Op dees aarde: Vreemde skedels is kultuur net soos Botox® 

  • 1

  • Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Skedels van mense wat eeue of selfs duisende jare gelede gemodifiseer is, is al sedert  die 1800’s bekend. Dit het in sekere kringe samesweringsteorieë laat ontstaan dat hierdie nie mense was nie, of dan ’n tipe patologie sou wees, maar die afgelope paar jaar het wetenskaplikes bewys dat dié doelbewuste en dramatiese verandering aan die liggaam ’n uitdrukking van kultuur was.

’n Skedel wat meer as 50 jaar gelede uit ’n prehistoriese begraafplaas aan die noordwestelike Italiaanse kus opgegrawe is, is pas bevestig as die vroegste bekende voorbeeld van kunsmatige skedelmodifikasie in Europa.

Die vonds, wat op tussen 12 190 en 12 620 jaar gelede gedateer is, dui daarop dat doelgerigte kopvorming tydens die Laat Bo-Paleolitikum beoefen is. Dit stoot die oorsprong van hierdie Europese kultuurpraktyk met baie jare terug.

Die skedel is die eerste keer in die Arene Candide-grot ontdek, ’n belangrike argeologiese terrein wat jagter-versamelaars tussen ongeveer 12 900 en 11 600 jaar gelede as ’n begraafplaas gebruik het.

Met opgrawings daar is baie geraamtes ontdek, insluitend sommige wat doelbewus tydens uitgebreide begrafnisrituele gerangskik is. Die betrokke skedel, genaamd AC12, wat aan ’n volwasse man behoort het, was in ’n nis bo ’n ander graf begrawe – ’n graf bekend as die "Graf van die Gewei"; sy kakebeen en ander oorblyfsels is afsonderlik  gevind.

Destyds was die vonds kontroversieel – daar is gemeen dat die verlengde skedel die resultaat was van óf ’n tipe patologie, óf ’n besering wat hy as kind opgedoen het. Maar dit is nie meer die geval nie.

Laterale blik van die AC12-skedel (links en regs) soos dit tans in die Museum van Antropologie in Florence bewaar word. Foto: T Mori ea, Scientific Reports

Die AC12-skedel is in die 1970’s gerekonstrueer en aanmekaargeplak, dus moes die navorsers dit nou “uitmekaar haal” om die skedelfragmente behoorlik te meet. Hulle het gekies om dit nievernietigend te doen deur CT-skanderings van die skedel uit te voer en die bene virtueel te skei.

Daarna het hulle AC12 digitaal op vier maniere gerekonstrueer en ’n tegniek genaamd geometriese morfometrie gebruik wat die biologiese vorm van ’n been kwantifiseer om die virtuele rekonstruksies met skedels van regoor die wêreld te kan vergelyk.

Die resultate van hierdie analise het getoon dat AC12 soortgelyk was aan ander kunsmatig gemodifiseerde skedels, eerder as aan normale skedels of dié wat deur siekte of trauma geraak is. Spesifiek is die vorm van die AC12-skedel waarskynlik gemaak deur stroke materiaal styf om die omtrek van sy kop te draai.

.......
Kunsmatige skedelmodifikasie behels die onderwerping van ’n baba se skedel aan voortdurende druk gedurende sy groeifase – tipies deur die kop met materiaal of ’n stewige bord vas te bind – wat ’n permanente vormverandering veroorsaak.
.......

Kunsmatige skedelmodifikasie behels die onderwerping van ’n baba se skedel aan voortdurende druk gedurende sy groeifase – tipies deur die kop met materiaal of ’n stewige bord vas te bind – wat ’n permanente vormverandering veroorsaak.

’n Ander vorm van skedelmodifikasie is ook al in Kroasië gevind. Dié voorbeeld dateer uit die 5de en 6de eeue toe navorsing in 2019 gepubliseer is deur die Instituut vir Antropologiese Navorsing in Zagreb, Kroasië.

CT-skanderings van die sogenaamde sirkelvormige regop tipe kraniale vervorming. Foto: M Kavka, PLOS One

Die Hermanov Vinograd argeologiese terrein in Osijek, Kroasië, is sedert die 1800’s bekend. ’n Nuwe put wat in 2013 opgegrawe is, het drie menslike geraamtes bevat wat dateer uit 415–560, gedurende die Groot Migrasie-tydperk, ’n tyd van beduidende beweging en interaksie van verskeie Europese kulture.

Twee van die geraamtes het dramaties gewysigde skedelvorme getoon: Een skedel was skuins verleng en ’n ander een saamgepers en verhoog.

In hierdie studie het genetiese, isotopiese en skeletontledings van die liggame aan die lig gebring dat almal mans tussen 12 en 16 jaar oud was met hul dood en dat hulle aan wanvoeding gely het.

Daar is bevind dat die twee met kraniale modifikasies baie verskillende herkoms getoon het: een uit die Nabye Ooste en die ander uit Oos-Asië.

In 2023 het ’n span navorsers werk gepubliseer oor die Hirota-mense, wat op die suidelike Japannese eiland Tanegasjima gewoon het rondom die 3de tot 7de eeu. Hulle het ook aan die praktyk deelgeneem.

Boonop het die studie geen beduidende verskille in kraniale modifikasie tussen mans en vroue gevind nie.

Die navorsers hipotetiseer dat die Hirota-mense hul krania vervorm het om groepsidentiteit te bewaar en moontlik langafstandhandel van skulpvis te vergemaklik, soos ondersteun deur argeologiese bewyse wat op die terrein gevind is. In hierdie gevalle is die skedels ook langer gemaak met ’n platter agterkop.

Kenners meen dat dit gedoen is as sosiale identiteit en kultuur, en nie ’n negatiewe gesondheidsimpak sou gehad het nie.

Dié praktyk was egter nie beperk tot Eurasië nie; daar is ook sulke voorbeelde in Suid-Amerika. Die vroeë Andes-beskawing was hiërargies en gestratifiseerd. In Tiwanaku het die praktyk gedien om ’n mens se sosiale klas, kaste, afkoms en roeping af te baken. Dit was veral nuttig vir krygers, wat hul medevegters van opstandelinge onderskei het deur verskille in hul skedelstruktuur.

Die Inkas het dieselfde gedoen. Vir hulle het die kop die middelpunt van ’n individu se geestelike lewe verteenwoordig.. Dit is die setel van die lewenskrag en simboliseer die gees. Die animiese krag – ’n voordelige, geestelike krag – wat in die kop teenwoordig is, is beskou as ’n voordelige krag wat gesag en vitaliteit bied, mits dit beheer word.

Die kop kan met twee hoofkenmerke geassosieer word: Dit verteenwoordig metafories die kosmos, en is in dié geval dan die siel.

Dit is dus noodsaaklik om die kind se kop styf vas te hou tydens geboorte, aangesien die siel nog nie stewig aan die pasgeborene se liggaam geheg is nie, wat kan veroorsaak dat die animu verlore gaan. Trouens, die fontanel is nie behoorlik toegemaak by babas nie.

.......

Om die liggaam te modifiseer met ringe, lyfgaatjies, plastiese snykunde, Botox®, vullers in die lippe of elders aan die lyf, en inplantings of tatoeëermerke om individualiteit of sosiale status aan te dui, is nié veel anders as dié ou gebruike nie.
.......

Om die siel aan die liggaam vas te maak, is tegniese middele soos kraniale vervorming onontbeerlik en noodsaaklik. Om die kop te vervorm, is om die liggaam te verhard en toe te maak, om orde te versterk en te herstel in ten minste een van sy openinge.

Om die liggaam te modifiseer met ringe, lyfgaatjies, plastiese snykunde, Botox®, vullers in die lippe of elders aan die lyf, en inplantings of tatoeëermerke om individualiteit of sosiale status aan te dui, is nié veel anders as dié ou gebruike nie. Dit is ewe permanent en deel van kultuur.

Vir die persoon wat dit doen, beteken dit iets; dit dra ’n bepaalde waarde. Net soos eeue gelede.

Lees ook:

Op dees aarde: Die Taung-kind – hoe hy die mens verander het

Op dees aarde: Rotskuns van die San – uitbeelding wys ’n oerdier

Vroegste bewyse nóg van moderne mense wat na Europa migreer het

Die eerste skoene: spore van ou plakkies tot hoëhakskoene

  • 1

Kommentaar

  • Doer op Quora skryf iemand:
    “You Americans and Western Europeans don't know much about Mesopotamian influences and Asia’s culture.
    The history which have been established by Western Europeans and North Americans is not complete. There are many connections between groups, which are not known yet. We South Koreans have preserved many clues about that because Korea was shelter place to Eurasian Steppe people who had been a messenger of different cultures and civilizations.
    And, I hope you be more cautious when evaluating the customs of other ethnic groups if it was not a custom of abuse clearly.”
    Daar is dít nou uit die weg.
    Die persoon reken vroeëre koprekonstruksie was 'n nabootsing van die hoëpriesters, ens, se lang hoede (indrukwekkend - totdat KKK) en soos met Botox of ‘n deftige pak klere, om snazzy te lyk.
    Oi.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top