Paul Celan word beskou as die belangrikste Duitstalige digter ná 1945, en deur sommiges, byvoorbeeld George Steiner, as die belangrikste Europese digter van dié tydperk.
Deel een: ’n Plek waar mense en boeke gewoon het
Suceava, ’n groterige dorp in die noorde van Roemenië, is omtrent 50 km van die grens met Oekraïne. Laaste stop vir die trein vanaf Boekarest. Die naaste groot Oekraïense dorp aan die ander kant van die grens is Tsjerniftsi, 40 km verder. Jy kan die Roemeense naam daarvan op die elektroniese bord in die bushalte se wagkamer uitmaak; Cernăuţi. Die Oekraïners wat terugkeer, kan jy aan hulle groot reistasse herken. Tydelik, permanent? ’n Ma en tienerseun met groot oorfoonblikke op sy kop, ’n kleiner sussie wat verbasend stil sit vir ’n kind van haar ouderdom. Ingetoë. Die gebou is nuut. Daar’s ’n kafee agter waar jy ’n bord kos kan kry. Kapokaartappels, frikkadelle, groente, slaai. Of ’n toebroodjie of hamburger vir wegneem, klammerig, toegedraai in kleefplastiek.
Die jong taxibestuurder gister het vertel hy leer Engels deur na sokkerkommentaar te luister. God help hom. ’n Vrou van Tsjeggië eenkeer, en ’n hele paar Oekraïners ook, het my vertel hoe húlle Engels geleer het in Sowjet-tye. Die Beatles het hulle gehelp. Gebruik jy die woord yesterday, begin hulle onwillekeurig sing:; “... all my troubles seemed so far away ...”
Hy’t met sy arm by die venster uit gewys. ’n Lang, swaaiende beweging. “This we call Bukovina”, ’n trots-skamerige glimlaggie om sy een mondhoek. Golwende, diepgroen heuwels tot oor die horison. Woude. ’n Rivier soos lood van ver af wat al breër word en die dorp middeldeur sny sonder om verskoning te vra.
Die bord wys die bus na Tsjerniftsi het gearriveer en vertrek oor twintig minute, vanaf perron nommer twee. Die Oekraïners staan dadelik op. Die bussie is ’n ou, verbleikte, wit Sowjet-era-model, geroes aan die onderkant. Ons sleep met die nou, tweerigtingpad teen heuwels op, af, om draaie. Twee dames aan weerskante van my kry ’n gesprek aan die gang en begin ’n hond uit ’n bos uit praat, reg voor my neus verby. Ek wou die klam hamburger uit my rugsak haal, maar besluit daarteen. Sit maar en kyk na die pad en die gehuggies, die huise, oud met dubbelsteilte, A-raamdakke, of nuwer kasarms verder teen die heuwels op, motorherstelplekke langs die pad, treurige winkeltjies met geen klante in sig nie.
Die bome se blare begin al verkleur, na Boerneef se “warm geel en rooi”. Luister na die dames se (wat Saul Bellow noem) “Galician sing-song”. Met so elke vierde woord gaan die toon op soos ’n golf, breek, en daal, en begin dan weer van voor af. Vang so nou en dan ’n herkenbare woord. Ek lei af dis ’n mengsel van Roemeens en Oekraïens. Regte mense. Daar’s niemand so gevaarlik soos dié wat beweer om sprekers van ’n suiwer taal te wees nie.
Paul Antschel, ’n veertienjarige skoolseun, moes hierdie waarheid intuïtief aangevoel het, daarom skryf hy in 1934, terwyl hy al besig is om sowat ses tale aan te leer, uit die multikulturele Boekowina aan sy tante Minna, wat kort tevore na Palestina emigreer het: “Pardonnez-moi, please!”, grappenderwys verwysend na homself as “belonging to the Jewish branch of the Semitic race”. In dié brief deel hy sy tante mee dat hy nie daardie dag skool toe kon gaan nie, want hy het op die sneeu gegly “and cleverly bruised my behind”. Hy sluit af deur te vra: “Und wie geht’s mit den Sprachen? Speake-you English? Und Hebraisch?”4
Boekowina is ’n 10 500 vierkante-kilometer-streek wat die noordelike grens tussen Roemenië en Oekraïne bloots ry, met ongeveer een derde in Oekraïne en die res in Roemenië. Geleë aan die noordoostelike voet van die Karpatiese berge, en so oud soos dié berge self. ’n Politieke entiteit met ’n voorgeskiedenis terug tot in die 10de eeu. Toe was dit deel van die Kijifse Rus, ’n Middeleeuse staat wat vanaf die negende tot die 13de eeu bestaan het, oorsprong van die teenswoordige Oekraïne. In die 14de eeu word dit deel van Moldawië. Toe deel van die Koninkryk van Galisië en Lodomerië (die Oostenryk-Poolse Koninkryk). Van 1775 tot 1918 deel van die Habsburgse Koninkryk en die Oostenryk-Hongaarse Ryk.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog baklei die Oostenryk-Hongaarse, Duitse en Russiese weermagte vir beheer van die streek. Die Russe beset Tsjerniftsi drie keer. Elke keer voer hulle ’n veldtog om “nasionalisties-bewuste” Oekraïners te vervolg. Hulle word in 1917 verdryf. Roemenië en Oekraïne maak daarna beide aanspraak op Boekowina.
Grond, aarde, land. Wie besluit, en hoe, vandag, môre, volgende jaar, na wie dit moet teruggaan, as dit dan móét teruggaan? Onthou om Moldawië te laat weet hulle behoort Roemenië binne te val en Boekowina terug te vat. “Geopolities”: Behoort dit aan hulle, of dalk ook aan Oostenryk, aan Pole? Groot “meester van die lotgevalle van nasies”, luister tog na die woorde van die Keniaanse VN-ambassadeur in Februarie 2022 wanneer jy fantasieë koester van groot keiserryke, drome droom van oorlog.
Ek loop met die straat af tot waar dit in twee verdeel. Daar’s ’n driehoekige plein met ’n hoë Sjeftsjenkoe-standbeeld. Agter is ’n groot Oekraïense vlag teen ’n muur met rye en rye foto’s van gesneuwelde soldate. Dit begin al donker raak; dis herfs en die dae is kort. Wie meester van die lewe speel, word gou-gou meester van die dood. Links af lê Kobilianskastraat, Tsjerniftsi se hoofstraat. Op die sypaadjie tot jy jou vasloop teen die veranda van ’n restaurant, of ’n kitaarslaner wat Oekraïense liedjies uit volle bors sing. Dan af op die ou keistene, nie te gemaklik nie, en weer terug. Ou geboue, ’n mengelmoes van Biedermeier en art nouveau uit Boekowina se bloeityd onder die Habsburgs.
Die Habsburgse administrasie wil van Boekowina ’n buffersone maak teen Ottomaanse en Russiese uitbreiding. Voor 1774 bly daar hoofsaaklik mense van Roemeense afkoms. Duitsers, hoofsaaklik boere, mynwerkers en vakmanne, word aangemoedig om hulle daar te gaan vestig. Aanvanklik word Jode verdryf of aan streng regulasies onderwerp. Emperator Josef die Tweede volg ’n meer liberale beleid, en teen 1800 is daar baie Jode wat hulle in die streek vestig. In 1857 woon daar Roemëniers, Roetheniërs (historiese naam vir Oekraïners), Duitsers, Jode, Pole en Russe. Teen 1910 het daar Lipowane, Hongare, Slowakiërs en Armeniërs bygekom.
’n Toevlugsoord van vrede en wedersydse begrip? Dis die prentjie wat sommige Boekowiense skrywers, Rose Ausländer byvoorbeeld, voor die gees wil roep. Ander, soos Alfred Gong, Edgar Hilsenrath en Gregor von Rezzori, toon aan dat vreedsame naasbestaan meer van ’n mite was as werklikheid. Veel eerder was dit ’n versigtige balans tussen verdraagsaamheid en onverdraagsaamheid, respek en haat: “A dozen different nationalities and half a dozen fiercely fighting religious denominations coexisted there in the cynical harmony of mutual animosity and business deals. Nowhere were the fanatics more tolerant and the tolerant people more dangerous.”3
Maar dié onsekere vrede hou nogtans vir ’n lang tyd. Boekowina se multi-etnisiteit word ook in die hoofstad, Tsjerniftsi, weerspieël. Die Habsburgse owerheid liberaliseer toenemend hulle beleid teenoor die Jode; eindelik is daar al Jode in die administrasie en selfs Joodse burgemeesters. Duitstaligheid is egter ’n deurslaggewende faktor. Kennis van Duits is ’n voorvereiste in die werkplek en ’n toegangspermit na sosiale instansies en organisasies. Aanvanklik is net soldate, amptenare en onderwysers Duits magtig, maar geleidelik word dit die lingua franca in Boekowina.
’n Interessante verskynsel vat pos: die idee van Boekowiense “uitsonderlikheid”, van ’n “homo bucovinensis”, onlosmaaklik verbind met die Duitse taal. In die Joodse gemeenskap verkry dit ’n eiesoortige betekenis. Na 1848 wen die intellektuele beweging Haskalah, die sogenaamde Joodse Verligting, toenemend veld in Boekowina, veral in Tsjerniftsi, en veral onder die middelklas. In 1867 kry Jode volle burgerregte in Oostenryk; vir die Haskalah-Jode in Boekowina beteken dit volle integrasie in die Oostenryk-Duitse samelewing en kultuur. Daar word met opgewondenheid gepraat van ’n “Duits-Joodse simbiose”. Die Joodse skrywer Karl-Emil Franzos, ook van Tsjerniftsi, verwys na Oos-Europa as “half-Asies”, met as enigste uitsondering Boekowina, wat deur die Oostenryk-Duitse “Geist” verander is in ’n Europese kultuurstaat.
Dít is die kulturele agtergrond waarteen Paul Antschel in 1920 in Tsjerniftsi gebore word. Selfs toe die Habsburgse Ryk nie meer bestaan nie en Boekowina deel word van Roemenië, én antisemitisme begin toeneem, bly herinneringe aan die idee van ’n Duits-Joodse simbiose nog draal. Joodse skrywers bly glo in Boekowina as ’n spesiale kreatiewe ruimte. Oostenryk-Joodse letterkunde bereik ’n hoogtepunt juis in die tydperk tussen die oorloë. Tot laat in die dertigs verskyn daar nog nuwe digbundels deur Joodse digters in Tsjerniftsi, vol voorbeelde van florerende liriese bydraes in Duits. Of Paul Antschel op daardie stadium nog sonder skeptisisme oor die “Duits-Joodse simbiose” gedink het, is egter te betwyfel.
Behalwe miskien die wonderlike “Geist” was die res van wat Franzos oor Boekowina gesê het, heeltemal waar. Teen die einde van die 19de en die begin van die 20ste eeu ontwikkel Tsjerniftsi in ’n merkwaardige kulturele metropool. Daar’s skole vir die verskillende etniese groepe, hospitale, ’n groot biblioteek, teaters, ’n museum, ’n musiekvereniging, drukkerye, uitgewerye, parke, ’n openbare badhuis. Teen 1900 is daar elektriese straatligte en ’n rioolstelsel met waterpype en dreinering. ’n Argitektonies stylvolle treinstasie, elegante hoofstraat met winkels, veelverdiepingwoonstelgeboue, én: koffiehuise in Weense styl. Literêre verenigings, leesklubs, sowat sewe verskillende koerante word gedruk. Die Franz Joseph-universiteit, met dosente uit Duitsland en die plaaslike geledere. Ivan Franko, Oekraïense skrywer en literêre kritikus, is ’n alumnus. Victor Conrad, fisikus, seismoloog en meteoroloog, en Hans Hahn, wiskundige, was twee van heelwat wêreldbekende akademici daar. Intellektuele van verskillende etniese groepe verbind “homo bucovinensis” met “homo austriacus”. Die wetenskaplikes by die universiteit voel gewortel in Duitse Wissenschaft omdat hulle glo dit het ’n universele karakter. Nie moeilik om te raai hoekom Tsjerniftsi “Klein Wene” genoem word nie.
Kobilianskastraat hou aan, maar daar’s geen toeristemenigte nie. ’n Paar laataanddrentelaars, paartjies, onseker. ’n Donker wolk oor alles, oor die lewe self. En tog voel dit of die aand vir altyd kan aanhou, op die manier waarop slegs digters aan die doodgaan van die lig onsterflikheid kan gee.
Paul Antschel het seker deur hierdie einste strate geloop, vir seker deur Kobilianska. Die familie was Joods. Sy pa het grootgeword in die streng Ortodokse tradisie; hy dring daarop aan dat Paul in Hebreeus onderrig moet word by die Joodse laerskool.
Sy ma is in Sadhora naby Tsjerniftsi gebore, waar die Hassidiese tradisie ontstaan het. Sy is ’n ernstige leser van Duitse letterkunde en dring net so sterk daarop aan dat die huistaal Duits moet wees: korrekte, literêre Hoogduits. Om goed Duits te kon praat was ’n mylpaal om te bereik, nie iets wat vanself gekom het nie. Paul leer by haar klassieke Duitse letterkunde lees. Op sesjarige leeftyd maak hy kennis met Friedrich Schiller. Hy vertel later hy kon toe al “Die lied van die Klok” resiteer. Dis Schiller se langste gedig – 430 reëls.
Paul is drie jaar in die Hebreeuse laerskool. Selfs daarna, toe hy na ’n staatskool gaan, moet hy by die huis aanhou Hebreeus leer, by ’n tuisonderwyser. In die staatskole is Roemeens nou die voertaal, maar Paul is al vlot in Hebreeus terwyl hy Roemeens begin leer. Op laerskool begin hy ook Frans leer, en hy is vertroud met Oekraïens en Jiddisj, wat wyd in Tsjerniftsi gepraat word.
Toe hy in die 1930’s in ’n Roemeense hoërskool beland, het die politieke omstandighede in Boekowina al ’n wending begin neem. Die Eerste Wêreldoorlog het ’n einde gemaak aan die Habsburg-bewind se kulturele pogings in Boekowina. In 1919 val die Roemeense weermag Boekowina binne en maak dit deel van die Roemeense Koninkryk. Roemeense amptenare neem al die administratiewe poste oor, en Roemeens word die enigste amptelike taal. Alle simbole van die Habsburgse Ryk word vernietig.
Gedurende die twintigs en vroeë dertigs is die regering taamlik liberaal en verdra die Duitse, Oekraïense en Joodse skole. In 1923 kry Jode volle Roemeense burgerskap. Maar dit was net skyn, om te voldoen aan ’n vereiste van die Geallieerde magte in ruil vir die uitbreiding van Roemeense grondgebied. In 1924 word ’n wet goedgekeur wat 80 000 Jode effektief staatloos maak. Die Roemeense regering raak in die daaropvolgende jare toenemend nasionalisties. Hulle probeer, sonder sukses, om van Boekowina ’n eenkultuurstreek te maak.
Boekowina en Tsjerniftsi beleef weer ’n bloeitydperk as kultuursentra in die twintigs en dertigs. Weense en Berlynse akteurs kom optree, daar is lesings oor Jiddisje letterkunde, kunsuitstallings, filosofiese besprekings oor etiek. Die ekspressionistiese polities-literêre tydskrif Der Nerv word die spreekbuis van Boekowiense intellektuele. Maar sommige van die nuwe generasie Roemeense skrywers raak toenemend nasionalisties. Enkele etnies-Duitse digters begin die Duitse “volksideologie” aanhang. ’n Ultranasionalistiese Roemeense professor, Alexander Cuza, begin haat en antisemitisme predik. In 1937 kom ’n antisemitiese regering aan bewind. Cuza word as kabinetslid aangestel. Wette word verander om massavervolging van Jode moontlik te maak. Hierdie regering hou net ’n paar weke. Hulle word deur koning Carol die Tweede omvergegooi, maar hy verander nie die antisemitiese wette nie.
In die brief aan sy tante Minna voeg Paul Antschel met oordrewe ironie by: “As for anti-semitism in our school, I could write a 300-page opus about it.”4 Dis die middel-dertigs, en hy is in ’n Roemeense staatskool. Dit klink nogal of hy skerts, maar dinge word later so erg dat hy na die Oekraïense Gimnasium oorgeplaas word. Hier voeg hy Grieks, Latyn en Italiaans by sy repertoire van taalstudies. Hy’t intussen opgehou om Hebreeus te leer en die Sionistevereniging, én sy pa se sienswyses, die rug toegekeer. Hy begin die kommunistiese idees koester. Kommunistiese aktiwiteite kry gevangenisstraf, maar hy sluit nogtans by ’n Joodse antifascistiese groep aan. Saam met vriende vertaal hulle marxistiese werke in Roemeens. Sy kommunistiese fase hou nie lank nie, maar hy bly vir die res van sy lewe sosialisties georiënteer.
Paul en sy vriende lees verwoed: Goethe, Schiller, Heine, Trakl, Nietzsche, Verlaine, Rimbaud, Kafka. Sy gunstelinge is Hölderlin en Rainer Maria Rilke. Laasgenoemde is ’n kultusfiguur in Tsjerniftsi. Hy hou daarvan om voor te lees, of liewer, soos sy vriende onthou, voor te dra, veral Rilke se sonnette aan Orfeus, en Ofelia en Juliet se rolle uit Shakespeare, laasgenoemde natuurlik in Duits. Sy vriende sluit in Edith Horowitz, Gustav Chomed, Erich Einhorn en Immanuel Weissglas. Laasgenoemde is ’n begaafde digter en vertaler. Hy en Paul is onafskeidbaar. Hulle wedywer met gedigte skryf, en saam probeer hulle Apollinaire, Éluard, Shakespeare, Yeats, en meer, vertaal. Paul raak verlief op Edith. Op vyftien of sestien begin hy gedigte vir haar skryf. Sy vroeë poësie is liries van aard, vol jeugdige, melankoliese romantiek, met titels soos “Weeklaag”, “Wens”, “Somernag”, “Skemerlig”, “Clair de Lune”, ens. Edith se pa is ’n bibliofiel met ’n skatkis van ’n biblioteek. Die vriende bring ure daar deur.
Nog ’n vriend is die prokureur Jacob Silbermann, wat hom bekendstel aan Middelhoogduitse en ekspressionistiese poësie. Silbermann speel voortaan ’n belangrike rol in Paul se lewe. Dis hy wat voorstel dat Paul sy van verander, deur te wys op die belangrikheid van die “aura” van ’n digter se naam. Paul doen dit dan ook etlike jare later, en word die wêreldberoemde digter Paul Celan.
Liane Schindler (later Ilana Shmueli), ’n tydgenoot, vertel in haar outobiografie oor haar jeug in Tsjerniftsi hoe Boekowiniërs probeer het om “uitsonderlik” te wees, “anders”, altyd daarna strewend om die hoogste intellektuele standaarde te bereik, ter inspirasie, én as teken van buitengewone persoonlike ontwikkeling. Ook van die “kultuurkultus” wat onder die Joodse middelklas bestaan het.
Jy kan vergewe word as jy sinies is oor die moontlikheid van vreedsame, multikulturele saambestaan. Daar’s nie baie voorbeelde oor nie. Maar die prentjie van Boekowina en Tsjerniftsi in sy bloeitydperk bly in die gees dwaal soos ’n tekening in ’n boek met stories uit die ou dae. In 1958, in ’n beroemde toespraak toe Paul Celan die Bremen-letterkundeprys ontvang, verwys hy na Boekowina as “’n plek waar mense en boeke geleef het”. Dis ’n aanhaling wat al deur oorgebruik ’n cliché geword het, altyd gereed vir ’n nuwe interpretasie. Maar as jy ten spyte van alles nog ’n idealis is, wil jy dink dit dui op die bestaan van moontlikhede, op die geloof in hoop, op die onvernietigbaarheid van menslike strewe.
Die kelnerin plak die bord met spaghetti bolognese voor my neer en verdwyn sonder ’n woord. Sy gaan nie elke vyf minute terugkom om te vra of alles reg is nie – dis nie “deel van haar kultuur” nie. Ek sal self binne moet gaan vra vir die rekening. Die halfverlate hoofstraat en die van-alle-romantiek-ontdane skemer dryf die storieboekprentjie van Tsjerniftsi onherkenbaar ver terug in die verlede.
In 1938 voltooi Paul sy skoolopleiding. Sy ouers wil hê hy moet medies gaan studeer, maar die staatsuniversiteite in Tsjerniftsi plaas streng beperkings op Joodse aansoekers. Paul se pa sou graag die familie se karige spaargeld wou gehou het vir emigrasie, maar sy ma dring daarop aan dat hy buiteland toe moet gaan. Duitsland het intussen Oostenryk binnegeval. Die ouers glo Frankryk is ’n bastion van vryheid en veiligheid – dís waar hy moet heen. Op 8 November vertrek Paul, toe nog Antschel, per trein na Tours. Die trein stop in Berlyn op Kristallnacht, ’n pogrom deur die Nazi-party georganiseer. Joodse huise, besighede en hospitale word op groot skaal regoor Duitsland vernietig. Jare later skryf Paul Celan hieroor in ’n gedig getiteld “Contrescarpe”:
Via Krakow
you came, at the Anhalter
railway station
a smoke flowed toward your glance,
it already belonged to tomorrow.
Bronne
- Oor Boekowina: https://en.wikipedia.org/wiki/Bukovina.
- Paul Celan. Breathturn into timestead: the collected later poetry, A bilingual edition. 2014. Farrar, Straus en Giroux. Bevat ’n uitstekende biografiese inleiding.
- Paul Celan Today. Companions to contemporary German culture, Vol 10, 2021. Michael Eskin, Karen Leeder, Marko Pajević (reds). Berlyn, Boston: Walter de Gruyter.
- Felstiner, John. Paul Celan: poet, survivor, Jew. 1995. New Haven en Londen: Yale University Press.
Lees ook:
Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan, ’n graf in die lug
Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan, om die onsêbare te sê
Kommentaar
'n Merkwaardige verhaal. Goed geskryf.
Geweldig insiggewend. Ook roerend.
Nice one, beautifully composed... Now I want to know more about his later years. How about following the trail further to his next life's stage? Part two?
Anton: Part 2 has been published: https://www.litnet.co.za/op-soek-na-paul-celan-langs-die-boekowina-meridiaan-n-graf-in-die-lug/
Parts 3 and 4 will appear soon.