PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool: Onder eng’le

  • 0

Hierdie is die tweede weergawe van Jaco du Plooy se verhaal in PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool vir belowende jong skrywers.


Onder eng’le

jacoduplooy280Ek parkeer my bakkie in die skaduwee van een van Somerset Mall se wit mure, onbewus daarvan dat die son binnekort hier gaan begin bak. My kop is so besig soos ’n kusdorp in Desember; gesprekke met bestuurders stamp kort-kort teenaan ’n klagte of twee wat een van my wagte geopper het, bekommernisse oor die algemene uniformtekort klink op tussen opdragte van my pa en êrens bo dit alles sweef die herinnering van gisteraand se gebakte aartappels en hoender. Nadat ek al die please call me’s wat ek ontvang het van Grabouw tot hier delete het, gooi ek my werksak oor my skouer en loop fronsend na die naaste ingang.

Die breë gange in die mall is soos verwag stampvol mense. Jong meisies en ouens loop kaalvoet hand aan hand terwyl tannies wat aan trollies hang stadig naby die winkelvensters bly, nou en dan verby ’n koffiewinkel kruip waar families moerig besluit watter pizza hulle gaan deel. ’n Man in ’n Cash Converters-hemp dra ’n televisie aan agter ’n wit vrou wat haarself koel waai met ’n gevoude pamflet en groot baba-oë flits gereeld vir my in die verbyry op hulle ma’s se rûe.   

Ek beur ’n weg oop deur die konstante stroom mense totdat ek by die winkel aankom. Ek let onmiddellik op dat daar slegs een wag by die winkel se deur staan en vir ’n oomblik voel ek die angs wat vroegoggend by my opkom wanneer ek ingelig word dat een of ander wag nie vir werk opgedaag het nie; of dat hy wel opgedaag het, maar hopeloos te veel “mok na die wyn”. Hierdie probleme het ek ten minste nie met Nomfundo nie. Die rede dat dit juis sy is wat nou die besoekersregister vir my gee om te teken, is omdat ek haar gisteraand gesmeek het om op haar af dag te werk. Soos wat ek met haar vorige drie af dae ook gedoen het. Sy stem gewoonlik in en die bestuurders hou van haar, wat my werk aansienlik vergemaklik.

“Jy, bhuti. Unjani?”

“Ndiphilile, wena?”

“Nam ndiphilile, enkosi,” sê sy en krap met die pen in haar oor wanneer ek dit vir haar teruggee. “Bhuti, when am I getting my new trousers?” Sy beduie na die nate van haar broek en ek kan sien hoe verskillende kleure gare in driehoekies langs haar been af span. Haar trui kan nog gaan, maar die kraag van haar hemp is geel en al om die bokant staan die materiaal in snippers teen haar nek.

“Andiyazi, Ma. I spoke to Head Office today and they say it’s on its way,” herhaal ek die bekende wysie. “Where is Patrick?”

Sy glimlag en loer oor haar brilraam voordat sy antwoord: “Oh, that one, I’m telling you. He is here. I think he is checking the fitting rooms. Shaney wants to talk to you.”

“Okay, is there trouble again?”

“No, it’s about Patrick. They think he helps the people shoplift. But dont worry; I watch him and I can see when the tsotsis come in. You know me, last month I made five arrests.” Sy lag, trek haar skouers terug en slaan haar hande teenaan mekaar.

“Thanks for telling me. I can always relax when I know you are on duty, Ma. And thank you for working again today. Is she in the office?”

“Ja, you must still buy me lunch, nè. Ewe, bhuti, she’s there in the back,” sê sy en begin neurie saam met die liedjie wat seker tien keer per dag op die winkelgroep se radiostasie speel. Terwyl sy ritmies wieg met haar hande saamgevou, vra ek haar wat die woorde beteken. “Loliwe means the train, and the song says not to cry because the train will come.” Ek skets ’n prentjie in my kop van ’n huilende kind wat alleen op ’n perron staan terwyl ek na die res van die liedjie en Nomfundo se geneurie luister. “And what does thandaza mean?” vra ek. Sy lig net haar hande en sê: “Pray to God.”

“That’s nice.” Ek thandaza dat Shaney kalm bly vandag.

Ek verlaat Nomfundo en loop vir Patrick raak op pad na die kantoor toe. Hy glimlag breed en het onthou om sy das te dra. Hy ruik ook geensins na drank nie en sy baard is skoonveld. As Shaney enige klagtes oor sy voorkoms het, sal ek hierdie enkele verbeterings kan noem ter verdediging van hom. Alhoewel Patrick nie veel uitgerig kry as ’n sekuriteitswag nie en ek hom telkemaal al woedend uitgevra het oor sy intelligensie, onthou ek dat hy eens tydens ’n verhoor vir my vertel het hoe moeilik dit is om oor die weg te kom met die R2 000 wat hy maandeliks kry. Ek het hom nie afgedank nie omdat ek niemand anders as ’n plaasvervanger kon kry nie. Wanneer ook al ek hom daarna ’n skriftelike waarskuwing laat teken, onthou ek die verskil tussen ons ouderdom en inkomste en weet dat ek die stukkie papier later sal weggooi.

Naby die aanpaskamers is die deur wat lei na die winkel se kantore, ’n klein kombuis en die stoorkamer waar werkers daagliks vir twaalf ure lank bokse uitpak, dit plattrap en kort-kort ’n verskeidenheid klere op hangers na die honger metaalrakke aandra. Ek klim onder die vel van die mall in waar die teëls nie veel lig weerkaats nie, waar knyperborde en gelamineerde inligtingsplakkate oor die arbeidswet die mure versier en die reuk van plastiek in elke hoek hang. Dit is stil in die gang wat die vertrekke aan mekaar verbind en word net nou en dan onderbreek deur ’n skaterlag wat hand-oor-die-mond weer verdwyn. Ek loop tot by die bestuurder se kantoor en vind die deur oop. Agter die lessenaar is Shaney besig om met iemand oor die foon te praat. Sodra sy my sien, flap sy haar hand in die lug en beduie dat ek kan sit; iets wat ek dadelik doen. Ek sit, en ek wag.

“Ja, menee’,” groet sy uiteindelik. “Moenie vi’ my sê djy ko’ doen ’n fokking check nie, want ek hêtie nou die tyd vi dit ok nogie.”

“Goed dankie en met jou, Shaney?” Ek kan sien sy is nie lus vir grappe nie, maar ek het gou geleer dat ’n mens nie met jou stert tussen die bene moet gaan lê vir moeilike bestuurders nie. Ook nie vir wagte nie; ek is immers hulle baas. “Ek kom doen nie ’n check nie, so ontspan. My pa het gesê hy sal self al die checks hierdie maand doen,” voeg ek by om enige verdere leë uitbarstings te vermy.

“Hy was hoeka nourie dag hie en ek kon sien die siel is soe gestress oor jou en of djy die peak ga’ survive.”

“Ja, dit is mos maar die besige tyd van die jaar.”

Ek bly stil terwyl sy uitpak oor die onmoontlikste verwagtinge wat haar areabestuurders van haar koester en hoe sy te besig is om haarself oor haar eie personeel te bekommer, wat nog te sê oor die aanhoudende afwesigheid van my wagte. “En ek watch vi’ Patrick. Ek gattie lat ’n guard my stockloss die hemele in stuur nie,” eindig sy af en vir die eerste keer vandat sy met haar geneul begin het, voel dit vir my na ’n goeie geleentheid om te praat.

“Shaney, ek twyfel of hy by dié soort dinge betrokke is. En Nomfundo hou in elk geval ook ’n ogie oor hom.”

“Ja, sy’s ’n skat, ma’ wies ok ma’ vesigtig: hulle’s amel dieselle,” herhaal sy my pa se woorde.

“Ek hoor so. Maar as Patrick enige iets doen, sal ek hom natuurlik dadelik van jou siteaf verwyder.”

“Ja, lattie syplap gan. Anneste bel ek jou pa lat hy dinge ka’ ytsort.”

Voor ek kan antwoord, verskyn Nomfundo se gesig langs die kosyn, ’n plastieksak met ’n halwe brood in die hand. “Sorry, Shaney, I just want to say I am going on lunch now,” sê sy in ’n lae stem en skud die sak asof sy wil bevestig dat sy die waarheid praat. “Okay,” is al antwoord wat sy kry. Na ’n vinnige kopknik my kant toe, verdwyn Nomfundo met die klank van hakke wat deur die gang ingesluk word. Die eensydige gesprek word hervat, maar ek kom agter dat ek nie veel het om te doen in die winkel nie. Die wagte is hier, hulle is netjies genoeg en Shaney word klaarblyklik besig gehou deur bevele en oproepe van haar hoofkantoor. Terwyl sy praat, konsentreer ek om my maagspiere op die regte tye styf te trek en te verslap sodat die gorrel- en gromgeluide nie haar monoloog onderbreek nie. Ek sien my kans toe die telefoon weer lui: “Hoor hier, ek sal moet gly. Ek het vergeet dat ek nog goed met Nomfundo moet oorgaan, so ek groet jou nou voordat sy dalk uit die winkel gaan.”

Ek volg die gang tot by die kombuis en kry Nomfundo waar sy besig is om die brood in twee dik snye te deel met ’n bottermes. Sy kyk op toe sy die beweging by die deur sien en sit nonchalant die ketel aan. Ek loop tot langs haar en skakel dit af. “No, Ma. I mos owe you lunch, so come. Leave that bread.”

Die Spur wemel van vakansiegangers met rooi gesigte en wit strepe wat van oor tot oor strek; dit sou seker die Raad van Boeresuperhelde se jaareindfunksie kon wees, indien so ’n Raad ooit sou bestaan het. Kelnerinne dra koes-koes skinkborde vol kos en bier en koffie aan en hier en daar sit ’n paar oorstuurse besigheidsmanne met ’n laptop of tablet oop voor hulle, volkome verlore in sake wat dringender is as clichés van son, see en sand. Ek en Nomfundo wag ’n paar minute voordat ’n kelner uitasem, maar met ’n glimlag, vir ons kom vra: “Smoking or non-smoking?”

Tydens die tog deur die restaurant sien ek hoe enkele van die superhelde met skrefiesoë deur hul wit maskers na ons loer; party vergeet selfs om die cappuccinoskuim van hulle bo-lippe af te vee. Eers toe ons sit en deur die menus begin blaai, wonder ek of Nomfundo dit ook opgelet het. Sy vleg haar kort, ronde vingers in mekaar en kyk kort-kort na die tafels rondom ons.

“We don’t have a lot of time, so I think we must order everything together. But you can order whatever you’d like, Ma. This is my treat to say thank you,” sê ek en steek ’n sigaret aan. Ek probeer die rook wegblaas, maar dit sak aanhoudend terug en golf oor die tafel tussen ons.

’n Kelner kom verbreek die stilte en vra wat ons wil drink. Ek bestel ’n koffie en ’n goedkoop ontbyt en wag vir Nomfundo om haar bestelling te plaas. “I’ll take a glass of water and a small chips, please,” sê sy en skuif die menu in sy rigting.

“Don’t you want something else?” vra ek sodra ons eers weer alleen is.

“Hayi, bhuti, thanks. I am not that hungry. But I want to ask you something else.”

“Yes?”

“I want to take my two weeks leave for this year from the 27th. My son is coming from the bush, and I must go back to Eastern Cape for that.”

Ek maak die sigaret dood en blaas die rook stadig uit. Na Kersfees raak dinge gewoonlik rustiger, maar ek is ook al gewaarsku om steeds op my hoede te bly tot na Nuwejaar. Sou daar enige probleme wees en een van my beste wagte is met verlof, sal ek vinnig spyt wees daaroor. Voordat ek antwoord, kyk ek na Nomfundo en die plooie wat langs haar brilraam uitsteek, die druppels sweet op haar voorkop en haar klein, goue oorbelle soos dié wat my ma ook verkies om te dra. Ek haal ’n vorm uit my sak, vul haar besonderhede in en vonnis haar tot verlof met my handtekening onderaan die bladsy.

Nomfundo se arms rus nie meer op die tafel wanneer die kos kom nie. Sy leun terug in die bank en vertel hoe daar ’n bees geslag word wanneer sy na haar familie toe gaan, hoe die vrouens almal saamsing terwyl hulle amagwinya’s maak.

Haar mondhoeke kruip stadig op in ’n glimlag terwyl sy verder praat: “And I am going to dress so nicely for umgidi, yo! You must see how nice it looks. And I tell you, we sing beautiful songs for them because we are happy they are safe.”

“What is that? Ugidi… ?”

“Umgidi. It is when the boy comes back and is a man, a ikrwala,” verduidelik sy terwyl haar glimlag groter word. 

Sy gooi sout en peper oor haar tjips, vat ’n sluk water en praat verder terwyl ek begin eet. Ek herhaal nie weer van die vreemde woorde wat sy by die gesprek insluit nie, maar ek vra haar uit oor haar pinkie wat onder die nael afgesit is en luister met ’n halwe oor na haar antwoord; ek tel net woorde op soos siekte, sangoma en Christen. Sy maak op haar beurt weer of sy nie die stuk eier sien wat op haar verlofvorm val wanneer ek hoes nie. Ons gesels en ons luister, albei later tydelik onbewus van die ander om ons.

Toe ek my koffie klaarmaak, sien ek dat sy skaars iets geëet het. Net haar glas water is leeg. Kon sy nie ten minste probeer meer eet nie? Of het ek eintlik net my geld gemors? Ek vra vir die rekening en of ons asseblief ’n wegneemhouer vir haar kan kry.

“Thank you,” sê sy vir die kelner en laat die tjips oorgly in die houer terwyl ek betaal.  

“You must not throw the chips away now,” sê ek.

“Haibo, I won’t. I want to take it home for my children tonight.”

Die volgende twee weke vlieg verby. Daar is elke dag wagte wat nie vir werk opdaag nie, of wagte wat met tekkies en sonder trui of baadjie opdaag, wagte wat nie dit nie en wagte wat nie dat nie. Wagte wat my elfuur die aand bel om te sê hulle kind moet kliniek toe gaan die volgende dag. Wagte wat verwag dat ek wonderwerke moet verrig. Wagte wat my herinner dat hulle ouer as ek is en dat ek nie op hulle sal skree nie. My selfoon wat vroegmiddag al pap gebel is. My pa wat my elke aand vra of my wagte al gereël is vir die volgende dag.

Twee dae voor Kersfees verras ek my baas met my bedankingsbrief. In die twee weke wat hierop volg, leer ek om by ’n keuse te hou as jy dit eers gemaak het, selfs al kom twyfel soms verby gekruip soos ’n tannie met ’n trollie.

Die eerste dag van my nuwe vryheid en belowende slaapvolle nagte besluit ek om nie meer enige oproepe of please call me’s van wagte te antwoord nie. Dit traak my immers nie meer watter gemors hulle aanvang of watter uniformstuk hulle kortkom nie. Nadat ek ’n paar biere gedrink het, stuur ek wel vir Nomfundo ’n boodskap op Whatsapp en wens haar ’n voorspoedige Nuwejaar toe. Ek sê vir haar dat sy die verlof moet geniet en dat haar seun teen dié tyd seker al ’n man is, dat sy moet thandaza as dinge miskien sou skeef geloop het. Uit vrees om te sentimenteel voor te kom, vee ek die laaste deel van die boodskap uit.

Ek spandeer die volgende paar dae deur verwoed na afskakeling te soek in bier en sigarette, dronk van die gedagte dat ek nou kan doen wat ek wil met my lewe. My selfoon begin al hoe minder lui, maar een wasige middag sien ek Nomfundo se naam op die skerm verskyn.

“Molo, sithandwa sam!”

“Hallo?” vra ’n manstem. Ek sukkel eers om te hoor wat hy sê, maar toe ek dele van sy monoloog begin uitmaak, besef ek ek hoef nie nog verder te luister nie. Hy het net gebel om my in te lig dat die taxi waarin Nomfundo op pad terug Kaap toe was, in ’n ongeluk betrokke was. Haar dogter lê nog in Tygerberg, maar Nomfundo het albei haar bene gebreek en is later in die hospitaal dood.

Ek gooi die orige bier in die wasbak uit en kyk deur die venster na Tafelberg wat in die verte bo ’n laag rookmis uittroon. Tussen my en die berg lê duisende huise; nie almal lyk soos dié oorkant die parkie nie, maar in elkeen is daar mense wat vriende, ouers of kinders is. Al kan ek nie hulle almal sien nie, weet ek dat die meerderheid aanhou om rond te skarrel agter iets aan of dalk weg van iets af. Ek wonder watter effek Nomfundo se lewe op enige van hierdie mense kon gehad het, maar herinner myself dat dit nie gaan help om filosofies te raak nie.

Na ses hoor ek die voordeur oopgaan en hoe my ma winkelsakke in die kombuis uitpak. Ek tik my sin klaar en kliek op die floppie-ikoon voordat ek gaan om haar te groet. Sy is vriendelik, maar sug terwyl sy die vrieskas oopmaak.

“Ek het ’n paar goed oor universiteite uitgeprint as jy dalk daarna wil kyk,” sê sy en krap tussen die sakke gevriesde kos.

“Dankie. Ek sal later.” Ek gaan staan langs haar en kyk na die inhoud van die vrieskas. “Moenie worry oor die kos vanaand nie; ek sal iets maak. Hoe klink slaptjips vir Ma?”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top