PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool: Eerste kommentaar op "In alle veiligheid" deur Jaco du Plooy

  • 0

jacoduplooy650

“In alle veiligheid” deur Jaco du Plooy

Izak de Vries se kommentaar

Dit is ’n baie sterk verhaal. Hierdie verhaal spreek die olifant in die kamer aan.

Frederick J Botha (“Please help, God bless”) het die leser uitgedaag deur aan te spreek waaroor ons wonder, maar nie wil weet nie ... Jaco du Plooy daag egter die leser uit deur dit wat daagliks afspeel, en ons so gemaklik ignoreer, in te vryf.

Waar Botha dus in die psige krap, pluk du Plooy die snare van ons moraliteit. Hierdie verhaal het die passie en die patos wat nodig is om ons ongemaklik te laat; presies wat nodig is. Dit gaan oor die alledaagse, die algemene, die gewone ... presies wat ons nie wil weet nie. (Wie is “ons”? Die wat genoeg het om hier te lees.)

Du Plooy kry dit reg om nie soetsappig te wees nie en hy hanteer die fokalisasie baie goed. Wat bedoel ek hiermee? Hy skryf vanuit ’n wit, bevoorregte perspektief. Daar is simpatie en empatie, maar nooit ’n soort kruiperigheid wat vals is nie. Baie sterk.

Daar is min goed wat pla, maar ek het voorstelle.

Minder belangrik: Bedanking

Die bedanking van die verteller is wonderlik. Dit werk. Dis net: Wil hy regtig net sit en bier drink? Dit mag. Tog.

Los dit so as dit so moet wees.

Meer belangrik: Numfundo, die wag, se dood

Numfundo se dood is skokkend, soos dit hoort. Kyk egter mooi na jou titel en kyk na haar situasie. Sou dit nie wrang ironies wees as sy op pad na haar seun oorval, beroof en gelem word vir die geld wat sy so hard voor gewerk het nie? In alle veiligheid. Wie se veiligheid? Sy beskerm die rykes. Wie beskerm haar?

Spin die al die drade van jou storie saam. Spin dit toe.

Danie Marais se kommentaar

Ek stem saam met Izak: Daar is inderdaad min wat pla in Jaco du Plooy se verhaal. “In alle veiligheid” slaag daarin om die leser opnuut om te krap met ’n eg Suid-Afrikaanse situasie en karakters waarmee hy/sy reeds vertroud is.

Du Plooy beïndruk met die manier waarop hy lewensgetroue dialoog en register inspan om karakters te teken en subtiele kommentaar op rasse- en klasseverhoudings te lewer.

Die ek-verteller se gedagtes en opvatting word egter soms onnodig duidelik uitgespel.

Neem byvoorbeeld hierdie sin:

“Ek sien nie meer net ’n wag voor my nie, maar ’n vrou wat met trots die hele jaar meer tyd in hierdie mall spandeer as by haar kinders, en wat nou met ’n onsekere blik in haar oë na my staar.”

As die skrywer die leser helder kan wys wat die verteller sien, is sulke interpretasies oorbodig. Dit is juis waaroor die ou dictum gaan: Show don’t tell.

Dieselfde geld hierdie sin:

“Ek het nooit die rustigheid wat haar stories by my laat opkom, ervaar tydens my pa se ‘Die donnerse nasie wat alewig land toe wil gaan!’ nie.”

Dit is belangrik vir die verhaal op watter manier die ek-verteller sy pa hier in sy kop hoor, maar die gewaarwording waartoe die verteller kom, hoef nie vir die leser verduidelik te word nie. As die skrywer Nomfundo kan laat vertel op ’n manier wat ook die leser met ’n rustigheid vervul, sal die kontras met die pa se houding soveel meer skreiend wees.

Wat sou die verhaal wesenlik sterker kon maak?

Toe ons twee verhale (een deur ’n manlike en een deur ’n vroulike skrywer) moes kies om in te skryf vir die 2016 PEN International New Voices-kompetisie was ons drie keurders – ek, Izak en Anzil Kulsen – dit eens dat daar min te kies is tussen Du Plooy se verhaal en Frederick J Botha as “Please Help, God Bless” wat uiteindelik as wenverhaal aangewys is.

Beide verhale draai enersyds om die spanning wat die obsene klowe tussen ryk en arm in ons land meebring en andersyds om die verontmensliking waarmee armoede gepaard gaan. Die onthutsende aan Botha se verhaal was dat hy hierdie verontmensliking op ’n baie verrassende manier ontbloot het – soveel so dat die gegewe meer as net ’n appèl aan die gewete word. Botha se slot herinner jou dat jy as beskaafde burger jouself kan oortuig dat jy omgee en begaan is oor die lot van haweloses, terwyl jy eintlik onbewus tog ook die medemenslikheid van hierdie mense ontken. Anders sou die seksuele kontak tussen die motoris en bedelaar tog nie so skokkend gewees het nie? Die feit dat die leser ’n onwillekeurige weersin ervaar, openbaar die feit dat hy/sy die bedelaar se seksualiteit en daarmee ’n wesenlike deel van sy menslikheid wel wou ontken; dat dit wat werklik obseen is, nie die seksuele kontak is nie, maar die morele korrupsie wat armoede teweeg bring – sowel by diegene wat daaronder ly as by dié wat dit skouerophalend aanskou.

’n Stuk kreatiewe skryfwerk wat op soortgelyke wyse illustreer hoe armoede ook die bevoorregtes tref en verarm, is Charl-Pierre Naudé se gedig “Twee diewe”:

Twee diewe
Alles wat aan my behoort, het ek dié dag verloor.
Besteel, rot en kaal, totaal onverwags.
Deur twee vreemdelinge, ’n jong vrou en ’n dogtertjie.
Die buurt is gewaarsku oor hierdie nuwe taktiek.
Hulle gebruik onskuldiges, en oorval jou dan van agter.
Ek het die sagte geklop aan my voordeur gehoor.
Soos ’n besoeking van oorkant die groot skeidslyn.
’n Toets natuurlik, of iemand tuis is of nie.
Ek het geluister vir die breekysters, ’n broodmes in my hand.
Tot die kristalsakrament, die gelag, verdwyn het.
In ’n fladdering, soos twee duiwe wat uit ’n sysak ontsnap.
Maar ek het op my hoede gebly. Dis wat ek nie verstaan nie.
Ek’t die waarskuwing ernstig opgeneem. Ek het geweet hulle sal terugkom.
Maar dit alles het my nie gevrywaar teen die bedrog nie.
Ek het die deur oopgemaak, mes agter die rug.
Hulle het amper moed opgegee, het die vrou gesê.
Haar dogter wil graag ’n blaar van my boom hê, omdat dit silwer is.
Ek het verby hulle gespeur, vir die gevaar
wat agter skuil, die rede vir die lokval.
Hulle was brandarm, maar ryklik gekroon met hul glimlagte.
Vra God vir ’n blaar, dis sy boom, sê ek nors.
’n Ander man wou ons skiet, het die kind trots gesê;
salig onbewus dat sy dan dood sou wees.
Ek het gekyk hoe hulle wegstap, geklee in hul klanke.
Moeder en dogter. Met hul blaar, hulle wonderwerkie.
Niemand het my aangeval nie. Niks meer het gebeur nie.
Daardie twee diewe het my kaal gestroop.

 (Uit: In die geheim van die dag; Protea Boekhuis, 2004)

Ek wil voorstel dat die skrywer weer na “In alle veiligheid” gaan kyk met hierdie oorwegings in gedagte en homself die volgende afvra:

  • Werk die titel reeds hard genoeg? Of spel dit die ironiese kontras tussen die veiligheidswag se werk/funksie en eie weerloosheid te duidelik uit?
  • Wat wil die slot impliseer? Die tragedie van Nomfundo se sukkelbestaan is duidelik, maar watter impak het dit op die ek-verteller se psige? Of anders gevra: Is dit nie moontlik om ’n slot te skryf wat die leser anders laat wonder oor Nomfundo en die ek-verteller nie?

Ek dink, met ander woorde, dat die storie reeds daar is, maar dat die storie moontlik nog iets meer vir sy skrywer en leser wil/kan sê of impliseer as wat tans die geval is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top