Beste lid van PEN Afrikaans
Dis lekker om ons Desember-nuusbrief af te skop met:
'n Groot feestelike boekbonus met die komplimente van Taalgenoot
Klik op hierdie skakel en jy kry in PDF-formaat al dié inhoud uit die laaste drie uitgawes van die kwartaallikse tydskrif Taalgenoot wat relevant is vir lesers, leeskringe en skrywers. Dit sluit die volgende in:
Herfs 2016
- Die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Voor-bode deur Cas Vos, Stoffel – Die beste stories deur Christiaan Bakkes, Die naaimasjien en ander stories deur Rachelle Greeff, Voëlvry deur Piet van Rooyen, Die verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten, Portrette in my gang deur Dolf van Niekerk, Split deur Debbie Loots, Skryn deur Emma Bekker, In die blou kamp deur Dana Snyman, Donderslag deur Wilbur Smith (vertaal deur Zirk van den Berg) en Parool deur Breyten Breytenbach. Dié afdeling sluit ook ’n onderhoud met Dana Snyman in. Die volgende twee CD’s word resenseer: Drome deur Heuning en Nogtans sal ek sing deur Anneli van Rooyen.
- ’n Artikel oor storievertelklubs deur Elsabe Pepler
- ’n Artikel oor die stand van ons resensiekunde deur Samantha Buitendach
Winter 2016
- Die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Die bome reusagtig soos ons was deur Hilda Smits, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva deur Sophia Kapp, Atropos deur Hendrik J. Botha, Amraal deur Marinda van Zyl, Stem in die wind deur Dina Botha, Omega oor en uit – die stories van ’n opstandige troep deur François Verster, Struisvoël deur Johan Fourie en Vlees en bloed deur Riette Rust met Eileen de Jager en Roelien Schutte. Dié afdeling sluit ook in ’n kort bespreking van William Kentridge se monumentale fries, Triumphs and Laments, op die oewer van die Tiber in Rome asook ’n onderhoud met die fotograaf Hannelie Coetzee. Die volgende drie CD’s word resenseer: Chris Else deur Chris Else, As jy weet dis liefde deur Charlise Berg en Piekniek vir twee deur TWEE.
- ’n Profiel van Flori Schrikker en Koelsoem Kamalie. Hulle gesels met Stephanie Niewoudt o.m. oor hulle sukseskookboek, Kook saam Kaaps.
- ’n Profiel van die rymkletser Hemelbesem deur Christiaan J. de Swardt
- ’n Artikel oor die toekoms van Afrikaanse kunstefeeste deur Danie Marais
- ’n Artikel oor die nuwe taalstryd vir moedertaalonderrig en die stand van ons inheemse tale deur Karien Brits
Lente 2016
- Die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Broedertwis deur Albert Blake, Anderkant vergeet deur Santie van der Merwe, Vrediger deur Dibi Breytenbach, Bladspieël deur Marlise Joubert en Hy kom met die skoenlappers deur Valda Jansen. Dié afdeling sluit ook ’n bespreking van die Ingrid Jonker-keurspel-huldeblykalbum, Die kind is nog jonger, deur Jaco Nel in.
- ’n Profiel van die digter Joan Hambidge deur Eugene Goddard waarin Hambidge kommentaar lewer op die huidige taalstryd om die behoud van Afrikaans aan universiteite
- ’n Artikel oor Emily Hobhouse en Elsabé Britz se werk aan haar hoog aangeskrewe biografie oor Hobhouse deur Reza van Rooyen
- “Die taal van ’n revolusie” – ’n uittreksel uit Deon Maas se nuwe boek, Melk die heilige koeie, oor die stryd om oorlewing en erkenning waarin Afrikaans nog altyd gewikkel was.
Indien jy wil inteken op Taalgenoot het jy twee opsies:
Teken in op die digitale weergawe van Taalgenoot by: www.mysubs.co.za/magazine/taalgenoot Jy kan dit dan op jou rekenaar, skootrekenaar, tablet of slimfoon aflaai.
Teken in op die drukweergawe van Taalgenoot. Kontak Lillian Meyer by LillianM@atkv.org.za of (011) 919 9112 of volg dié skakel vir die doen-dit-self drukbare vorm en besonderhede: www.atkv.org.za/files/tg_-_intekenvorm_2015.pdf
As jy daarin belangstel om vir Taalgenoot te skryf, kan jy voorstelle en/of voorleggings direk na die redakteur, Johan Jack Smith, stuur: JohanS@atkv.org.za
Oor die jongste uitgawe van Taalgenoot, wat middel Desember verskyn, sê Smith:
"In ons Somer 2017-uitgawe is dit net flieks waar jy kyk: Ons gaan loer in by Gérard Rudolf wat op soek is na sy naam – ja, jy het reg gelees. Dis egter nie net akteurs met groot name wat van ’n rolprent 'n sukses maak nie en nadat jy die artikel oor vreemde beroepe in die fliekwêreld gelees het, sal jy twee keer dink voordat jy uit die fliek storm as die “credits” begin rol. Produkplasing in flieks is deesdae aan die orde van die dag en kom ook in dié uitgawe onder die loep. Ons gaan kyk ook wat gebeur wanneer digkuns en animasie trou en spekuleer oor die vraag: Is die Groot Afrikaanse Rolprent al gemaak?"
PEN Afrikaans se nuwe boekrubriek
Een van PEN Afrikaans se hoofdoelwitte is die bevordering van letterkunde en spesifiek die Afrikaanse leeskultuur. Om meer ruimte vir 'n stimulerende gesprek oor en rondom boeke te help skep was dus uit die staanspoor vir ons 'n prioriteit. Dit is daarom 'n plesier om aan te kondig dat daar vanaf die Herfs 2017-uitgawe 'n nuwe rubriek onder ons vaandel in Taalgenoot verskyn – "Boeke wat skrywers laat skryf". Dié rubriek sal 'n dubbelblad in die tydskrif beslaan en sal ook later digitaal op ons webportaal beskikbaar gemaak word.
Vir hierdie gleuf sal prominente skrywers om die beurt gevra word om te skryf oor dié Afrikaanse boeke wat hom/haar a) besiel het om te begin skryf en b) dié Afrikaanse boeke wat hy/sy voel oor die hoof gesien of onderskat is, maar hom/haar geïnspireer het.
Ons hoop hierdie reeks sal nie net verdere gesprek stimuleer nie, maar ook uiteindelik 'n interessante collage van literêre invloed oor 'n wye spektrum heen word.
Tweede weergawes van Elisha Zeeman en Jaco du Plooy se kortverhale vir PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool
In ons Oktober-nuusbrief het ons al ons lede hartlik uitgenooi om te gaan kyk na ons eerste aanlyn slypskool vir belowende jong skrywers op ons LitNet-webportaal.
Intussen is Danie Marais en Izak de Vries se eerste leesverslae gepubliseer en nou het die twee jong skrywers wat aan dié slypskool deelneem, Elisha Zeeman en Jaco du Plooy, op hul aanbevelings gereageer met die geredigeerde tweede weergawes van hul verhale.
Klik hier vir die tweede weergawe van Zeeman se kortverhaal; hier vir die tweede weergawe van Du Plooy se verhaal. Op hierdie bladsye vind jy ook skakels na De Vries en Marais se kommentaar saam met skakels na die eerste weergawes van Zeeman en Du Plooy se verhale.
Met aanlyn slypskole soos hierdie wil PEN Afrikaans 'n bydrae tot die ondersteuning en mentorskap van ontluikende skrywers maak. Ons is daarom baie bly om te sien dat Zeeman by die KKNK 2017 met 'n kabaret uit haar pen, Mond verby, debuteer.
Zeeman het vanjaar reeds die Kannapaneel beïndruk met haar eenvrou-vertoning by die sogenaamde Uitkampteater wat in klein tente op die feesterrein aangebied is, en sy is nou gekies vir die 2017-hoofprogram.
Haar eenvrou-kabaretdebuut word beskryf as 'n satiriese sketskomedie met ses uitspattige karakters wat hul ervarings oor die korporatiewe wêreld deel. Dit sluit glo ook ’n TED-talk oor die belangrikheid van lyfstraf in die werkplek in.
Elisha Zeeman
Opwindende programme vir die US Woordfees en KKNK
En van kunstefeeste gepraat: Sowel die US Woordfees en KKNK het in die afgelope maand opwindende feesprogramme vir volgende jaar bekendgestel. Die kaartjies is reeds beskikbaar en dit is raadsaam om vroeg te koop vir daardie toneelstukke, konserte of boekgesprekke wat jy beslis nie wil misloop nie.
Die volledige program vir die US Woordfees 2017 is hier beskikbaar.
Die volledige program vir die KKNK 2017 is hier beskikbaar.
Het jy vrae oor uitgewerskontrakte?
In die afgelope jaar het dit uit verskeie gesprekke met van ons lede duidelik geword dat uitgewerskontrakte vir skrywers 'n netelige kwessie bly. Aan die een kant is jy gretig vir publikasie, maar aan die ander kant is jy onseker wat redelik is ten opsigte van tantième, vertaalregte, herdrukke, film- en TV-regte ensovoorts.
Ons voorsitter, Kerneels Breytenbach, en ondervoorsitter, Marga Stoffer, het beide dekades se ervaring in die uitgewersbedryf, en hulle het albei vriendelik ingewillig om die vrae van ons lede rondom uitgewerskontrakte te beantwoord.
Stuur asseblief jou vrae teen 15 Januarie 2017 aan penafrikaans@gmail.com en Kerneels en Marga sal hul bes doen om helder antwoorde te verskaf wat ons in 'n volgende nuusbrief met al ons lede sal deel.
Nuwe Afrikaanse boeke in Desember
Ten slotte is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die Kersrakke het. Desember se publikasielys kan hier afgelaai word.
Met vriendelike groete en feeswense
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans