Die verengelsing van universiteite het ’n bedreiging vir onderrig op tersiêre vlak van toekomstige studente en onderwysers sowel as die kultuurbelange van alle taalgemeenskappe in Suid-Afrika geword. Dit is daarom ook ’n ernstige bedreiging vir die langtermyn-ontwikkeling van Suid-Afrika, wat onder die nuwe ekonomiese wêreldbestel in die Vierde Nywerheidsrevolusie byna uitsluitlik op die gehalte van samelewings en die vaardighede van hulle mense gebaseer sal wees.
So verklaar Philip Spies, voorsitter van die Loodskomitee van Gelyke Kanse, wat saam met Stellenbosse studente die belangrike hofsaak oor moedertaalonderrig aanvoer wat binnekort deur die Konstitusionele Hof aangehoor word.
Hy het op navraag daarop gewys dat dit ’n deurslaggewende regsgeding oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika gaan wees, in die besonder rakende die inheemse tale, waarvan Afrikaans tans die verste op tersiêre vlak ontwikkel het. Veral Afrikaans is in die laaste loopgraaf onder die huidige bedeling, aangesien een universiteit na die ander verengels.
Die appèlsaak gaan allereers oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid, maar dit is ook ’n saak wat veel wyer implikasies vir Suid-Afrika se onderwysstelsel en die ontwikkeling van sy samelewing inhou. Onderrig in inheemse tale is oor die afgelope twee dekades indringend bespreek deur veral swart intellektuele, wat ontnugter is oor talle Afrika-regerings se verheffing van ’n koloniale taal as dominante taal, tot nadeel van die inheemse tale, waardeur die meeste mense benadeel word. Bruin Afrikaanssprekendes het byvoorbeeld sowel die laagste deelnamekoers as die laagste deurvloeikoers op universiteitsvlak van alle gemeenskappe in Suid-Afrika, en die agteruitgang duur voort.
In die dekolonisasiedebat het sommige in hierdie verband al verwys na Afrikaans as die suksesvolste dekoloniseringsinisiatief op die vasteland. Moedertaalonderrig word as een van die vernaamste ontwikkelingsinstrumente vir enige gemeenskap beskou, soos die geval inderdaad met Afrikaans as ’n gevorderde moderne taal is en was.
Die hofsaak het nou ook in Suid-Afrika ’n nuwe dimensie verkry, omdat die beoogde nuwe taalbeleid van die Departement van Hoër Onderwys die belang van die inheemse tale sterk beklemtoon. Prominente status word daarin aan die Afrika-tale verleen, hul aanwending en ontwikkeling moet daadwerklik gesteun word (ook finansieel), en die behoud van alle akademiese tale, Afrikaans inkluis, moet verseker word. Klaarblyklik verg moedertaalonderrig onder meer leerkragte wat die woordeskat van sulke tale by tersiêre instellings kan bemeester – op die enigste vasteland waar skoolkinders onderrig in hul eie taal nie as ’n gegewe kan beskou nie. Dit is ’n vername oorsaak van Suid-Afrika se disfunksionele skoolstelsel, aangesien leerlinge van veral swart skole net tot graad 4 moedertaalonderrig ontvang, waarna hulle na Engels moet oorslaan. Gesaghebbende navorsing toon dat sulke leerlinge in matriek ’n agterstand van tot vyf jaar agter hul moedertaaleweknieë het.
Omdat grondwetlike regte op die spel is, was dit uit die staanspoor duidelik dat Gelyke Kanse se hofaansoek (ondersteun deur ’n groep studente en die president van die US-Konvokasie) wat die tersydestelling van die US se 2016-taalbeleid ten doel het, finaal deur die Konstitusionele Hof bereg sou moes word. Die feit dat dié Hof die saak aanhoor, beteken dat die lang pad deur die Hoogste Hof van Appèl na die Konstitusionele Hof nou aansienlik verkort is, en daarmee ook verminderde kostes meebring.
Gelyke Kanse is dankbaar vir die finansiële steun wat sover van verskeie organisasies en persone vir die hofkoste in die Konstitusionele Hof ontvang is, maar doen steeds ’n dringende beroep op alle goedgesindes om verdere bydraes, hoe klein of groot ook al, wat sal help om die laaste hekkie oor te steek.
Kommentaar
Ek gee Afrikaans Huistaal by ’n skool.
Ek het hierdie week matriekmondelinge van die hele distrik bygewoon en help modereer. Die bruin kinders het omtrent almal gepraat oor Afrikaans my moedertaal.
En vertel hoe lief hul vir hul taal is. Hul het so mooi gepraat. Hulle is mal oor hul taal. Die wit en bruin kinders gaan daaronder ly. Daar gaan uiteindelik nie werk vir ons wees nie. Elke jaar wat ek gaan matriekvraestelle merk, is daar minder en minder vraestelle vir huistaal. Wat ’n groot jammerte en leemte.
Dis die taal waarin twee derdes van die samelewing sing en bid en leef. Hul is doodgelukkig om Engels ook te bemeester. Maar het ’n hartstog en passie vir hul mooie moedertaal. Hoe grondwetlik is dit om soveel mense se harte te breek? Ek het ook geen probleem met Engels nie. Het Engels ook al gegee vir jare. Maar die arme kinders gaan verlore wees sonder hul geliefde taal. Ons moet baie mooi besin.
Ons besef nie hoe belangrik hierdie kwessie uit vele hoeke is nie. Hou duim vas vir Gelyke Kanse!
As 'n oud-student van die US is ek erg bekommerd oor die stelselmatige aftakeling van Afrikaans by alle vorige Afrikaanse universiteite. In my jare in die 1970's was die meeste handboeke in elk geval Engels en, hoewel die lesings in Afrikaans aangebied was, is Engelse vrae uit die gehoor in Engels beantwoord.
Die meeste Afrikaanse studente was ook volledig tweetalig. Dit moet seker maar ook gebreek word, want uitmuntendheid deeg nie meer nie.