
Titel: Op die spoor van die Stasiemoordenaar
Skrywer: Julian Jansen
ISBN: 9780624095200
EPUB ISBN: 9780624095217
Uitgewer: Tafelberg
Van 1986 tot 1994 word die Kaapse Vlakte geterroriseer deur die Stasiemoordenaar – 22 jong seuns en mans verdwyn spoorloos. Sommige van die liggame – dikwels met hul hande agter hul rûe vasgebind en in vlak grafte begrawe – is later gevind, maar die meeste van die moorde is nooit opgelos nie.
Die slagoffers, meestal tussen 9 en 14 jaar oud, is naby treinstasies ontvoer, seksueel misbruik en vermoor. Dit het aan die moordenaar die naam “die Stasiemoordenaar” besorg.
Norman Afzal Simons, ’n laerskoolonderwyser van Mitchells Plain, is in 1995 skuldig bevind aan een van die moorde en in 2023 op parool vrygelaat. Tergende vrae bly egter spook.
Die gesoute joernalis en skrywer Julian Jansen volg die spoor van die seuns en die destydse polisieondersoeke om lig te werp op hierdie donker raaisel.
Jansen is ’n bekroonde ondersoekende joernalis en skrywer en bekend vir sy diepgaande dekking van misdaad en maatskaplike kwessies in die Wes-Kaap. Hy fokus dikwels op die menslike element agter die nuusopskrifte. Hy wen dikwels die vertroue van slagoffers én oortreders.
Sy verbintenis met die Stasiemoordenaar-saak is persoonlik en professioneel.
Jansen het oor die jare kontak met Simons en sy familie gehou. Hy het probeer vasstel of Simons werklik alleen opgetree het en of daar ander skuldiges was wat nooit aan die pen gery het nie. Jansen bevraagteken dikwels of geregtigheid werklik vir al 22 seuns geskied het.
Die dinamika tussen die moordenaar en die joernalis is belangrik, omdat dit die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse regstelsel blootlê. Waar die polisie die saak as afgehandel beskou het ná Simons se vonnis, het Jansen aangehou met vrae vra.
Jansen word dikwels in dokumentêre programme (soos op kykNET) gesien waar hy sy insigte deel oor hoe trauma generasies in die Kaap beïnvloed.
Vrae vir Julian: Altesaam 22 seuns het verdwyn, maar Simons is slegs vir een moord skuldig bevind. Wat dryf jou om aan te hou vrae vra in ’n saak wat volgens die polisie lankal in ’n liasseerkabinet vergete is?
Daar is tans 21 families wat sonder antwoorde oor die ontvoering en dood van ’n geliefde seun sit en dus sonder enige afsluiting met hul lewens moet aangaan.
Daar is die ontroerende woorde in 2025 van die vermiste Tafelsig-seun, Baden Keet (sy liggaam is nog soek), se 73-jarige ma, Ursula Keet: “My pyn het geduur van die dag van sy verdwyning tot vandag toe. Hoe kan ’n ma dinge vergeet, en jy het nie jou kind nie? Ek het geen afsluiting met my kind gevind nie. Soms kan ek nie slaap nie. Ek is nou onder ’n dokter se sorg vir depressie. My gebed is dat voordat ek eendag my oë toemaak, ek my kind sal sien en met ’n kalm hart sal vertrek. My oorlede man (Nathaniël) het met daardie herinnering gesterf, onbewus van waar sy seun was. Ek wil nie sterf soos my oorlede man nie, wat nie geweet het wat met ons kind gebeur het, waar hy is en of hy nog leef nie.”
Ek is bevoorreg en dankbaar om ’n stem in die media en dus die samelewing te kan hê, en met daardie stem het ek ’n opgelegde verpligting, om geleenthede en platforms te gebruik om, luid en presies, brandende kwessies in ons gemeenskappe aan te spreek, veral as dit by die veiligheid van ons kinders kom.
Weerlose en goedgelowige kinders is in die laat tagtigs en negentigerjare deur ’n individu, of individue, met verskuilde agendas uit hul buurte se strate gelok, vernederend verkrag, wreed vermoor en hul geskende liggame gestort tussen sand en bos, asof hulle niks beteken het.
Daardie “monster(s)” moet, na vier dekades, steeds tot verantwoording geroep word en indien my boek enigsins kan help om antwoorde op van die brandende vrae te verskaf, sal dit my beskeie bydrae wees.
Ek is bly dat die polisie ’n cold case unit in 2021 in die Wes-Kaap gestig het om ook hierdie 21 ontvoerings en moorde te ondersoek. Met die tegnologiese ontwikkeling in veral forensiese DNS-monsters is daar ’n meer positiewe gevoel dat daardie vrae weldra beantwoord sal word.
Voel jy dat die sosio-ekonomiese konteks van die Kaapse Vlakte destyds (en nou) daartoe bygedra het dat hierdie seuns se lewens nie dieselfde prioriteit geniet het as ander sake nie?
Dit is so dat veral bruin mense destyds gevoel het – en met (baie) redes – dat hulle tweederangse burgers was: Hulle is immers weens die politieke beleid oor onder andere aparte woonplekke verskuif na die godverlate sandvlakte van bos en duin in Mitchells Plain, waar inwoners ver van hul werkplek moes woon.
Gedurende die dag het kinders se ouers openbare vervoer geneem na hul werkplekke. Smiddae en na skool het talle kinders huiswaarts gekeer na huise waarheen hul ouers eers teen sononder sou terugkeer. Kinders het dan in strate gedrentel, wat hul weerloosheid baie verhoog het. Hulle was in die proses maklike teikens vir ’n monster wat hom as ’n goedgeklede en goedgemanierde “oom” sou voordoen, sy duistere motiewe feitlik onsigbaar.
Polisehulpbronne in hierdie uitgestrekte en groeiende buurt het ook nie aan die verwagtinge van die inwoners voldoen om hul veilig te hou nie. Maatskaplike euwels het boonop saam met die inwoners in hierdie buurt aangekom.
Jy het noue kontak met Simons en sy familie behou. Wat is jou indruk van hom as mens?
Ek het indirek en deur ’n goeie vriend van die 57-jarige Norman Simons met hom in kontak gebly, al was dit meestal sporadies en opportunisties.
Simons het al ’n koffieafspraak vriendelik dog versigtig van die hand gewys, gegee sy paroolvoorwaardes dat hy nie met die media mag praat nie. Ek is nogal bekommerd vir sy eie veiligheid, sou iemand hom in die dorp waar hy sedert sy vrylating woon, identifiseer en dit op sosiale media sou aankondig. Hy was vir ’n paar dae in die hospitaal opgeneem na ’n pitbull hom aan die arm gebyt het.
Ek is terdeë daarvan bewus dat hy glo sy saak wil “optel” en “nuwe bewyse” op die tafel wil plaas.
Ek het verskeie video’s (deur sy regspan gemaak) op die internet opgespoor waar die toe 27-jarige Simons vertel hoe hy deur lede van die ondersoekspan (dit was die moord-en-roof-eenheid) ondervra sou word, en volgens hom op ’n hardhandige en soms kru wyse.
Ek moet erken dat mens hom dan nogal verrassend aangenaam ervaar en empatie en deernis vir hom ontwikkel. Hy gesels in die genoemde video’s in ’n mooi Afrikaans, spreek sy woorde met oorronding uit. Hy kom ook saggeaard en effens verfynd voor.
Daar is ook die onderhoud, kort na sy arrestasie vir die moord op die 10-jarige Elroy van Rooyen, wat hy met kolonel Leonard Knipe gehad het waarin hy onder andere gevra is oor hoe hy die jong seuns genader het.
Sy antwoord, “I changed to a good-looking man”, gee my steeds hoendervleis. Dis dan dat jy die ander en donker kant van die beskuldigde begin ervaar en groeiende agterdog in jou agterkop kom sit.
Terloops, mens moet net Simons se een verklaring voor die een landdros, asook sy lang en emosionele brief lees, om jou gedagtes oor hom op galop te laat gaan.
Jou werk bevraagteken of Simons alleen opgetree het. Watter bewyse of foute in die oorspronklike ondersoek laat jou vermoed dat daar dalk ander betrokkenes was wat nooit gevang is nie?
Die polisie se pionierprofileerder, Micki Pistorius, asook die aanklaer in Simons se strafsaak, sou opinies lug dat Simons dalk ’n helper gehad het. ’n Leser van die boek sal ook raaklees dat ’n baie nabye vriend van Simons, wat opspraakwekkende verklarings oor Simons en jong seuns sou gemaak het, in 1995 in Khayelitsha vermoor is. Hy kon dus nie in Simons se strafsaak getuig nie. Die vriend self het onder die ondervraging deur die moord-en-roof-lede deurgeloop (is glo kaal uitgetrek), soveel so dat hy later in ’n verklarings sou sê dat hy nie die waarheid gepraat het nie.
Hoekom sou hy op sy aanvanklike verklaring teruggaan?
Op een dag (27 Januarie 1994) is altesaam ses lyke van seuns en ’n onbekende man binne meters van mekaar in die berugte Weltevredenbosse gevind. Jy dink dan onwillekeurig: Goeie genade, hóé kon één persoon hierdie “massamoorde” pleeg?
Daar was enorme politieke druk uit die Nasionale Party op die ondersoekspan om baie vinnig en gou ’n arrestasie te doen (hulle wou die bruin stem hê). Ek is van mening dat toe Simons aangekeer is vir die moord op klein Elroy, die ondersoeke na moontlike ander verdagtes nie verdere prioriteit geniet het nie. Kyk maar hoedat die identikits van moontlike verdagtes vanaf 1986 (toe die eerste lyke gevind is) tot dié in 1994 verskil.
Wat vir my is die modus operandi soos in die Elroy-moord in die ander moorde meestal dieselfde: Die slagoffer was kop die sand, is verkrag en met ’n kledingstuk verwurg.
Simons was 19 toe die eerste lyke in Belhar (naby Bellville), meer as ’n klipgooi van Mitchells Plain, ontdek is. Hy was ’n onderwysstudent aan die Hewat-onderwyskollege in Athlone en het begin skoolhou in Mitchells Plain toe verdere lyke in die reuse buurt gevind is.
Hoe kry jy dit reg om die vertroue van iemand soos Simons te wen, en watter etiese uitdagings bring dit vir jou as skrywer mee?
Wel, ek sou graag sou wou kon bevestig dat ek sy vertroue heeltemal gewen het, maar tans vertrou hy slegs sy getroue vriend (ek noem nooit sy naam nie) om met my in kontak te bly en hier en daar my boodskappe aan te dra. Simons sal vir seker ook die boek lees.
Vir my is enige misdadiger ook mens en ’n lid van die gemeenskap, die village, maar iemand wat ’n moerse fout begaan het om die gemeenskap teleur te stel – deur ’n misdaad te pleeg, in hierdie geval ’n moord (én dan nog verdink word van die ongekende getal ontvoerings en moorde op 21 ander seuns).
Ek sou hoop dat Simons die cold case unit in sy vertroue sal neem en meer antwoorde sal kan gee oor waar hy presies was toe ook al die ander seuns vermis geraak het. Hy is vir my ’n kardinale getuie in hul verdere ondersoek.
Wanneer jy op radio of televisie gesels, praat jy dikwels oor trauma. Hoe sien jy die letsels van die Stasiemoordenaar vandag nog in die gemeenskap van Mitchells Plain weerspieël?
Dit breek my hart om daardie letsels nog hier en daar rooi en opgehewe te sien, selfs na 40 jaar en minder se traumatiese gebeure. Die sogenaamde Stasiemoordenaar is in die psige van hierdie versameling van buurte ingebrand: Mense praat steeds oor die moordenaar; baie volwassenes dink nog met ’n siddering aan die gemeenskaplike sekondêre trauma toe hul ouers hulle destyds belet het om buite te speel. Baie sit nog met nagmerries.
Mens kan maar net na die 73-jarige Ursula Keet se hoorbaar moeë woorde luister om te weet dat die trauma van verlies en nie weet waarom nie, nooit verdwyn nie, dalk net sagter raak.
Die ander tragiese van hierdie verhaal uit die hel is dat baie ouers, familielede en vriende van die 21 slagoffers ook al graf toe is, sonder antwoorde, sonder enige afsluiting. Van hulle het verhuis en ander is ongelukkig deur drank en dwelms ingesluk.
Daar is ook letsels in die oudmoord-en-roof-lede en hul families.
Lees ook in die boek van die einste aanklaer in die Elroy-saak wat 20 jaar ná die vervolging van Simons ’n Kaapse radiostasie bel en dan opmerk dat hy dink die regte man is nie gevang en vervolg nie.
Eers dan sien mens en besef jy die mengelmoes van vrae waarmee ons steeds stoei. Vrae, vrae en nog vrae kenmerk die dekades lange episode van die Stasiemoordenaar. En vrae sonder antwoorde bring nie afsluiting nie, maar hou letsels en trauma lewend, smeulend.
Simons is in 2023 op parool vrygelaat. Wat is jou siening hieroor? Is dit ’n stap in die rigting van genesing vir die gemeenskap, of heropen dit bloot ou wonde sonder dat daar werklik antwoorde is?
Diegene wat sonder sonde is, mag klippe gooi en niemand kan tog enige klip optel nie. Dis die Bybelse perspektief en maar een hoek. Dit hang af van uit watter perspektief ons na parool kyk. Dan is daar hiermee gepaard ook die konsepte van vergifnis, restitusie en aanvaarding, iets wat nie deur almal dieselfde gesien word nie. Kan ons Simons vergewe wat ’n allemintige 28 jaar in die gevangenis deurgebring het, en enorme tyd gehad het om te besin en programme in die gevangenis deur te werk. Ek verneem hy het selfs klas gegee daar.
Daar is misdaadsgewys geen verskil tussen hom en Oscar Pistorius, wat sy vriendin op Valentynsdag 2013 doodgeskiet het nie. Pistorius is uit op parool en neem aan die ystermankompetisie deel en nie ’n haan kraai nie. In amper afgesonderdheid bou hy weer aan ’n lewe, hoe eenkant dit ook mag blyk.
Simons has also done his time. Punt.
Waaroor ons wel meer moet beraadslaag en gesels, is hoe gereed gemeenskappe is om gevangenes terug te verwelkom en hule ’n redelike kans te gee om weer in die gemeenskap opgeneem te word as meelewende burgers.
Ek dink die weggesteekte vraag by baie burgers is: Is die man ten volle gerehabiliteer? Is drange teenoor veral jong seuns uitgedoof? Is hy oud genoeg (hy is baie oud) om dergelike versoekings te weerstaan? Met Pistorius is dit makliker: Sal hy weer skiet? Ek sal my pensioen daarop sit. Nee.
Met respek gesê: In Simons se geval is dit dalk net nie so maklik nie.
Maar, ek gee hom die voordeel van die twyfel.
Mens sou ook dink dat teen die tyd dat parool kom, almal ouer en dalk meer lewenswys sal wees.
Die moontlikheid van vergifnis verskil egter van individu tot individu. Indien mense vergewe, beteken dit nie dat hulle met daardie vrygelatene moet, sal en hoef te sosialiseer nie, maar gee hom of haar net spasie om weer in ’n gemeenskap in te skuif. Daar behoort immers ruimte te (vinde te) wees.
As jy kyk na die 21 ander gesinne wat nooit geregtigheid gekry het nie, wat sê dit vir jou oor die Suid-Afrikaanse regstelsel?
Ek sou eerder sê dat mens baie meer kan sê oor die polisie en speurders se ondersoekwerk, want om ’n suksesvolle vervolging te kan het, moet jy ’n onaanvegbare en waterdigte dossier aan die staatsaanklaer kan oorhandig.
Ons moet ook onthou dat die moorde ondersoek is in ’n tyd toe die tegnologie van byvoorbeeld forensiese DNS onderontwikkeld was.
Wie se DNS is byvoorbeeld gevind by van die moordtonele in die soektog na die Stasiemoordenaar? Hoekom kon dié DNS nog nie geïdentifiseer word nie?
Regskenners en selfs leunstoelspeurders is dit eens dat Simons skotvry sou afkom indien hy in 2026 met die toe beskikbare getuienis vervolg sou word.
’n Vraag wat by mens opkom, is byvoorbeeld: Hoe “vrywillig”, gegee sy “intense ondervraging” in die polisieselle, was sy destydse verdoemende verklarings aan die polisie en landdroste?
Laat mens dink, nè.
Ek is geweldig geïnteresseerd in forensiese genetiese genealogie en wil nog baie hieroor lees. Ek verslind die 48 hours-misdaadprogramme en sien hoedat ondersoekers genealogie gebruik om van ’n DNS-monster voorsate van ’n verdagte op te spoor en dan af te werk na die seun of dogter van ’n ouerpaar om sodoende die oortreder te identifiseer!
In die Suid-Afrikaanse konteks beteken dit egter dat ons nog ’n dekade of wat vir hierdie tegnologie/wetenskap moet wag, aangesien ons nog nie oor so ’n databasis – waar jy jou DNS op inernetplatforms oplaai – beskik nie.
Wat was die spesifieke oomblik of stukkie inligting wat jou laat besluit het dat hierdie storie nie net in nuusberigte vertel moet word nie, maar dat jý dit moet doen – in boekvorm?
Die storie het my al die jare bygebly, juis oor die vermoorde Elroy van Rooyen, wat ’n klipgooi van my huis in die Strand by sy ouma gewoon het. Sy ontvoering was van die treinstasie waar ek as student destyds opgeklim het. Ek onthou hoe die gemeenskap destyds in rep en roer was en kinders gewaarsku is om nie buite te speel nie. My oudste seun was toe agt.
Toe Tafelberg Uitgewers my nader om die boek te skryf, het ek besef dat (ouer) mense met die institusionele geheue oor die sage van die stasiemoorde, maar selfs ook die jonger geslag, ’n boek moet lees wat beide gebalanseerd is en al die nodige beskikbare inligting bevat. Dat die lesers aan die einde van die boek ’n opinie sal hê en nie net sal kan deelneem aan gesprekke oor wie die Stasiemoordenaar kan of moet wees nie, maar ook insae kan kry in hoe gemeenskappe in die doodsnikke van apartheid en die vroeë demokratiese samelewing daar uitgesien het.
Dat daar teruggekyk kan word en dan bepaal kan word in watter mate gemeenskappe, soos Mitchels Plain s’n, gegroei het en veral ten opsigte van kinderveiligheid, misdaagvoorkoming/-bekamping, staatsondersteuning, gemeenskapsveiligheid en infrakstuur, en nog baie meer.
Waarom het hierdie spesifieke saak ná al die jare steeds so ’n geweldige greep op die Suid-Afrikaanse psige, vergeleke met ander reeksmoordenaarsake?
Omdat dit gaan om ’n moordenaar of moordenaars wat letterlik bos gegaan het: om kind na kind te ontvoer / weg te rokkel en dierlik hul lewens uit te snuif. Altesaam 21 sake is oor 40 lange jare nie opgelos nie en ons is nie ’n aks nader aan die volle waarheid nie!
Dis nie net families wat geraak is nie, maar ook gemeenskapslede wat in die steek gelaat voel dat daar jong lewens uit hulle geledere weggeruk is. Hierdie was kinders wat vandag diep in hul veertigs sou gewees het, self kinders sou gehad het en meelewende burgers van hul buurt en die samelewing sou kon gewees het. Dis die kinders van inwoners wat nog destyds nie eers begin herstel het van die ontheemding en vervreemding van hul grond en voormalige woonbuurte aan Kaapstad se buitewyke nie en totaal onkant gevang is met hierdie genadelose vlaag van ontvoering en moorde in hul nuwe buurt.
Vandag is die meeste (bose) rooikrans- en port jackson-bosse afgekap, die duine platgestoot om plek te maak vir rye en rye huise.
Jy kan ook nie op Baden Powell-rylaan of deur die besige strate van Mitchells Plain ry sonder om die talmende skadu wat die Stasiemoorde destyds oor die reuse buurt gegooi het, raak te sien of net daaraan te dink nie.
Glo jy, na alles wat jy nou weet, dat iemand soos die Stasiemoordenaar gebore word met hierdie drange, of is hy ’n produk van ’n spesifieke omgewing en -tydperk?
Dis ’n diep vraag en ja, mense sal verskillend hierop antwoord, maar ek glo dat jy ook gebore word met gene (boodskapdraers) van jou voorvaders wat “slegte” gene kon insluit, maar ook word jy in jou opgroei gevorm binne die spesifieke huisgesin en gemeenskap, jou omstandighede in die huisgesin, en die maatskaplike omgewing waarin jy jou bevind. Soms aktiveer ’n voorval of ’n ervaring daardie geen of ontwikkel individue ’n sielkundige reaksie op en verdediging teen sekere stoot- en trekfaktore in die gemeenskap en bepaal dit hul gewoontes, ingesteldheid teenoor hulself en ander mense, reaksies, hul persoonlike verhoudings, maar ook hul uiteindelike identiteit.
Baie van hierdie veranderinge in hulself wat dan so tot stand kom, en ook waarmee hulle gebore is, is egter nie altyd sigbaar nie.
Soms steek ons trauma weg in ’n onverwerkte vorm, dra ons haat in onsself, selfvergelding, en kom dit in onaanvaarbare optredes tot uiting. Eksterne faktore soos voedselnood, uitbuiting, boelie, verlating, werklose ouers, ’n ouer wat drank- en dwelmverslaaf is, speel beduidende rolle. Die lys is ellelank.
Gaan lees maar in die boek hoe Simons in sy verklarings vertel van hoe hy deur sy ouer broer verkrag is en van die ou vrou in Queenstown wat ’n vloek op hom geplaas het. Kyk veral hoe hy, as seun van ’n bruin pa en swart ma, opgegroei het in armoede en in ’n gesegregeerde buurt, met ’n enkelma en met gesinslede wat met drank smokkel. En as jy boonop verfynd sou voorkom, word jy soms ’n uitgeworpene in jou gemeenskap, word jy verag en gereduseer tot ’n randfiguur, ’n alleenloper figuurlik uitgedryf tot buite die stadspoorte.
As jy regtig meer van ’n strafregtelik veroordeelde persoon wil leer, gaan lees die vonnisverslae wat opgestel is deur sielkundiges en maatskaplike werkers, dat die persoon wat gevonnis word, dalk ’n soort versagting, “afslag”, amper ’n soort versagtende genade, verdien.
“It takes a village to raise a child,” lui die gesegde, maar hoe maak daardie einste dorpie hulle kinders groot en wat maak hulle met die een wat teen die geïnternaliseerde reëls in ’n misdaad pleeg, én wat maak hulle met hom of haar die dag as hy of sy op parool kom?
Wanneer lesers die boek neersit, wat is die een kerninsig oor die menslike natuur wat jy hoop hulle sal bybly?
Daar is in elkeen van ons hierdie “potensiaal” om misdaad te pleeg, en mens moet gaan bestek opneem oor hoekom ek en jy nog nie ’n “groot” of opsienbare misdaad gepleeg het nie. Het jy al gedink wat jy moontlik sal doen indien jy jou bloedig vererg en dan op die ingewing van die oomblik instinktief sou optree?
Elkeen van ons het ’n groot verantwoordelikheid:
- Hoe beheer ek innerlike woede en hoe bou ek aan my identiteit en my interaksie met my naaste?
- Hoe verwerk ek trauma, en het ek ’n vangnet en ondersteunig van my village?
- Maar meer: Hoe kan ek my naaste, in watter werk en posisie ek ook al is, opbou, versterk, sodat hy of sy, en selfs ek self, die beste weergawe van hom-, haar- en myself kan word?
- Hoe kan ek my onmiddelike omgewing, my buurt, opbou, ingrepe in jong kinders se lewens maak? Is my intensies regtig edel en sonder agendas?
- Nog meer, hoe ontwikkel ek ’n “derde oog” om psigopatie te kan “sien”, verskuilde emosies en ’n magdom drange in ander te kan raaksien en met ingeligtheid daarop te kan reageer?
Laasgenoemde punt is die allermoeilikste, want mens sien dit meestal te laat en met uitkomste wat nie goed vir die betrokke individu en ook die gemeenskap is nie.
’n Uitkoms van selfs misdaad.
Lees ook:
Tronke bedreig ons dogters: ’n resensie van Anthony Molyneaux se Last blue ride
Fresh off the press: Behind prison walls by Edwin Cameron, Rebecca Gore and Sohela Surajpal

