resensie-essay: In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers

Foto-onderhoud: Bibi Slippers oor Fotostaatmasjien

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top