Ons toekoms op die spel

  • 0

Prent: Nikin op Pixabay

........

 Spel oefen ’n sterk invloed op die samelewing uit, daarin neem ons die beste in menswees waar: uithouvermoë, vaardigheid, mededingendheid, spangees, oordeel, maar ook die swakste, naamlik vuilspel, knoeiery, onregverdigheid en selfsug.

........

In sy Werke en dae (ongeveer 700 vC) verwys Hesiodos na Twis (Eris) as een van die grondliggende eienskappe van die menslike samelewing. Hy onderskei tussen twee vorme van twis: een “laat bose oorlog gedy en is wreed”, en een wat as “goeie wedywering” beskryf kan word. Twis veronderstel ’n twispunt. Dit veronderstel dat daar iets op die spel is. Ons kan dus nog ’n stap terug neem vanaf twis en vra na die aard, betekenis en rol van spel in die samelewing.

Die eerste ding om oor spel te noem, is dat dit eie aan lewende wesens is, en tweedens dat dit nie noodsaaklik vir oorlewing is nie. Dit dien geen doel buite sigself nie; dit is ’n aktiwiteit wat vir sigself bestaan. Wat menslike spel van die spel van ander wesens onderskei, is dat dit met ’n hoë mate van verbeelding gepaard gaan. Spel gaan kultuur vooraf, wat beteken dat kultuur spel reeds veronderstel. Spel dra volgens Johan Huizinga in sy belangrike werk, Homo Ludens, in die Germaanse tale ’n breë betekenis, wat tegelyk erns en lighartigheid insluit. Die begrip plig kan byvoorbeeld etimologies in verband gebring word met play, en dui verder op plegtigheid, ’n formele geleentheid. Spel oefen ’n sterk invloed op die samelewing uit, daarin neem ons die beste in menswees waar: uithouvermoë, vaardigheid, mededingendheid, spangees, oordeel, maar ook die swakste, naamlik vuilspel, knoeiery, onregverdigheid en selfsug.

........
Die totale vertroebeling van onderskeid tussen spel, politiek en godsdiens is onlangs weer waargeneem by die openingsplegtigheid van die Olimpiese Spele, waar die Laaste Avondmaal as motief ingespan is.
........

So belangrik is spel geag dat die ruimte waar spele beoefen is, dikwels sakrale ruimtes was, soos met die antieke Olimpiese Spele die geval was. Wat deur baie kommentators gemis word, is dat die Olimpiese Spele die belangrikheid van spel tot so ’n mate beklemtoon dat dit ’n afsonderlike plegtigheid vir spel geskep het, wat terselfdertyd ’n onderskeid tussen spel en ander domeine geskep het, ofskoon die sakrale steeds daarby betrek is. Voorvalle waar stoeiers mekaar om die lewe gebring het, het tot die skorsing van sekere landstreke uit die Spele gelei. Die totale vertroebeling van onderskeid tussen spel, politiek en godsdiens is onlangs weer waargeneem by die openingsplegtigheid van die Olimpiese Spele, waar die Laaste Avondmaal as motief ingespan is.

’n Dieper, algemene problematiek lê in die agtergrond van hierdie gebeure opgesluit, nie die verpolitisering van spel soos mens met eerste oogopslag sal dink nie, maar die teenpool daarvan, naamlik die totale gamification van die werklikheid. Ons sien dit in die opvoeding, werksplek, met die toename in game theory as maatstaf vir prestasie. In feite kom gamification nie daarop neer om alles tot spel te reduseer nie, maar vind dit in ’n tyd van professionalisering van spel plaas waarin spel allermins net nog spel is. Wanneer alles net ’n speletjie word met toenemend vooruit-berekenbare resultate, verloor ons juis die vermoë om die werklikheid spelend te benader.

Indien ons nog ’n vlak dieper agter die spelteorie kyk, sien ons die opkoms van puerilisme, die veredeling van jeug – hulle wat by uitstek speel. Ons neem egter waar dat kinders toenemend ontneem word van spel vir die blote onthalwe van speel, terwyl hulle, met behulp van spelteorie, besig gehou word met ernstiger dinge. Die kind se verbeeldingsvlug moet nou boonop met hormoonaanvullings gestimuleer word, sodat hulle vir altyd gevange gehou kan word daarin. Die resultaat: Olimpiese verlosser-smurfies. Dit is daarom belangrik om die verband tussen spel en ander domeine van menslike bestaan uit te stippel.

Daar is ’n spelende element aanwesig in die menslike vermoë om die werklikheid te begryp, om dit uit te druk in taal, musiek, formules, kuns, ensovoorts. Simbool is immers afgelei van gooi, ballo; iets word geprojekteer om as iets anders uitgebeeld te word. Insgelyks wys begrip ook op sy beurt na gryp, om dit wat geprojekteer word, te vang met die hand. Spel dra dus daartoe by om geloofwaardigheid aan die werklikheid te verleen. Soos ’n spel sy eie reëls bevat, so bevat ander domeine ook reëls wat dit onderskei van blote spel. Daar is iets speels in die wetenskaplike eksperiment, in die politieke debat, selfs in die beplanning van oorlogstrategie, maar die produkte wat hieruit voorkom moet verantwoordbaar teenoor sy verbruikers en die publiek wees. Spel word omgeskakel in plig. Gegewe die twee uiterstes, naamlik die totale skeiding tussen spel en ander domeine van interaksie enersyds en die totale vertroebeling van spel met hierdie domeine andersyds, bly die moontlikheid oor om spel steeds by wyse van analogie in te span om daaruit iets wys te word om te bepaal watter aspekte van spel oordraagbaar is, maar nie volledig aan ander domeine gelyk gestel kan word nie.

Spelreëls, spelbrekers en valse spelers

Die eerste belangrike punt om te noem in hierdie verband, is dat deelname aan spel ’n gedeelde begrip vir die optrede wat as spel sal geld, dit wil sê die reëls, veronderstel.

Die spelreëls in die politieke konteks is die grondwet, wat aan die burgers ’n “speelruimte” gee waarbinne hulle ’n alledaagse bestaan kan voer. In die geval van apartheid en met die nuwe bedeling is daar egter in so ’n mate op die uitsonderings gefokus dat die reël ter wille van die uitsondering bestaan, om die uitsondering te onderhou en te versterk, dermate dat mense hulle nie daartoe verbind voel nie. Manifestasies van die ongebondenheid kan gesien word in die wyse waarop mense padreëls verontagsaam (veelseggend dat dit hoofsaaklik by groeperings uit verskillende dele van die politieke spektrum voorkom, naamlik 4x4-bestuurders en taxi’s) en die hoë vlakke van misdaad.

Huizinga onderskei verder tussen valse spelers en spelbrekers. Eersgenoemde bederf die spel en neem onder valse voorwendsels deel, terwyl laasgenoemde dikwels die gang van die spel lees en daarbinne skuiwe maak wat die ander spelers onverhoeds betrap. Soms moet die spelreëls selfs gewysig word wanneer daar beoordeel word dat spelbrekers onregverdige voordeel uit hierdie skuiwe put. Dit wys daarop dat ook die reëls onderhewig is aan aanpassing en dat spel en spelers ten nouste met mekaar verband hou.

........
Die sukses wat met rugby in Suid-Afrika bereik is, kan dien as analogie vir die wyse waarop die spelelement in ander domeine van nut kan wees.
........

Die voorbeeld van spelbrekers in die konteks van Suid-Afrika is uiteraard die Springbokke, sowel wat die reëls van rugby as die politieke druk en vereistes wat aan hulle opgelê word, betref. In die eerste plek is die oogmerk van die span in die sosiale konteks nie op transformasie en kwotas as sodanig nie, maar eerder op die uitbreiding van die spel. Tweedens is daar binne die spelreëls anders gedink oor die begrip plaasvervanger, wat vervang is met die idee van die impakspeler en selfs vergroot tot die plaasvervangers as ’n eenheid in eie reg, die sogenaamde Bomb squad. Dit sou nie vergesog wees om te beweer dat die Springbokke in albei gevalle dit reggekry het om wat meeste mense as hindernisse beskou, in nuwe moontlikhede te omskep nie. Die sukses wat met rugby in Suid-Afrika bereik is, kan dien as analogie vir die wyse waarop die spelelement in ander domeine van nut kan wees, wetende dat spel aansienlik meer eenvoudig is as die werklikheid van die lewe (so gesien, moet die beheptheid met rugby wat daartoe aanleiding gee dat kinders steroïdes ingejaag word net om mededingend te wees, as ’n banale vasval in die spelelement gesien word, om ’n seun se liggaam so gou moontlik ’n opgeblase manlike vorm te gee, is net so afstootlik soos die verlosser-smurf).

Die politiek bevat uiteraard ook elemente van spel. Enersyds hou die politiek hom besig met pragmatiese doelwitte soos die lewering van basiese dienste en andersyds met ideologie, en die oorgang tussen hierdie dimensies sou nie sonder spel kon plaasvind nie. Die burgery verstaan ook dat die politikus as retorikus ’n rol van oordrywing inneem om ondersteuning te kry sodat pragmatiese doelstellings bereik word en die oordrag van ideologie kan plaasvind. Huizinga praat van die politikus in die konteks van die Engelse parlement as die gentleman, dit wil sê mense wat binne ’n konteks debat voer met duidelike reëls en tydsbeperking. Nie Trump of Biden was lief vir gedeelde, openbare debatforums nie; Trump wou nie met sy eie partylede debatteer nie en Biden het selde verskyn.

Anderkant modeldenke en voldoeningskultuur

Analogie dien ’n doel, maar daar is grense aan die toepassing daarvan tussen domeine. In die konteks van die informatisering van die werklikheid, word stelsels en modelle op alle terreine geskep waarin verbruikers en produkte as’t ware met mekaar kommunikeer, dit wil sê om verbruikers te leer om taal te gebruik wat herkenbaar word vir moontlike bemarkers van produkte wat aansluit by hul voorkeure. Indien die werklikheid van menslike bestaan alleen in terme van ’n spesifieke uitkoms of funksie (sogenaamde effektiwiteit) gestuur word, tree die sinistere sy van spel, naamlik om onder ’n spel te wees, na vore. Deur puerilisme word ’n oorweldigende keusevryheid gestimuleer en aangemoedig, net om daaruit voorkeure te bepaal om sodoende produkte te verkoop. Wat ontbreek, is volwassenheid en goeie oordeel, wat in Kant se werk Kritik der Urteilskraft juis bemiddel tussen die verbeelding, kennis en etiek. Dit vereis voorts interaksie met ander mense en die samelewing, common sense, waarvan mens deel uitmaak.

........
Debat ontstaan uit spel; dit is ernstig, dit neem die vorm van twis aan, maar die twis is nie van so aard dat iemand daaraan sterf nie. Dit dra dus die speelsheid oor na ’n ernstige domein.
........

Wat begin by keusevryheid en behoeftebevrediging as hoogste doel, eindig sodoende op in die teenpool daarvan, blote compliance kultuur, of voorskriftelikheid. Paulus het al hierteen gewaarsku toe hy geskryf het dat die letter doodmaak en die gees lewend (2 Kor 3:6). Die letter kan egter op so ’n wyse aangewend word dat dit die gees, oftewel interpreterende denke wat met goeie oordeel die letter sal toepas, aanwakker, anders sou Paulus self nie die pen opgeneem het nie. Volgens Huizinga het filosofie by Plato ook op so ’n wyse ontstaan, naamlik as mimus, as speelgesprek, stilisties ontleen vanuit die komedies van Sofron. Die erns van die vorm (sy dialoë) hang ten nouste met die speelse ironie van die inhoud saam. Denke is noodwendig ’n aktiewe gespreksgenoot van idees, nie ’n passiewe ontvanger daarvan nie. By die sofiste word die belaglike tot waarheid verhef, dus moet die belaglikheid by Plato eers aan die kaak gestel word in die filosofie.

Debat ontstaan uit spel; dit is ernstig, dit neem die vorm van twis aan, maar die twis is nie van so aard dat iemand daaraan sterf nie. Dit dra dus die speelsheid oor na ’n ernstige domein. Die implikasies van debatvoering is immers dikwels verreikend. Twis kan nie vermy word nie. Dit kan egter ook ’n hoër vorm, dié van die dialektiek aanneem, iets wat hoort tot mondigheid. Sonder mondige debat sneuwel demokrasie. Daar is voorts geen enkele wenner in dialektiek soos in spel nie, hoogstens kan diegene wat hulle vaardig en moedig daaraan onderwerp, hoop dat waarheid, wat tot almal hoort, daaruit sal vloei. Goeie twis, moet ons onsself in ’n nuwe tyd van veelparty-politiek in Suid-Afrika herinner, is inderdaad nie net ’n eienskap nie, maar ’n noodsaaklike voorwaarde vir beskawing.

Lees ook:

Kuns, godsdiens en daai Olimpiese openingstoneel

Elders gesien: Op Olimpus word die gode bymekaargemaak

The power of symbolism

Burgerskap in die 21ste eeu

Ons gesondheidskwaal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top