Pniël Adam Small Fees 2019: Darryl David gesels met Naomi Meyer

  • 1

Darryl David vertel vir Naomi Meyer van die derde Adam Small-fees wat binnekort in Pniël plaasvind.

Darryl, dis tyd vir die Adam Small-fees in Pniël! Wat beskou jy as die hoogtepunte by die fees vanjaar? Enigiets of enigiemand wat jy spesifiek wil uitsonder?

Must you ask? Ongetwyfeld Thuli Madonsela. Ek het haar al verlede jaar genader. Ons is net te bly dat sy nie van ons vergeet het nie. En vir die onderwerp, “What about de lô”. Meer perfek gaan jy nie kry nie. 

Een van die hoogtepunte vir gehoorlede om in hierdie moeilike ekonomiese tye uit te sonder is die feit dat die fees gratis is. Maar is dit so? Kan ’n mens opdaag en, sonder om enigiets te bespreek of ’n kaartjie te koop, kom luister na almal wat optree? Is hier uitsonderings, iets waarvoor mense moet betaal? Wat van die etes?

Hulle sê “There is no such thing as a free lunch.” Wel, by die Adam Small-fees is dit nie die geval nie. Alle lesings is gratis. Die etes vir die skrywers is alles gratis. Ongelukkig sal besoekers wel vir hul etes moet betaal. Maar niemand sal sekerlik hieroor kla nie. 

Hierdie fees is al in sy derde jaar. Wat het jou oorspronklik die idee hiervoor gegee? Wat gryp jou aan van Adam Small as literêre figuur en as mens? En hoekom Pniël?

Ek wou altyd ’n fees vir Adam Small begin. Maar hy kom van Wellington af. Ek het nie geweet hoe om verby die probleem van Breyten te kom nie, want Adam Small sou daar altyd in die skadu van Breyten gestaan het. Virginia Woolf se bekende roman A room of one's own is hier ter sprake. Elke skrywer het ’n wêreld nodig wat eie is aan hom of haar. Toe ek vyf jaar gelede die kerk op Pniël besoek het vir my kerkboek Church tourism in South Africa, het ek vir my vrou en dogter gesê ek gaan eendag ’n fees op Pniël begin. Hulle het net hul oë gerol. Na Adam Small se dood het ek besef ek was te laat. Maar ek het geweet as ek dit nie nou doen nie, sal dit nooit gebeur nie. Kyk wat het van Outa Lappies geword. Na sy dood wou almal iets doen om sy nalatenskap te herdenk. Nadat ek Murray la Vita se onderhoud met Small gehoor het, was ek vasbeslote om daardie fees binne ’n paar maande op die been te bring. Ek het instinktief geweet Pniël is die plek. Ek was so siek einde 2016. Ek kon nie my hande gebruik nie. My vrou moes my skoene vir my aantrek en my voer. Maar die proses om die Adam Small-fees in die lewe te roep het my genees. Ek sê altyd vir mense: As jy Pniël toe gaan, voel jy die liefde. Sommige gemeenskappe is net so. 

Wat gryp my aan oor Adam Small as literêre figuur? Ek wil nie arrogant klink nie, maar hy herinner my aan myself. Nie in die opsig dat ek ooit ’n skrywer van formaat gaan wees nie. Maar dis sy sagte geaardheid. Sy buitestanderskap. Jy moet onthou ek is ’n Indiër met ’n donker vel. Ek pas nie perfek in by die Afrikaanse akademie nie. Toe ek hierdie pad begin het, het ek mense hoor sê: ’n Koelie sal nooit ’n voet in ons dorp sit nie. In Soweto het ek vir die eerste keer in my lewe wit gevoel. Die jonger geslag swart skrywers het daardie fees geboikot. So onwelkom dat ek nooit weer ’n voet in Soweto sal sit nie. In Durban, die mini-Indië van Suid-Afrika, nadat ek die Unesco City of Literature-status na die stad gebring het, het hulle vir my gesê die stad sal nie ’n Indiër as direkteur van hierdie gesogte prys duld nie. Nee wat, ek is ’n buitestander. Ek ken Adam Small se pyn maar alte te goed. Die enigste lig aan die einde van die tonnel is dat universiteite ná my dood lesingsale na my sal vernoem, as ’n mens na Adam Small kyk. 

Jy is wyd bekend as die organiseerder van feeste dwarsoor die land, en nou is jy ook ’n inwoner van die Wes-Kaap. Wil jy dalk vertel waar jy jou deesdae bevind?

Ek gaan jou antwoord omdat ek weet my ouers verstaan nie Afrikaans nie. Want dit sal hul harte breek. Die kort antwoord is dat ek nog nie ’n inwoner van die Wes-Kaap is nie. Maar ek is op pad. Ja, Stellenbosch se nonnatjies roep my, roep my na die Eikeland ...

Ek het ’n pos by die Universiteit van die Wes-Kaap aanvaar. Dieselfde pos wat ek twee jaar gelede van die hand gewys het! En die droom is om in Pniël ’n huis te koop. Pniël. Johannesdal. Kylemore. Because I am a slave to beauty! Daar is iets oor berge wat goed is vir die siel. My vrou het klaar gesê dis waar sy wil wees. En as my pa hoor deel van my Adam Small-fees vind in die kerk plaas, sal dit definitief sy gebroke hart troos. Na my paar jaar as Ingelsman, as dosent van Engels, weet ek sonder enige twyfel: Ek hoort met Afrikaners, in die wydste sin van die woord. In die woorde van David Kramer: My tongue is English, but my heart is Afrikaans. 

Laai die finale program in pdf-formaat af.

  • 1

Kommentaar

  • Ai Darryl, sulke mooi woorde. Adam Small sou trots op jou wees en ons voel geeerd dat jy Pniel vir hierdie fees gekies het. Dis inderdaad iets om elke jaar na uit te sien en ons sien uit daarna om jou en die skrywers, EN Prof Thuli Madonsela hier op Pniel te verwelkom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top