Burgerskap in die 21ste eeu

  • 0
Een van die groot vraagstukke van die kontemporêre samelewing is die veranderende aard van burgerskap. Wie is die burger vandag? Hoe hou dit verband met burgerskap in vroeëre tydsgewrigte, en hoe lyk die pad vorentoe?

Die kultivering van die goeie

Met die intrede van die landboubeskawing in die geskiedenis was daar hoofsaaklik drie belangrike klasse, te wete die politieke, die priesterlike en die militêre. Die gesamentlike funksie van hierdie klasse was om stabiliteit aan die samelewing te verleen. Stelselmatig het die aristokratiese klas, vernaamlik in Griekeland, meer seggenskap begin geniet. Die benaming is afgelei van Grieks aristos, wat “goed” beteken. Die bron van die goedheid wat aan hierdie klas toegeskryf is, was eerstens eiendom. Eiendom is reeds van die antieke tyd af in terme van die moreel gelade begrip goedere beskryf. Blote besit is natuurlik onvoldoende – die gepaste omsien na die goedere (ook slawe) het die status van so ’n persoon verhoog. Tweedens moes die aristokrate hulle goedheid in die praktyk bewys deur byvoorbeeld by die Olimpiese Spele oorwinnings te behaal. Om as meerderwaardig teenoor ander geag te word, moes die aristokrate teen ander lede van die samelewing deelneem. Die hoë sukses waarmee hulle posisie in die samelewing geregverdig is, word toegeskryf aan die vrye tyd en hulpbronne wat hulle kon spandeer om te oefen en afrigting te kry. Nietemin het met hierdie praktyke eerstens die beginsel van ’n gelyke speelveld ingetree, en tweedens geleenthede vir die gesamentlike kultivering van die goeie deur deelname.

........
Die blote kultivering van die goeie om die onthalwe van die goeie self was die oorsprong van latere “demokrasie”, letterlik ’n regeringsvorm voortspruitend uit die bevolking self.
........

Die blote kultivering van die goeie om die onthalwe van die goeie self was die oorsprong van latere “demokrasie”, letterlik ’n regeringsvorm voortspruitend uit die bevolking self. Wat belangrik is om te noem, is dat die verkenning, kultivering en onderhouding van dit wat “goed” is, onderliggend was aan die vooruitgang van die Griekse samelewing. Insgelyks was die wanpersepsie van dit wat goed is, verantwoordelik vir die miskenning van mense en stagnering van die grootste deel van die bevolking. Verdere vernuwings, soos die ingebruikneming van die alfabet wat uit slegs 26 letters bestaan het, het ’n groter deel van die samelewing egter toenemend in staat gestel om op hoogte van sake te kom. Skrif is sodoende toenemend gebruik vir meer as politieke rekordhouding en die uitleg van godsdienstige openbaring. Die uitbreiding van kennis, veral op die markplein, het debat en dialoog genoodsaak, en uiteindelik instellings soos die senaat en later die akademie tot stand gebring waar die woord, die logos, gevoer kon word (dia-loog). Dit het aan die politieke orde ’n meer dinamiese aard verleen en sodoende stabiliteit én verandering as onontbeerlike elemente van ’n politieke bestel gevestig.

Die Romeine het twee belangrike elemente tot die opkoms van burgerskap toegevoeg: die plebejer-orde, ’n woord afgelei van die begrip massa, wat aan die onderste klas politieke seggenskap gegee het, en die private, ’n woord wat afgelei is van privus, wat “enkeling” beteken, en privatus, wat “afgesonder van die openbare” beteken. Dit het hoofsaaklik verwys na die huishouding as beskermde ruimte.

Die burger

Die woord burger hou verband met die Middeleeuse burg, ’n ommuurde klein stad. Burgers was diegene wat politieke regte geniet het, wat hulleself as bekwame bourgeois georganiseer het in liede, afgelei van die Duitse Leute wat na gewone mense verwys, maar hier het dit gegaan oor gewone mense wat hulleself bekwaam het in hoogs gespesialiseerde beroepe wat toenemend noodsaaklik vir die burg geword het. Die klem verskuif hier sterker na die kant van dit wat die persoon bied, eerder as dit wat die persoon besit of in watter stand die persoon gebore is.

Bekwaamheid was ten nouste gekoppel aan die begrip liberaal: “Liberaal, in die Latynse sin opgevat, staan teenoor meganies, derhalwe dui dit op die geestelike kwaliteit van dit wat ontwikkeld en beskaafd is teenoor die meganiese bestaan van die handwerkers,” aldus Huizinga. Diegene wat vry was, was diegene wat toegelaat is om vry te handel op grond van kundigheid.

........
Die mens is mettertyd self as inherent goed erken, los van dit wat hy kultiveer, los van sy materiële besittings en sosiale posisie.
........

Die mens is mettertyd self as inherent goed erken, los van dit wat hy kultiveer, los van sy materiële besittings en sosiale posisie. Ook die handwerkers het begin organiseer as messelaars (later die vrymesselaars), en kon betreklik sterk invloed begin uitoefen. Ironies genoeg het die patronaatskap binne hierdie organisasies die wanbalanse wat tot die oprigting van hierdie organisasies aanleiding gegee het, op nuwe maniere hervestig. Aanvanklik organiseer ’n groep bekwame mense hulleself en bereik sukses, en later word hierdie organisasies lamgelê deur ontplooiing (dit is geen vreemde verskynsel ook onder die Afrikaners nie).

Hoewel opleiding sedert die Verligting en die Nywerheidsrevolusie ongekende reikwydte oorspan het, het dit gepaard gegaan met uiters gespesialiseerde werk. Waar ’n ingenieur byvoorbeeld in die Middeleeue verwys het na iemand wat wyd ingestudeer is in kuns, religie en boukunde (in-genie), het die blote omvang van produksie die “meganiese” begin voortrek. Sodoende het beroepseer ook skade gely. In ’n land soos Suid-Afrika word blote werk en werkskepping belangrik geag, sonder inagneming van die menslikheid van daardie werke.

Volhoubare gebruikers

........
Die jeug is amptelik te jonk om te werk, maar nie om te verbruik nie, en was meer vatbaar vir reklame en was meer spandabelrig as hul ouers. Steeds het ons hier met ’n liniêre logika te make waarin produksie die beginpunt is en verbruik die eindpunt uitmaak.
........

Vanaf die tweede helfte van die 20ste eeu is die klem verskuif in die Weste, en toenemend in die Ooste, weg van die mens as produsent en meer in die rigting van die mens as verbruiker. Waarskynlik het die opkoms van jeugkultuur iets hiermee te make: Die jeug is amptelik te jonk om te werk, maar nie om te verbruik nie, en was meer vatbaar vir reklame en was meer spandabelrig as hul ouers. Steeds het ons hier met ’n liniêre logika te make waarin produksie die beginpunt is en verbruik die eindpunt uitmaak. Die verbruiker bestel. Alles word voorberei, reg gestel vir sy verbruik, vir sy bestelling: “De lucht wordt afgesteld op het leveren van stikstof, de bodem op erts, het erts, bijvoorbeeld op uranium en dit weer op atoomenergie.” Heidegger verwys na hierdie orde as die Gestell: “Overal is het besteld om terstond, ter plaatse, ter beschikking te staan.” ’n Belangrike wysiging vind egter plaas: In die bestel van die verbruiker is die natuur aanvanklik gesien as die hulpbron, en die mens die eindbestemming van die verwerkte produk; nou word verbruik omgeskakel in informasie wat as rou materiaal dien vir energienetwerke. Die mens se verbruik word nou gemeet in terme van energie-uitset, oftewel “voetspoor”.

Oënskynlik vind hier ’n kentering plaas weg vanaf die logika van verbruik, hoewel ’n soortgelyke logika ten grondslag van die gebruiker en die ekologiese denke lê, naamlik die logika van volhouding. Die oorskakeling van verbruiker na gebruiker is gekenmerk deur die aanmoediging om aan te hou verbruik. In die boek Addiction by design: machine gambling in Las Vegas skryf Natasha Schüll: “As machine gamblers tell it, neither control, nor chance, nor the tension between the two drives their play; their aim is not to win but simply to continue.” Volhoubaarheid, die sakrale begrip van ons tyd, is geen onbaatsugtige drif nie; in ’n sekere sin is dit die stabilisering en stimulering van aanhoudende verbruik in ’n sisteem van energie en informasie. Die gebruiker word bewus van sy gebrek aan eienaarskap en privaatheid; hy is ’n ingeskakelde intekenaar in ’n netwerk.

Die politiek van kosbaarheid

Die lewe is kosbaar, dit is nie volhoubaar nie. Anders gestel: Die lewe is juis kosbaar omdat dit nie volhoubaar is nie. Kosbaarheid kan nie gemeet word nie – dit is blywend, dog eindig, tasbaar, dog geestelik. Die gees omskep dit wat voorhande is, in iets blywend: Met kleurryke verfhale verewig dit die bloeisel en die gelaatstrek in ’n skildery, die vreugde in ’n grootse simfonie. Soos Fanie de Beer dit verduidelik in sy boek, Die krisis van die afwesige Gees: “Gees is die wese wat droom, wat krag aan eie drome gee, wat arbeidsaam en geniaal die werklikheid bewerk en dit aan hierdie drome verbind.”

........
Die lewe is kosbaar, dit is nie volhoubaar nie. Anders gestel: Die lewe is juis kosbaar omdat dit nie volhoubaar is nie. Kosbaarheid kan nie gemeet word nie – dit is blywend, dog eindig, tasbaar, dog geestelik.
........

Enersyds moet rekening gehou word met gees, met selfbewussyn, wat onontbeerlik is vir ’n waardering van die geheel as geheel, nie as sisteem nie. Andersyds is daar die natuur, dit wat meer is as blote energie of selfs “ekosisteem”. Die natuur bly die ander van die mens, die lewende nieself waarvan hy deel uitmaak maar wat hy, as self, nie is nie. Die mens hoort tot beskawing, dit is sy natuur, en binne hierdie domein is hy ’n burger, is hy vry, moet hy bekwaam wees en moet hy nooit skroom om die vraag na die goeie só te vra dat daar nie ’n balans gehandhaaf kan word tussen dit wat blywend is en dit wat verander nie, ook in hierdie tyd van volhoubaarheid.

Lees ook:

Die ontluistering van die wêreld

Moed steeds nodig vir denke

Die noodsaak van die kultuurmens in die tyd van uitsetverknegting

Oor skuld en vryheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top