Pniël Adam Small-fees 2019: ’n Onderhoud met Marlene le Roux

  • 0

Marlene le Roux

Die derde Pniël Adam Small-fees, waar die Suid-Afrikaanse digter en dramaturg Adam Small vereer word, is om die draai. Dié jaarlikse literêre fees vind hierdie naweek, van 22 tot 24 Februarie, in die Bolandse dorpie Pniël naby Stellenbosch plaas.

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap-teater in Kaapstad, is een van die sprekers en lewer ’n boodskap van hoop oor Small se nalatenskap.

Marlene, wat is jou verwagtinge vir die komende Adam Small-fees? Waaroor is jy opgewonde?

My verwagting is dat die fees die mense van Pniël sal baat en dan ook die gemeenskappe rondom hierdie unieke dorp. Ek is opgewonde oor die diversiteit van ons gemeenskappe, en dis dan ook een van die redes waarom Thuli Madonsela die gasspreker van die SBA Adam Small-gedenklesing is – om die diversiteit en inklusiwiteit van Afrikaans in ons veeltalige landskap te onderstreep.

Marlene, jy gaan by die fees praat oor Adam Small se nalatenskap. Vertel ons meer hiervan?

Dis belangrik dat ’n jonger generasie van lesers en Afrikaans-gebruikers die mense onthou wat hierdie diversiteit van Afrikaans en van ons gemeenskappe help vorm het. Adam Small was een van die digters wat ’n reusebydrae gelewer het, ook tov Kaapse Afrikaans of Afrikaaps. Sy gedigte praat ook van hoop, byvoorbeeld die gedig wat hy in 1973 geskryf het na die brutale vernietiging van Distrik Ses:

Klim yt die klippe yt
Op, pellie
Klim yt die klippe yt
Op.

Hierdie gedig is vandag nog net so relevant as toe.

Waarom is dit belangrik om Adam Small se nalatenskap te vier?

Adam Small het in die armoede van Wellington grootgeword. Hy het die mense van die platteland geken, en deur sy werk, deur sy gedigte het hy ook aan hierdie mense ’n stem gegee – veral toe hulle stemme onderdruk was. Sy literêre werk as digter en dramaturg het nie losgestaan van sy werk as maatskaplike werker nie.

In 2017 is daar ’n borsbeeld van Adam Small by die Kunstekaap bekendgestel, en meer onlangs is die HB Thom-teater in Stellenbosch na Adam Small vernoem, om ’n paar voorbeelde te noem. Dink jy daar word genoeg erkenning gegee aan persone soos Small vir hulle bydrae tot die Afrikaanse kunste, of kan daar meer gedoen word?

Daar kan beslis meer gedoen word – dis hoekom die SBA byvoorbeeld die gedenkgesprek op Vredenburg gehou het ter ere van Patrick Petersen en waarom ons onlangs die boek van Achmat Davids, Die Afrikaans van die Kaapse Moslems, verwerk deur Hein Willemse, in ’n eenvoudiger weergawe uitgegee het vir die jonger lesers en vir die persoon op straat.

Adam Small het ongetwyfeld ’n geweldige bydrae tot die kunste gelewer. Wat is jou mening oor die huidige stand van Afrikaanse teater?

Kunstekaap is ’n staatsinstelling wat egter nie geld van die staat ontvang vir produksies nie. Dit is ’n model wat aangespreek moet word en in dié opsig gaan dit nie net oor Afrikaans nie. Afrikaanse teaterstukke kry baie blootstelling op die verskeie kunstefeeste, maar dit moet ook stukke insluit wat op die rand staan – byvoorbeeld die onlangse produksie Krotoa – Eva van de Kaap, wat in samewerking met die Nederlandse Volksopera aangebied is, met uitstekende resensies, en ’n aangrypende stuk soos Ouma Katrina – die dansende taal van Coenie de Villiers en die koreograaf Kirvan Fortuin.

Laai die finale program in pdf-formaat af.

Lees ook

Pniël Adam Small Fees 2019: Darryl David gesels met Naomi Meyer

Die vrystelling van slawe: Pniël-gemeenskapsmuseum – "Ons storie"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top