Die ontluistering van die wêreld

  • 1

Te midde van omstandighede waarin die gerammel van luidrugtige slagspreuke toeneem, waarin selfbevestiging deur die herhaling van lukrake, absurde en oppervlakkige idees (en blote teenreaksies daarteen) beslag kry, kan ons tereg vra of daar ’n proses van ontluistering van die werklikheid plaasvind. Hierdie vraagstuk kan nie losgemaak word van ’n ondersoek na die aard van die tegnologiese ontwikkelings waarkragtens hierdie verskynsels ontplooi word nie.

Reeds in die 1950’s het Gilbert Simondon in sy Mode of existence of technical objects aangedui hoedat nuwe tegnologie gewoonlik ’n enkele behoefte bevredig, stelselmatig uitbrei, en uiteindelik die vraag bepaal, soos ondersteun deur die bekende woorde van Steve Jobs: “A lot of times, people don't know what they want until you show it to them.” Die telefoon wat ’n skerm bygekry het is ’n voorbeeld hiervan. Dit het nie by mense opgekom dat so iets moontlik of nodig is nie. Vandag is die selfoon bykans onlosmaaklik deel van ons bestaan. Die bepaling van begeertes buite ons noodsaak ons om die inrig van ons lewens tot die eise wat gestel word in die domeine wat deur inligtingsnetwerke geskep word, duidelik aan die orde te stel.

Die bronsreuse

Die menslike polsslag word in pas gebring met die tempo van die versnelling van tegnologie. Dit geskied deur onder meer horlosies wat polsslae in wakende en slapende toestand meet, en deur sagteware wat ingespan word om werknemers se aktiwiteite te monitor. Hierdie monitering kan in verband gebring word met ’n figuur uit die antieke Griekse mitologie, Talos: ’n bronsoutomaat 30 meter lank wat deur die god van tegniek, Hephaestos, vervaardig is om die nimf Europa, Zeus se minnares, op ’n eiland te bewaak. Oor die bronsgeslag van reuse skryf Hesiodos (700 vC) in sy Werke en dae: “Hulle het Ares (die god van oorlog) se jammerlike werke en geweld bemin, en het ook nie brood geëet nie, maar het harte so hard soos adamant gehad, vreeslike mense.” Wanneer iemand die eiland nader, het Talos klippe gegooi, maar indien dit nie gewerk het nie, sou Talos homself verhit en die aankomeling gryp en verkool. Oorverhitting is die beskermingsmeganisme van die geoutomatiseerde self teen gevare van buite, maar terselfdertyd beskryf oorverhitting ook die simptoom van ons tyd, naamlik uitbranding. Uitbranding vind plaas wanneer die liggaam gekondisioneer word om aan te hou beweeg terwyl die gees nie meer kan byhou nie. Dit is ook nie nodig nie, aangesien die gees se werk deur kunsmatige intelligensie vertolk word. Die yuppies met hulle “onoorwinlike arms” soos Hesiodos die bronsgeslag beskryf, het hulleself aangepas om die hoëpriesters van die hedendaagse gesondheidskultus, oftewel uitgeholde materialisme, te word, en hoef bloot by te hou met die nuutste tegnologiese verwikkelinge. (In hulle vrye tyd werk hulle onverpoos onder Talos se nougesette blik aan hulle brons voorkoms.)

Daar bestaan nie meer ’n harmonie tussen die verskillende dimensies van ons bestaan nie, omdat alles saamgeflans word. Veelseggend is dat Talos oor slegs een aar beskik het, en nadat Medea hom verskrik het met beelde van die dood, het hy verbouereerd sy enkel teen ’n klip gestamp en doodgebloei. 

Verlossingswaan

Die saambind van verskillende fases van produksie onder een vaandel en die koppeling van netwerke het meegebring dat maatskappye oor die laaste eeu eksponensieel gegroei het. Hierdie groei het ook die wese van organisasies drasties verander. In Johan Huizinga se essay “Nederland's geestesmerk”, geskryf in 1935, drie jaar voor die Tweede Wêreldoorlog, waarsku hy alreeds dat sielloosheid, en die keersy daarvan, naamlik ’n versugting na heroïsme, besig is om organisasies te verlam en dat hierdie toedrag van sake ’n groot gevaar vir die samelewing sal inhou. Sielloosheid en die versugting na heroïsme neem die plek in van burgerlikheid (volgens Huizinga die vernaamste kenmerk van die vroeë en moderne Nederlandse beskawing). Die vertroue en wedersydse erkenning van werknemers en burgers, diegene wat met gesag kon praat op grond van elkeen se kennis van sake, word vervang met deursigtige inligtingsnetwerke wat voorafgeprogrammeerde uitsette neerlê wat blote voldoening verg en niks meer nie. Die suksesvolle integrasie van netwerke dra daartoe by dat bekwaamheid nie meer die deurslaggewende faktor by aanstellings hoef te wees nie, en laat maatskappye toe om aanstellings te maak wat hulle geld kan bespaar en kan help om kontrakte te bekom.   

Korporatiewe identiteit, gerugsteun deur massareklame, herposisioneer besigheid as die geestelike kolk waarrondom die samelewing draai. Die maatskappy se funksies verbreed tot ESG (environment, social and governance), waar sake voorheen meer dialogies tussen organisasies, wetmakers, kerke, die politiek en burgerlike deelname besleg is. Korporatiewe identiteit word bygevolg toenemend moralisties, en vanweë hulle invloed, magtig. Adam Smith se “onsigbare hand”, die dryfveer van die kapitalisme van die vroeë industriële tydperk, word vervang met deursigtigheid en monitering van gedrag om voorafbepaalde doelwitte te bereik. Die siel van die individu, maar ook ander organisasies in die samelewing, word opgeneem in die “siel” van die groot maatskappy.

Wat die verskynsel van heroïsme aanbetref, word werknemers en verbruikers op kruistogte geneem om die wêreld te red, aangespoor deur die hedendaagse ekwivalente van die antieke bronsgeslag: miljardêrs, YouTube-ghoeroes, verdedigers, “warriors”, en allerlei broodvermydende askete, almal beminnaars van die god van oorlog. Die reddingsdiskoers skep ’n imago dei-aura rondom die leier en sy navolgers. Verbruik is nie net meer verbruik nie; deur vir die regte maatskappy te werk of die regte produk te verbruik, voeg mens iets toe tot die redding van die aarde.

Die verlies van wêreld

Die sinkronisering van die menslike polsslag met tegnologiese tempo dra nie by tot redding van die aarde nie, maar eerder ’n verlies aan wêreld. Die etimologie van die woord wêreld is wer (wie) plus alt (tyd); dus: die tyd van die wêreld is die tyd van die mens. Menslikheid word egter gering geskat, ondergeskik gestel aan onder meer die omgewing, kunsmatige intelligensie, en allerlei ideologiese uitgangspunte. Die oorverdowende gerammel hiervan, verhoog deur reklame, maak ons doof vir onsself en vir die wêreld ten aansien van die redding wat die slagspreuke in die vooruitsig stel. Huizinga sien hierdie gevare duidelik in die 1930’s: “De moderne middelen van suggestieve reclame en mechanische organisering maken elk extremisme gevaarlijker en onberekenbaarder dan vroegere perioden ze gekend hebben.” Werklike verheffing, imago dei, beteken juis om te leer hoe om mens te wees – soos wat die Christen-gelowige glo dat God mens geword het en sy heerskappy daarin bestaan om te dien. “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien.” Om op te kyk is om om ons te kyk. Om te heers is intrinsiek om te dien: onderhoudend, simpatiek, sinsoekend, singewend en hoopvol.

Die mens is voorts in Aristoteles se beskrywing zoon echon logon, die een met taal. In die proses van ontluistering verloor die mens sy logos, sy woord. Heidegger toon aan dat logos etimologies verwand is aan légein, om te sê. Die logos staan nooit los van die aktiwiteit van sê en aanhoor nie. Sou mens kon sê dat die inligtingstoename nie juis bydra tot sê en hoor nie? Die gebrek aan tasbare interaksies dra nie alleen daartoe by dat ons ander swakker leer ken en erken nie, maar ook onsself. ’n Fundamentele komponent van die antieke Griekse beskawing wat as slagspreuk by die tempel van Delphi gedien het, en waaroor Plato se dialoog die Alkibiades handel, is juis die tema van selfkennis, oftewel die imperatief: Ken jouself. Selfkennis beteken tegelyk om te weet waar ’n mens inskakel in die samelewing en om daardie posisie selfstandig in te neem. Omgekeerd beteken dit ook dat instellings rondom mense en nie mense rondom instellings nie ingerig moet wees.

Meer as pompdonkies

’n Burgerlike ingesteldheid is een wat genuanseerd bemiddel tussen die verskillende rolle van menslike bestaan in die samelewing, maar is insgelyks een wat by uitstek beskik oor wat Huizinga noem ’n politieke temperament. Hierdie temperament sien die noodsaak in van onderhouding, vooruitstrewing en verandering en laat hom nie op sleeptou neem om eksklusief een ten koste van die ander te kies nie.

In NP Van Wyk Louw se Pluimsaad waai ver, of Bitter begin spreek die karakter Jan sy misnoeë oor die ongeorganiseerde boerekrygers van genl De Wet as volg uit: “Ons moet ons mense leer om gehoorsaam te wees soos ’n pompdonkie gehoorsaam is: As jy hom slaan, loop hy; as jy hom losmaak en jy slaan hom in die put in, loop hy die put in. Soos die Engelse vandag.” De Wet reageer dan: “Ek sal jou sê hoe dit is: Ons kan net dié soort man gebruik wat self kom en sê: ek wil veg, ek sal nie dros nie; as ek dros, straf my! Dié soort sal ons moet uitsoek, uitsif soos diamante. En dan sal ons veg. Tien van dié soort is meer werd as honderd bymekaarraapsels.”

Gehoorsaamheid in vandag se milieu word nie noodwendig deur ’n pynigende slag bewerkstellig nie, maar deur plesierige, aanmoedigende prikkels. Afgesien van die belofte van individualisering sien mens kollektivistiese gedragspatrone oral. Hierdie vals individualisering skep ook ’n valse indruk van beskawing. ’n Beskawing is baie meer as ’n menigte wat saam slagspreuke uitroep. Dit is dinamies en dialogies, wat, anders as Talos, uit verskillende are by wyse van ’n robuuste en genuanseerde oop gesprek ’n gesonde bloedsomloop daarstel.

Om jouself te ken is om te leer wat met jou wese resoneer, nie alleen rondom dit wat jou plesier gee nie, maar ten eerste in die bepaling van jou plek, om te resoneer met dit waarin ’n mens ’n kreatiewe bydrae kan lewer, ’n ruimte waarin mens verneem en toevoeg in wederkerige erkenning, waarin jy vorm aanneem en vorm gee.

Lees ook:

Moer toe met die wolk saam

Moed steeds nodig vir denke

  • 1

Kommentaar

  • Beste Hercules, jy verdien lof vir 'n uitmuntende artikel. Jou kennis van die Griekse mitologie skemer duidelik deur. Dit verlig ons ontwrigte samelewing. Die beskawing is immers dinamies en dialogies meer as die sinlose gedruis van slagspreuke. Jou artikel is nie net verhelderend nie, maar 'n wekroep om plek vir kreatiewe bydrae in te ruim. In een woord: skitterend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top