
Paul Celan (Foto: Wikipedia, billike gebruik; agtergrond Lily | Pixabay)
Deel twee: ’n Graf in die lug
Kobilianskastraat. ’n Straat, dorp, streek, ’n land – geografiese, fisiese plekke waarnatoe jy altyd later kan terugkeer. Maar hoe dit was toe jy daar grootgeword, daar geleef het, is ’n plek waarheen jy nooit weer kan terugkeer nie. Ten minste nie fisies nie.
In 1960 ontvang Paul Celan die Büchnerprys, ’n gesogte Duitse toekenning vir letterkunde. Die beroemde “Meridiaan-toespraak” wat hy lewer, maak gebruik van die Duitse dramaturg en digter Georg Büchner (skrywer van onder andere Woyzeck) se werk om ’n merkwaardige poëties-teoretiese tese te ontwikkel. Dié tese het ook ’n meeloper wat moontlikheid bied vir heraansluiting by die verlede, op ’n metafisiese vlak. Celan sluit sy rede af met:
I shall search for the region from which hail Reinhold Lenz and Karl-Emil Franzos whom I have met on my way here and in Buchner’s work. I am also, since I am again at my point of departure, searching for my own place of origin.
I am looking for all this with my imprecise, because nervous, finger on a map – a child’s map, I must admit.
None of these places can be found. They do not exist. But I know where they ought to exist, especially now, and ... I find something else.
I find the connective which, like the poem, leads to encounters. I find something as immaterial as language, yet earthly, terrestrial, in the shape of a circle which, via both poles, rejoins itself and on the way serenely crosses even the tropics: I find ... a meridian.
In Frankryk besoek Paul Antschel ’n oom wat ’n akteur is in Parys, en ’n tante in Engeland wat uit Nazi-besette Wene soontoe gevlug het. Daar hoor hy vir die eerste keer Shakespeare in Engels op die verhoog. Paul bestudeer kontemporêre Franse en avant-garde letterkunde, met meer oorgawe as medisyne. Hy raak vertroud met die surrealisme, die jong kunsbeweging wat opslae maak. Die Roemeens-Joodse surrealiste, onder wie die dramaturg Eugène Ionesco, is toe al ’n paar jaar lank bedrywig in Parys. Vroeg in 1938 organiseer André Breton, Paul Éluard en Marcel Duchamp die opspraakwekkende Exposition Internationale du Surréalisme in Parys, met Salvador Dali se installasie Rainy taxi, ook genoem Mannekyn wat in ’n huurmotor verrot, as ’n hoofaantreklikheid.
Paul Antschel se poësie vertoon nog nie enige invloed van die surrealisme nie. Vir Moedersdag in Mei 1939 skryf hy, soos die vorige jaar, ’n gedig vir sy ma. Dis ’n sonnet waarvan die tweede strofe lui:
Ons tree versigtig die stroom van dinge in
en sy moet daar wees, suiwerend soos ’n sterfte
wat die nag vir ons terughou, en vinnig ons reise
huis toe lei, wanneer die donder begin dreig.
Interpreteerders soos John Felstiner lees hierin tekens van naderende onheil – oorlogswolke begin immers saampak in die somer van 1939 met Duitsland wat vir Pole dreig. Die raaiselagtige, en ook volgens Felstiner, “Rilke-agtige” idee van ’n moeder wat “soos die dood suiwer” kan gesien word as ’n moontlike voorgevoel van verlies.
Vir die somervakansie keer Paul terug na Tsjerniftsi. Op 1 September val Duitsland Pole binne. Die Tweede Wêreldoorlog breek uit, en hy kan nie terug Frankryk toe om sy mediese studie voort te sit nie. Hy besluit om van rigting te verander: Hy skryf in by Tsjerniftsi se universiteit vir ’n graad in Romaanse tale. So ’n studierigting word toe nog filologie genoem; om die waarheid te sê, dis hoe dit teenswoordig nog in Oos-Europese lande genoem word. Elders is dit vervang met “linguistiek”. Sy vroegste gedigte wat bewaar gebly het, kom uit 1939, maar hulle word eers na sy dood gepubliseer.
In Junie 1940 eis die Sowjetunie dat Roemenië die noordelike deel van Boekowina en Bessarabië (’n streek in noord-oos-Moldawië) afstaan. Toe die Sowjet-weermag kort daarna hierdie streke binneval, vlug baie Roemeense administrasiepersoneel na Suid-Boekowina. Die Roemeense soldate wat saam vlug, val op pad terug Joodse gemeenskappe aan en steel, moor en verkrag.
Baie Jode en linkse intellektuele verwelkom die Sowjetunie se inval. Hulle sien dit as die einde van die antisemitiese Roemeense regering. Antschel is een van hulle. Maar toe mense op lukrake wyse begin deporteer word na Siberië, kondig hy aan: “Nou is ek ’n Trotskiis”, verwysend na Lenin se voormalige bondgenoot wat ballingskap opgelê word en vanuit die buiteland teen Stalin te velde trek.
Die werklikheid van die Sowjet-oorname word gou duidelik. Duitsers van regoor Boekowina moet alles agterlaat en word na Duitsland gedeporteer – sowat 80 000 van hulle. Eienaars word onteien en besighede genasionaliseer. “Vyande van die staat” word geteiken: besigheidsmense, grondeienaars, politici, joernaliste, aktiviste, Sioniste-organisasies, linkse intellektuele, sosiaal-demokrate. Russifikasie is in volle swang – straatname word verander, monumente vervang; slegs Russiese en Oekraïense produksies word in die teater toegelaat. Duitstalige koerante word gesluit. Skole en universiteite word herorganiseer. Russies is die voertaal, en indoktrinasie moet die hoofdoel van die onderwysers en dosente wees.
Paul, Erich Einhorn en Gustav Chomed sit hulle studies voort by die plaaslike universiteit, terwyl baie Boekowiense jongmans opgeneem word in die Sowjetweermag. Paul fokus op Franse letterkunde, leer Russies, en vertaal Shakespeare-sonnette in Duits. Hulle doen wat die menslike spesie so goed mee is: pas aan by nuwe omstandighede. Een van Paul se vriende sê sinies: “Ons verander meer dikwels van geboorteland as wat ons nuwe skoene koop.”
Maar daar’s ’n laaste verandering van omstandighede wat ver verwyderd van enige menslik-moontlike aanpassing lê. Op 23 November 1940 sluit Roemenië by die Tweede Wêreldoorlog se sogenaamde Spillande – Duitsland, Italië en Japan – aan. Duitsland skeur die Molotof-Ribbentrop-vredesverdrag met die Sowjetunie op deur Rusland op 22 Junie 1941 binne te val. Hel bars oor Oos-Europa los. En laat sy vlamme oral reën, maar veral op kwesbare wêrelde soos Boekowina.
Terug op met Kobilianskastraat: ’n gebou op ’n hoek en ’n groot glasvenster met geen tekens nie. Binne sit ’n paar mense in ’n kring by ’n flou staanlamp. In die middel, op ’n hoë stoel, sit ’n man en praat. Hy het ’n vol, swart baard. Die deur is op die hoek, diagonaal. ’n Kennisgewing van ’n bespreking vanaand oor Paul Celan deur ’n Franse besoeker. Ek wil my hand lig na die koper deurhandvatsel. Die man met die baard kyk op; in my oë vas. Daar’s iets van ’n gedeelde skuld, as vermeende buitestaanders. Maar vir ’n toeskouer van die vernietiging is dit anders. Selfs al is jy net skramsweg verbind met die bodem, bly die vrae spook: Hoekom nie ek nie? Hoekom die vrou, die kind, die bejaarde?
Van Paul se vriende vlug saam met die Russe wat onttrek uit Boekowina en Bessarabië. Gustav en Erich word in die Sowjetweermag opgeneem. Beide werk later as vertalers vir die weermag; Gustav is later vertaler tydens die Nuremberg-verhore. Paul bly in Tsjerniftsi agter.
Einsatz in Duits beteken “missie”. Die Duitse en Roemeense weermagte verower noordelike Boekowina en Bessarabië. Op die Duitse weermag se hakke marsjeer Einsatzgruppe D Boekowina op 5 en 6 Julie binne. Hulle het net één missie: “Energisch durchgreifen, die Juden liquidieren.” Hulle vertrou nie die Roemeniërs om die taak deeglik genoeg uit te voer nie, al verbaas die Roemeniërs hulle met die barbaarsheid waarmee hulle Jode aanval.
Die Einsatzgruppe, gesteun deur die Roemeense weermag en polisie, wis in effek die 600 jaar lange Joodse teenwoordigheid in die streek uit. Maar niemand gee minder om vir geskiedenis as dié wat onder die vaandel van geskiedenis ander lande binneval nie. Die Groot Sinagoge in Tsjerniftsi gaan in vlamme op; hulle plunder, en 3 000 word gedurende die eerste 24 uur vermoor. Baie word na ’n ghetto gedwing, duisende word later gedeporteer na Transnistria. Omstandighede in die ghetto is “erg beknop”, soos iemand dit stel: 45 mense in ’n klein woonstel. Paul is vir ses of sewe weke daar. Tog onthou van sy vriende die tyd daar as “nie heeltemal miserabel nie”. Daar’s ’n sterk samehorigheidsgevoel; hulle sing Jiddisje liedjies. Paul vertaal selfs ’n paar Shakespeare-sonnette in Duits.
Teen die middel van November 1941 is omtrent 29 000 Jode al gedeporteer na die suide van Transnistria, na ’n streek tussen die Dniester- en Bugriviere. Hulle word in veetrokke vervoer; die tog duur vyf dae. Daar is werkerskampe en doodskampe. Duisende sterf van die honger, ingewandskoors en ander epidemies, of word vermoor. In sommige kampe onder Roemeense beheer het hulle ’n geringe kans op oorlewing. Oorkant die Bugrivier is al die kampe onder Duitse beheer. Daar word mense eenvoudig geskiet as hulle te swak is om te werk.
Tsjerniftsi se burgemeester, Traian Popovici, het ’n moeilike taak. Hy moet die owerhede tevrede stel met die aantal Jode wat uitgewis word, en hy moet terselfdertyd die stad se ekonomie aan die gang probeer hou. Hy oorreed die Roemeense diktator Antonescu om “ekonomies nuttige” Jode vry te stel van deportering. Sowat 17 000 word gered. Hulle kry ’n vrystellingspermit. Paul se ouers is onder hulle.
Aan die begin van 1942 verloor Popovici mag. Deporterings word in Maart en April hervat. Van dié wat gedeporteer word, is in besit van vrywaringspermitte. Paul se ouers bly glo, soos baie ander, hulle is gevrywaar. In elk geval, sê sy ma, hulle kan nie aan hulle lot ontkom nie. En buitendien, voeg sy by, daar is al baie Jode in Transnistria. Wat sy nie weet nie, is dat twee derdes van die gedeporteerdes al dood is.
Paul word gedwing om op konstruksieterreine te werk. In Junie is daar ’n nuwe vlaag van deporterings. Dit vind op Saterdagaande plaas. Die Jode snap die patroon en baie probeer wegkruip. Op Saterdagaand 27 Junie help ’n vriendin Paul om ’n gerieflike wegkruipplek te kry. Hy smeek sy ouers, maar hulle weier om saam te gaan. Hy en sy pa kry rusie. Paul ignoreer sy ouers se wens om te bly, en gaan na die skuilplek. Dis een weergawe van die storie. Paul kon nooit presies vertel wat daardie aand gebeur het nie. ’n Ander weergawe is dat sy ouers hom veilig uit die huis wou kry. Hy is saam met vriende na iemand se huis, en moes oornag as gevolg van die aandklokreël. Maar oor die uiteinde is daar geen twyfel nie: Toe hy die volgende môre terugkom by die huis, is die voordeur met planke toegeslaan en sy ouers is weg.
’n Kennis van Paul het by ’n vroeëre deportering treinstasie toe gegaan en daarin geslaag om haar ouers van die trein af te kry. Twee van sy digtersvriende is saam met hulle ouers gedeporteer en het vir twee jaar by hulle gebly, en later saam teruggekeer. Paul bly sy lewe lank geteister deur skuldgevoelens dat hy hulle nie probeer red het nie. Sy pa sterf aan ingewandskoors in die herfs van 1942. Hulle is van een kamp na ’n ander gestuur, en beland aan die einde in ’n kamp oorkant die Bugrivier. Van ’n familielid wat ontsnap het uit Transnistria, hoor hy dat sy ma laat in 1942 of vroeg in 1943 tydens ’n buitengewoon koue winter geskiet is.
Die impak van hierdie gebeure, en van die Sjoa (die Holocaust), op Paul Celan se lewe en poësie is diepgaande en blywend. Tog poog hy doelbewus, veral in latere werk, om nie sy digkuns daaraan te hang nie. John Felstiner skryf:
“What the life of a Jew was during the war years, I need not mention,” Paul Celan said in a 1949 biographical note. With a discretion that seems to spare his German readers, Celan offset the trauma. Like many people who lived through those years, he gave almost no factual testimony about them – which gives his poetry a testimonial charge. Yet the war years bore down absolutely.
In sy debuutbundel, Mohn und Gedächtnis (Papawer en gedagtenis), wat in 1952 verskyn, funksioneer hierdie “getuienis lewer”-perspektief nog sterk as basis vir die poëtiese narratief. Dis verstaanbaar: Die gedigte wat daarin opgeneem is, spruit uit die oorlogsjare self, óf uit die tydperk kort daarna; Celan se oogmerk in hierdie tyd is niks anders nie as om die herinneringe aan die volksmoord in sy poësie vas te lê.
Maar “skuldgevoelens van die oorlewendes” – ’n algemene sielkundige toestand waaraan die oorlewendes van traumatiese gebeure ly – saam met die dilemma van ’n Joodse digter wat in Duits skryf ná die Sjoa, laat hom voortdurend soek na ’n nuwe poëtiese idioom in Duits. ’n Vroeë strategie om sy poëtiese taal te verander, is om verskillende literêre tradisies se poëtiese vorme en beelde saam te gooi. ’n Voorbeeld hiervan is ’n gedig met sy ma se dood as tema. Hier gebruik hy die styl van ’n Roemeense volkselegie, wat begin met verwysing na ’n blaar of blom. Die vertaling is myne, met die oorspronklike na die bronnelys:
Trilpopulier
Trilpopulier, wit kyk jou lower die donker in.
My moeder se hare kon nooit wit word nie.
Perdeblom, so groen is Oekraïne.
My blonde moeder kom nie huis toe nie.
Reënwolk, soom jy jou vas aan die fontein?
My stil moeder huil vir almal.
Ronde ster, jy knoop ’n lint van goud.
My moeder se hart word verwond deur lood.
Eikehoutdeur, wie het jou van die skarniere afgelig?
My sagte moeder kan nie terugkom nie.
Die gedig wat egter die oë van die na-oorlogse literêre wêreld op Paul Celan vestig, en tot op hede ten nouste met sy naam geassosieer word, is “Todesfuge” (Doodsfuga). Dis moontlik in 1944 of 1945 geskryf, en word eerste gepubliseer in Roemeense vertaling as “Tangoul morţii” in Mei 1947, in die tydskrif Contemporanul. Dis ook die eerste gedig wat onder die naam Paul Celan verskyn. Die oorspronklike Duitse weergawe verskyn in ’n bundel Der Sand aus den Urnen, Celan se eerste, in 1948. Die oplaag is klein, en word uiteindelik onttrek weens die vele setfoute. Die gedig word bekend eers na dit in Mohn und Gedäcthnis verskyn.
Daar is baie interpretasies van die gedig, en van die simboliek daarin vervat. Die verwysings na Nazi-Duitsland is meestal regstreeks. Om gevangenes musiek te laat speel tydens moorpartye het werklik gebeur. In Auschwitz is orkeste beveel om te speel wanneer groepe uitgelei is om geskiet te word. In Lviv (Lemberg) was daar ’n SS-luitenant wat ’n orkes bestaande uit gevangenes saamgestel het om ’n tango, met lirieke spesiaal daarvoor geskryf, te speel tydens martelings, grafgrawing en teregstellings van padwerkers. Die titel hiervan was “Todestango”. Voor die bevryding van die kamp word 25 000 mense in een dag doodgeskiet. Die orkes, waarvan sommige lede wêreldbekend was, moes eers vir hulleself die tango speel. Daarna sit hulle hulle instrumente neer, trek hulle klere uit, en klim in die massagraf wat vir hulle gegrawe is.
Celan gebruik die perspektief van “getuienis lewer” uiters effektief; dis asof verslag gedoen word direk uit ’n konsentrasiekamp. Dis só effektief dat ’n populêre gerug ontstaan het dat hy self in ’n konsentrasiekamp was en die gedig daar geskryf het. Dis egter nie waar nie; hy skryf as spreekbuis vir ’n kollektiewe “ons” – die Joodse volk.
Die verwysing na “asgrou hare” in die gedig verwys na die gasoonde. Sulamith is die minnares in Hooglied van Salomo. Sy vertel dat haar broers kwaad was vir haar en haar beveel het om die wingerde op te pas. Daarom is sy so bruingebrand deur die son, en sy vra die dogters van Sion om nie te let op haar donker gelaatskleur nie – duidelik is dit nie sosiaal aanvaarbaar nie. Tog sê sy van haarself: “Ek is bruin gebrand, maar lieflik.” (Hooglied van Salomo, hoofstuk 1, vers 5, 1953 Afrikaanse Bybelvertaling). In “Todesfuga” speel die deurlopende kontras tussen die “suiwer” Ariese ras – blou oë, die goue hare van Margarete – en die “onsuiwere”, die donkere, ’n belangrike strukturele rol.
Hier is my vertaling van “Todesfuge”, met die oorspronklike Duitse weergawe na die bronnelys.
Doodsfuga
Swart melk van dagbreek ons drink dit in die aand
ons drink dit smiddags en soggens ons drink dit snags
ons drink en drink
ons grawe ’n graf in die lug daar lê mens gerieflik
’n man woon in ’n huis hy speel met slange hy skryf
hy skryf as dit donker word aan Duitsland jou goue hare Margarete
hy skryf dit en gaan uit die huis die sterre flits hy roep sy honde
hy roep sy Jode nader om ’n graf in die aarde te grawe
hy beveel ons om te speel en te dans
Swart melk van dagbreek ons drink dit snags
ons drink dit soggens en smiddags ons drink dit saans
ons drink en drink
’n man woon in ’n huis hy speel met slange hy skryf
hy skryf as dit donker word aan Duitsland jou goue hare Margarete
Jou asgrou hare Sulamith ons grawe ’n graf in die lug daar lê mens gerieflik
Hy skree steek dieper in die aarde in julle klomp julle ander sing en speel
hy gryp na die yster in sy gordel hy swaai dit sy oë is blou
steek dieper met die grawe julle klomp julle ander hou aan speel vir die dans
Swart melk van dagbreek ons drink dit snags
ons drink dit smiddags en soggens ons drink dit saans
ons drink en drink
’n man woon in ’n huis jou goue hare Margarete
jou asgrou hare Sulamith hy speel met slange
Hy roep speel mooi vir die dood die dood is ’n meester uit Duitsland
hy roep bestryk die viole donkerder dan styg julle op soos rook in die lug
dan het julle ’n graf in die wolke daar lê mens gerieflik
Swart melk van dagbreek ons drink dit snags
ons drink dit smiddags die dood is ’n meester uit Duitsland
ons drink dit saans en soggens ons drink en drink
die dood is ’n meester uit Duitsland sy oë is blou
hy tref jou met loodkoeëls hy mik akkuraat
’n man woon in ’n huis jou goue hare Margarete
hy sit sy honde op ons en skenk ons ’n graf in die lug
hy speel met sy slange en dagdroom die dood is ’n meester uit Duitsland
jou goue hare Margarete
jou asgrou hare Sulamith.
Die gedig is nie sonder kritiek nie; sommiges meen dit “estetiseer” die gruwel van die Sjoa. Maar in na-oorlogse Duitsland word dié gedig ’n nasionale simbool, opgeneem in talle bloemlesings, getoonset, gelees op Duitse TV-programme. By die 50ste herdenking van die Kristallnacht word dit in die Bundestag, die Duitse parlement, voorgelees.
Luister hier na Celan se eie, roerende voorlesing.
Dit alles bring vir Paul Celan erkenning, maar nie verlossing nie. Dis iets waarna hy bly soek deur middel van sy digkuns in die daaropvolgende jare, en tot aan die einde van sy lewe.
Bronne
Oor Boekowina: https://en.wikipedia.org/wiki/Bukovina.
Paul Celan. Breathturn into Timestead: the collected later poetry, a bilingual edition. 2014. Farrar, Straus & Giroux. Bevat ’n uitstekende biografiese inleiding.
Paul Celan Today. Companions to contemporary German culture, Vol. 10, 2021. Michael Eskin, Karen Leeder, Marko Pajević (reds). Berly en Boston: Walter de Gruyter.
Felstiner, John. Paul Celan: poet, survivor, Jew. 1995. New Haven en Londen: Yale University Press.
The paradox of pain: The poetry of Paul Celan and So Sakon.
Paul Celan reads Totesfuge: https://www.youtube.com/watch?v=pHgYRtefUqs&t=42s.
Andrei Corbea-Hoişie. The poetry of Paul Celan and the Bukovinian Exceptionalism. Transylvanian Review, 1/2020, 1:112-134.
Distribution of nationalities in Bukovina according to the 1930 Romanian census. https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/4/4c/Bucov.png.
The Meridian speech. https://dokumen.tips/documents/celan-paul-the-meridianpdf.html?page=4
Espenbaum
Espenbaum, dein Laub blickt weiß ins Dunkel.
Meiner Mutter Haar ward nimmer weiß.
Löwenzahn, so grün ist die Ukraine.
Meine blonde Mutter kam nicht heim.
Regenwolke, säumst du an den Brunnen?
Meine leise Mutter weint für alle.
Runder Stern, du schlingst die goldne Schleife.
Meiner Mutter Herz ward wund von Blei.
Eichne Tür, wer hob dich aus den Angeln?
Meine sanfte Mutter kann nicht kommen.
Todesfuge
Schwarze Milch der Frühe wir trinken sie abends
wir trinken sie mittags und morgens wir trinken sie nachts
wir trinken und trinken
wir schaufeln ein Grab in den Lüften da liegt man nicht eng
Ein Mann wohnt im Haus der spielt mit den Schlangen der
schreibt
der schreibt wenn es dunkelt nach Deutschland dein goldenes
Haar Margarete
er schreibt es und tritt vor das Haus und es blitzen die Sterne er
pfeift seine Rüden herbei
er pfeift seine Juden hervor läßt schaufeln ein Grab in der Erde
er befiehlt uns spielt auf nun zum Tanz
Schwarze Milch der Frühe wir trinken dich nachts
wir trinken dich morgens und mittags wir trinken dich abends
wir trinken und trinken
Ein Mann wohnt im Haus der spielt mit den Schlangen der
schreibt
der schreibt wenn es dunkelt nach Deutschland dein goldenes
Haar Margarete
Dein aschenes Haar Sulamith wir schaufeln ein Grab in den
Lüften da liegt man nicht eng
Er ruft stecht tiefer ins Erdreich ihr einen ihr andern singet und
spielt
er greift nach dem Eisen im Gurt er schwingts seine Augen sind
blau
stecht tiefer die Spaten ihr einen ihr andern spielt weiter zum
Tanz auf
Schwarze Milch der Frühe wir trinken dich nachts
wir trinken dich mittags und morgens wir trinken dich abends
wir trinken und trinken
ein Mann wohnt im Haus dein goldenes Haar Margarete
dein aschenes Haar Sulamith er spielt mit den Schlangen
Er ruft spielt süẞier den Tod der Tod ist ein Meister aus
Deutschland
er ruft streicht dunkler die Geigen dann steigt ihr als Rauch in
die Luft
dann habt ihr ein Grab in den Wolken da liegt man nicht eng
Schwarze Milch der Frühe wir trinken dich nachts
wir trinken dich mittags der Tod ist ein Meister aus
Deutschland
wir trinken dich abends und morgens wir trinken und trinken
der Tod ist ein Meister aus Deutschland sein Auge ist blau
er trifft dich mit bleierner Kugel er trifft dich genau
ein Mann wohnt im Haus dein goldenes Haar Margarete
er hetzt seine Rüden auf uns er schenkt uns ein Grab in der Luft
er spielt mit den Schlangen und träumet der Tod ist ein Meister
aus Deutschland
dein goldenes Haar Margarete
dein aschenes Haar Sulamith
Lees ook:
Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan: ’n plek waar mense en boeke gewoon het
Op soek na Paul Celan langs die Boekowina-meridiaan, om die onsêbare te sê
Waarom skryf ek Afrikaans: Kaapse struggledigter gepubliseer


Kommentaar
Dis goed dat Paul Celan in Afrikaans onthou word.
'n Korreksie is egter nodig by die outeur Eben Viktor se stelling by "Todesfuge" dat Paul Celan nooit in 'n kamp was nie:
"Dis só effektief dat ’n populêre gerug ontstaan het dat hy self in ’n konsentrasiekamp was en die gedig daar geskryf het. Dis egter nie waar nie; hy skryf as spreekbuis vir ’n kollektiewe “ons” – die Joodse volk" (Eben Viktor Litnet 30/8/2023)
Sy bewering is onjuis. Celan was wél deeglik van Julie 1942 tot Februarie 1944 in 'n saam met Joodse mans uit Chernowitz in 'n gedwonge werkskamp in Tabaresti, Moldavia. Sien Israel Chalfen "Paul Celan: Eine Biographie seiner Jugend, 1979. In 1991 in Engels vertaal deur Maxmililian Bleyleben.
In "Towards the Abyss", Hoofstuk IX skryf Chalfen op bladsye 147 tot 162 oor die haglike omstandighede waaronder die mans verkeer het (hongersnood, koue, uitputting, blootstelling aan die elemente). Nietemin het hy bly gedigte skryf. Hier het hy 'n enkele gesmokkelde brief gekry van sy moeder, in herfs 1942, waarin sy vertel van sy vader se dood. Hy skryf hieroor in sy gedig "Schwarze Flocken" [Swart vlokke], volgens sy biograaf geskryf aan die einde van 1942 (gepubliseer in sy 1948-debuutbundel "Der Sand aus den Urnen" [Sand uit die urne]). Sy moeder skryf aan haar seun:
"Kind, ach ein Tuch,
mich zu hüllen darein, wenn es blinket von Helmen
(...)
wenn schneeig stäubt das Gebein
deines Vaters, unter den Hufen zerknirscht
das Lied von der Zeder"
[Kind, ag 'n doek
om my daarin te hul, as dit blink van die helmets
(...)
as sneeuig stof die gebeente
van jou vader, onder die hoewe vergruis
die Lied van die Seder"]
Paul kon sy moeder nie help nie.
In April 1945 eers kon hy emigreer na Roemenië, sonder 'n paspoort.
Wat 'n reis met Paul Celan. Skokkend, roerend en hartverskeurend. Baie dankie vir die deel daarvan. Iets wat jou laat sidder oor wat gebeur het, maar geweldig insiggewend weergegee.
Vir my 'n uiters verrykende artikel. Wie is dit wat gevoel het "dit 'estetiseer' die gruwel van die Sjoa"?
Helize van Vuuren: Dankie vir jou belangstelling. Jy’s reg wat betref die werkerskampe waarin Paul Celan was. Daarvan word vertel in die volgende aflewering (Deel 3); daar is ook ’n vierde aflewering.
Sommige weergawes vertel dat hy in een kamp was, Tăbăreşti, maar hy het self gepraat van ‘kampe’ - ander vertellings meld ook Piatra-Neamţ, Paşcani, en Pleşeşti. Dit was werkerskampe waarin jong mans opgeneem is vir konstruksiewerk en padbou. Celan kry geleentheid om kort besoeke te bring aan Tsjerniftsi. Wanneer hy gevra word watter werk hy doen in dié kampe, antwoord hy: “Shovelling” (John Felstiner, Paul Celan: poet, survovor, Jew).
Todesfuge wil ’n universele indruk gee van wat die Jode ervaar het, daarom gebruik hy beelde en kennis wat hy nie direk mee vertroud was nie, maar van te hore gekom het; die idee van musiek wat gespeel word deur gevangenes – ’n doodstango wat werklik bestaan het, en wat hy omskep in ‘Doodsfuge’, gasoonde (Sulamith se asgrou hare), en die yster in die Duitse soldaat se gordel – laasgenoemde word soms verkeerdelik vertaal as ’n wapen, pistool, of iets dergeliks, maar dit was inderdaad ’n kort stuk swaar yster wat in Auschwitz (moontlik elders ook) gebruik is. Daar het ’n soldaat by die lae deur na die oonde gestaan. As die mense buk om by die deur in te gaan, is hulle met dié yster op die nek geslaan (Felstiner).
Wat bedoel word, is dat Celan se gedig klink asof dit uit hierdie soort omstandighede praat, terwyl dit nie iets is wat hy direk beleef het nie; dis rondom hierdie punt wat die legende ontstaan het.
Hoop jy lees ook die volgende aflewerings!
Dietloff, 'n bietjie verheldering:
Barbara Wiedemann gee die resepsiegeskiedenis van die vers in haar "Kommentierte Gesamtausgabe" van Celan-gedigte (2003:607-609). Celan het intens aangeval en verontreg gevoel deur Günter Blöcker se 1959-kritiek op "Todesfuge".
In die Celan-handboek (2012) word uitgebreid ingegaan op die Duitse kritici wat besware had teen "Todesfuge" (Günter Blöcker -1959, Baumgarten - 1965), Holthusen -1954), en Heselhaus -1961) [Celan-Handbuch, 2012:62] as "pure poësie".
Eben:
Ek weet nie watter "legende" jy oor skryf en hoe jy sommer so loshand presies kan weet wat die gedig "wil" nie - ek twyfel sterk of 'n gedig óóit kan "wil".
Hoe ookal, Celan se digterlike reaksie verwoord hy in die vers "Wolfsbohne" (1959 - eers na sy dood gepubliseer), op Blöcker se aanval. Die kern daarvan is 'n monoloog met sy moeder, met hierdie aanklag aan Blöcker se adres:
Gestern
kam einer von ihnen und
tötete dich
zum anderen Mal in
meinem Gedicht.
Mutter.
[Gister
kom een van hulle en
vermoor jou
nogmaals
in my gedig.
Moeder.]
Celan het "Todesfuge" as 'n grafsteen vir sy moeder gesien. Hy herinner Ingrid Bachmann daaraan in 1959:
"dass die Todesfuge auch dies für mich ist: eine Grabschrift und ein Grab (...).
Auch meine Mutter hat nur dieses Grab"
["dat die Doodsfuga ook dit vir my is: 'n grafskrif en 'n graf (...).
Ook my moeder het net hierdie graf"]
(Wiedemann in "Paul Celan. Die Gedichte" 2003:608)
Aan sy vriend Walter Jens skryf hy oor die "Grab in der Luft" [Graf in die lug] (19 Mei 1961, aangehaal in Wiedemann 2003:608).
Op sy eie Seine-watergraf in 1970 (dieselfde jaar as NP van Wyk Louw se dood), miskien van toepassing ook hierdie nagelate vers, een van sy laastes, in Afrikaanse vertaling:
Aan die sinkende walviskop
lees ek jou af -
jy herken my,
die hemel
stort sig
in die harpoen,
sesbenig
hurk ons ster in die skuim,
langsaam
hys iemand, wat dit sien,
die trooshappie: die
parende Niet.
Helize:
Die ‘legende’ verwys na die misverstand wat ontstaan het oor die omstandighede rondom die oorsprong van die gedig, soos ek verduidelik het.
Volgens John Felstiner, “Celan's early title, 'Todestango', gave his poem the ring of reliable evidence: that this person knew whereof he spoke, that he was surely there and must have written the poem there.” En, “... Celan's firsthandedness has given rise to ... confusion between the poem's actuality and the poet's.” (1995. Paul Celan: poet, survivor, Jew. bl. 30)
Wat betref die universaliteit van die omstandighede wat in die gedig geskep word, skryf Felstiner: “Its true origin, the only one we really need to know, we know already: 'l'univers concentrationnaire,' Nazism's ‘concentrationary universe.’” (ibid., bl. 27)
Dietloff en Helize
Die aantyging dat Celan se poësie die Jode se afgryslike ervarings tydens die Shoa 'estetieer', kom voor in 'n paar bronne, maar die oorsprong van die aantyging word nie gemeld nie. Mens kan slegs spekuleer dat dit dalk uit die geledere van konserwatiewe Sioniste kon wees.
Blöcker se kritiek op Celan se poësie kom nie op dieselfde neer nie. Dit spruit uit die twis tussen voorstanders van 'poésie pure' en 'poésie engagée'. Hiervan word vertel in dele 3 en 4 van hierdie reeks.
Die doel met hierdie reeks was om 'n biografiese vertelling te skep wat chronologies ontvou. Daarom sou mens nie graag die storie wou vooruithardloop in die kommentaar nie.
"Skeer my klere!"
- 'n mooi storie bo trauma-met-feite
So is die mens.
- "Nichts stockt"
Wanneer jy oor Paul Celan skryf, dan is jy besig met die restourasie van die
Portland-vaas. Sewe en dertig skerfies bly oor, ongeplaas in 'n laai iewers in die
Britse Museum.
Die gom vergeel, word bros. Kollegas onderneem 'n verdere restourasie. Drie
fragmente word deel van die nuwe werk. Nou sit ons nog met vier en dertig skerfies glas.
Pragtige metafoor, Jacobus, die Portland-vaas en pogings tot herstel, vir gedig-interpretasie.
Dieselfde geld egter nie vir feite van 'n digterslewe, wat algaande bekend word na sy dood nie.
Peter Szondi het dit tog desjare probeer duidelik maak, soos ook Barbara Wiedemann in haar kommentaar-by-gedigte: bekende feite in die konteks van 'n digter en sy lewe, IS NIE INTERPRETASIE van die gedig nie.
Wat ek hierbo probeer aanstip het by Eben Viktor se biografiese vertelling oor Celan se lewe, is dat die feite meer bekend is, as wat sy vertelling te kenne wil gee - gebaseer op 'n halwe eeu se gepubliseerde navorsing (Celan-handboek, Versamelde gedigte-met-kommentaar-in-voetnote van Wiedemann, eindelose briewebundels met vriende en geliefdes en vrou, biografieë - min of meer elke reël wat die digter ook bygehou het op papier...prosa sowel as vertalings, en ook verse.)
Interpretasie was nie ter sprake nie. In die kollig by Eben Viktor se reeks, is biografiese feite, lankal reeds bekend, nie meer "gerugte" of "legendes" soos wat die aflewerings te kenne gee plek-plek nie - miskien die gevolg van oënskynlik slegs Engelstalige bronne te kon raadpleeg.
Maar dis uitmuntend gestel, Jacobus. Celan is só verwikkeld, veral sy laatwerk van FADENSONNE (1968) af, die intepretatiewe beeld, begrip daarvan, is onvoltooid. Sál of kán of wíl miskien selfs nooit voltooi word nie. Want hy skryf self - hy skryf anderkant die mense. Selfs anderkant selfvervreemding. In die "parende Niet" in...
Vir die gewone leser wat nie só bekend is met Paul Celan se lewe nie, is hierdie skrywes tog interessant en verrykend. Indien daar dan gegewens en ander detail is wat oorbekend is vir die akademikus, bly dit vir ander insiggewend. Hierdie is sekerlik tog nie bedoel as 'n doktorale proefskrif nie.