Covid – waar ons nou trek

  • 0

Is dit apatie? Eensaamheid? Of ’n gevoel van “wat ook al” wat oor mense gekom het oor COVID-19? ’n Jaar gelede was entstowwe nog net vir gesondheidswerkers beskikbaar in Suid-Afrika en derduisende mense was woedend oor die regering se traagheid hiermee. Tans is die land in sy vyfde golf weens Omikron se subvariante (BA.4 en BA.5). Talle entstofsentrums het weke gelede al gesluit omdat daar nie genoeg belangstelling was nie.

Verminderde beskerming teen infeksie deur mense wat nié gevaksineer is nie, is die rede vir die nuwe styging in gevalle, het Tulio de Oliveira van die KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform (KRISP) gesê. Maar minder mense is gelukkig in die hospitaal.

’n Mens se beskerming teen COVID-19 is nie goed genoeg bloot omdat jy ’n vorige COVID-19-infeksie gehad het nie, veral nie van Delta nie. Dit is twee entstowwe en ’n skraagdosis wat die beskerming teen ernstige siekte en die dood gee.

“As Omikron in 2020 na vore getree het, sou dit tien keer meer dodelik vir ons gewees het.” Dit is nie die virus wat evolueer het nie, dit is ’n mate van blootstelling wat nou die ligte simptome veroorsaak. Ook in sommige gevalle gee die kombinasie van vorige infeksie, saam met ’n entstof (genoem ’n hibriedimmuniteit) goeie beskerming, het De Oliveira gesê.

..........
Maar is daar iets intrinsiek aan ons wat veroorsaak dat ons laks en ongeërg teenoor ons eie gesondheid sal staan midde ’n pandemie en besluit om nie die beste voorkomende middel wat die mediese wetenskap vir ons kan bied, naamlik ’n entstof, te neem nie?
..........

Wat het met ons gebeur?

Maar is daar iets intrinsiek aan ons wat veroorsaak dat ons laks en ongeërg teenoor ons eie gesondheid sal staan midde ’n pandemie en besluit om nie die beste voorkomende middel wat die mediese wetenskap vir ons kan bied, naamlik ’n entstof, te neem nie?

Of selfs sonder enige empatie van ’n ander mens, of die gemeenskap se lyding sal wegdraai? In gevalle soos oorlog, ’n ramp of pandemie raak mense óf meer vrygewig óf meer selfsugtig, en dit het toe doen met hoeveel vrees hulle ervaar.

Noreena Hertz, ’n Britse ekonoom en skrywer van die boek The lonely century: how to restore human connection in a world that’s pulling apart, skryf dat lank voor COVID-19 die verbintenisse tussen ons – persoonlik en op politieke vlak – verlore gegaan het.

Die eie ek het belangriker geraak as die ons. Mense het hulself begin sien as verbruikers, nie burgers nie. Dit is ’n gejaag na welvaart vir jouself en die kollektiewe goeie het gewankel. Dit het daartoe bygedra dat mense toenemend geïsoleerd begin raak het, selfs op kantoor, waar min nog gesels en jy eerder ’n e-pos stuur aan die persoon wat langs jou sit as om te praat. Tuis werk mag dalk gesien word as die ideaal, maar dit is nie so vir almal nie.

Dit mag voorkom of sommige politieke leiers, veral dié aan die populistiese regse en linkse kant, luister na en omgee vir kiesers wat voel daar word nie na hulle geluister nie, maar dit is nie waar nie. Hulle praatjies marginaliseer mense net verder. Die gewildheid van populisme is ’n reaksie op eensame gevoelens en verwyder mense bloot van mekaar, redeneer Hertz.

..........
Dit maak mense aggressief en minder empaties teenoor ander. Die pandemie het mense nog verder uit mekaar gedryf as wat voorheen die geval was.
..........

Dit maak mense aggressief en minder empaties teenoor ander. Die pandemie het mense nog verder uit mekaar gedryf as wat voorheen die geval was.

Mense is eensaam. Dit is nie die hermiet wat kies om alleen te bly nie, dit is die ganse planeet vol mense wat verby mekaar leef.

Sy skryf voorts dat sosiale media eintlik antisosiale media is wat mense al hoe meer van mekaar vervreem. Want drink ons koffie saam met dié vriende en is hulle daar om ’n ete saam met jou te geniet? Op wie steun jy indien jy dringend hulp nodig het?

Dit skep ’n gefragmenteerde beeld van die ware mens agter die profiel. Soms sal jy tot jou skok ’n opinie van ’n persoon lees op ’n blad en ’n ander opinie oor dieselfde onderwerp van dieselfde persoon sien. Só draai mense hul mantels na die wind op sosiale media. Sal dit gebeur in ’n gesprek om ’n tafel, waar anonieme kommentare ook nie die paal sal haal nie?

Daar was opflikkerings aan die begin van COVID-19 deur op balkonne te sing, hande te klap vir ander, en mededeelsaam te wees, maar dit was van korte duur. Die inperkings het mense gou knorrig gemaak en die groter geheel uit die oog laat verloor, veral nadat vertroue in regerings bly daal het.

Die feit dat byna elke gesondheidstelsel op aarde geswik het onder die druk, het vir miljoene nie saak gemaak nie. “Persoonlike vryheid” was veel belangriker, terwyl ander snakkend na asem gesterf het. Ander het weer saam swaargekry en kon die lyding nie verduur nie.

Baie het saam op die maat van “Jerusalema” gesing en gedans en toe gedreig om maskerloos hulle “vryheid terug te neem”. Veral weierend teen ’n “jab wat afgedwing sou word” – die een waarvoor daar net maande gelede gebid en op gehoop is. Die kontras is vreemd.

Kostadin Kushlev is ’n sielkundige wat aan die stuur staan van die Digital Health and Happiness Laboratory aan die Georgetown-universiteit in Washington. Hy skryf gelukkige mense is nie selfvoldaan nie. Hulle is net betrokke. Ongelukkige mense is oor die algemeen selfbewus en gefokus op hulself.

Om ’n reeks negatiewe gevoelens te ervaar, veroorsaak dat mense minder geneig is om op te staan en iets te doen. Selfs die motivering wat kom van ’n negatiewe gevoel soos geregverdigde woede, werk net as ’n gelukkige persoon dit ervaar. As jy ongelukkig is, maak dit jou net meer ongelukkig.

Mense wat meer gelukkig is, is dié wat meer bereid is om iets te doen omtrent die probleme om hulle, soos die omgewing en sosiale kwessies. En dit het niks te doen met hoeveel geld jy het nie. Dit gaan oor jou gemeenskap waar jy ’n verskil wil maak.

Hertz het goeie punte beet – dit is tyd om weer gemeenskappe te bou. Om die bossies oorkant die pad self uit te skoffel (en nie vir die stadsraad te wag nie) en die bure wat jy dalk nie ken nie, te vra om te kom help. En daarna saam iets te drink.

..........
COVID-19 is nie verby nie, al wil ons almal graag hê dit moet wees.
..........

COVID-19 is nie verby nie, al wil ons almal graag hê dit moet wees. Dit het ons wêreld verander, en ons moet leer om versigtig daarmee saam te leef. Entstowwe en skraagdosisse bly die beste beskerming. Ja, jy kan steeds siek word, maar al die wetenskaplike bewyse is daar dat jou kanse om in die hospitaal te beland of te sterf aansienlik minder is.

Dit klink dalk na ’n kontras, maar dit is beslis nie. Omdat soveel mense moontlik al aan een van die variante van die virus blootgestel is, en as jy ook daarby al ’n entstof gehad het, is die hibriedimmuniteit ook redelik goed.

In ander lande kan mense reeds ’n tweede skraagdosis ontvang. In Suid-Afrika is die tweede skraagdosis nog net beskikbaar vir mense met sekere mediese toestande, maar daar word verwag dat die res dit ook sal kan kry.

Sal ons nou jaarliks of selfs minder ’n skraagdosis moet ontvang? Ja, COVID-19 het ons wêreld verander, en ons moet daarby aanpas. En dit sal lekker wees as ons kan aanbeweeg van ’n pandemie na ’n epidemie na ’n plaaslike endemie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top