PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool vir belowende jong skrywers

  • 0

Die 28-jarige Frederick J Botha het met sy kortverhaal “Please help, God bless” in Augustus die langlys van ses vir die PEN International New Voices Award 2016 gehaal. PEN Afrikaans kon, soos alle van die meer as 100 PEN-sentrums wêreldwyd, twee jong skrywers (een manlik en een vroulik) tussen die ouderdom van 18 en 30 inskryf vir hierdie kompetisie.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat ’n kandidaat van PEN Afrikaans die langlys vir hierdie gesogte prys bereik. In 2015 was Carien Smith met haar kortverhaal “Likkewaan” op die langlys gewees.

Frederick Botha is een van die draaiboekskrywers vir kykNET se sepie Getroud met rugby en ’n deeltydse dosent aan UWK se departement Afrikaans en Nederlands. Hy werk tans aan sy doktorsgraad in die Afrikaanse letterkunde onder leiding van Thys Human aan die NWU. Botha het in 2014 Human & Rousseau se Nuwe stories 3-kompetisie gewen met sy kortverhaal “The day Madiba died”.

PEN Afrikaans het Botha se “Please help, God bless”, saam met “SkugterDigter” deur Lynné Schoeman vir New Voices 2016 ingeskryf. Dié twee verhale is as wenners aangewys in ’n kompetisie wat PEN Afrikaans in November 2015 uitgeskryf het. Die inskrywings is deur Danie Marais (bestuurder van PEN Afrikaans), Anzil Kulsen en Izak de Vries gekeur. Sowel Kulsen as De Vries dien op die bestuur van PEN Afrikaans.

Dié drie keurders van ons inskrywings was egter oortuig dat meer as twee verhale met potensiaal ingeskryf is. Aangesien PEN Afrikaans graag ontluikende stemme wil ondersteun, is besluit om ’n aanlyn slypskool in samewerking met LitNet op ons webportaal aan te bied vir die mees verdienstelike inskrywings wat ons ontvang het. Ons keurders het intussen weer koppe bymekaar gesit en besluit om ander jong skrywers na hierdie aanlyn slypskool te nooi. 

Twee van hierdie skrywers, Elisha Zeeman en Jaco du Plooy, het die uitnodiging entoesiasties aanvaar. 

Lees hier Zeeman se kortverhaal “Die vlieg en die waiter”; hier Du Plooy se kortverhaal “In alle veiligheid” en lewer asseblief opbouende kommentaar indien jy graag ’n indruk of voorstel wil deel. 

’n Week of twee ná publikasie van die kortverhale sal ’n kort keurverslag met aanbevelings deur Danie Marais en Izak de Vries aanlyn gepubliseer word.

Hierna sal die twee deelnemende skrywers twee weke kry om hulle aanbevelings te verwerk en ’n geredigeerde weergawe vir publikasie op PEN Afrikaans se LitNet-webportaal terug te stuur.

Danie en Izak sal ook keurverslae met voorstelle oor die tweede weergawe op LitNet publiseer en daarna sal die skrywers geleentheid hê om ’n finale weergawe vir aanlyn publikasie in te dien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top