Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan, om die onsêbare te sê

  • 4

Deel drie: Om die onsêbare te sê

“Om ná Auschwitz poësie te skryf, is barbaars,” sê die Duitse kultuurfilosoof Theodor Adorno in sy invloedryke 1951-essay “Cultural criticism and society”. Dis maar een implikasie van sy ingewikkelde kultuurkritiese teorie. Dit verwys nie, soos sommige Oekraïense skrywers nou verkeerdelik tydens die oorlog glo, na stomgeslaanheid as gevolg van die belewing van intense emosionele trauma, of na die moontlike klag van estetisering van gruwelikheid nie. Dit sê dat enige verslaggewing van dié trauma, in watter vorm ook al – joernalistieke berig, verhaal, gedig – geassimileer word in ’n sisteem van kulturele produksie wat nie anders kan as om dit te egaliseer, en gevolglik te banaliseer nie. (’n Ontleding van hoe Barbie en Ken daarin slaag, of nie slaag nie, om hulle stereotipiese rolle te nuanseer, verskyn direk bo ’n verslag van kinderontvoering in Somalië wanneer jy deur die nuus van die dag rol.) Daarom, sê Adorno, is die skryf van poësie ná die Sjoa niks anders as minagting vir die slagoffers nie. Hierdie is slegs een van die filosofiese probleme waarmee Paul Celan worstel wanneer hy as Joodse digter in Duits ná die oorlog bekendheid probeer verwerf.

Die deporterings na Transnistria hou in 1942 op. Joodse mans wat agterbly, word na arbeiderskampe in Roemenië gestuur. Paul beland in ’n kamp 400 km suid van Tsjerniftsi. Die werkers grawe en bou paaie. Hy hou aan gedigte skryf, insluitend liefdesgedigte, wat hy stuur aan Ruth Lackner, ’n Joodse aktrise wat hy vroeër ontmoet het. Na sy geskei is, verander sy haar van terug na Kraft. Dis sy wat die skuilplek gereël het op daardie noodlottige aand toe Paul se ouers gevange geneem is. In ’n brief aan haar skryf hy: “You write that I should not despair. No, Ruth, I don't despair. But my mother gives me such pain, she was so sick in the last days, she must always be wondering how I am, and now without ever saying goodbye I'm gone, probably for ever.”

Later skryf hy weer aan haar: “In my own hands I have seen life changed into utmost bitterness, but finally into a humanness that once laid out a path which I tried to follow and still will follow, upright and assured.”

Hy’s altesaam 19 maande in dwangarbeid, in verskillende kampe. Soos hy later vertel, ontmoet hy Joodse intellektuele, en leer baie Jiddisj. Hy vertaal nog steeds Shakespeare-sonnette, ook Verlaine, Yeats, Housman, Éluard. En skryf gedigte. Minstens 75 uit dié tydperk bly behoue; almal bestaan uit tradisionele kwatryne, en amper almal rym. Uit hierdie tydperk kom ook sy eerste poëtiese reaksie op die nuus van sy ma se dood:

Dit val nou, Moeder, sneeu in Oekraïne
die Verlosser se kroon ’n duisend korrels verdriet.
Al my trane hier reik uit na jou, verniet.
Van vroeër wuif net ’n trotser, stommer een ...

Ons sterf nou, hoekom slaap julle nie, julle hutte?
Selfs die wind sluip rond soos ’n verskrikte ...
Is dit hulle hierdie, wat in die afval vries –
wie se harte vlae, wie se arms kandelare is?

Ek bly in die duisternis dieselfde:
sal die lindeboom verlos, sal die skerpte ontbloot?
Tussen my sterre balk nog net die stukkende
snare van ’n oorverdowende harp ...

Daaraan hang soms ’n rosige oomblik.
Verskietend. Een. Altyd net een ...
Wat sou volg, Moeder: groei of wonde –
sink ook ek weg in die dryfsneeu van Oekraïne?

Hierdie gedig is die eerste wat ’n vervreemding aandui van sy vroeëre melodiese verse en die tradisionele liriese styl van sy tydgenote. Die Jood-Christen-verhouding wat deurskemer is ’n tema wat regdeur Celan se werk voorkom. Hy is vertroud met die lang anti-Judaïese en antisemitiese essay waarin Luther in 1543 ‘n oproep doen vir die verbranding van sinagoges en Jode se huise, maar die verwysing hier na die Verlosser val binne ’n wyer konteks van hulpeloosheid en reddeloosheid wat hy, en baie ander, ervaar wanneer hulle genadelose uitwissing in die gesig staar.

Hy hou aan skryf in Duits, maar sy verhouding met sy moedertaal en sy poëtiese ontwikkeling verskil van die meeste van die Duitssprekende Joodse digters van Boekowina. In 1946 skryf hy: “Dis só moeilik, as Jood, om gedigte in Duits te skryf.” Tog is daar, wat hom betref, geen uitweg nie: “Dis my lot: Ek moet poësie skryf in die Duitse taal. En as poësie my lot is, ag ek myself gelukkig.”

In Februarie 1944 word die Roemeense arbeiderskampe gesluit weens strawwe sneeustorms en Paul keer terug na Tsjerniftsi. Noord-Boekowina word in Maart daardie jaar deur die Sowjet-weermag herower. Die suidelike deel bly onder Roemeense beheer. Die Jode van Boekowina se reaksie is gemeng. Hulle is dankbaar dat hulle gered is van uitwissing, maar hulle onthou die vorige Sowjet-besetting: die voedseltekorte, godsdiensonderdrukking, gedwonge weermagdiens. Hulle vrese word waar. Selfs Jode wat die kampe oorleef het, word beskuldig van samewerking met die Nazi’s. Hulle staar dwangarbeid, hervestiging in Siberië, of gedwonge weermagdiens in die gesig. Paul beskryf hierdie tyd as “antisemitisme, Sowjet-styl”. Sy gedig “Russiese lente” se eerste reël lui: “Die bloedgevulde helm het geval: Watse bloeisel kan bloei?”

In die herfs open die universiteit weer en hy skryf in vir die Engelse program. Terselfdertyd werk hy as verpleër in ’n psigiatriese kliniek. Hy stel ’n versameling van sy vroeë gedigte saam deur hulle in ’n klein notaboekie oor te skryf. Ruth Kraft slaag daarin om aan die begin van 1945 uit Sowjet-Tsjerniftsi die grens na Roemenië oor te steek, vermom as ’n Rooikruis-verpleegster. Paul vra haar om die boekie met sy gedigte aan Alfred Margul-Sperber te gee, wat toe al in Boekarest is. Hy is skrywer, vertaler en joernalis, die “doyen van Boekowina se letterkunde”, en ook Paul se mentor. Paul hoop dat Margul-Sperber hom sal help om die gedigte te publiseer. Dit gebeur egter eers lank na sy dood, toe Ruth Kraft dit publiseer as Gedichte 1938–1944.

Die Sowjet-regering vertrou nie die Roemeniërs nie, omdat hulle aanvanklik aan die kant van Nazi-Duitsland was. Hulle besluit om voormalige Roemeense paspoorthouers die geleentheid te gee om na Roemenië te repatrieer. Belangstellendes moet aansoek doen. Dis moeilik en duur om ’n permit te bekom, maar baie Jode benut die kans. Teen April 1946 het 22 300 mense al amptelik die grens oorgesteek. Paul wil ook gaan, maar hy het nie geld nie. Ten spyte van sy eie finansiële moeilikheid help sy vriend Jacob Silbermann, die prokureur, hom. Saam verlaat hulle Tsjerniftsi per trein. Paul keer nooit weer terug nie.

In Boekarest ontmoet hy weer ou vriende soos Rose Ausländer en Immanuel Weissglas. Hulle beleef moeilike finansiële tye. Intussen het die Roemeense regering geïntegreer geraak met die Sowjet-regering, en die gevaar van ’n Stalinistiese diktatorskap dreig.

Paul bly twee jaar in Boekarest. Hy verdien geld met vertaling, meestal uit Russies na Roemeens. En werk aan sy vakmanskap as digter. Hy skryf gedigte in Roemeens, ook prosaïese poësie. Die avant-garde is baie aktief daar. Paul maak met hulle kennis. Surrealisme begin in sy gedigte deurskemer, en sy styl raak vryer. In sy vriendekring is woordspeling en woordspeletjes aan die orde van die dag; ook dit vind neerslag in sy poësie. Die gedigte uit hierdie tydperk word eweneens eers na sy dood gepubliseer.

Dis ook in hierdie tyd dat die Roemeense vertaling van sy gedig “Todesfuge” in Contemporanul verskyn. En dat hy sy gedigte begin onderteken met die naam Paul Celan, ’n anagram van sy van in Roemeens – Ançel.

Maar hy hou aan skryf in Duits. Aan Ruth Kraft, wat hom vra hoe hy dit regkry om gedigte in Duits te skryf na die Sjoa, sê hy: “Net in jou moedertaal kan mens jou eie waarheid stel; in ’n ander taal lieg die digter.”

Wene bly Paul se droom. In 1947 abdikeer die Roemeense koning onder druk van die Sowjette. Die Ystergordyn begin toegaan. Paul slaag daarin om Roemenië te verlaat deur die grens met Hongarye onwettig oor te steek, met net ’n bietjie geld en ’n rugsak vol gedigte. Hongaarse boere help hom; hy slaap in ongebruikte treinstasies op sy moeilike tog deur Hongarye in die winter, op pad na die ou Habsburgse hoofstad wat Duitstalige Boekowiniërs en Tsjerniftsiërs altyd as hulle kulturele heimat beskou het.

 Wene

Margul-Sperber het voor die tyd deure vir hom probeer oopmaak in Oostenryk en Frankryk. Hy skryf voorstellingsbriewe waarin hy Paul Celan se talent aanprys – aan Otto Basil, Oostenrykse skrywer, uitgewer en joernalis, en Yvan Goll, Frans-Duitse digter en vertaler in Parys. Eendag, vertel Otto Basil later, verskyn daar in sy kantoor ’n jong, skraal man met donker oë, ’n sagte stem, half skaam en afgetrokke. Hy is slordig en lyk honger na sy lang reis deur Hongarye, vir lang ente te voet. Margul-Sperber se voorstellingsbrief slaag nie heeltemal in sy doel nie – Paul Celan verskyn letterlik van nêrens. Maar hy skryf tog ’n paar dae later aan Sperber dat hy ’n geleentheid gehad het om sy werk in Wene voor te lees, en hy het baie lof gekry. Sommige het gesê hy is die beste digter in Oostenryk, en selfs in die hele Duitsland.

Maar Celan is versigtig en agterdogtig. In Oostenryk was daar net ’n ligte denazifiseringsprogram, wat laat in 1947 tot ’n einde gekom het. Geringe oortreders word kwytgeskeld. Dis eenvoudig té vroeg om te dink Duitsland is besig om sy Nazi-verlede te verreken. Nietemin maak hy kennis met digters, skrywers en skilders. En daar is sukses. Basil publiseer heelwat van Celan se gedigte in sy avant-garde-tydskrif. Hy lees voor op die Oostenrykse radio, en mense help hom om sy bundel Der Sand aus den Urnen gereed te kry vir publikasie. Edgar Jené, die bekende surrealistiese skilder, maak vriende met hom. Celan skryf ’n fenomenale voorwoord vir ’n brosjure van Jené se werk, Edgar Jené and the dream about the dream.

In Wene ontmoet hy ook vir Ingeborg Bachmann, ’n Weense digter en skrywer. Sy is besig om ’n verhandeling oor die Duitse filosoof Heidegger te skryf. Haar pa was ’n lid van die Oostenrykse Nazi-party. In Celan se Weense poësie is sy meestal die aangesprokene. Hulle het ’n kortstondige liefdesverhouding, maar bly bevriend tot sy dood. Die korrespondensie tussen hulle, oor ’n tydperk van 20 jaar, bestaan uit meer as 200 items: gedigte, briewe, poskaarte, telegramme. Dis uitgegee in boekvorm in Duits, en ook in vertaling. ’n Film gebaseer op die liefdesgedigte wat hulle vir mekaar skryf, verskyn in 2016 as The dreamed ones (Die Geträumten).

Wene is nie goed vir Celan en die duisende vlugteling wat instroom ná die oorlog nie. Die lewensomstandighede is moeilik; hy voel die oorblyfsels van antisemitisme sterk aan, en boonop is kanse om sy studies voort te sit of goeie werk te kry skraal. Hy’s nie eers ’n jaar daar nie, of hy besluit om te vetrek, voor sy bundel nog verskyn. “Ek het nie lank gebly nie,” sê hy later; “ek het niks gevind wat ek gehoop het om te vind nie.”

Parys

Paul Celan land in Junie 1948 in Parys. Hy woon in dieselfde straat waar sy oom, die akteur,  wat hy in 1938 besoek het, gewoon het. Dié oom is in Auschwitz vermoor. Dis moeilke tye. Hy werk in ’n fabriek, en gee lesse in Duits en Frans. Die bundel met sy gedigte van 1943 tot 1948 is nog steeds nie uit nie. Toe dit uiteindelik in Augustus 1948 verskyn, is Celan hoogs teleurgesteld met die goedkoop papier, en setfoute wat die betekenis verander. Na drie jaar is minder as 20 kopieë verkoop, en hy gee opdrag dat dit onttrek en verpulp moet word. Hy sukkel om te skryf. Van 1948 tot 1952 voltooi hy slegs sewe of agt gedigte per jaar. In September 1949 keur ’n Duitse uitgewer ’n bundel nuwer gedigte af. Celan beskryf homself as “in stryd met die hemel en die abis”, en sê in sy korrespondensie hy kan nie meer skryf nie, as gevolg van die agterna-effek van die omdolwing in sy jeug.

In 1949 is daar nog ’n terugslag. Margul-Sperber stel voor hy besoek Yvan Goll, die bekende Joodse skrywer en vertaler wat in Parys woon, om hom te help om sy poësie bekend te stel. Paul gee vir Goll en sy vrou, Claire, ’n kopie van Der Sand aus den Urnen. Claire Goll onthou later dat Celan gekla het hy word as digter misverstaan. Goll was beïndruk met Celan en sy poësie. Op sy sterfbed in 1950 vra hy Celan om sy poësie uit Frans in Duits te vertaal. Paul vertaal drie bundels, maar Claire Goll weier dat dit gepubliseer word, omdat dit glo te duidelik die “merk” van Celan dra. Dit sou sy eerste groot vertaalwerk gewees het. Maar Claire Goll se renons in Paul Celan het later rampspoedige gevolge.

Die eerste gedig wat Celan in Frankryk skryf, heet “In Egipte”, ’n titel wat slawerny en ballingskap voor die gees roep. Dis ’n gedig gebaseer op die Tien Gebooie. Dit bestaan uit nege reëls, maar anders as van die gebooie, wat die woorde “Jy mag nie ...” bevat, begin elke reël met, “Jy sal ...”. “Sal” het hier die intonasie van ’n gebod, ’n imperatief, soos in die Engelse “Thou shalt”:

Jy sal vir die oog van die vrouevreemdeling sê: Wees die water.
Jy sal in die vreemdeling se oog na dié soek wat jy weet in die water is.
Jy sal haar oproep uit die water: Rut! Naomi! Miriam!
Jy sal haar versier wanneer jy met die vreemdeling lê.
Jy sal haar versier met die wolkehare van vreemdelinge.
Jy sal aan Rut en Miriam en Naomi sê:
Kyk, ek slaap by haar!
Jy sal die vreemdeling langs jou ten mooiste versier.
Jy sal haar versier met die verdriet vir Rut, vir Miriam en Naomi.
Jy sal aan die vreemdeling sê:
Kyk, ek slaap by hierdie!

“Vreemdeling” verwys na “nie-Jood”. Rut, Naomi en Miriam is Bybelse figure, maar ook die name van Boekowiense vriendinne. Hulle word opgeroep uit die water, uit die kollektiewe geheue, in verband gestel met ballingskap. Dis uit erbarming vir hulle dat die “vreemdeling” versier moet word. Die Joodse spreker se penarie van ’n liaison met ’n nie-Jood verkry sodoende  ’n mistieke betekenis.

Wat liaisons betref: In November 1951 ontmoet hy Gisèle Lestrange, ’n grafiese kunstenaar; hulle trou ’n jaar later. Hulle eerste kind, Francois, sterf kort na geboorte. Later het hulle weer ’n seun, Eric, aan wie hy baie geheg is. Gedurende die volgende 18 jaar skryf hy en Gisèle sowat 700 briewe aan mekaar. Hy word dosent in Duits by die École normale supérieure, maar werk steeds as vertaler, soms vir die geld, maar dikwels ook vir die uitdaging wat dit bied. Altesaam vertaal hy in sy leeftyd die werk van 43 skrywers.

Celan is vlot in Frans, maar bly skryf in Duits. Hy probeer onvermoeid ’n deur kry na die Wes-Duitse literêre wêreld. Dis uiteindelik Ingeborg Bachmann wat hom help. Gruppe 47, ’n belangrike na-oorlogse skrywersvereniging, nooi haar in Mei 1952 na ’n konferensie. Sy slaag daarin om Paul Celan aan boord te kry en vra dat hy “Todesfuge” voorlees. Hy eindig derde uit meer as 20 deelnemers. Van die uitgewery Deutsche Verlags-Anstalt kry hy direk na sy voorlesing ’n publikasie-aanbod. Daar is ook versoeke vir bydraes deur tydskrifte en radiostasies wat vroeër sy werk afgekeur het. En hy bly in kontak met van die deelnemers, onder andere die Duitse skrywer Heinrich Böll.

Maar daar was konsternasie by die konferensie. Gruppe 47 is verdeel rondom die kwessie van poésie pure of poésie engagée – realistiese, betrokke, poësie. Hulle verkies ook dat poësie so monotoon as moontlik gelees word. Celan lees op ’n soort sangerige manier, soos dit in Tsjerniftsi die gebruik was. Vir hom is voorlees ’n soort meditasie. Sommige Gruppe 47-lede, veral dié in die poésie engagée-kamp, kan nie daarby aanklank vind nie. Etenstyd merk hulle leier, ene Hans Werner Richter, op dat Celan se stem hom aan Goebbels, Hitler se propagandaminister, herinner. Paul kom dit te hore. Hy probeer Richter as ’n voormalige Nazi ontmasker. Ingeborg Bachmann en ander, wat weet Paul se ouers is deur die SS vermoor, en dat hy self ten nouste aan die dood ontkom het, is in trane en versoek Richter om om verskoning te vra. Hy doen dit, maar of Paul hom ooit vergewe het, is nie seker nie. Die episode druk swaar op hom. Hy dra nogtans in 1962 ’n bundel vertaalde gedigte van Aleksander Blok aan Richter op. Maar hierdie is ook die begin van kritiek wat hy voortaan gereeld ontvang: dat hy “suiwer poësie” beoefen, elitisties en van die werklikheid vervreem, nie-engagée.

Teen die einde van 1952 is daar goeie nuus. ’n Stuttgartse uitgewer publiseer Mohn und Gedächtnis. Dit bevat gedigte van 1944 to 1952, insluitend ’n deel van die mislukte Der Sand aus den Urnen. Die bundel word gunstig ontvang; iemand beweer dat Celan dit regkry “om die onsêbare te sê”. Dis ten spyte van onkunde wat sy agtergrond betref – een resensent skryf dat hy grootgeword het in Wene. Die negatiewe kritiek hamer op poésie pure: dis ’n montage van beelde; dit bestaan volledig uit metafoor; realiteit word vertaal in ’n geheime, poëtiese taal. Een beveel aan dat hy liewer moet publiseer net as hy iets te sê het, en dan liefs nie vingeroefeninge nie. ’n Ander beweer dat “Todesfuge” alles konkreet verwyder en net ritme en romantiserende metafoor agterlaat, ens.

Claire Goll is glad nie gelukkig met die aandag wat Mohn und Gedächtnis kry nie. Sy skryf ’n “ope brief” aan verskeie uitgewers, skrywers en kritici waarin sy “onthullings” maak oor “ontlenings” en “slim verwerkings” van frases en beelde uit ’n bundel van Yvan Goll van 1951. Die aantygings is vals; in baie gevalle dateer die frases uit gedigte wat vóór Goll se bundel geskryf is. Skokkend genoeg aanvaar ’n klomp Duitse koerante en resensente dié aantygings en versprei dit klakkeloos. Celan reageer nie, maar hierdie episode laat ’n diep merk.

Digbundels volg na Mohn und Gedächtnis met tussenposes van vier jaar, en meer gereeld in die jare voor sy dood: Von Schwelle zu Schwelle in 1955, Sprachgitter in 1959, Die Niemandsrose in 1963, Atemwende in 1967, Fadensonnen in 1968 en Lichtzwang in 1970. Twee bundels verskyn na sy dood: Schneepart in 1971 en Zetgehöft in 1976.

Celan se obsessie met Joodse tradisie word ’n sterk kenmerk van sy werk. Hy vind baie aanklank by Kafka en die poësie van Osip Mandelstam, ’n Russies-Joodse digter wat Stalin in die 1940’s laat vermoor – volgens oorlewering op grond van ’n kort epigram waarin hy melding maak van die diktator se dik vingers, vetterig soos wurms. Diktators is tog sulke sensitiewe mense. Celan dra sy bundel Die Niemandsrose van 1963 op aan Mandelstam. “Alle digters is Jode,” sê hy. Sy eie digtersbestaan beskou hy as ten nouste verweef met die lot van die Jode: “My poësie impliseer my Judaïsme.” Maar Celan se werk is kompleks, en sommige literators waarsku juis daarteen om hom te óór-Judaïseer.

Tog word hierdie verweefdheid ’n motto in sy werk, en al sterker namate antisemitiese voorvalle in Wes-Duitsland in die vyftigs en sestigs toeneem. Die Goll-affêre begin meer aandag kry in sy korrespondensie. Hy ontwikkel ’n obsessie met Duitse koerante; hy wil weet wat hulle skryf, en veral oor hom. Dit ontstel hom erg toe ’n kritikus, Günter Blöcker, sy poësie as “blote konstruksies” beskryf. Blöcker sinspeel daarop dat die digter nie ’n regte Duitser is nie, en daarom meer vryheid ervaar om met die taal te eksperimenteer. Dit kom daardeur dat hy nie gebind word deur taal se hoofdoel as kommunikasiemiddel nie. Soortgelyke onsin kom van ’n ander kritikus wat die beeld van ’n doodsmeule in Niemandsrose ’n “arbitrêre metafoor” noem. Dié persoon was onbewus daarvan dat Adolf Eichmann gesê het: “Laat die meul van Auschwitz werk.” Volgens die Duitse skrywer Günter Grass, wat bevriend was met Celan, keer hy gekwets van elke reis na Wes-Duitsland terug.

  • Deel vier, “As die Sabbat kom” – die laaste in die reeks, verskyn eersdaags.

Bronne

Oor Boekowina: https://en.wikipedia.org/wiki/Bukovina.

Paul Celan. Breathturn into Timestead: The collected later poetry, a bilingual edition. 2014. Farrar, Straus and Giroux. Bevat ’n uitstekende biografiese inleiding.

Paul Celan Today. Companions to contemporary German culture, Vol. 10, 2021. Michael Eskin, Karen Leeder en Marko Pajević (reds). Berlyn en Boston: Walter de Gruyter. 

Felstiner, John. Paul Celan: poet, survivor, Jew. 1995. New Haven en Londen: Yale University Press.

The paradox of pain: the poetry of Paul Celan and So Sakon: https://www.academia.edu/52429414/The_Paradox_of_Pain_The_Poetry_of_Paul_Celan_and_So_Sakon.

Paul Celan lees “Todesfuge”: https://www.youtube.com/watch?v=pHgYRtefUqs&t=42s.

Andrei Corbea-Hoişie. The poetry of Paul Celan and the Bukovinian exceptionalism. Transylvanian Review, 1/2020, 1:112–34.

Distribution of nationalities in Bukovina according to the 1930 Romanian census: https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/4/4c/Bucov.png.

The Meridian speech: https://dokumen.tips/documents/celan-paul-the-meridianpdf.html?page=4.

Prisms. Theodor W Adorno. 1997. MIT Press. 

Edgar Jené and the dream about the dream. https://fleurmach.com/2016/03/13/paul-celan-edgar-jene-and-the-dream-about-the-dream.

Paul Celan Ingeborg Bachmann Correspondence: https://www.seagullbooks.org/correspondence.

German life and letters, 69:1. Januarie 2016. From “Gedicht” to “Genicht”: Paul Celan and language scepticism. Shane Weller (University of Kent).

Lees ook:

Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan: ’n plek waar mense en boeke gewoon het

Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan, ’n graf in die lug

  • 4

Kommentaar

  • 'n Interessante en insiggewende uiteensetting van Paul Celan se lewe tot dusver. Ek sien uit na deel IV.

  • Waldemar Gouws

    Mnr. Viktor, baie, baie dankie dat u die werk van hierdie ikoniese digter aan ons bekendstel. Die Nazi-koeël (rewolwer) in sy ma, mev. Ancel, se kop, en sy eie lewe wat in die Seine tot 'n halt gekom het, het u tot verantwoordelikheid aangespoor.

  • Arme man wat soveel moes ontbeer. Dankie vir die deel van sy smart en van sy ontberinge. Stem saam, sien uit na deel 4.

  • Dis 'n baie insiggewende blik op 'n groot digter se lewe. Dit wys hoedat oorlog en politiek op 'n mens se lewe kan inbreuk maak, dit kan traumatiseer en kan verander, verwoes.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top