PEN Afrikaans: Nog ’n feestyd-boekbonus met die komplimente van Taalgenoot

  • 0

Google jy “the death of arts journalism” kry jy 14 miljoen resultate in 0,55 sekondes. Dit is daarom uitstekende nuus dat ernstige joernalistiek oor boeke, kuns, taal en kultuur steeds helder in die kwartaallikse tydskrif Taalgenoot bloei. Dit maak van die Taalgenoot sowel ’n kleinood as ’n potensiële groeipunt en kosbare bron van kritiese perspektiewe vir enige kranige leser.

Taalgenoot gee prominensie aan resensies van Afrikaanse boeke, musiek en rolprente, onderhoude met skrywers en dergelike ander taalkwessies in ’n gehalte-publikasie met hoë produksiewaardes. Aangesien hierdie tydskrif tans slegs vir ATKV-lede en intekenaars beskikbaar is en hul boekeblaaie dus nie algemeen op die rak of internet verkrygbaar is nie, plaas ons graag met vriendelike vergunning dié inhoud wat relevant is vir lesers, leeskringe en skrywers hier op PEN Afrikaans se webportaal.

Met die klik van jou muis kan jy hierdie inhoud in PDF-formaat aflaai uit die volgende drie uitgawes van Taalgenoot – Herfs 2016, Winter 2016 en Lente 2016.

Herfs 2016:

cover2
  • Die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Voor-bode deur Cas Vos, Stoffel – Die beste stories deur Christiaan Bakkes, Die naaimasjien en ander stories deur Rachelle Greeff, Voëlvry deur Piet van Rooyen, Die verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten, Portrette in my gang deur Dolf van Niekerk, Split deur Debbie Loots, Skryn deur Emma Bekker, In die blou kamp deur Dana Snyman, Donderslag deur Wilbur Smith (vertaal deur Zirk van den Berg) en Parool deur Breyten Breytenbach. Dié afdeling sluit ook ’n onderhoud met Dana Snyman in. Die volgende twee CD’s word geresenseer: Drome deur Heuning en Nogtans sal ek sing deur Anneli van Rooyen.  
  • ’n Artikel oor die stand van ons resensiekunde deur Samantha Buitendach

Winter 2016:

voorblad-1
  • Die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Die bome reusagtig soos ons was deur Hilda Smits, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva deur Sophia Kapp, Atropos deur Hendrik J. Botha, Amraal deur Marinda van Zyl, Stem in die wind deur Dina Botha, Omega oor en uit – die stories van ’n opstandige troep deur François Verster, Struisvoël deur Johan Fourie en Vlees en bloed deur Riette Rust met Eileen de Jager en Roelien Schutte. Dié afdeling sluit ook in ’n kort bespreking van William Kentridge se monumentale fries, Triumphs and Laments, op die oewer van die Tiber in Rome asook ’n onderhoud met die fotograaf Hannelie Coetzee. Die volgende drie CD’s word geresenseer: Chris Else deur Chris Else, As jy weet dis liefde deur Charlise Berg en Piekniek vir twee deur TWEE.
  • ’n Profiel van die rymkletser Hemelbesem deur Christiaan J de Swardt

Lente 2016:

voorblad
  • Die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Broedertwis deur Albert Blake, Anderkant vergeet deur Santie van der Merwe, Vrediger deur Dibi Breytenbach, Bladspieël deur Marlise Joubert en Hy kom met die skoenlappers deur Valda Jansen. Dié afdeling sluit ook ’n bespreking van die Ingrid Jonker-keurspel-huldeblykalbum, Die kind is nog jonger, deur Jaco Nel in.
  • ’n Profiel van die digter Joan Hambidge deur Eugene Goddard waarin Hambidge kommentaar lewer op die huidige taalstryd om die behoud van Afrikaans aan universiteite.
  • Die taal van ’n revolusie” – ’n uittreksel uit Deon Maas se nuwe boek, Melk die heilige koeie, oor die stryd om oorlewing en erkenning waarin Afrikaans nog altyd gewikkel was.

(LW: Die kompetisies en pryse waarvan melding gemaak word, is reeds verby.)

Wil jy meer inligting oor Taalgenoot hê, inteken of dalk vir die tydskrif skryf? Lees dan hier verder:

Vir meer as 83 jaar lank al vertel Taalgenoot (TG) die stories wat die vry- en volkleurwêreld van Afrikaans laat tiek. Ons strewe na besonderse werk, nie middelmatigheid nie, en ons moedig verandering, vernuwing en kritiese denke aan. As amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die ATKV, neem ons jou op ’n reis deur al die verskillende fasette van Afrikaanswees: die kunste, leefstyl en gemeenskappe wat ons besonderse kultuur kenmerk. TG spreek tot jonk en oud, tot kreatiewes en konserwatiewes. Dit is eenvoudig dié tydskrif vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk.

 “In die lewe bestaan ’n noue verwantskap tussen die gehalte van die pêrels wat jy aanbied, en die kaliber van die ontvangers daarvan. Hoe valser die pêrels, des te egter die swyne. Daarom het ek in my beroep die reël probeer volg om nie maar net aan die publiek te probeer gee wat hulle wil hê nie, maar ook ’n goeie dosis van wat hulle behoort te wil hê." –  Piet Cillié, Afrikaanse koerantredakteur en professor in joernalistiek, uit Eet jou rape eerste, 1980

Wil jy vir Taalgenoot skryf?

Stuur voorstelle en/of voorleggings direk na die redakteur, Johan Jack Smith: [email protected]

Teken in op Taalgenoot

Teken in op TG en ontvang vier keer per jaar ’n tydskrif propvol interessanthede uit die volkleurwêreld van Afrikaans.

Jou opsies is:

Teken in op die digitale weergawe van Taalgenoot. Laai dit op jou rekenaar, skootrekenaar, tablet of slimfoon af: www.mysubs.co.za/magazine/taalgenoot

Teken in op die drukweergawe van Taalgenoot. Kontak Lillian Meyer by [email protected] of (011) 919 9112 of volg dié skakel vir die doen-dit-self drukbare vorm en besonderhede: www.atkv.org.za/files/tg_-_intekenvorm_2015.pdf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top