PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

  • 0

Foto van Shawna-Leze Meiring: verskaf

PEN Afrikaans het onlangs hul lede en ander belangstellendes na aanlyn byeenkomste genooi waartydens uitgewers van fiksie, niefiksie en kinder- en jeugboeke hul perspektiewe en wenslyste kom deel.

Shawna-Leze Meiring, uitgewer by Penguin Random House LAPA-uitgewers, was een van die aanbieders en sy beantwoord Naomi Meyer se vrae oor waarna uitgewers op soek is wanneer hulle kinder- en jeugboeke publiseer.

Hallo, Shawna-Leze. Hoekom gee jy kinderboeke uit?

Ek het uitgewerswese (by UP) studeer en ek het vinnig besef ek sal aan die redaksionele kant van die bedryf wil werk, maar ek het ook geweet dat poste skaars is. My belangstelling in kinder- en jeugboeke was altyd daar en heel toevallig was daar ’n pos by LAPA se kinder- en jeugboekafdeling oop toe ek klaar geswot het. Ek was vrek gelukkig om dadelik ’n werk na my studies te kry en ek is baie bevoorreg dat dit in die kinder- en jeugboekafdeling is. Aan die een kant neem ek die taak ernstig op om lekkerleesboeke vir kinders en tieners te maak (as vermaakmiddel) en aan die ander kant voel ek die werk stel my in staat om ’n bydrae tot die algehele geletterdheid van ons land te maak.

Wat dink jy is anders en wat is eenders daaraan om boeke vir kinders/tieners en vir volwassenes uit te gee? En hoe weet jy, as grootmens, wat werk vir kinders of vir tieners?

Die basiese dinge vir ’n goeie storie moet altyd daar wees: interessante karakters waarmee lesers kan vereenselwig, vloeiende/gemaklike dialoog, ’n sterk storie (dink maar aan die klassieke storieberg se formaat) en goeie navolging van genrekonvensies (as dit ’n storie is wat in ’n genre pas).

Vir kinder- en jeugboeke is dit belangrik om die ouderdom van jou teikenmark in gedagte te hou. Vir ’n sewejarige moet mens kort sinne en ’n eenvoudige storie hê – ’n kind van daardie ouderdom lees tog op ’n ander vlak as ’n dertienjarige, byvoorbeeld. Daar is sekere moets en moenies waarvan ’n grootmens (ook ek) bewus moet wees, soos moenie neerpraat nie en moenie ’n duidelike lessie in ’n storie inskryf nie. Mens leer maar met tyd aan wat werk en wat nie – dit bly belangrik om in kontak en voeling met kinders en tieners te wees.

........
Mens leer maar met tyd aan wat werk en wat nie – dit bly belangrik om in kontak en voeling met kinders en tieners te wees.
.........

Watter soort voorleggings is vir jou ideale voorleggings – watter boeke vir kinders of tieners sal jy wil uitgee?

Interessante stories waarvan daar nog min op die mark is, maar wat by ons konteks pas – dit moet verkieslik nie ’n storie wees wat in Oos-Europa afspeel nie. 🙂 Dit moet lekker lees en ’n kind vir ure lank kan besig hou. Ek is mal oor jongvolwassefiksie en wens ons kon meer daarvan uitgee. Dis my heel gunstelingkategorie – ek dink dis omdat coming-of-age-stories vir my so wonderlik is.

.........
Dit moet lekker lees en ’n kind vir ure lank kan besig hou. Ek is mal oor jongvolwassefiksie en wens ons kon meer daarvan uitgee. Dis my heel gunstelingkategorie – ek dink dis omdat coming-of-age-stories vir my so wonderlik is.
........

Wat was die kinderboeke waarmee jy grootgeword het? Kan jy jou eerste boek onthou, of dalk die boek waaruit jy leer lees het? 

Ek het met Harry Potter grootgeword. Ek was in graad 1 toe die eerste fliek uitgekom het en het daarna vir my ouers gevra of ek ASSEBLIEF die boeke kon kry. Ek onthou hoe ek die vrystellings van boek 4 tot 7 bygewoon het. Dit was groot hoogtepunte in my grootwordjare.

Sal jy vir kunsmatige intelligensie vra om ’n illustrasie vir ’n kinderboek te maak? Hoekom, of hoekom nie?

Nie sommer nie. Ek weet hoeveel bloed, sweet en trane dit neem om te illustreer. Nes skryfwerk, is dit moeilik om ’n voltydse bestaan van illustrasiewerk te maak. Ek ondersteun graag ’n illustreerder.

In enkele gevalle het ek al KI ingespan om ’n illustrasie vir ’n opvoedkundige boek te maak (ter ondersteuning van ’n begripstoets, byvoorbeeld). Dit is deur Adobe Firefly gegenereer. Die program is goedgekeur deur ons maatskappygroep vir kommersiële gebruik (met ander woorde om Adobe te gebruik, moet mens ’n fooi betaal en hulle gebruik slegs betaalde werk om hul KI-inhoud mee op te lei). En natuurlik word die nodige erkenning vir so ’n foto se gebruik gegee.

Lees ook:

PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Stevlyn Vermeulen

PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Jaco Adriaanse

PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Annie Olivier

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top