Op soek na taal en identiteit in ’n tyd van war

  • 4

Afrikaanse Taalmonument (Foto: Marianne de Jager)

Ek sit met ’n vraag wat spruit uit groot verwarring, onlangs, in verband met identiteit en taal. Ek hoop dat julle my dalk daarmee kan help.

Afrikaans vier sy 100ste bestaansjaar as amptelike taal, en dus is dit die gepaste geleentheid om ’n platform te skep vir versoening en om erkenning te gee aan die uiteenlopende oorsprong van Afrikaans, ook om die Afrikaanse taalgemeenskappe wat oor die hoof gesien is, raak te sien en om hulle regverdige aandeel aan die oorsprong van die taal te vier en aan te spoor dat hulle daardie geskiedenis terugeis. (Afrikaans is mos nie net ’n witmanstaal nie.)

Daar is baie bewusmaking gedoen oor die noodsaaklike rol wat die vroeë Khoisan en die latere slawe gespeel het in Afrikaans se geboorte.

Ek dink dit is pragtig en interessant, en ek ondersteun die verdere bewusmaking daarvan en navorsing daarin.

Dit is ’n baie belangrike aanknopingspunt wat die verskeie Afrikaanse gemeenskappe nader aan mekaar kan bring en om daardie gedeelde erfenis en eenheid in ons taal te kan vier. Hierdie jaar was veronderstel om die gunstigste geleentheid daarvoor te wees.

Maar ongelukkig is die verhaal wat ek hoor (en dalk is dit net ek), dat dit slegs die Khoisan en slawe was wat die taal geskep het onder die invloed van Hollands, en die veronderstelling is dat pleks daarvan dat dit “nie net ’n witmanstaal is nie”, dit nou eerder “glad nie ’n witmanstaal is nie”. Dit het groot gevolge vir hoe Afrikaners en wit Afrikaanssprekendes oor die algemeen nou na hulle eie taal en identiteit moet kyk (indien dit waar is). Maar ek glo nie dit is die volle prentjie nie; dit maak nie vir my sin dat dit so eenvoudig is nie.

My vraag is dus: Was daar enige noemenswaardige rol wat die destydse Vryburgers (of latere Boere), gespeel het in die oorsprong en ontwikkeling van die taal? Of is dit meer ’n geval dat die Boere die taal oorgeneem het van die Khoisan en die slawe? Of soos wat ek in ’n onlangse onderhoud ’n hooggeleerde hoor sê het, ons voorouers “appropriated the language”?

Mense sê dit nie noodwendig altyd so regstreeks nie, maar deur die verskeie praatjies en onderhoude wat ek die afgelope paar weke gehoor het, asook verskeie video’s wat ek gekyk het, voel dit vir my asof dit die nuwe narratief is wat geskep word en tans die rondte doen, en ek sukkel om te glo dat dit werklik die geval is.

Dit gaan oor stellings soos: “Die Bo-Kaap is waar Afrikaans ontstaan het.”

Of: “The GRA [Genootskap van Regte Afrikaners] appropriated the language.”

Of: “The language that these guys [die Boere] claim as their Afrikaner identity was first written down by Muslims.”

Ensovoorts.

Ek wil nie verwysings gee nie, want die punt van die stuk is nie om ander te kritiseer of met hulle te stry nie. Hierdie skrywe is bloot om my persepsie te deel van wat ek waarneem.

Sulke bewoording is vir my kommerwekkend en skep die indruk dat Afrikaners (oftewel wit Afrikaanssprekendes) geen geldige aanspraak op die taal kan maak nie en dat ons maar net nog ’n klomp koloniste was wat nie net die inheemse mense en anderskleuriges se land gesteel het nie, maar nou sommer hulle taal ook, eerder as om die taal te sien as iets wat uit die Khoisan, slawe en Boere gesamentlik ontwikkel het.

Daar word deesdae groot aanspraak gemaak en klem gelê op Afrikaans wat as ’n inheemse, egte Afrikataal erken moet word, maar in dieselfde asem word ons as wit Afrikaanssprekendes nie altyd vanselfsprekend as inheems gesien nie. So hoe nou gemaak? Ék is van buite, maar my taal is van binne?

Daar was ’n soort van mondelingse burgeroorlog wat tussen Afrikaners aan die gang was in die vroeë 1900’s om te bepaal of Hollands of Afrikaans hulle kultuurtaal moet wees, en natuurlik weet ons dat Afrikaans die stryd gewen het.

Maar met die huidige onstuimighede wat in die land aan die gang is en die soort retoriek wat volgens my siening opgang maak, kan ek nie anders as om te wonder of die Hollandsgesinde Afrikaners van destyds dalk reg was nie. Dat Hollands eintlik ons taal moes wees en nie Afrikaans nie, seker met die siening dat dit nie aan ons behoort nie. Daardie “Hollandse” Afrikaners het baie keer na Afrikaans as die “niewittes se taal” verwys, in woorde wat ek nie hier wil herhaal nie.

Net soos wat daarop aangedring word om die land “terug te gee” in plaas van “te deel”, want die land was mos nooit werklik ons s’n nie (aldus wat sekere mense sou sê), so wonder ek nou, gaan daar ook begin aangedring word dat ek my eie taal ook moet “teruggee” in plaas van deel? Of was die taal nooit myne om mee te begin nie?

Al hierdie goed kom in aanraking met veel groter vrae oor ’n mens se herkoms, wie hulle is en waar hulle behoort. Hoort ek in my land? Of is ek ’n ewige gas, verdoem om daarvan vervreemd te word? As die President goed sê soos: “We are the only African country who have not driven the colonisers out of our country”, hoe op dees aarde moet ek daaroor voel?

Is ek Afrikaans? Of is ons almal maar net in een groot dwaling danksy Nasionalisme en dus ook verdoem om van ons eie taal vervreemd te word? En dan boonop nog meer vervreemd te wees van die taal wat ons dan kamstig móés praat?

Ek is nie Hollands nie en ek is beslis nie Engels nie, maar as daar nou voorgestel wil word dat ek ook nie eers Afrikaans is nie, dan gaan dit maar ’n groot slag wees wat ek sal moet leer om te verwerk.

Ek wil dus weet of Boere werklik ’n betekenisvolle rol gespeel het in Afrikaans se geboorte en of dit eintlik maar net ’n “appropriation” was en dat ons almal vandag net onwetende voortbrengsels is van een groot Afrikaner-nasionalistiese verdigsel.

Is die soort retoriek wat ek onlangs in die omtes hoor, maar slegs ’n vereenvoudigde oorregstelling? Of is dit waar?

Het ons die taal gevat? Of het ons eerder medeaandeelhouers van die taal uitgesluit? Daar is ’n baie groot verskil tussen die twee.

Hierdie kwessie het ’n groot uitwerking op ’n mens se siening van onsself en ons erfenis, so ek ag dit as ’n belangrike vraag waaroor ek voel ek nie enige duidelikheid kry nie.

Politiek kan dié soort kwessies baie vergiftig, so ek sal graag wil weet wat die geskiedenis sê. Ek wil weet wat die inligting sê eerder as om feite en geskiedenis te verdraai net om myself beter te laat voel.(En wat ook al die inligting is, sal ek maar net vir myself moet bepaal wat om daarmee te maak.)

Hierdie jaar was veronderstel om ’n feesviering en versoeningsjaar te wees onder die vaandel van Afrikaans, maar ongelukkig het dit eerder baie verwardheid en ’n (dalk ongegronde) gevoel van eenkantstoting binne my ontlok.

Dankie vir julle tyd, ek sien daarna uit om van julle te hoor.

Groete

Morné

Lees ook:

Agterstories – Ideesmouse

Afrikaans se amptelike status in Oudtshoorn gevier

Die veelrassige storie van Afrikaans

Gewone Afrikaanse mense

Wat sê Bettina? Oor Afrikaans

Afrikaans, my anker tussen koffiewasems en verkeersligte

  • 4

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    'n Mens voel half aangedaan by die lees van die mooi skrywe. Voor ek begin, eers 'n paar inleidende en algemene opmerkings. My opinie is net wat dit is, 'n opinie, waarvan elke woord geweeg moet word. Ook is ek geen professor in sosiolinguistiek nie. Ek werk met rekords en argiewe, om den brode. In die geheim hoop ek om die lotto te wen, en oornag te verdwyn uit die hel genaamd die samelewing. Dit het wel so gekom dat ek, in my vorige lewe en as voorgraadse student, so bietjie sosiolinguistiek bestudeer het. Dit het ek later aangevul met letterkundige studies van Afrikaans, nagraads. Steeds by inleidende opmerkings. My advies is: probeer om na kenners se opinies te luister. Omdat jy so mooi skryf, het ek op jou profiel gaan kyk, en toevallig opgemerk jy is betrokke by politiek. Politici is die heel laaste mense na wie mens moet luister. As 'n politikus vir jou vertel die son sak in die weste, gaan double check dit maar liefs. Dieselfde geld vir podcasters, iemfluencers ens. Diegene wat geld maak uit hulle opinies. Hulle gaan enige iets smous vir gewildheid, laaiks, clicks, comments, aandag, sponsors ens. As jy regtig ernstig is oor die saak, en uit die toon van jou skrywe lyk dit of jy wel is, dan stel ek voor jy sit tyd opsy en lees Carstens en Raidt se boek DIE STORIE VAN AFRIKAANS: UIT EUROPA EN VAN AFRIKA. Lees gerus ook Jaap Steyn se boeke oor die taalgeskiedenis, vir 'n ander soort perspektief. Jaap Steyn is nie polities korrek nie, en juis daarom is sy boeke ook waardevol. Daar is nog taalkenners wie se werke jy kan gaan lees. Theodorus du Plessis bv. En Fritz Ponelis vir sintaksis. Kyk gerus ook na Christo van Rensburg se boek DIE AFRIKAANSE WOORDELYS EN SPELREELS SE EERSTE HONDERD JAAR. En kyk veral ook na Hans du Plessis (wat tyd gelede oorlede is).

    Kyk hierdie video van professor Hans du Plessis op Litnet:

    https://www.litnet.co.za/steedsdink-in-die-karoo-met-litnet-akademies-hans-du-plessis/

    Raaight, nou kom ons by die vleis van my reaksie, en die sous en sappe. Die Afrikaanse mense is 'n minderheid in Suid-Afrika. Minderhede is maar gewoonlik onder druk. Die Afrika Nasionalisme stoei met Afrikaans. Jy sal baie van Afrikaans se kritici hoor sê, Afrikaans hoort in Europa. Of, dis 'n witmenstaal. Taal van die onderdrukker. Net om vanuit dieselfde geledere dan ook deesdae, presies die teenoorgestelde te hoor, naamlik dat Afrikaans is deur blankes gesteel. So dit gaan van die een ekstreem, na die ander. Dit is PRESIES wat gebeur wanneer mense na die geskiedenis kyk deur bepaalde ideologiese brille.. Dan moet die geskiedenis verdraai en verander word, om by die bepaalde politieke ideologie in te pas. Ek self was altyd onder die indruk dat Afrikaans meer Europees is as van Afrika. Die woordeskat stem immers 80 % of so iets ooreen met Nederlands. Daarby word Afrikaans genealogies as deel van die sogenaamde Indogernaanse taalfamilie erken. Maar let op die "Indo" (dit staan vir Indië). In geografiese terme is Afrikaans 'n taal van Afrika. 100% is ek vandag daarvan oortuig. Die skrywer/filosoof NP van Wyk Louw, het Afrikaans beskryf as 'n "brug" tussen Europa en Afrika. Die skrywer Jan Rabie beskryf Afrikaans as die grootste veelrassige suksesverhaal van Suid-Afrika. Dit was in 'n referaat by UWK.

    Jy sal vind dat tale nie iets is wat ontstaan en dan stilstaan nie.Taal bly voortdurend ontwikkel en elke spreker dra by tot die taal, in mindere of meerdere mate. Dit ongeag hulle ras.

    Een van die groot kopsere ten opsigte van Afrikaans, is dat Afrikaans nie een enkele konsep is nie. Afrikaans het drie breë variteite. Die sprekers van die verskillende variëteite kritiseer mekaar se soort variëteite so graag. Dit is so onnodig en dit doen onherstelbare skade. Die drie groot varieteite van Afrikaans, sowel as hulle sprekers, het almal bygedra tot Afrikaans se ontwikkeling. Toe die taal uiteindelik gestandariseer was, is daar ongelukkig disproporsioneel staatgemaak op die variteit van wit sprekers. Dat swartmense grootliks misken was by Afrikaans se standarisering, is 'n historiese feit. Interessant was daar egter wel 'n klein klompie woorde uit Moesliem Afrikaans opgeneem in die WAT in die beginjare van die WAT. Wat bewys dat daar tog klein bietjie wyer gekyk was as net die een variteit van wit sprekers.

    Wat in die toekoms moet gebeur met Afrikaans, daaroor voer taalkundiges debat. Sommige voel die taal moet geherstandariseer word. Ander voel Kaapse Afrikaans, moet in eie reg ontwikkel word. Daar is deesdae 'n projek vir 'n Kaapse woordeboek. Gestandariseerde Afrikaans het egter, al sedert 1994, aansienlik uitgebrei en hordes nuwe woorde is opgeneem.

    Politici se belang is nie dat daar versoening, harmonie, eengesindheid en samewerking moet wees nie. DIVIDE ET IMPERA is die politikus se strategie (Verdeel en heers). Natuurlik sou die 100 jarige herdenking nooit as te nimmer 'n tyd kon wees waar mense hande sou vat nie. Toe die Afrikaanse taalmonument in 1975 geopen was, was die mensdom net so verdeeld. Kritiek is iets wat altyd verwelkom moet word, maar weens politieke redes, sal baie mense hulleself nooit van die feite vergewis nie. Nog minder hulle daaraan steur. Almal wat Afrikaans praat, is die eienaars van die taal. Selfs al is dit jou tweede, jou derde of jou hoeveelste taal.

    Oor die konsep van Afrikaner gaan ek my nie te veel uitlaat nie. Daaroor moet elkeen self klarigheid soek en kry. Ek is gemaklik met Afrikaner, maar ook met Europeër. Dit is my ras. Witmense is van Europese oorsprong. Maar hier is my pleidooi: Ons moet altyd ook onthou dat, hoewel etnisiteit 'n belangrike deel van elke mens se identiteit vorm, is en bly etnisiteit 'n konstruksie, en jou etniese agtergrond definieer nie jou karakter nie. Daar bestaan nie iets soos 'n tipiese Afrikaner nie. Hendrik Verwoerd en Paul Kruger was Afrikaners, maar so ook was Bram Fischer en Beyers Naude en ja, selfs Carl Niehaus. En wie kan vir Marlene le Roux van die Kunstekaap sê sy is nie 'n Afrikaner nie? As sy met die identiteit identifiseer? Niemand.

  • Barend vd Merwe

    So terloops, Carstens en Raidt se boek is in twee volumes. Volume een ondersoek Afrikaans se Europese oorspronge.

    My oupagrootjies het almal in die Boereoorlog geveg teen Brittanje. Sommige was verban na Ceylon toe. Die oumas was natuurlik in die konsentrasiekampe, veral Hopetown, waar twee van my oupa se sibbes oorlede is as babas. Ek het ook dus nie wroeginge oor "Boer" nie, hoewel ek glad nie self 'n landbouer is nie.

    Benewens die feit dat swartmense, weens die aard van die samelewing destyds, nie geken was in die standarisering van Afrikaans nie, is die geskiedenis van swart sprekers se bydraes ook nie histories goed gedokumenteer nie. Dit verander gelukkig soos die tyd aanstap.

  • Morné,
    Hoop jy het die aanbevole artikels (ek verwys nie na Barend hierbo nie) gelees. Afrikaans is verweef met die geskiedenis soos Me Julius tereg opmerk. Die boek, 'Die Afrikaners 'n biografie' deur Prof Giliomee (Tafelberg 2004) beskryf dit baie duidelik. Afrikaans se oorsprong lê vierkantig in Hollands. Dis 'n mooi taal, geen wonder dat almal Afrikaans vir hulle eksklutief wil toe eien nie. Om te dink dat H.A. Fagan N'kosi sikelele gedig het! Sowaar, man.
    Mooi loop.

  • André Badenhorst

    Die pendulum swaai tans duidelik terug. Ironies genoeg het verskeie figure met ’n uitgesproke anti-Afrikaner-houding, wat deur transformasieprosesse as die sogenaamde bewakers van Afrikaans na vore getree het, hulself sentraal geplaas in die vestiging van Engels as dominante taal. 'n Mens hoef slegs te let op wie hul kinders in Engels grootmaak en watter rol hulle gespeel het in die verengelsing van voorheen Afrikaanse instellings soos die Universiteit Stellenbosch en die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI). Die gevolge van hierdie verskuiwing rus nou grotendeels op die skouers van die Afrikaner, wat in die huidige konteks feitlik alleen die taak opneem om Afrikaans aktief te bewaar en verder uit te bou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top