’n Pleidooi vir die veiligheid van skrywers en liefhebbers van die geskrewe woord: Ter nagedagtenis van Tom Gouws (1961–2018)

  • 4

Click here for the English version.

Met die gewelddadige dood van die begaafde en bekroonde digter, skrywer en akademikus Tom Gouws is dit vanselfsprekend dat diegene wat die kreatiewe bydraes van skrywers na waarde skat, op soek sou gaan na gepaste woorde om uitdrukking te gee aan hul skok en ontsteltenis. Digter en akademikus Bernard Odendaal se woorde na aanleiding van die bloedmaan wat op 27 Julie 2018 kort ná die nuus oor Tom Gouws se dood sigbaar was, tref die kol: “Moet jy jou swaar lyf so dêm simbool kom hou?” Groot geteken teen die aandlug het die rooi maan ons herinner aan die bloed wat te gereeld vloei in Suid-Afrika en te dikwels ook die lewens van woordmense opeis.

PEN Afrikaans neem sterk standpunt in teen gewelddadige optredes wat skrywers, digters, joernaliste, essayiste en bloggers hier te lande die swye oplê of stuit in hulle werksaamhede. Jare gelede in 1989 is Richard Rive in sy huis doodgesteek, in 2002 kom Pieter Pieterse om ná 28 messteke, in 2005 word akademikus Lisbé Smuts ook by haar huis doodgesteek, in 2013 is dit skrywer en akademikus Daan Wybenga wat wreed vermoor word en in 2016 is dit Winnie Rust wat by haar huis omgebring word. Nou is dit Tom Gouws wat ook binne sy huis doodgeskiet word. Wyle digter en joernalis IL de Villiers, die skrywer Chris Barnard en ook die akademikus Dawie Steenberg het aanvalle oorleef in die golf van geweld wat klaarblyklik oor dekades heen endemies tot die bestaan in Suid-Afrika geword het. Die lys moordslagoffers, ook onder weerlose migrante wat die afgelope dekades in Suid-Afrika ’n veilige heenkome kom soek het, mag nie langer word nie.

Geweld en doodslag, om watter redes ook al, kom neer op die ernstigste denkbare aantasting van vryheid en respek vir medemense wat ’n reg moet hê om hulleself sonder beletsels uit te leef in hul werksaamhede, ook as woordmense wat die woord gebruik om die volle omvang van menslike ervaring te peil. Aanvalle op woordwerkers is ’n aanslag op die brose reg om deur die geskrewe woord juis ongeregtigheid en wetteloosheid te besweer. Vir diegene wat lewend agtergelaat word, hou dit die gevaar in dat vir hulle die vrye ruimte vir uitdrukking ingekort word en ’n verslae stilswye en algehele moedeloosheid intree. PEN Afrikaans moedig almal wat ná die tragiese dood van Tom Gouws verskrik is deur die koue vingers van wreedheid en geweld om die uitdaging van die onbeskrewe bladsy met moedigheid aan te durf. Laat ons die slotwoorde uit Tom Gouws se onthougedig uit Troglodiet (1995), “Villanelle vir die oos-vrystaat, clarens-distrik”, ter harte neem en voortgaan om die lewe in hierdie onstuimige land in woorde vas te vang: “hierdie landskap lê voue van vergeelde papier / soms dof geskryf in oker ink, soms in die geel van populier.”

  • 4

Kommentaar

  • Die lys is langer as wat hier gegee word. Die skrywers Richard Rive, H.W. Truter en Carl Mischke is ook vermoor.

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Alan Paton is ook erg aangerand in sy huis in Botha's Hill buite Durban. Ek dink hy het nooit emosioneel en fisies herstel nie.

    Beide Paton (Cry the Beloved Country) en F A Venter (Swart Pelgrim) het bekroonde werke geskryf oor die vrese wat (wit) mense in SA het vir indringers in hulle huise. Daardie vrese is nie ongegrond nie. Kyk maar, byvoorbeeld, na die sekuriteitsmaatreȅls by ons regters se privaatwonings.

  • Avatar
    CHARLEINE Collins

    Moet dit asb nie nou weer n rasse-kwessie maak nie! Ek is n groot aanhanger van Alan Paton en Cry the beloved country het my as jongmens reeds polities geswaai. Ek dink hy sal in sy graf omdraai as hy gesien moet word in so 'n konteks. Die Swart pelgrim het ook ’n boodskap uitgedra van bevraagtekening van Swart menswaardigheid binne die Apartheidsisteem.

  • Avatar
    francois verster

    Die verskil tussen bekendes wat vermoor word teenoor minder bekendes, is dat (die dood van) bekendes (sekerlik indirek en onbewustelik) 'n spesifieke soort geweld aan 'n groter klok hang. Want skrywers beskou hulself tog nie as belangriker as ander mense nie. 'n Mens sou weldink dat skrywers wat dikwels alleen werk, ook op afgeleë plekke, onder diegene tel wat meer kwesbaar is vir moord, verkragting en roof. Ironies ook, is meeste skrywers juis mense wat skeppers is en nie vernietigers is nie, en juis probeer om sosiale wanpraktyke aan die publiek uit te wys, en om ons almal te herinner aan die voordele van samewerking en medemenslikheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top