Breyten Breytenbach het nie na my wete enige verbintenis met die Oxford-Universiteit gehad nie. En dis ook nie vreemd nie. Vir ’n digter-denker wat sy lewe lank die “gemaak-slimmes” en die “opgeblase paddas wat in ’n klein dammetjie probeer kwaak soos seekoeie” verpes het, is dit gepas dat daar nié hiér, in die Engelse “setel” van kennis, ’n bemarkbare, verkoopbare en derhalwe kapitaalbare voetspoor van een van Afrikaans, Afrika en die wêreld se grootstes is nie. Oxford het wragtag nie nóg ’n naam waaruit hulle munt kan slaan nodig nie. Tog het ek, ná die nuus van sy anderkantoorsteking, gevoel ek wil wel sy nalatenskap hier nagaan. Die gevolg is dié kort verslag oor waar sy tong geval en sy mond heen geloop het in hierdie plek van kilte en klip.

Breyten Breytenbach (foto: Izak de Vries)
Die aanvanklike reaksie op my ondersoek was ’n aanmaning. Selfs al laat die Bodleian-biblioteek se elektroniese soeksisteem mens toe om meer boeke aan te vra, kry ek ’n boekmerk saam met my Breytenbach-bestelling van 17 boeke: “Please reduce the number of items you have on reserve to 10 or fewer.”

“Please reduce the number of items you have on reserve to 10 or fewer.” (Foto: Luan Staphorst)
Sy geskrifte blyk selfs vir die Bodleian, een van die grootste universiteitsbiblioteke ter wêreld, net té gewigtig te wees. Daar moet eerder bietjie-bietjie aan gekou word. Terwyl ek die stapel deurwerk, skrik ek elke dan en wan wanneer ek op die klein stempel van die biblioteek afkom: ’n sirkel met die woorde “Bibliotheca Bodleiana” omring.

Die biblioteek se stempel met die woorde “Bibliotheca Bodleiana” (foto: Luan Staphorst)
Nie omrede dit as sodanig onverwags is nie – al die boeke in die Bodleian het immers sulke stempelafdrukke. Maar vanweë die ooreenkoms wat ’n flitsblik tussen dié afdruk en die bekende Breytenbach-mandala, wat die meeste van sy boeke se titelblaaie voorafgaan of vergesel, teweegbring. Daarby dwing dit jou as leser om op die toevalligheid, of miskien die tongvalligheid, van daardie stempelafdruk se verhouding tot woorde naasliggend te besin.
Waar ’n boek nié deur die Bodleian aangeskaf is nie, maar deur ’n bepaalde kollegebiblioteek, kom hul ex libris-plaatjie voor – soos dié van Queen’s College wat in ’n uitgawe van True confessions of an albino terrorist vasgeplak is; of dié wat eens as deel van die David Philip-versameling deur die Rhodestrust aangekoop is, met Philip se handtekening voorin.

’n Ex libris-plaatjie (foto: Luan Staphorst)

’n Boek wat eens as deel van die David Philip-versameling deur die Rhodestrust aangekoop is, met Philip se handtekening voorin. (Foto: Luan Staphorst)
Dit is ook in die Queen’s College-uitgawe van Confessions waarin ’n kollegekatkisant van vervloë jare hul eie stempel, hul eie geloofsoortuigings, by die teks aangebring het deur sekere dele uit te lig. Stem hulle daarmee saam, of vind hulle dit aanvegbaar; was dit vir hulle ’n poëtiese uittreksel, of bloot ter herinnering vir wanneer hulle uit die teks moet aanhaal – dié weet ek nie. Maar só vorm die invoegsels van ’n onnoembare leser deel van Breytenbach se teenwoordigheid in Oxford.

Stem hulle daarmee saam, of vind hulle dit aanvegbaar; was dit vir hulle ’n poëtiese uittreksel, of bloot ter herinnering vir wanneer hulle uit die teks moet aanhaal – dié weet ek nie. (Foto: Luan Staphorst)
In die argiewe vind ek drie ander tipes dokumente. Die eerste, uit die versameling van Dame Hermione Lee, ’n befaamde Britse biograaf, sluit klasnotas en leeslyste uit die jare negentig oor postkoloniale letterkunde in.

Uit die versameling van Dame Hermione Lee (foto: Luan Staphorst)

Leeslys (foto: Luan Staphorst)
Breytenbach pronk naas Brink en Coetzee onder die hofie: “Afrika”. Die tweede kom ook uit Lee se versameling, naamlik ’n artikel “Dog’s Bone” wat Breytenbach vir The New York Review of Books geskryf het (miskien ’n verwysingspunt vir die hondobsessie in sy oeuvre waaroor Louise Viljoen reeds kundig navorsing gedoen het).

“Dog’s Bone” (foto: Luan Staphorst)
Die derde hou verband met Breytenbach-die-ikoon. As deel van die Anti-Apartheid Movement (AAM) se argief word ’n versameling dokumente, meestal korrespondensie, bewaar wat hul reaksie op Breytenbach se vonnisoplegging karteer.

As deel van die Anti-Apartheid Movement (AAM) se argief word ’n versameling dokumente, meestal korrespondensie, bewaar wat hul reaksie op Breytenbach se vonnisoplegging karteer. (Foto: Luan Staphorst)

’n Voorbeeld van korrespondensie (foto: Luan Staphorst)

AAM-ondersteuners in Nederland (foto: Luan Staphorst)
En hier bring sy naam vele ander invloedryke skrywers, akteurs, musici en denkers se handtekeninge na vore wat die AAM se griefskrifte ondersteun het: soos dié van Janet Suzman, Alex La Guma en Lewis Nkosi.

Lewis Nkosi se handtekening (foto: Luan Staphorst)

Alex La Guma se handtekening (foto: Luan Staphorst)
Maar die grootste vonds is in ’n privaatversameling – wat nie deel van die Bodleian-biblioteek of Oxford se argief is nie. Dit vorm deel van ’n privaatskenking aan Magdalen College deur een van Suid-Afrika se belangrikste letterkundiges wat nóg aan Oxford (of elders in die buiteland) studeer het: Richard Rive. In sy eksemplaar van Confessions staan die volgende boodskap van Breytenbach:
For Richard
whom I’ve known
for 200 years –
and still enjoy knowing,
and meeting.
Till next time!
Breyten
Yolande
Miskien van groter belang as die boodskap self is die handskrif – of eerder dat daar twee merkbaar verskillendes verskyn. In die register van die Rive-versameling wat ek by Magdalen College geraadpleeg het, word die inskrywing woordeliks herhaal as deel van die eksemplaar se beskrywing. Benewens een verskil: “Yolande [in a different hand]”. Wat die registeroptekenaars nie blyk te begryp het nie, is dat dit in haar eie skrif is – dat ons hier, deur hierdie inskrywing, beide Breyten en sy beminde se handskrifte in Oxford sien verewig is.

In die register van die Rive-versameling wat ek by Magdalen College geraadpleeg het, word die inskrywing woordeliks herhaal as deel van die eksemplaar se beskrywing. Benewens een verskil: “Yolande [in a different hand]”. Wat die registeroptekenaars nie blyk te begryp het nie, is dat dit in haar eie skrif is – dat ons hier, deur hierdie inskrywing, beide Breyten en sy beminde se handskrifte in Oxford sien verewig is. (Foto: Luan Staphorst)

Rive-eksemplaar (foto: Luan Staphorst)

Rive-eksemplaar (foto: Luan Staphorst)
Wat Breyten se ietwat beskeie teenwoordigheid in Oxford besonders maak – ten spyte daarvan dat daar baie ander universiteite en biblioteke met meer eksemplare van sy werk, met meer dokumente en met meer voorbeelde van sy handtekening is – is die wyse waarop sy naam ’n netwerk oproep. Eerder as ’n enkele figuur, is hy hier die individu waardeur daar na die ganse Afrika gekyk is, deur wie Lewis Nkosi en Alex La Guma se handtekeninge in Oxford bewaar word en deur wie ons sy beminde se naam in eie hand geskryf kan sien, eerder as wat ons dit bloot deur sy woorde lees. Deur sy naam word daar aan ’n netwerk van betrokkenes – ’n gemeenskap van ingeboektes – gestalte gegee.
- Foto’s: Luan Staphorst
Lees ook:
My kennismaking met Breyten Breytenbach, die maer man met die groen trui
Kommentaar
Lieflik, Luan!