Op dees aarde: Vyf jaar ná Covid-19 – waar staan ons? Feite en onwaarhede

  • 1

  • Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Die Covid-19-pandemie het meer as 20 miljoen mense se dood veroorsaak en 130 miljoen in armoede gedompel. Sowat 300 000 Suid-Afrikaners het gesterf. Maar wat is geleer en hoe lyk die toekoms?

Tydens ’n onlangse wetenskapkonferensie het Maria Van Kerkhove, epidemioloog van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), gesê: “In die wêreld waarin ek leef, wil niemand oor Covid-19 praat nie. Almal maak asof die pandemie nie regtig gebeur het nie,” berig Science.

Sy is reg, mense het tydens die pandemie reeds ontken daar is ’n virus, of dat die lykswaens en ambulanse tou gestaan het by die hospitale.

Wanneer ’n mens na die Suid-Afrikaanse Mediese Raad se weeklikse verslae kyk oor die land se natuurlike sterftes kan jy die verwoesting van die virus sien. Hoe die sterftesyfer die hoogte ingeskiet het.

Baie mense het dit wel erken, maar wou so gou moontlik die trauma diep in die brein se laaie bêre. Dit is dalk makliker?

Die virus is nie weg nie en mense word steeds siek en sterf. Hoe dit in die toekoms gaan uitspeel, is onseker. Die virus word egter steeds gemonitor en nagevors.

Voordat Covid-19 ons met mening getref het, is daar vir jare lank gedink die volgende dodelike virus sal van die griepfamilie wees. Trouens, daar is tot ’n mate voorberei daarop. Soortgelyk aan die een van 1918–19.

Tydens die Groot Griep is daar 350 000 mense binne ses weke in Suid-Afrika dood. In elke begraafplaas in die land lê hulle – selfs in die kleinste dorpies.

Nog tergende vrae

Die meganisme en effek van lang-Covid-19 waaraan miljoene mense steeds ly is ’n tergende vraag. Om dié toestand te ontwikkel vereis nie ernstige siekte nie, ’n mens kan dit opdoen nadat jy slegs matig siek was.

Lang-Covid-19 is ’n toestand waarin mense Covid-19-verwante simptome ervaar drie maande of meer ná aanvanklike infeksie met die virus. Na beraming word 65 miljoen mense wêreldwyd geraak. Algemene simptome sluit in moegheid, kortasem en kognitiewe disfunksie soos verwarring, vergeetagtigheid en spierswakheid.

Talle studies en kenners probeer steeds om dié toestand te ontrafel. Dit blyk dat dit verskillende mense op verskillende maniere affekteer: die hart, longe, niere, lewer, spysverteringstelsel, brein, bloedvate en reproduktiewe stelsel.

Wat sal dié virus en ander volgende doen?

........
Wat wel seker is, is dat die wêreld vinnig en veilig núwe entstowwe kan ontwikkel. Entstowwe wat veral hospitalisasie en die dood voorkom het, soos honderde navorsingstudies getoon het.
........

Vroeër hierdie maand het die WGO se direkteur-generaal Tedros Adhanom Ghebreyesus die kwessie aangespreek of die wêreld beter voorbereid is op die volgende pandemie as vir Covid-19.

“Die antwoord is ja en nee,” het hy op ’n perskonferensie gesê. “As die volgende pandemie vandag sou aanbreek, sou die wêreld steeds dieselfde swakhede en kwesbaarhede ondervind wat Covid-19 vyf jaar gelede ’n vastrapplek gegee het.

“Maar die wêreld het ook baie van die pynlike lesse geleer wat die pandemie ons geleer het en het belangrike stappe geneem om sy verdediging teen toekomstige epidemies en pandemies te versterk.”

Wat wel seker is, is dat die wêreld vinnig en veilig núwe entstowwe kan ontwikkel. Entstowwe wat veral hospitalisasie en die dood voorkom het, soos honderde navorsingstudies getoon het.

Talle mense het egter dié proses wantrou weens verlies in vertroue in regerings se benadering tot die pandemie, waninligting wat soos veldbrande versprei het en oningeligte opinies oor die wetenskaplike proses. Die ervaring van mense tydens die pandemie – wat dit ook al sou wees – het veroorsaak dat vertroue in pandemieplanne en álle entstowwe tot ’n mate verloor is. Ten spyte van dekades se veiligheid en kliniese bewyse.

’n Internasionale wetenskaplike opname in 23 lande, wat Suid-Afrika insluit en in portuurevaluasie gepubliseer is, wys entstofopname het getuimel.

........
’n Internasionale wetenskaplike opname in 23 lande, wat Suid-Afrika insluit en in portuurevaluasie gepubliseer is, wys entstofopname het getuimel.
........

Wydverspreide ontwrigting in roetine-immuniseringsdienste wêreldwyd kom voor, insluitend dosisse vir kinders, wat gelei het tot vertraagde en verminderde opname van entstowwe. Die resultate van hierdie studie toon dat 23,1% van die respondente minder geneig is om entstowwe te aanvaar.

In Suid-Afrika is hier al maande lank ’n uitbreking van masels en Duitse masels. Hoewel daar elke jaar seisoenale gevalle van Duitse masels is, volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, is die byna 9 000 gevalle en die meer as 6 000 toetse wat ingestuur is en nog nie ontleed is nie, meer as enige vorige jaar. Daar is ook talle gevalle van kinkhoes in 2023 en verlede jaar gewees.

’n Entstof is voorkomend, maar net as almal saamspeel. Vir iets soos masels wat so vreeslik aansteeklik is, moet 95% van die bevolking dit ontvang. Dit gaan nie net oor jouself nie, maar oor álmal.

Die presiese plek van oorsprong van SARS-CoV-2 is nog nie gevind nie en sal dalk vir jare nog ontwykend bly, of dalk nooit gevind word nie. Kenners stem wel saam dat dit in China was en dat die virus so ontwikkel het dat dit die sprong van ’n dier (dit is steeds onbekend watter dier) na mense gemaak het, én die belangrikste, daarná oordraagbaar was tussen mense.

Talle dodelike virusse maak die sprong van ’n dier na ’n mens. Maar dan is dit gelukkig nie oordraagbaar tussen mense nie. Met dié een was dit anders.

.........
Om stories van sameswerings op YouTube en X aan te hang sal ons niks bring nie. Dit is soos ’n stokperdjie wat ’n mens bedryf. Dit bewys niks. Dit mag dalk ’n mening wees, maar dit is nie ’n geldige en bewese een nie. Sake mag dalk nou nog meer vererger vanweë die feit dat sosiale mediakanale soos Facebook en Instagram nie meer met derde partye sal saamwerk om feite na te gaan nie.
........

Om stories van sameswerings op YouTube en X aan te hang sal ons niks bring nie. Dit is soos ’n stokperdjie wat ’n mens bedryf. Dit bewys niks. Dit mag dalk ’n mening wees, maar dit is nie ’n geldige en bewese een nie. Sake mag dalk nou nog meer vererger vanweë die feit dat sosiale mediakanale soos Facebook en Instagram nie meer met derde partye sal saamwerk om feite na te gaan nie, volgens die nuuskanaal NPR (National Public Radio).

’n Groot probleem is bevestigingsvooroordeel. Mense soek na bewyse van dit wat hulle rotsvas glo en verwerp bewyse wat die teendeel toon – al is dit die korrekte en feitlike inligting.

Indien jy bevestigingsvooroordeel het, sal jy allerhande vals inligting opslurp en laat pas by wat jy wil glo, al die sterftes probeer wegpraat, beweer dis net ’n sameswering of dit blameer op enige iets anders.

Ghebreyesus het onlangs op ’n nuuskonfrensie gesê: “Ons doen ’n beroep op China om data en toegang te deel sodat ons die oorsprong van Covid-19 kan verstaan.

“Dit is ’n morele en wetenskaplike noodsaaklikheid. Sonder deursigtigheid, deel en samewerking tussen lande, kan die wêreld nie voldoende voorkom en voorberei vir toekomstige epidemies en pandemies nie.”

In die viering van die vyf jaar mylpaal, het die WGO ook lewens vereer wat aan die siekte verlore is, en erken dat hulle steeds daaraan ly of aan lang-Covid-19 ly.

Die agentskap het ook dankbaarheid uitgespreek teenoor die gesondheidswerkers “wat soveel opgeoffer het om vir ons te sorg”, en hulle daartoe verbind om van Covid-19 te leer om ’n gesonder môre te bou.

Daar is sprake dat China wel ’n databasis met virale geenreekse het van Januarie en Februarie 2020 waartoe die WGO nie toegang het nie, het Kerkhove gesê. En bygevoeg dat plase waarop daar diere is wat geteel word vir hulle vleis vir markte, ’n moontlikheid is.

En, die nuwe vals nuus

Die Menslike Metapneumovirus (MMPV) waarvan daar talle gevalle in China is, is nié ’n nuwe patogeen nié. Dit is die eerste keer in 2001 geïdentifiseer.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes word dit oorgedra deur druppeltjies wanneer iemand hoes of nies en deur aan die neus, mond of oë te raak. Dit is onwaar dat daar weer ’n internasionale pandemie dreig, omdat mense al vir 20 jaar of dalk veel langer aan die virus blootgestel is – voordat dit geïdentifiseer is.

Lees ook:

Dodelike entstoffiksie: Wat is die waarheid?

COVID-19: Hoe dit die brein affekteer

Covid – waar ons nou trek

Die kompleksiteit van polio – en die belang van inenting

  • 1

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Dis fantasties om weer gereeld artikels van Elsabé Brits te kan lees. Sy is een van die min werklik uitstaande Afrikaanse joernaliste. Ek hoop sy skryf weekliks vir julle en nie tweeweekliks of maandeliks nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top