
Deel Vier: Kom die Sabbat
Wending
In die vroeë sestigs ondergaan Celan se poësie ’n radikale verandering. Dit was altyd kompleks, welig, met ’n oorvloed amper-surrealistiese beelde en metafore. Nou word dit afgeskaal, die sintaksis stywer, die neologismes en teleskoopwoorde meer. Soms bestaan ’n reël uit een woord. Die komposisie bestaan nie meer uit enkele gedigte met titels nie, maar eerder uit siklusse, hele volumes. Bundels se titels is nie meer, soos Der Sand aus den Urnen en Mohn und Gedächtnis, ontleen aan frases of versreëls van een gedig nie; hulle verwys eerder met een neologisme tematies na ’n hele bundel.
Wat motiveer dit? Celan is ontevrede dat die Duitse taal nie die tragedie van Nazi-Duitsland en die Sjoa weerspieël nie. Die taal, wat die Nazi’s vir hulleself toegeëien het, asof hulle die regmatige erfgename daarvan was, en waarin hulle die gruwels van volksmoord verkondig en bedryf het, het ongeskonde oorleef. Celan wil hê die taal self moet in al sy fasette – sintaksis, semantiek, woordeskat – daardie ontaarding en afgryse weerspieël. As Joodse digter wat in Duits skryf, as poëtiese verteenwoordiger van die Jode, sien hy dit as sy taak om die taal te dwing om sigself in die gesig te staar. Boekowina, die beginpunt van sy meridiaan (wat al ’n goeie ent gevorder het), speel ’n onderliggende, sosiaal-sielkundige rol. Die Boekowiense Jode, wat so sterk geglo het in die Joods-Duitse simbiose, voel natuurlik, om die minste te sê, gedisrespekteer, verneder en gekul. Hulle is nou oortuig dat die geskiedenis aan hulle kant is, soveel te meer met die Israeliese staat wat gestig word, en dat húlle eintlik die ware erfgename van die Duitse taal is.
Celan se vertwyfeling wat betref die Duitse taal is duidelik uit wat hy in 1958 skryf: “With the most dismal things in its memory, and dubiousness all around it, German poetry can no longer speak the language that many a ready ear even now seems to expect …”
Dis ook ’n taal waarin musikaliteit “more or less untroubled still tripped tunefully alongside the most frightful things”.
Celan begin ook die Duitse filosoof Martin Heidegger se werk lees en bewonder. Heidegger is meester van koppeltekenneologismes en ander woordskeppings, byvoorbeeld Als-struktur, In-der-Welt-sein, Ent-fernung, ens. Soos Celan, is Heidegger ’n bewonderaar van die Duitse digter Friedrich Hölderlin. Maar Heidegger het ’n Nazi-verlede. In 1933 sluit hy by die party aan, en verweef in daardie jare nasionaal-sosialistiese temas met sy filosofie. Hy distansieer hom later van Nazisme, maar hou tot die einde van sy lewe vol dat hy onskuldig is. Celan begin nietemin met Heidegger korrespondeer. Heidegger se opvattings oor poësie interesseer hom sterk, terwyl sy manier van woordontginning nuwe moontlikhede open.
Toe Mohn und Gedächtnis ’n herdruk beleef, maak kritici nog steeds melding van “speelse vryheid”, “suiwer leksikale konfigurasies”, “vorm eerder as betekenis”, “musikale effekte”, ens. Hierdie soort opmerkings staan voortdurend teenoor die hoë lof wat hy uit ander oorde kry. Dit laat Celan voel hy word misverstaan en misbruik. Hy begin sy poësie omvorm ter wille van lesers en kritici wat geneig is om sy werk skeef op te neem.
In 1958 lewer hy sy ander beroemde toespraak naas die Meridiaan. Dit is tydens ontvangs van die Bremen Letterkundeprys. ’n Onderhoudvoerder merk hoe bevrees hy is dat sy werk verkeerd verstaan sal word.
Die bundel Sprachgitter (Spraakrooster) verskyn in 1959. Dit staan tussen sy vroeëre werk en die radikaal nuwe werk. Die negatiewe kritiek duur voort. Die kritikus Günter Blöcker skryf dat Celan se liriek selde verwys na ’n objek. In die reël, sê hy, ontwikkel sy poësie verbale goudversiering soos spinnerakke uit die taal se kliere. Die metafore ontstaan, sonder uitsondering, nie uit die werklikheid nie, en dien ook nie die werklikheid nie. Dis glo reuklose, grafiese beelde. Die paar liriese gedigte is “kontrapuntale oefeninge” op ’n blad van “oogmusiek”.
Celan is so ontsteld toe hy dit lees dat sy vrou hulp moet laat kom. Kort daarna skryf hy aan Nelly Sachs hieroor. Sy is ’n Joods-Duitse digter en dramaturg wat in 1940 daarin slaag om na Swede uit te wyk, ’n week voor sy na ’n konsentrasiekamp sou gaan. Sy begin later ly aan hallusinasies, vervolgingswaan, en waandenke van vervolging deur die Nazi’s, wat haar ’n paar jaar in sielkundige inrigtings laat deurbring. In 1966 deel sy die Nobelprys vir letterkunde met Yosef Shmuel Agnon. Celan is vir haar soos ’n broer, en sy is vir hom een van die min mense wat “werklik verstaan”.
Sy brief begin met: “Oh you can hardly imagine how things really look again in Germany ...” Een woord – again – wat so baie sê! Hy sluit af met: “And nobody answers these fellows! Even that – the answering – is left up to the Jews. The others write books and poems ‘about’ it ...”
Baie vooraanstaande digters en kritici het die hoogste lof vir Sprachgitter, maar sy heftige reaksie op Blöcker se kritiek is tekenend van ’n diep wond wat voortaan net dieper word.
Intussen werk Celan voort om sy poësie, en die Duitse poëtiese taal, te omvorm. Sy volgende bundel, Atemwende (Asemwending), is die eerste wat volledig in die gees van die “vernuwing” staan. Poësie is, volgens hom, nie meer gemoeid met transfiguring, verklären, met die “verdigterliking” van die werklikheid nie; dit moet eerder stel, posisioneer, die omtrek van die gegewe en die moontlike probeer afmeet.
Party van die gedigte in Sprachgitter staan alreeds in die teken van wat genoem word Widerrufe (herroeping) in Celan se oeuvre. Dit dui op die terugtrekking, ontkenning, teenaanbieding van vorige poësie, nie net van ander digters s’n nie, maar ook van sy eie. Die gedig “Tenebrae” is byvoorbeeld ’n weerlegging van Hölderlin se gedig “Patmos”, wat die Christelike hoop op redding daarin vervat, ontken. (My vertaling van dié gedig verskyn onder.)
Herroeping van sy eie, vroeëre werk word as modus operandi aangedui in die openingsreëls van Atemwende se eerste gedig:
WEGGEKALWE deur
die straalwind van jou spraak
die bont gepraat van die vals-
ervaring – die honderd-
tongige mein-
gedig, die ge-nee.
WEGGEBEIZT vom
Strahlenwind deiner Sprache
das bunte Gerede des An-
erlebten – das hundert-
züngige Mein-
gedicht, das Genicht.
Die toespeling in “meingedig” op “my” en “meineed” slaag baie effektief daarin om op beknopte wyse ’n komplekse tema te vestig en te verhelder. Met die taalskeptisisme wat toenemend sy latere werk kenmerk, gee hy hier naam aan dit wat oorbly van die gedig wanneer linguistiese negativisme daarop inwerk – ’n Genicht; ’n ge-nee, ontkenning, ontkennery. Elke woord dra sy eie vernietiging saam. Soos die gedig “Watter klip jy ook al optel” dit stel:
Watter woord jy ook al uitspreek –
skuld jy
aan vernietiging.
Celan se Widerrufe toon ’n diep onbehae met tradisionele en moderne poësie. ’n Nuwe visioen van die verhouding tussen skryf en die wêreld moet nagestreef word. Vir Celan bied kuns nie meer die moontlikheid van verlossing nie; dit kan nie meer na die gode lei, of hulle terugbring, soos Hölderlin geglo het nie. Dit kan ook nie meer ’n onafhanklike, estetiese sfeer daarstel nie. Hierdie “nuwe” poësie, soos dit in die Meridiaan-toespraak voorgestel word, kenmerk sy latere werk. ’n Goeie voorbeeld van ’n programmatiese “metagedig” wat voorstel hoe die digter die skryfproses beskou, en hoe hy wil hê sy werk gelees en verstaan moet word, is “Woordgrotte” uit Fadensonnen (die oorspronklike Duits verskyn onderaan):
DEK DIE WOORDGROTTE UIT
met luiperdvelle
verwyd hulle, vel-heen en vel-weer
betekenis-heen en betekenis-weer
gee hulle voorhowe, kamers, hortjies
en wildernisse, pariëtaal,
en luister na haar tweede
en elke tweede en
tweede
toon.
Ten spyte van sy bekendheid en sukses raak Celan ’n geïsoleerde figuur in die Wes-Duitse literêre wêreld. Die wortels van hierdie proses is al duidelik in ’n brief wat hy aan Gisèle skryf na sy eerste voorlesing by die Gruppe 47-byeenkoms in 1952. Hy eindig derde én kry ’n publikasie-aanbod, maar beskryf die reaksie op sy voorlesing as ’n “revolt”, onder die aanvoering van Hans Werner Richter, deur “those who do not like poetry – they were the majority”.
In 1958, tydens ’n voorlesing by die Universiteit van Bonn, word ’n karikatuurtekening rondgestuur van ’n krom figuur in kettings, met die opskrif: “Hosianna! Die seun van Dawid”. Celan vertel hiervan in ’n brief aan Heinrich Böll. Böll antwoord eers vier maande later, per poskaart. Hy sê daar’s ’n antwoord op die insident in die roman wat hy besig is om te skryf. Celan skryf ’n bitter brief terug waarin hy insinueer dat Böll ongeërg is oor die kwessie van Nazisme. Böll antwoord deur te wys op Celan se vriendskap met mense van wie se agtergrond hy niks weet nie.
Böll het rede gehad om geaffronteer te wees: Hy was self venynig gekant teen eks-Nazi’s se bedrywighede. Die mense na wie hy verwys, is byvoorbeeld ’n sekere Schroers, wat in die Duitse weermag se intelligensiediens was tydens die oorlog en in Italië diens gedoen het. Schroers is ’n voorbeeld van die kontinuïteit tussen die Nazi-regering en die na-oorlogse Wes-Duitse regering wat sulke mense se kundigheid benodig. Schroers is ook op die personeel van Deutsche Verlags-Anstalt, die uitgewery, en speel ’n rol in die publikasie van Mohn und Gedächtnis. Celan moes sekerlik bewus gewees het van sy agtergrond, maar tog vertrou hy hom, moontlik omdat Schroers hom van kontakte voorsien en van raad bedien, én hom ook bewonder.
Die ander voorbeeld wat Böll na verwys, is Heidegger. Celan se verhouding met Heidegger is wisselvallig, maar dis ’n feit dat hy in Heidegger se akademiese kring goed aanvaar word, beter as in die literêre besigheidswêreld, gedomineer deur Gruppe 47, waar hy as ’n randverskynsel beskou word. Dis moontlik dat hy Heidegger, Schroers en ander nie op dieselfde manier sien as wat opposisielede in die eerste jare van die na-oorlogse Duitse republiek hulle sien nie. Dit maak sy vete met Böll en ander nog meer tragies.
As gevolg van sy voorkeur vir Heidegger en ander bó kritiese medeskrywers ontstaan daar ’n onoorbrugbare breuk tussen hom en die Wes-Duitse literêre wêreld. Daar’s voortdurend aanvalle op hom: vyandige geskinder, jaloesie, pogings deur jonger digters om ’n naam te maak rondom sy werk. Dis vir hom ’n swaar slag wanneer sy vriende hom nie tydens hierdie aanvalle die ondersteuning bied wat hy verwag het nie. Sy oordeel begin hom in die steek laat; hy skeer vriende soos Böll en Günter Grass se kort en haastige reaksies op sy briewe oor dieselfde kam as mense soos Blöcker se kritiek. Hy kan nie meer onderskei nie; kort voor lank begin hy alle kritiek as anti-Semities interpreteer.
Die politieke situasie in Wes-Duitsland tydens hierdie jare dra toenemend by tot sy angstigheid. In 1958 begin Duitse koerante verslag doen van Nazi-kriminele in die regering, flagrante anti-Semitiese laster, vandalisme en geweld. In 1959 word Keulen se herboude sinagoge met swastikas beverf. Celan skryf aan Nelly Sachs: “What can I say to you? Every day, baseness comes into my house, every day, believe me. What is in store for us Jews? And we have a child, Nelly Sachs, a child!”
Om dinge te vererger, steek die Goll-affêre in 1960 weer sy kop uit. ’n Nuwe Münchense tydskrif druk aanhalings uit gloeiende resensies van Sprachgitter, met ’n redakteursnota wat weier om “die heer Celan se agterent te lek”. Claire Goll laat nie op haar wag om vir dié tydskrif te skryf nie. Sy vertel van Celan se “smartvolle” vertelling van sy ouers se dood toe hy by hulle aan huis was, en van die “kursoriese en onbekwame” vertalings van haar man se werk. Sy siteer “parallelle” gedeeltes om Celan te ontmasker as ’n “meester van plagiaat”.
Die literêre gemeenskap is eenparig in hulle verwerping van die aanklag. Duitsland se Akademie vir Taal en Letterkunde vergader in April 1960 en loods ’n kommissie om Celan te verdedig. Hulle deel hom ook mee dat hy die gesogte Buchnerprys die volgende jaar sal ontvang. Maar sy persoonlike reaksie is tekenend. In ’n brief aan Margul-Sperber skryf hy: “You’re acquainted with the machinations of neo-Nazism in the Federal Republic. Clearly connected to these machinations there has now resulted for some time an attempt to destroy me and my poems.”
Paul Celan se geestesgesondheid begin later in die 1960’s verder verswak. Hy soek psigiatriese hulp in Mei 1965. In November daardie jaar val hy sy vrou met ’n mes aan en word daarna in ’n kliniek opgeneem. Gereelde besoeke vir skokbehandeling volg. Hy neem ook swaar medikasie. 1967 begin sleg. In Januarie, by ’n literêre geleentheid van die Paryse Goethe Instituut, loop hy vir Clair Goll raak. Dié onverwagse ontmoeting aktiveer diep sielkundige trauma. Vyf dae later, na hy weer sy vrou se lewe bedreig, steek hy homself met ’n briefoopmaker in die bors, en steek net-net sy hart mis. Sy linkerlong is ernstig beskadig. Hy oorleef, en moet voortgaan om psigiatriese behandeling te kry. Gisèle Celan-Lestrange eis ’n skeiding en hulle woon voortaan apart.
Ten spyte hiervan is hy baie aktief toe hy genoegsaam herstel het. Hy begin weer klasgee, en reis – na Switserland vir vakansie en om ou vriende te sien; na Israel; na Duitsland vir voordragte, opnames, en ontmoetings – met Heidegger onder andere. Hy skryf baie – minstens een gedig per dag. Die Duitse taal is lank nie meer vir hom ’n veilige tuiste nie. Die Boekowiense droom van ’n tuiste in ’n Duits-Joodse simbiose lê aan skerwe. In die gedig “In der Luft”, die laaste in Niemandsrose, ontwikkel hy die tema van Joodse ontworteling en vervolging as ’n universeel-menslike toestand, ’n condition humaine, van alle slagoffers van geweld en oorlog. Om ontwortel te wees beteken nie om sonder wortels te wees nie. Die wortels word na ’n ander ruimte verplaas, na die lug. Lugwortels is draagbaar, hulle reis saam met die gebrandes en die verbandes. Soos die gedig van die Pomereniër wie se land tydens die Dertigjarige oorlog vernietig word, dit stel: “Saam met hom loop die meridiane ...”
Daar’s vooruitsigte om Duitsland in 1970 te besoek, vir die 200-jarige herdenking van Hölderlin se geboorte (Nelly Sachs noem Celan “die Hölderlin van ons tyd”) in Stuttgart in Maart, en ’n byeenkoms in Freiburg vir Oos-Europese skrywers om na hom te kom luister in Mei. Hy sien uit na hierdie geleenthede.
Maar die Stuttgart-geleentheid, waar hy die enigste digter is wat gevra word om voor te lees, gee vriende ’n blik in sy geestestoestand: Dis ongewoon dat hy praat oor sy familie, sy ouers en grootouers, sy kinderjare; hy oorweeg die moontlikheid om na Israel te verhuis; hy spreek die wens uit om weer sy geboortegrond te besoek. Vir die voordrag sit hy kriptiese reëls uit Lichtzwang bymekaar. Die gehoor is oorbluf; die woorde “kom nie oor nie”. Hy stuur ’n poskaart aan ’n vriend in Israel met net een woord daarop: “Stehend” (Staande). In Freiburg lees hy vir ’n klein groepie voor. Hulle sê hy lyk afgemat en gespanne. Tydens die bespreking agterna berispe hy Heidegger omdat hy nie aandagtig genoeg is nie. Heidegger sê later: “Celan is siek. Ongeneeslik.”
Terug in Parys hou hy hom meestal besig met vertaling, maar skryf nog ’n paar gedigte. Die heel laaste is op 13 April:
WINGERDKWEKERS spit
die donker-geuurde klok om,
diep op diep,
jy lees,
dit vereis
die onsigbare van die wind
in die grense,
jy lees,
die opes dra
die steen agter hulle oog,
dit ken jou,
as die Sabbat kom.
Daar ís ’n manier om die onsêbare te sê. Paul Celan slaag hierin, sê George Steiner, deurdat hy die taal sélf laat praat. Die digter is nie ’n persona wat die taal beheer nie, maar openbaar eerder ’n “openheid”; hy is ’n luisteraar na die oorsprong van taal. Met Celan “lees” ons nie die gedig nie, ons dra getuienis van die moontlike bestaan daarvan in ’n oop ruimte met botsings en tydelike versmeltings tussen die woord en waarna dit verwys. Maar dis ’n strategie wat die uiterste aandag, begrip en geduld van die luisteraar vereis, iets waarmee nie almal goed is nie, en in die na-oorlogse Duitsland was daar ook baie wat nie wóú luister na wat die woord moontlik kon sê nie. Dalk was ’n deel van Celan se frustrasie en teleurstelling dat hy nie dié kon bereik wat dit die nodigste gehad het om te hoor nie.
Kommer en onrus kan die oog blind maak vir toeval en tekens. By die deur met die koperhandvatsel in Kobilianskastraat, Tsjerniftsi, Boekowina, draai ek om. Ek moet gaan. Die aandklokreël begin agtuur. Die man binne met die vol, swart baard gaan voort om te lees van Paul Antschel Celan. ’n Mens wie se lewe hier begin het. Na regte moet mens sê mensch, die Jiddisje woord wat menslikheid as ondertoon het. ’n Mens is nie outomaties ’n mensch nie. ’n Mensch is ’n géleefde, déúrleefde persoon, iemand wat die vrae van hulle tyd aanspreek, iemand wat lees, iemand wat gehoor gee aan die Sokratiese diktum dat die onondersoekte lewe nie die moeite werd is nie. Mensch is ’n woord wat menswees met menslikheid vermeng. Toe Paul Celan in sy meridiaantoespraak sê Boekowina is ’n plek waar mense en boeke bestaan het, wou hy die potensiaal van ’n mens se menslikheid verbind met lees, met “die boek”. En in sy poëtiese idealisme sien hy hierdie verbintenis as ’n “u-topie”, ’n rigtingwyser op die pad van die meridiaan wat jou verbind met waar jy nou is en waar jy vandaan kom.
Waar begin mens met die grootse en noodsaaklike voorbereidings wat die herverbintenis van die begin en einde van die meridiaan vereis? Waarby ek die beste aanklank vind, is die ompaaie wat Paul Celan aan die begin van sy meridiaantoespraak sê hom gebring het waar hy is, en die vraag wat hy daarna vra: “Maar is daar regtig iets soos ’n ompad?” Is ompaaie nie ook paaie nie? Is dit nie my eie kronkelpaaie en ompaaie wat op ’n aanraking met Paul Celan se meridiaan uitgeloop het nie?
En help kuns as jy rigting verloor? Die eise wat Paul Celan gestel het, was hoog: “’n Ware gedig moet die swaarste pad volg.” Dis die enigste manier as dit waarheid is waarna gesoek word. Daar is ’n beloning: “Met kuns, gaan in die engste van jou eie self se uiterstes in, en bevry jouself,” sê hy. Maar waarheid bring nie altyd geluk nie. En ons kan ook vermoed dat bevryding nie vir Paul Celan ’n maklike en eenduidige betekenis gehad het nie.
Naby aan waar hy alleen woon in Émile Zola-straat in Parys, is die Pont Mirabeau, ’n brug oor die Seine. Op die aand van 20 April 1970 gaan Paul Celan daar ongemerk die water in en verdrink. Sy lyk word op 1 Mei deur ’n visserman gevind. Hy word op 12 Mei begrawe in die Thiais-begraafplaas buite Parys, by François Antschel Celan, en waar Gisèle Celan-Lestrange ook na haar dood in 1991 begrawe word.

Foto: Martin Ottmann, WikiMedia CC3

Foto: Martin Ottmann, WikiMedia CC3
Bronne
Oor Boekowina, https://en.wikipedia.org/wiki/Bukovina.
Paul Celan. Breathturn into Timestead: The collected later poetry, a bilingual edition. 2014. Farrar, Straus and Giroux. Bevat ’n uitstekende biografiese inleiding.
Paul Celan Today. Companions to contemporary German culture, Vol. 10, 2021. Michael Eskin, Karen Leeder, Marko Pajević (reds). Berlyn en Boston: Walter de Gruyter.
Felstiner, John. Paul Celan: poet, survivor, Jew. 1995. New Haven en Londen: Yale University Press.
The paradox of pain: The poetry of Paul Celan and So Sakon. https://www.academia.edu/52429414/The_Paradox_of_Pain_The_Poetry_of_Paul_Celan_and_So_Sakon.
Paul Celan lees “Todesfuge”. https://www.youtube.com/watch?v=pHgYRtefUqs&t=42s.
Andrei Corbea-Hoişie. The poetry of Paul Celan and the Bukovinian exceptionalism. Transylvanian Review, 1/2020, 1:112–34.
Distribution of nationalities in Bukovina according to the 1930 Romanian census. https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/4/4c/Bucov.png.
The Meridian speech. https://dokumen.tips/documents/celan-paul-the- meridianpdf.html?page=4.
The poetry of Paul Celan and the Bukovinian exceptionalism. Andrei Corbea-Hoişie. Transylvanian Review, 1:112–34. https://www.ceeol.com/search/article-detail?id=855338.
Prisms. Theodor W Adorno. 1997. MIT Press.
Edgar Jené and the dream about the Dream. https://fleurmach.com/2016/03/13/paul-celan-edgar-jene-and-the-dream-about-the-dream.
Paul Celan Ingeborg Bachmann correspondence. https://www.seagullbooks.org/correspondence.
German Life and Letters, 69:1. Januarie 2016. From “Gedicht” to “Genicht”: Paul Celan and language scepticism. Shane Weller (University of Kent).
Tenebrae
Ons is naby, Heer,
naby en byderhand.
Alreeds gegryp, Heer,
ineengeklou asof
elk van ons liggame
U liggaam is, Heer.
Bid, Heer,
bid tot ons,
ons is naby.
Windskeef is ons soontoe,
soontoe om te buk
oor holte en sloot.
Om te drink is ons soontoe, Heer.
Dit was bloed, dis wat
U gestort het, Heer.
Dit het gegloei.
Dit het U beeld in ons oë gekaats, Heer.
Ons oë en monde is oop en leeg, Heer.
Ons het gedrink, Heer.
Die bloed en die beeld in die bloed, Heer.
Bid, Heer.
Ons is naby.
KLEIDE DIE WORTHÖHLEN AUS
mit Pantherhäuten,
erweitere sie, fellhin und fellher,
sinnhin und sinnher,
gib ihnen Vorhöfe, Kammern, Klappen
und Wildnisse, parietal,
und lausch ihrem zweiten
und jeweils zweiten und zweiten
Lees ook:
Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan: ’n plek waar mense en boeke gewoon het
Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan, ’n graf in die lug
Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan, om die onsêbare te sê


Kommentaar
Weer eens 'n uitmuntende skrywe deur Eben oor die lewe van Celan, 'n hoogs talentvolle en gefrustreerde man wat so tragies moes sterf. Baie dankie vir die insiggewende deel daarvan.
Baie dankie vir 'n mooi uiteensetting van die lewe en werk van Paul Celan.