’n Blik op die produksie Krotoa: Eva van de Kaap

  • 0

In die hedendaagse Suid-Afrika ontmoet ’n Nederlandse akteur, Thijs, en ’n Suid-Afrikaanse aktrise, Sam, mekaar kamtig op die stel van ’n fliek wat handel oor die Khoi-vrou Krotoa. Thijs vertolk die rol van Jan van Riebeeck, die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie- (VOC-) handelaarsbevelvoerder wat in 1652 ’n verversingstasie in die Kaap gevestig het.

Sam vertolk die rol van Krotoa, die jong Khoi-meisie wat deel van Van Riebeeck se huishouding geword het en later ’n belangrike onderhandelaar en vertaler tussen die Hollanders en die plaaslike mense geword het.

Die verhaal van Krotoa ontroer die fiktiewe akteurs Thijs en Sam, en hulle vind dit moeilik om hul persoonlike lewens van dié van hul karakters te skei. Só gaan die twee op ’n geestelike reis waar hulle gekonfronteer word met die realiteite van Suid-Afrika se geskiedenis en reflekteer oor die verhaal van Krotoa…

Die produksie Krotoa: Eva van de Kaap, wat deur die Kunstekaap in samewerking met die Nederlandse teater die Volksoperahuis aangebied word, is tans in die Kunstekaap in Kaapstad te sien. Die toneelstuk, wat geskryf is deur die joernalis Sylvia Vollenhoven, met regisseur Basil Appollis wat die regie behartig, kyk  op ’n unieke manier na ’n ondergewaardeerde figuur in Suid-Afrika se geskiedenis. Die Suid-Afrikaanse aktrise Bianca Flanders vertolk die rol van die fiktiewe aktrise Sam, wat Krotoa in die fiktiewe fliek vertolk, en die Nederlander Kees Scholten vertolk die rol van Thijs en Jan van Riebeeck.

Soos deur Vollenhoven verduidelik, bring hierdie toneelstuk hulde aan Krotoa en poog dit om die verwronge rekord en beeld van Krotoa reg te stel. Vollenhoven sien hierdie geleentheid as ’n geleentheid vir herstellende geregtigheid, en sê dat die verontregte Khoi-voorouers die nodige respek verdien wat hulle nie destyds gekry het nie. Krotoa se aangrypende verhaal kry nie altyd die noodsaaklike aandag wat dit verdien nie, en dáárom is dit noodsaaklik om haar verhaal te vertel. Dit is ook vanjaar die Verenigde Nasies se Internasionale Jaar van Inheemse Tale, wat ’n produksie soos dié selfs meer betekenisvol en relevant maak in Suid-Afrika.

Foto's: YouTube

Die produksie ondersoek die verhaal van Krotoa, wat die ware verhaal is van ’n Khoi-vrou wat as tolk tussen die Khoi-mense en die VOC-amptenare opgetree het. Krotoa was familie van Autshumao (Herry de Strandloper), wat in die 1600’s as tolk en bemiddelaar vir die Europeërs opgetree het, om en by die tyd toe Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap aangekom het. Krotoa het in Van Riebeeck se huis gewerk, en later as tolk en bemiddelaar tussen die Hollanders. Krotoa was ook die eerste inheemse persoon van Suider-Afrika om as ’n Christen gedoop te word. Die Nederlandse setlaars het haar Eva gedoop. Later is sy met ‘n Deense chirurg, Pieter van Meerhoff, getroud, en hulle huwelik word beskou as die eerste huwelik tussen mense van verskillende rasse in Suid-Afrika. Van Riebeeck se opvolger, Wagenaer, was egter agterdogtig oor Krotoa se lojaliteit, wat verdeel was tussen die Hollanders en die Khoi. Nadat Van Meerhoff oorlede is, is Krotoa na Robbeneiland toe verban, waar sy later gesterf het.

Die toneelstuk ondersoek ook hoe Krotoa emosioneel geknak is deur die botsing van twee kulture: dié van die Khoi-mense en dié van die Nederlanders. Die twee fiktiewe akteurs, Thijs en Sam, sukkel beide om hulle karakters ten volle te verstaan en te vertolk. Dit is veral Thijs, wat sukkel om Van Riebeeck se dade en optrede te verstaan en ontsteld word wanneer die regisseur van die fiktiewe rolprent vir hom sê hy moet Van Riebeeck as "aangenaam" vertolk. Thijs en Sam beleef ’n warboel van emosies en ondergaan innerlike konflik wanneer hulle gekonfronteer word met die nare werklikheid van Krotoa se geskiedenis. Wat is die pad vorentoe? Hoe stel ’n mens die verkeerde dade van die verlede reg? Dit is net sommige van die vrae waarvoor hulle te staan kom.

Krotoa: Eva van de Kaap is tans in die Kunstekaap te sien.

Elemente van metateater is duidelik in die produksie te sien, in die manier waarop dit wissel tussen tonele van die fiktiewe akteurs Thijs en Sam en tonele van Van Riebeeck en Krotoa. Die gehoor kyk dus na twee akteurs (Kees Scholten en Bianca Flanders) wat twee akteurs (Thijs en Sam) vertolk, wat weer op hulle beurt die twee karakters Jan van Riebeeck en Krotoa vertolk. Die produksie bied dus uiters relevante geskiedkundige gebeure op ’n vars en interessante manier aan. In plaas daarvan dat die verhaal van Krotoa slegs lineêr aangebied word, word daar op dié manier ruimte vir nodige refleksie en nabetragting geskep. Die gehoor word op ’n verfrissende manier met die verhaal van Krotoa gekonfronteer, en word genoop om saam krities te dink en te wonder oor die verlede en hoe dit die hede beïnvloed.

Scholten en Flanders kwyt hulle goed van hulle taak en lewer beide sterk en geloofwaardige vertolkings. Hulle vermoë om tussen Thijs en Sam, en Jan van Riebeeck en Krotoa te wissel is treffend. Die dinamiek tussen die twee akteurs is boeiend en hulle het ’n energie en teenwoordigheid op die verhoog wat noemenswaardig is. Komiese tonele sorg vir ’n paar ligpunte en oulike oomblikke om die swaar tonele te balanseer. ’n Toneel waar Sam vir Thijs leer rieldans om hom te laat ontspan en te laat lag, is veral kosbaar.

Een van die hoogtepunte van die produksie is beslis die musiek. Die produksie sluit in oorspronklike musiek van Frazer Georgio Barry en Jef Hofmeister, en Bradley van Sitters is die Khoekhoe-taalkonsultant. Die musiek is ’n samesmelting van Westerse musiek en Khoi-klanke, en skep die gepaste atmosfeer.

Beslis ’n goeie ervaring en die kyk werd om meer te leer oor ’n belangrike deel van Suid-Afrika se geskiedenis.

Krotoa: Eva van de Kaap is tot 16 Februarie in die Kunstekaap-teater in Kaapstad te sien.

Lees ook op Voertaal en LitNet

Sylvia Vollenhoven: "Je kunt het heden niet losmaken van het verleden"

Frazer Barry: "Ik heb ervoor gekozen om Khoi te zijn"

Krotoa: ’n mening

Krotoa movie: an interview with Kaye Ann Williams

Krotoa: uit ’n historiese oogpunt

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top