Wat elke skrywer moet weet: Verhoogverwerkings

  • 0

Hoe gaan ’n mens te werk om die regte te verkry om iets vir die verhoog te verwerk? Hoe word ’n teks regmatig vertaal en opgevoer? Wie besit die intellektuele eiendom in die aangepaste werk?

Die aanpassing of vertaling van ’n werk vir die verhoog is algemene praktyk in die teaterbedryf. Wanneer ’n boeiende roman byvoorbeeld deur ’n begaafde teatermaker gevind en verwerk word, ontstaan ’n verhoogteks wat deur ’n nuwe gehoor van teatergangers ervaar kan word. Dié praktyk het die potensiaal om lewe in gedrukte woorde te blaas. Nuwe interpretasiemoontlikhede ontstaan wanneer die teks deur talentvolle akteurs opgevoer word.

Daar is ’n wetlike raamwerk waarbinne ’n mens moet funksioneer wanneer jy ’n teks vir die verhoog verwerk. As ’n verwerker gaan jy met die intellektuele eiendom van die outeursreghouer van die oorspronklike teks om. Dit gaan gepaard met ’n taamlike hoeveelheid verantwoordelikhede en verpligtinge, aangesien die onus op die verwerker berus om die korrekte stappe ten opsigte van die verwerking te volg.

Verwerkings- en opvoerregte is wat ’n mens in staat stel om voort te gaan. Dit is belangrik vir enigeen wat ’n werk vir die verhoog wil aanpas om toestemming te verkry voordat hulle met die verwerking begin. Die verwerkingsreg gee die verwerker die regsbevoegdheid om die werk te verander, te vertaal of aan te pas volgens die bepalings en voorwaardes van die ooreenkoms wat tussen die outeursreghouer en die verwerker bereik word.

Die outeursreghouer van ’n werk het eksklusiewe beheer oor hoe en wanneer daardie werk ontgin, gereproduseer of aangepas word, soos deur die Wet op Outeursreg bepaal. Daar is min wat gedoen kan word indien die outeursreghouer toestemming vir die verwerking weier of weerhou. Dit is hul prerogatief. Toestemming kan weens ’n aantal redes geweier word, soos dat die outeursreghouer self planne met die werk het, ’n ander verwerking reeds gemagtig het, of bloot die begeerte het dat die werk onveranderd in sy oorspronklike vorm bly. Daarom is dit so belangrik om toestemming te verkry voordat die projek ’n aanvang neem.

Die eerste stap is om te bepaal by wie die outeursreg vir die bronmateriaal berus. Dit kan die outeur, die uitgewer, die skrywer se erfgename of ’n derde party wees aan wie die regte toegeken is. Suid-Afrika se outeursregwetgewing maak tans voorsiening daarvoor dat outeursreg in ’n literêre werk vir die duur van die outeur se leeftyd geld, plus vyftig jaar na hul dood. As dit ’n gepubliseerde werk is, mag die uitgewery die reg hê om aanpassings van die werk te magtig ingevolge hul uitgewersooreenkoms met die outeur. Dit is ook belangrik om daarop te let dat net omdat ’n skrywer meer as vyftig jaar oorlede is, beteken dit nie outomaties dat die regte in daardie teks die openbare domein betree het nie. Dit is veral van belang waar daar onlangse uitgawes van die werk is wat onderskei moet word van die oorspronklike teks en waar die beoogde verhoogverwerking gebaseer is op ’n bestaande verwerking wat steeds outeursregbeskerming geniet. Deel van DALRO se dienste is om verwerkersooreenkomste namens ons kliënte te bestuur. Dit sal raadsaam wees om ’n lisensiëringsagent soos DALRO te kontak om te bepaal waar die regte in ’n bepaalde teks lê.

Sodra die outeursreghouer vasgestel is, moet ’n verwerkersooreenkoms onderhandel en onderteken word deur beide die verwerker en die outeursreghouer of hul agent. Verwerkersooreenkomste is standaard ooreenkomste wat tipies die volgende bepalings sal insluit:

  1. Die titel, outeur en besonderhede van die bronwerk(e);
  2. Klousules oor die outeursreghouer se reg om die verwerkte teks goed te keur wanneer dit voltooi is en voor enige openbare opvoerings mag plaasvind, indien so verlang deur die outeursreghouer;
  3. Die voorgestelde titel van die nuwe verwerking;
  4. Klousules oor die eienaarskap van die outeursreg in die nuwe verhoogverwerking en die verdeling van tantième tussen die outeursreghouer en die verwerker ten opsigte van enige aanwending, opvoering en reproduksie daarvan.

Wat die verdeling van tantième uit die verhoogverwerking betref, is standaardpraktyk dat die leeueaandeel van die inkomste die outeursreghouer van die bronteks toekom aangesien dit die inhoud en materiaal is wat die verwerking onderlê en moontlik maak.

Alhoewel dit in praktyk minder algemeen is vir verhoogverwerkings, kan die outeursreghouer ook kies om ’n fooi te hef vir die reg om hul werk aan te pas. As die werk deur meer as een persoon aangepas word of as die verwerking ontstaan wanneer die span repeteer, is dit belangrik dat die verwerkersooreenkoms spesifiseer watter tantièmeverdeling sal geld vir diegene wat tot die verwerking bygedra het.

In ’n geval waar die bronwerk heeltemal buite outeursregbeskerming is, sal die verwerker 100% van die outeursreg in die nuwe werk behou.

Die verwerking word gesien word as ’n onafhanklike outeursregwerk en outeursreg in die verwerking staan dus los van die outeursreg in die bronmateriaal. Dit wil sê dat die outeursreg in die nuwe werk volgens outeursregwetgewing vir die verwerker se leeftyd plus vyftig jaar sal duur, ongeag wanneer die outeursreg in die oorspronklike bronmateriaal verval.

Elroy Bell is toesighouer van die teater- en algemene lisensiëringsafdeling van DALRO (Dramatic, Artistic and Literary Rights’ Organisation). Kontak asseblief theatricals@dalro.co.za of +2711 712 8330 vir meer inligting oor verwerkings, vertalings of vir advies oor lisensiëring van jou werk vir opvoering.

Besoek gerus www.dalro.co.za om die Engelse weergawe van hierdie artikel te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top