COVID-19: Hoe dit die brein affekteer

  • 0

https://pixabay.com/illustrations/psychology-mind-thoughts-thought-2422442/

..............
’n Groot studie waartydens daar na die brein van mense gekyk is voor en nadat hulle COVID-19 gehad het, het gewys daar is veranderinge selfs in diegene wat ’n ligte infeksie gehad het.
..............

’n Groot studie waartydens daar na die brein van mense gekyk is voor en nadat hulle COVID-19 gehad het, het gewys daar is veranderinge selfs in diegene wat ’n ligte infeksie gehad het.

Die navorsing is onderneem deur die Oxford-universiteit se Wellcome Centre for Human Neuroimaging (Wellcome-sentrum vir geïntegreerde neurobeelding) en is gepubliseer in die vakjoernaal Nature. ’n Verlies aan grysstof en ander weefselabnormaliteite is opgemerk.

Dit was een van die grootste neurobeeldingstudies tot op datum oor die effek wat COVID-19 op die brein het. Die aanvanklike skanderings van die 800 deelnemers se brein is bekom by die UK-biobank waarin mense se mediese data gestoor word.

Die wetenskaplikes het breinskanderings bekyk van mense tussen 51 en 81 jaar wat twee breinskanderings ondergaan het, min of meer 38 maande uitmekaar. Kognitiewe toetse is ook gedoen. Sowat 401 het COVID-19 gehad tussen die twee skanderings en die res nie. Daar is ook gekyk dat die twee groepe se gesondheidprofiele min of meer dieselfde is.

Prof Gwenaëlle Douaud, die studieleier, het gesê: “Deur die UK-biobank te gebruik, was ons in ’n unieke posisie om na die veranderinge in die brein te kyk ná matige infeksie. Al het sowat 96% van die deelnemers ’n matige infeksie gehad, het ons ’n groot verlies aan grysstofvolume en weefselskade gesien, 4.5 maande ná infeksie. Hulle het ook ’n afname getoon in hulle vermoë om komplekse take te doen, veral diegene wat ouer is.”

Die verlies aan grysstof was tussen 0.2% en 2% in die groep wat COVID-19 gehad het, vergeleke met die groep wat dit nie gehad het nie, in minder as vyf maande. Vir konteks: “Volwassenes verloor tussen 0.2% tot 0.3% se grysstof oor sowat twee jaar in geheueverwante breinareas,” verduidelik Douaud.

Die moontlike verduidelikings hiervoor is volgens ’n artikel in die Journal of the American Medical Association om verskeie redes. Onder meer verminderde sensoriese insette weens die verlies aan reuk, neuro-inflammasie, immuniteitsreaksies en/of regstreekse virale infeksie van breinselle.

Daardie newel wat oor die brein hang, soos oggendmis wat nooit wyk nie, is nog ’n gevolg van COVID-19 wat miljoene mense raak. Tussen 20% en 30% van mense ervaar dit tot drie maande nadat hulle die virus gehad het, en dit onderskei nie tussen diegene wat gehospitaliseer is of nie. Pasiënte ervaar moegheid, ’n breinwaas, insomnia en probleme met geheue.

...........
Daardie newel wat oor die brein hang, soos oggendmis wat nooit wyk nie, is nog ’n gevolg van COVID-19 wat miljoene mense raak. Tussen 20% en 30% van mense ervaar dit tot drie maande nadat hulle die virus gehad het, en dit onderskei nie tussen diegene wat gehospitaliseer is of nie. Pasiënte ervaar moegheid, ’n breinwaas, insomnia en probleme met geheue.
...............

Dit is reeds bekend dat stres en depressie wat mense ervaar het tydens die afgelope drie jaar, ’n baie negatiewe effek op die gesondheid gehad het.

Die stres wat kinders en tieners gedurende die pandemie ervaar het, het in ’n studie gewys hulle brein het te vinnig verouder. Dit is gesien toe breinskanderings van tieners vergelyk is met dié van voor COVID-19 die wêreld getref het.

Wat nog nie duidelik is nie, is of die veranderinge permanent is. Die vraag is of hulle chronologiese ouderdom hulle breinouderdom sal inhaal of nie.

In die jongste publikasie in Nature Aging oor die effek wat COVID-19 op die brein het, is bevind dat sleutelgene wat aktief in die brein van ouer mense is, is ook aktief in diegene wat ernstige COVID-19 gehad het. Kenners het onder meer monsters van die frontale korteks bestudeer – die area wat met kognisie verband hou – van mense wat weens die infeksie gesterf het. Dit is vergelyk met dié van mense wat geen geskiedenis van Covid-19 gehad het nie, maar wat wel om ander redes aan ’n ventilator gekoppel is/was.

Die gene wat geassosieer word met inflammasie en stres, was meer aktief in die brein van die mense wat erge COVID-19 gehad het as in die ander groep. Ook: gene wat verbind word met kognisie en die vorming van konneksies tussen breinselle, was minder aktief.

COVID-19 dryf wydverspreide inflammasie in die liggaam, nie net in die brein nie. Honderde studies het dit al bewys. Dit lei onder meer tot akute asemhalingsprobleme, orgaanskade, en is een van die moontlike oorsake vir die veranderinge in die brein.

...........
Dit is moontlik dat die virus inflammasomes infekteer – dit is groot molekules wat ’n rits inflammatoriese reaksies begin. Dit eindig met selle wat sterf. Daar is ook sekere teenliggaampies wat die liggaam vervaardig wat erger inflammasie veroorsaak, en dié teenliggaampies hou nie verband met dié wat ’n mens vervaardig danksy entstowwe nie.
...............

Dit is moontlik dat die virus inflammasomes infekteer – dit is groot molekules wat ’n rits inflammatoriese reaksies begin. Dit eindig met selle wat sterf. Daar is ook sekere teenliggaampies wat die liggaam vervaardig wat erger inflammasie veroorsaak, en dié teenliggaampies hou nie verband met dié wat ’n mens vervaardig danksy entstowwe nie.

Die virus kan ook monosiete infekteer. Dit is immuniteitselle in die bloed wat soos ’n brandwag optree aan die begin van ’n infeksie. ’n Reaksie vind dan plaas byna soos ’n ontploffing van molekules binne-in die sel wat alarm maak. En dan veral inflammasie veroorsaak.

Verdere navorsing het getoon die effek van die virus op die brein se immuniteitselle, die mikroglia, wat betrokke is by siektes soos Parkinson’s en Alzheimer’s, is soortgelyk. Selle wat in die laboratorium bestudeer is, het dieselfde seinbaan geaktiveer van inflammasomes wat by die twee siektes betrokke is.

Die teenwoordigheid van die stekelproteïene van die virus was genoeg om die proses te begin en dit is versnel wanneer daar reeds proteïene in die brein teenwoordig was wat met Parkinson’s en Alzheimer’s verbind word.

Al die antwoorde van Langcovid kan nog nie beantwoord word nie.  Of wat die effek op al die stelsels in ’n mens se liggaam uiteindelik gaan wees nie.  COVID-19 het baie meer mense met een of ander mediese nalatenskap gelaat as wat erken word. Miljoene mense sukkel nog met die gevolge van die infeksie.

Net soos met enige pandemie het dié een reeds op sosiale vlak lankal sy einde bereik, maar COVID-19 se mediese einde is nog lank nie in sig nie.

Lees ook:

COVID-19 en die onderwys

Pandemic tales: Making an educational life in a Stellenbosch University residence during the COVID-19 pandemic

COVID-19 and violin lessons for township children: an interview

COVID-19: Brace yourself for impact

Data and COVID-19

My COVID-19 experience: conversations with people who have recovered from the virus

The impact of the COVID-19 pandemic on South African local newspapers: experiences and perceptions

COVID diaries: Women’s experience of the pandemic – an interview with Amanda Gouws and Olivia Ezeobi

COVID-19: We are at war

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top