PEN Afrikaans Nuusbrief: Augustus 2018

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Ter nagedagtenis

Tom Gouws (1961–2018)

 

Met die gewelddadige dood van die begaafde en bekroonde digter, skrywer en akademikus Tom Gouws is dit vanselfsprekend dat diegene wat die kreatiewe bydraes van skrywers na waarde skat, op soek sou gaan na gepaste woorde om uitdrukking te gee aan hul skok en ontsteltenis. Digter en akademikus Bernard Odendaal se woorde na aanleiding van die bloedmaan wat op 27 Julie 2018 kort ná die nuus oor Tom Gouws se dood sigbaar was, tref die kol: “Moet jy jou swaar lyf so dêm simbool kom hou?” Groot geteken teen die aandlug het die rooi maan ons herinner aan die bloed wat te gereeld vloei in Suid-Afrika en te dikwels ook die lewens van woordmense opeis. Lees verder.
 
Sien ook die aangrypende huldigingsgedigte en ’n bydrae deur Breyten Breytenbach en Yves T’Sjoen op Versindaba.

Koos Human (1931–2018)

PEN Afrikaans neem met hartseer kennis van die dood van invloedryke uitgewer en groot gees van die Afrikaanse boekwêreld, Koos Human.

Human en Leon Rousseau het in 1959 die uitgewery Human & Rousseau gestig, wat in die jare sestig die toonaangewende uitgewer van Afrikaanse literêre publikasies geword het.

"Die grootste geluk wat my ooit getref het, was om vir Koos Human te kon werk. Hy was ’n besielende mens, wat die kuns verstaan het van hoe om na mense te luister. [...] Daar is baie prinse in die uitgewerswese, en min konings. Koos Human was laasgenoemde," sê Kerneels Breytenbach in ’n huldigingsartikel op Netwerk24. Sien die volledige artikel hier.
 
Inskrywings vir die vierde US Woordfees-kortverhaalbundel word ingewag

 
Skrywers kan nou inskryf vir die vierde US Woordfees-kortverhaalbundel, wat by die 2019 Woordfees bekend gestel sal word. Du Toitskloof Wyne borg weer die prysgeld van R30 000 vir die wenverhaal. Een van die gepubliseerde verhale sal ook weer met die ondersteuning van kykNET vir die Silwerskermfees as kortfilm ontwikkel word.
 
“Die Woordfeeskortverhaalbundel se statuur het in die afgelope drie jaar tot dié van literêre instelling gegroei,” sê Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees. “Die hoeveelheid inskrywings groei jaarliks saam met die gehalte van die skryfwerk en die tematiese verskeidenheid in die verhale. Ons is opgewonde om te sien waarmee skrywers vir die 2019-bundel vorendag kom.”
 
Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, het in die verlede elkeen R4 000 vir hul verhale ontvang, maar danksy Du Toitskloof sal elkeen volgende jaar R5 000 in die sak steek.
 
Skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem gaan word, sal by die Woordfeesprogrambekendstelling in November 2018 bekend gemaak word. Die wenverhaal asook die verhaal wat vir ’n verwerking tot kortfilm gekies is, sal eers tydens die bekendstelling van die bundel, gedurende die Woordfees van 1–10 Maart 2019, aangekondig word.
 
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 September 2018 om 16:00.
 
Diegene wat belangstel om meer oor die kompetisie te wete te kom of wat wil inskryf, kan gaan na www.woordfees.co.za en die skakels volg.
 
Die stand van meertaligheid van Kaapstad tot in Tibet: ’n byeenkoms van PEN International se Komitee vir Vertaling en Taalregte


Danie Marais het namens PEN Afrikaans vanaf 21 tot 24 Junie ’n byeenkoms van PEN International se Komitee vir Vertaling en Taalregte in Switserland bygewoon. Hy het tydens die konferensie ’n referaat gelewer oor meertaligheid en taalregte in Suid-Afrika.
 
Lees Danie se verslag oor die konferensie hier.
 
PEN Afrikaans hou algemene jaarvergadering by Aardklop

 

Ons is bly om aan te kondig dat ons algemene jaarvergadering vanjaar op Dinsdag 2 Oktober in die ATKV-Boeke-oase by Aardklop plaasvind. Dit sal om 19:00 begin. 

Hou asseblief die datum en tyd oop. Ons hoop om julle daar te sien.

Gelyke Kanse na Konstitusionele Hof

Die Konstitusionele Hof sal op 18 September Gelyke Kanse se appèlsaak oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid aanhoor. Philip Spies, voorsitter van Gelyke Kanse se loodskomitee, wys daarop dat dit ’n deurslaggewende regsgeding oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika gaan wees, in die besonder rakende die inheemse tale, waarvan Afrikaans tans die verste op tersiêre vlak ontwikkel het.

Meer inligting, onder andere oor hoe om die saak te ondersteun, is hier beskikbaar.

Ledegeld 2018
 
Ons doen ’n beroep op ons lede om ledegeld vir 2018 oor te betaal. Die fakture hiervoor is reeds uitgestuur. Kontak ons gerus by penafrikaans@gmail.com as daar vrae hieroor is.
 
Ons sentrum se ledegeld moet aan PEN International oorbetaal word voor die 2018 PEN-kongres wat volgende maand in Indië plaasvind. Slegs PEN-sentrums wat hulle ledegeld betaal het, het stemreg by die jaarlikse kongres.
 
Hartlik dankie aan diegene wat reeds hul ledegeld betaal het.
 
Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry vanjaar weer gratis toegang tot die Tuin van Digters-fees wat op 14 en 15 September by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind. Dit beloof om ’n hoogtepunt te wees.
 
PEN Afrikaans bied hierdie jaar twee afsonderlike sessies by die fees aan. Volledige besonderhede kan in die feesprogram nagegaan word.  
 
Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
 
Belanghebbendes is uitgenooi om kommentaar in te dien oor spesifieke bepalings in die hersiene weergawe van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Hierdie veelbesproke wetsontwerp bevat, ten spyte van talle stemme wat daarteen opklink, steeds bepalings wat rampspoedige gevolge vir skrywers en uitgewers kan hê.   
 
PEN Afrikaans het teen die sperdatum ’n voorlegging aan die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid ingedien. Die voorlegging kan hier in PDF-formaat afgelaai word.
 
Wat elke skrywer moet weet: Verhoogverwerkings

 

Boeke en bestaande tekste word dikwels vir die verhoog verwerk of vertaal. Wat is die korrekte stappe hiervoor?
 
Elroy Bell van DALRO is aan die woord in die jongste artikel in ons artikelreeks. Hy vertel meer oor wat elke skrywer behoort te weet oor verhoogverwerkings.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Julie 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus 2018
 
Dit is ’n plesier om oudergewoonte die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste vir Augustus kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top