
Foto: Valentin Kremer op Unsplash
Vanjaar word die 300ste geboortejaar van die Verligtingsfilosoof Immanuel Kant herdenk. In sy bekende essay “Wat is Verligting?” beskryf Kant die Verligting as ’n tydperk waarin die moed om ’n mens se verstand te gebruik, meer openlik aangemoedig en gekultiveer word. Die vrugte wat deur sodanige benadering afgewerp is, en steeds afgewerp word, is onteenseglik en oraloor sigbaar, met die ongekende vordering in veral tegnologie aan die spits daarvan.
Die vorderings wat gemaak is, kan ironies genoeg ook die bestaansvoorwaarde van die Verligting, naamlik die gebruik van die verstand, teenwerk en ondermyn. Kant sê: “Het ek tog maar ’n boek wat namens my verstandig is, óf ’n sielesorger wat namens my my gewete dra, óf ’n dokter wat vir my ’n dieet uitwerk, ensovoorts, het ek nie nodig om my te bemoei nie. Ek het nie nodig om te dink solank ek net kan betaal nie; ander kan dié lastige taak oorneem.” Die gelyste hulpmiddels is produkte van die moderniteit en is verder ontwikkel tydens die Verligting (die boekdrukkuns, die sielkunde, die mediese wetenskap). Hieruit sien ons dat Kant nie alles wat in die tyd van die Verligting tot stand kom, klakkeloos aanvaar en aanprys nie, of glo dat dit verdere verligting noodwendig tot gevolg sal hê nie. In samewerking met die verstand is die hulpmiddels van groot nut vir die mens, maar sodra dit die verstand vervang, sodra inspanning met luiheid en dekadensie vervang word, begin die gevaarligte flikker. Voeg by hierdie lys van vernuwings die hedendaagse algoritmes wat by ons voorkeure aanpas en sogenaamde slim toestelle, dan skyn die gebruik van die verstand vandag meer oorbodig te wees as ooit vantevore. In plaas daarvan dat ons verstand uitgedaag word, word ons eie persoonlike voorkeure gestimuleer en ons impulse geprikkel en meer van ons tyd in beslag geneem, wat die geleentheid skep om ons aan bemarking bloot te stel. Die menslike bewussyn het ’n markplein, of meer onrusbarend, ’n advertensiebord geword. Hierdeur word onder die dekmantel van vrye keuse patologiese gedrag en verslawing aangewakker.
Die neiging tot “selfopgelegde onmondigheid” is dus een wat geen samelewing vryspring nie, hoewel daar tydens die Verligting ruimtes geskep is waarbinne die selfstandige gebruik van die verstand gekultiveer en beskerm is. Verligting as historiese verskynsel is derhalwe meer as net ’n ingesteldheid; dit vind konkreet gestalte en gedy onder bepaalde naspeurbare omstandighede. Instellings skep ruimtes waarbinne denke as denke beoefen kan word, wat onderskei word van domeine waar denke slegs toegepas word. Eersgenoemde domein noem Kant die ruimte waarbinne openlike gebruik van die rede bevorder word, en laasgenoemde privaat gebruik. Hy omskryf hierdie domeine as volg: “Ek verstaan onder die openlike gebruik van die eie rede die gebruik daarvan deur ’n kundige voor die leserspubliek. Die privaat gebruik, daarenteen, is volgens my dit wat aan ons toevertrou word in burgerlike poste of ampte waar hy van sy rede gebruik kan maak ooreenkomstig sy gewete.”
Ons sien nogeens in Kant se uiteensetting dat die gebruik van die verstand meer as blote intellektuele aktiwiteit behels. In beide openlike en privaat gebruik verkeer die verstandsaktiwiteit in verhouding tot ander mense, by eersgenoemde in ’n meer besinnende en dialogiese verhouding en by laasgenoemde in ’n onmiddellike en konkrete verhouding. Die domein van die leserspubliek verskil verder van die gemenebes daarin dat eersgenoemde nie noodwendig gedeelde belange bevorder nie en ook nie noodwendig geografies gebind is nie, terwyl laasgenoemde praktiese keuses moet implementeer in belang van die samelewing in die geheel. Verder word die “gewetensmeganisme” volgens Kant deur die beampte ingespan om die gemenebes te dien. Gegewe die feit dat ’n bepaalde stel (redelike en praktiese) reëls en regulasies op ’n gegewe tydstip geld, sal die beampte hierdie reëls eerbiedig en toepas, maar ook oordeelkundig in ooreenstemming met sy bekwaamheid en as lid van die gemeenskap wat die beampte dien, aanpassings op gepaste wyse aanbring indien nodig. Daar bestaan volgens Kant dus wedersydse vertroue tussen die samelewing en die aangestelde beamptes.
........
Die domein van die leserspubliek verskil verder van die gemenebes daarin dat eersgenoemde nie noodwendig gedeelde belange bevorder nie en ook nie noodwendig geografies gebind is nie, terwyl laasgenoemde praktiese keuses moet implementeer in belang van die samelewing in die geheel.
........
Die onderskeid tussen die leserspubliek en die gemenebes is ook nie absoluut nie. Koerante en ander media verteenwoordig ’n mengsel van leserspubliek en die algemene belang (hoewel laasgenoemde groter is en daarom meer voorkeur kry). Die media vervul ook die rol om te vertaal tussen die leserspubliek en die gemenebes. Die totale vertroebeling van die verhouding kan egter nagevolge inhou vir die gebruik en teregkom van die verstand, soos wat die geval is sedert die opkoms van die inligtingsgemeenskap (Castells se information society). Net omdat mens ’n opinie het, beteken dit nie dat daardie opinie verstandig is nie, en wanneer verstandigheid nie meer die oorwegende vereiste vir denke is nie, eerder prikkels, dan verwater die denke tot blote emosionele uitbarstings en oorgevoeligheid. Hierdie reaksies, eerder as besonne en ingeligte menings, word boonop meer geredelik gesirkuleer om verdere prikkels te stimuleer. Dit is asof daar ’n ommekeer plaasvind: Die ruimtes van die denke word verlengstukke van openbare mening, terwyl genuanseerde debatvoering tussen massa-inligting verdwyn.
Verder kan ons tereg ons kommer uitspreek oor die domein van die gemenebes, omdat onder meer ’n oormaat bestuur in die beroepslewe die gesag en vertroue in die gewete ondermyn, en wanneer die beloning van die beampte alleen in abstrakte terme en in ooreenstemming met die organisasie se belang bepaal word (sogenaamde sleutel-prestasie-aanwysers, of KPIs in Engels), kan dit die beampte van die gemeenskap vervreem. Organisasies het voorts so monsteragtig groot geword dat ons nie meer kan aanneem dat gemeenskappe deur hierdie organisasies gedien word nie; dit is eerder toenemend die geval dat die indruk geskep word dat die samelewing outomaties sal gedy en groei namate organisasies groei (die doktrine van geluk as meetbare somtotaal).
Waar die “hindernisse teen die algehele verligting of die uitbreek uit sy selfverskuldigde onmondigheid” voor die Verligting meer direk en outokraties was, is die hindernisse vandag meer subtiel, juis omdat hubris in laasgenoemde meebring dat verligting as ’n gegewe aanvaar word, as ’n evolusionêre kenmerk wat in ons gene en in ons tegnologie sit, maar geen verstandsaktiwiteit vereis nie. Kant het egter reeds gewaarsku teen die blote aanvaarding van verligting as ’n gegewe: “’n Ware hervorming van denke kom nooit tot stand nie; eerder nuwe vooroordele wat soos die oues die leibande van die ondenkende massa opneem.” Die Verligting was ’n historiese gegewe waarin nuwe moontlikhede oopgegaan het, maar daarmee saam het nuwe vooroordele ontstaan, waarvan verligting as ’n permanente toestand waarin almal verkeer, een was.
........
My eie verstandigheid alleen is altyd onvoldoende en daarom is dialoog noodsaaklik vir die uitbreiding van verstand. Die teregkom van dialoog vereis gepaste ingerigte ruimtes en ingeligte menings.
........
Nogtans kan ons ons beroep op die winste van die Verligtingstydperk, tegnologies sowel as sosiaal, om ’n antwoord te gee op die nuwe uitdagings wat na vore getree het. Die vernuwings het immers ten dele uit die gees van denke na vore getree en kan ook daartoe gerig word. Daarnaas kan antwoorde vanuit ander tydsgewrigte en kontekste ook oorweeg word, aangesien verligting nie alleen tot die tydperk van die Verligting behoort nie. Afgesien van die feit dat Kant die leuse van die Verligting, sapere aude, ontleen aan die Romeinse skrywer Horatius, kies hy om die frase, wat “durf om te dink” beteken, te vertaal met die term moed. In Aristoteles se Nikomachiese Etiek is moed (andreia) die eerste deug wat bespreek word. Dit is nie toevallig nie, aangesien deugsame optrede hoegenaamd nie moontlik is sonder die gewilligheid om te staan vir iets wat almal nie noodwendig goedkeur nie. ’n Deugsame samelewing is bygevolg ook een wat verdraagsaam is teenoor moedige optrede wat dikwels norme bevraagteken (verkieslik op gepaste wyse in die domein van die leserspubliek), nie omdat norme oorbodig is nie, maar omdat norme redelik regverdigbaar binne die konteks beoefen en bewys moet word. Anders gestel: Deugsaamheid is verstandigheid. Die moed om te dink beteken dus om van ander te kan verskil (asook eie voorkeure te heroorweeg) ten einde na beter antwoorde te soek waaroor mense eindelik kan ooreenkom. Die aanmoediging van die gebruik van die verstand het altyd ten doel om verstandhouding te bereik: om my eie mening verstandig uit te druk en ontvanklik teenoor die verstandigheid van ’n ander te staan. My eie verstandigheid alleen is altyd onvoldoende en daarom is dialoog noodsaaklik vir die uitbreiding van verstand. Die teregkom van dialoog vereis gepaste ingerigte ruimtes en ingeligte menings. Per slot van rekening bly verligting ’n deurlopende projek van die mens wat in sommige tye sterker aangemoedig word as in ander, en ander kere as gegewe aanvaar word terwyl die teenoorgestelde toegepas word. Hoe dan ook, die maatstawwe van moedigheid en verstandigheid en die samewerking tussen die twee eienskappe is die nalatenskap van Kant se bydrae tot die vraagstuk van menslike verligting.
- Hercules Boshoff is ’n dosent in Filosofie by Akademia.


Kommentaar
Hercules, baie dankie vir jou uitmuntende en insiggewende artikel oor Immanuel Kant. Dit is 'n waardige herdenking van sy 300ste geboorte jaar. Al is Kant nie meer hier nie, is sy wysheid nog in ons midde. Verligting, insig en dialoog is onmisbaar vir die saamleef van mense. Ons moet mekaar eerder met dialoog verryk en nie met kortsigtigheid verarm nie.