Waarom skryf ek Afrikaans: Kaapse struggledigter gepubliseer

  • 4

Testimony / Hoekom skryf ek Afrikaans
Redakteurs: Allan Zinn, Denise Zinn, Abe Daniels

ISBN: 9781998951246
Uitgewer: African Sun Media

Victor Wessels se postume, tweetalige digbundel Testimony / Hoekom skryf ek Afrikaans is op 22 Julie 2023 in die Muslim Movement Hall, Van der Kempstraat, Parkside, Gqeberha bekendgestel in samewerking met die Nelson Mandela Universiteit en die radiostasie IFM 88.3, ’n plaaslike radiostasie.

Wie was Victor Wessels?

Victor Wessels was ’n onderwyser, onder andere aan Hoërskool Livingstone in Harfield Village, Kaapstad. Dit is ’n instansie wat bekend is vir die aantal struggle-leiers wat daar skoolgegaan het. Geraldine Fraser-Moleketi en Ebrahim Rasool is waarskynlik hul bekendste alumni.

Wessels was ook ’n prominente lid van die Non-European Unity Movement (NEUM) en die Teachers  League  of South Africa (TLSA). Hy het gereeld bydraes gelewer aan Torch, NEUM se lyfblad, en The Educational Journal, die lyfblad van die TLSA.

Een van Wessels se werke was die dokument Majority rule wat stukkie vir stukkie in The Educational Journal verskyn het onder die skuilnaam Sarah Mokone. Dié publikasie is tans gratis beskikbaar; klik hier om dit af te laai.

Wessels, in 1929 gebore, was self ’n leerling van Hoërskool Livingstone en het aan die Universiteit Kaapstad studeer.

In 1956 is hy met Daphne Lesch getroud. Hulle het ’n seun, Anton, gehad.

Victor het alles gedoen om die destydse Departement van Kleurlingsake teen te staan en is in 1958 die eerste keer in hegtenis geneem. Dit was die begin van ’n kat-en-muis-speletjie met die owerhede wat tot sy dood in 1979 sou aanhou. Die eerste saak is later uitgegooi, maar op 11 September 1961 is hy vir die eerste keer verban – vir ’n volle vyf jaar.

Ná die inperkingsbevel verstryk het, is Wessels na Upington gestuur. Die owerhede wou hom nie in die Kaap hê nie. Dié skuif het nie gewerk soos die mense by Kleurlingsake gehoop het nie, want gou was Upington ’n miernes van politieke bedrywighede, danksy Wessels.

Hy is in 1969 teruggebring Kaap toe sodat die owerhede hom kon dophou. Hy is nie weer toegelaat om skool te hou by Livingstone nie, maar het tydelik ’n pos gekry by Hoërskool Bridgetown.

Op 27 September 1969 is imam Abdullah Haron in aanhouding oorlede, kwansuis omdat hy op ’n trap sou geval het. Hy was voor sy dood vir 123 dae aangehou sonder dat hy met iemand kon kontak maak.

Wessels was ’n spreker by die begrafnis van imam Abdullah Haron. Die foto op die voorblad van hierdie postume bundel is op Haron se begrafnis geneem.

Wessels het ook ’n gedig, “The fallen”, oor Haron se dood geskryf. Die gedig is op 22 Julie 2023 deur Angel Rose, ’n onderwyser, in Gqeberha voorgelees.

Hy het ’n jaar na Haron se dood “Suiderkruis” geskryf, wat deur Hein Willemse voorgedra is.

Nie lank nie of Wessels is weer verban: Hy mog nie sy huis verlaat van 7 in die oggend tot 7 in die aand nie; hy kon geen openbare vergaderings bywoon nie; ook kon hy nie enige fabriek, drukkery, universiteit of biblioteek betree nie. Verder is hy verbied om enigiets vir publikasie te skryf.

Dit het hoegenaamd nie gesorg dat hy stilgebly het nie. Hy het aanhou skryf onder skuilname, en koeriers, onder wie Allan Zinn, een van die redakteurs van die bundel, het leeswerk vir hom gebring en sy skryfwerk uitgesmokkel.

Zinn, ’n voormalige direkteur van die Sentrum vir die Bevordering van Nierassigheid en Demokrasie aan die Nelson Mandela Universiteit, was ’n student aan die Universiteit Kaapstad. Hy had toegang tot die spesiale versamelings en kon gaan fotokopieë maak van boeke wat in Suid-Afrika verbied was. Dié kopieë kon hy dan na Wessels neem.

Wessels is in 1979, kort voor sy 50ste verjaarsdag, aan ’n hartaanval oorlede. Omdat hy reeds dood was teen die tyd dat daar met hom by die hospitaal aangekom is, wou die hospitaal hom nie neem nie en moes Zinn hom na die lykshuis neem. Kort ná hulle by die lykshuis aangekom het, was Spyker van Wyk, ’n baie bekende veiligheidspolisieman, self by die lykshuis om seker te maak dat die “moeilikheidmaker” werklik dood is.

Die gesin is toe gewaarsku het dat die veiligheidspolisie die kans sou gebruik om Wessels se huis te deursoek vir alles wat hy geskryf het. Hulle moes baie vinnig alles bymekaarmaak, en ’n senior kader is aangesê om die dokumente in veilige bewaring te hou.

Dekades later het Wessels se dokumente weer na vore gekom. Dit is hoe hierdie bundel tot stand gekom het.

Later, toe Zinn self in aanhouding was, het ’n vreemde voorval plaasgevind. Hy is aanvanklik gereeld in Port Elizabeth ondervra, maar is later na ’n tronk in Oos-Londen oorgeplaas. Daar is hy skielik eendag ontbied, want ’n boks vol dokumente het in die veiligheidspolisie se hande beland en sy vingerafdrukke was oral.

Met genoegdoening het hy toe die veiligheidspolisie in Oos-Londen vertel dat die dokumente aan Victor Wessels behoort – waarop ’n soektog na Wessels van stapel gestuur is. Die polisie moes toe egter natuurlik uit die Kaap hoor dat Wessels lank reeds dood is.

Die bekendstelling

Chanel van der Merwe het die program gelei.

Die geleentheid is geopen met ’n opname van Wessels wat een van sy eie gedigte, “I want to mine the dark”, voordra.

Daarna het Pamela Maseko, die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Geestewetenskappe aan die Nelson Mandela Universiteit, almal verwelkom.

Chanel van der Merwe het die gedig “Vir Anton” voorgedra wat Wessels vir sy seun, Anton, geskryf het.

Anton Wessels vertel

Anton het meer oor sy pa en sy oupa vertel.

Anton se oupa, Victor se pa, was ook ’n leier in die Unity Movement en dit is waar die jong Victor, een van agt kinders, sy politieke bewussyn gekry het.

Die oupa was ’n vurige Christen, en deel van die Morawiese Kerk, terwyl Victor glad nie deel daarvan wou wees nie.

Anton vertel dat hy die eerste kleinseun was en dat sy oupa hom dus bitter graag wou doop, maar dat Victor dit nie wou toelaat nie. Toe die jonge Anton breinvliesontsteking kry en in die hospitaal beland, het die oupa sy kans waargeneem en Anton is gedoop.

Hierdie staaltjie vertel baie van sy pa, sê Anton toe. Victor Wessels was ’n man wat vas geglo het in sake en soms kwasterig vasgeskop het. By ander geleenthede was daar egter ’n meer pragmatiese mens te bespeur.

Dit was nie maklik om in hulle huis groot te word nie. Sy pa was dikwels afwesig, dan was daar ook die talle inperkingsbevele en die lang tydperke van huisarres.

Oor die afwesige pa sê Anton hy moes later besef het dat Victor nie bloot sy pa was nie; hy was vir baie mense ’n pa-figuur.

Die huisarres en voortdurende besoeke deur die veiligheidspolisie het hul leefwyse geword. Anton is as kind al geleer om die veiligheidsmanne sonder te veel respek te behandel.

’n Klein tafereel soos hierdie het sigself gereeld by hul voordeur afgespeel:

Veiligheidspoeliesman: “Waar is Wessels? Ons soek vir Wessels.”
Anton: “Sorry, there is no Wessels here. Only a Mr Wessels.”
Veiligheidspoeliesman: “Okay. Waar is Mr Wessels. We want Mr Wessels.”
Anton: “Sorry, Mr Wessels has a banning order against him. He is not allowed to receive visitors.”

Hy het sy praatjie afgesluit met die gedig “For DM”, wat Victor vir sy pa, DM Wessels, geskryf het:

I saw him grow old
and made the severed journey
discovering the sad fact
that as children grow up
fathers grow frail.

Dié voorreg het Anton nie gehad nie; hy sou nooit sy pa sien oud word nie.

Denise Zinn: Die ontstaan van die bundel

Denise Zinn is een van die redakteurs van Victor Wessels se bundel. Sy het aan die gehoor vertel hoe die stapel papiere wat ná Victor se dood weggesteek is, uiteindelik ’n bundel geword het.

Zinn, ’n voormalige adjunkvisiekanselier en dekaan van opvoedkunde aan die Nelson Mandela Universiteit, het verduidelik hoe Abe Daniels, ’n afgetrede pediater, die talle papiere begin sorteer het. Hy het begin deur hopies te maak van al die weergawes van die onderskeie gedigte.

Hulle was verbaas dat daar ongeveer ’n gelyke aantal Engelse en Afrikaanse gedigte was.

Wessels was Engelssprekend, maar was lief vir Afrikaans en het Afrikaans gegee voor hy verban is.

Daar is uiteindelik besluit om die bundel ’n versameling in beide tale te maak: Engels aan die een kant, Afrikaans aan die ander kant.

Die Afrikaanse en Engelse gedigte is nie vertalings van mekaar nie; elke afdeling bevat unieke gedigte wat in daardie taal geskryf is.

Denise en haar man, Allan, en Abe Daniels het daarna probeer om te bepaal watter weergawe van ’n gedig die finale weergawe is. Is die getikte weergawes meer onlangs as van die handgeskrewe gedigte? Is van die handgeskrewe gedigte juis latere weergawes van gedigte wat dalk al te vore getik is vir sekere geleenthede?

Die probleem was dat van Wessels se gedigte bekend was onder sy vriende en gepubliseer is, soos in die NUM (New Unity Movement) se lyfblad toe hulle vyftig jaar oud geword het, maar die redakteurs kon natuurlik nie vir Wessels vra of hy later verder aan die gepubliseerde gedigte gewerk het nie.

Daarna is daar gekibbel oor leestekens en hooflettergebruik.

Zinn sê die saamwerk en saam besluit het ook telkens gepaard gegaan het met ’n vraag oor waar en wanneer die gedigte ontstaan het. Watter beelde het daartoe aanleiding gegee?

Op hierdie manier, deur te probeer raai hoe elke gedig ontstaan het, is die volgorde dan ook bepaal soos die gedigte in die bundel opgeneem is.

Abe Daniels: Wessels die organiseerder

Abe Daniels, die afgetrede pediater, het die gehoor toe vertel hoe hy vir Wessels ontmoet het.

Wessels is in 1966 vir ’n tyd lank na Upington verban om hom uit die Kaap weg te kry. Daniels was toe in matriek. Hy en ’n vriend het pas gehoor dat hulle vir medies gekeur is by die Universiteit Kaapstad. Hulle het egter nie die nodige fondse gehad om dit te aanvaar nie en het dus besluit om eerder ’n BSc aan die Universiteit van Wes-Kaapland te gaan doen.

Daniels het sy praatjie begin deur ’n skyfievertoning te gee oor die treinrit wat Wessels moes meemaak van die Kaap na Upington, met die immer teenwoordige veiligheidspoeliesman op sy spoor. Wessels beskryf dit so in die gedig “Reis”:

Op die stasie
tussen nuut ontmoete medereisigers
merk ek ’n ou bekende tipe
forse lid van die veiligheidspolisie
wat opmerklik snuffel om my kompartement.

Daniels se eie kennismaking met Wessels het reeds die heel eerste dag van Wessels se verblyf in Upington gebeur. Hy en sy vriend is geroep en aangesê om die nuwe onderwyser, wat nog nie eens begin skoolhou het nie, te gaan spreek. Daniels was baie Afrikaans en hy het gehoor dat hierdie nuwe onnie uit die Kaap Engelssprekend is, al is hy Upington toe gestuur om Afrikaans te gee. Hulle was maar benoud.

Toe hulle daar aankom, het Wessels, in Afrikaans, vir die twee vertel dat “geen kind van die struggle” tevrede moes wees met mindere onderwys as dit waarvoor hulle kwalifiseer nie. As hulle wil medies doen, dan reël hy dit.

Daniels vertel Wessels het daardie selfde middag die lyne Kaapstad toe warm gebel en teen die aand was daar fondse en verblyf vir die twee seuns uit Upington om te gaan medies studeer.

Dit op sigself is ’n wonderlike storie, maar hy het Wessels eintlik behoorlik leer ken toe hy later by hulle aan huis gaan bly het, ná Wessels teruggestuur is Kaap toe.

Daar in Wessels se huis het Daniels poësie ontdek, want Wessels het wyd en internasionaal gelees. Pablo Neruda en Federico Garçia Lorca is bespreek saam met Engelse digters en dié van Europa. Ook die Afrikaanse sestigers is gereeld gelees en bespreek; so ook ouer Afrikaans gedigte.

Dit is dalk hoekom Wessels sulke goeie werk in Afrikaans geskryf het. Die meeste mense is dit eens dat Wessels se Afrikaanse gedigte dikwels beter is as van sy Engelse werk.

Hein Willemse gee ’n literêre oorsig

Hein Willemse, ’n voormalige hoogleraar aan die Universiteit van Pretoria, het verduidelik dat die begrip testimony, soos gebruik in die Engelse titel van die digbundel, ’n bekende begrip in die literatuurgeskiedenis is. Dit wat in die kantlyn gebeur, lewer kommentaar op die hoofstroom. Daar kom vernuwende werk vorendag deur verslag te lewer en kritiek uit te spreek teen die hoofstroom. Deur in die kantlyne te getuig oor die lewe, stel die skrywer, soos Wessels, homself op teen die binnekringe.

So ook het bell hooks se swart feminisme in die kantlyne van die Westerse, wit feminisme ontstaan en feminisme vernuwe.

Ons sien dit ook hier by die werk van Wessels, sê Willemse. Wessels was deeglik belese en kon dus bewustelik kommentaar lewer op die werk van die hoofstroom.

Die gedig “Testimony” anker die bundel dus binne ’n breër, internasionale stryd om onreg aan te spreek.

Dit toon Wessels se belesenheid, maar ook sy bereidwilligheid om nie bloot na te volg nie.

Van groot belang is die sigbare gebrek aan gesprekke met swart Suid-Afrikaanse skrywers in Wessels se poësieverwysings. Daar is ’n rede voor, sê Willemse. Swart skrywers se werk is gewoonlik verban kort na dit verskyn het. Wessels sou, veral onder huisarres, nie toegang daartoe gehad het nie.

Daarom is Wessels se gedig “I am black” interessant:

I do believe
that myths of race serve only those
and them alone
who partition and divide
who rule and oppress mankind.

Die stelling “I am black” is in die jare ’70 internasionaal deur verskillende digters gebruik. Wessels voer dit verder. Hy daag die norm uit, hy stel ’n breër konteks voor vir swart wees as wat byvoorbeeld die Black Consciousness Movement in Suid-Afrika gebruik het.

NUM

Basil Brown, die president van die New Unity Movement (NUM), het daarna meer vertel oor die beweging en oor Victor Wessels se betrokkenheid daarby.

Die NUM is in 1985 gestig omdat die NEUM toe vir alle praktiese doeleindes verdwyn het weens die voortdurende arrestasies en verbannings van die leiers.

Gedigte voorgelees

Nirode Bramdaw, die hoof- uitvoerende beampte van African Sun Media, wat die bundel uitgegee het, het die gedig “Tyrants fear” voorgedra. Bramdaw het ook vertel dat hy in gesprek is met die Nelson Mandela Universiteit om aan jong digters ’n platform te gee om hul werk te publiseer.

Mukhtar Raban, ’n imam en dosent aan die Nelson Mandela Universiteit, het Wessels se gedig “What happened to the dust?” voorgelees ná hy die konteks verduidelik het, naamlik dat Wessels se vers ’n gesprek is met Nelly Sachs, wat in 1966 die Nobelprys gewen het.

Sachs, van Joodse afkoms, het heelwat geskryf oor die konsentrasiekampe en die dood van duisende Jode, waar daar dikwels net stof oorgebly het van mense. Wessels het die metafoor van stof verder gevoer en geantwoord op die vergrype van Israel teenoor Palestina:

What has happened to the dust
Oh, Nelly Sachs?
What has happened to the dust
now that your sons
storm the land.

Jacqui Lück, adjunkdekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, het “Proclaim his death” voorgelees.

Rashooda Hendricks, stasiebestuurder van IFM, het die geleentheid afgesluit deur almal te bedank.

  • 4

Kommentaar

  • Wat 'n digter. Ek stort 'n traan vir al die woorde wat hy binne moes wegsteek en dat hy hulle nooit gerangskik op 'n blaai in 'n boek kon sien nie. Saluut, Wessels!

  • Die stryd van 'n besonderse, begaafde mens was toe nie verniet nie, want sy wortels het aanhou groei en sy sade begin nou wortelskiet … Respek, Victor Wessels. 🌟🌟🌟

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top