...
Jy is die groot data. Wat jy met jou rekenaar, slimfoon en ander slimtoestelle doen, is die tafel waarop KI se feesmaal gedek word. Jy is geld werd.
...
Laas week was skattig. Ek funksioneer meestal op drie ure se slaap danksy verskeie internetkabels naby Abidjan in die Ivoorkus wat hul alie gesien het. Slegs maande nadat drie kabels in die Rooi See dieselfde lot beval het. Vir iemand soos ek wat ’n lewe uit die digitale sfeer maak, is dit katastrofies. Dit beteken duisende vreesbevange kliënte in amper elke industrie wat skielik besef dat alles uiteindelik deur die wolk moet gaan, en omdat ons konneksie met die wolk moer toe is, is ons moer toe. Afgesny. Opgezip. Weggepak. Wil nie meer werk nie.
Standaardantwoord op die krisis: “Stuur ’n e-pos uit na elke klant/kliënt in elke land!”
Oukei. ’n E-pos. Wat oor die wolk en deur die internet gestuur moet word. Wat af is. ’n E-pos wat die klant/kliënt sal moet lees deur die toepassing wat deur die wolk en met die internet werk. Wat af is.
...
Hoe op aarde het die mens in ’n situasie beland waar iets so elementêr soos ’n kabel wat op die seebodem lê, ons tot stilstand kan dwing? Die antwoord is groot data en KI.
...
Ek begin stadigaan vermoed dat daar een van twee dinge besig is om te gebeur. Kyk: Facebook, WhatsApp en Instagram, wat onlangs buite werking was – dit was alreeds opmerklik toevallig in tydsberekening. Nou kalf Microsoft se bielie Azure Web Services, waarvan ’n groot gros van die internet se transaksies afhanklik is … Google herroep hul Gemini Super-KI omdat dit glo rassistiese afleidings gemaak het ... En en en ... en die kabels nou? Dit is óf die ontplooiing van KI op ’n industriële skaal wat met nukke, stampe en stote gepaardgaan, óf daar is daadwerklik ’n massiewe kuberaanval in wording.
Hoe vatbaar is die wêreld se internetwolkdienste vir aanvalle? wonder ek. En hoe afhanklik het die mensdom van die triljoene pakkies data geword wat elke sekonde ongesiens deur die eter verby ons zoem om in bedieningsentrums na elders op die planeet en weer terug te skiet teen die spoed van lig?
Die wolk is soos ’n uitgestrekte netwerk van afgeleë bedieners wat dmv die internet met mekaar en ons toestelle verbind word. In plaas daarvan om data en programme op jou plaaslike rekenaar of bediener te stoor, verkry jou slimfoon en rekenaar toegang tot hierdie hulpbronne deur die internet. Wanneer jy wolkdienste gebruik, soos Google Drive, Dropbox, of Amazon Web Services (AWS), word jou lêers en programme op hierdie afgeleë bedieners gestoor en verwerk.
Met byna elke toepassing op jou foon of rekenaar wat aan die wolk verbind en daarvan afhanklik is, word die wolk alombelangrik om die internet en al ons interaksies daarmee te laat werk. Breek die verbinding, is dit nag, Nella. Oombliklik is alles stadiger. Party dinge, soos Microsoft Word en Excel en OneDrive, hou doodeenvoudig op met werk. Banktransaksies, hotelbesprekings, webwerwe, aanlyn winkels … die impak is enorm en wydverspreid.
Was dit dalk ’n terroriste-aanval? Hoe kwesbaar is die wolk? Nee. Dit was maar net menslike foute en dalk ’n bietjie noodlot wat daartoe gelei het dat vier internetkabels op dieselfde tydstip ’n datahonger kontinent van die res van die wêreld afgesny het. Die bedieners het die vermoë om die een se werk na die ander oor te skakel sonder dat menslike ingryping werklik nodig word. Dit neem dalk langer, maar die data hou aan met vloei.
Ek gebruik die term datahonger, want dit is juis wat enige ontwikkelende ekonomie tans is en vir lank nog gaan wees. Ons het die verbinding met die wolk nodig om ekonomies te kan funksioneer, nes die res van die planeet. Daarsonder kolk die data op ons fone en rekenaars net rond tussen die bedieners van jou selfoonnetwerk of internetdiensverskaffer. Daarsonder is ons nie meer deel van die “plugged-in” generasie nie. Ons het daardie triljoene pakkies data, daardie ontelbare stringe 1’e en 0’e nodig asof dit suurstof is.
Hoe op aarde het die mens in ’n situasie beland waar iets so elementêr soos ’n kabel wat op die seebodem lê, ons tot stilstand kan dwing? Die antwoord is groot data en KI. Laasgenoemde “leer” en word gevoed op die eersgenoemde se konstante stroom.
Daar bestaan haas geen internasionale IT-maatskappy wat tans nié KI op ’n industriële skaal ontplooi en dit ’n integrale deel maak van hul langtermynbesigheidsplanne nie. IBM. Microsoft. Google. Amazon. Apple. Nvidia. Oracle. Meta. Alibaba. PWC. Die lys is ellelank. $200 miljard per jaar. $1,8 triljoen teen 2030. Dít is hoeveel daar in KI belê word. KI “leer” deur data te verwerk en te kategoriseer. Kan jy jou indink hoeveel data hierdie KI daagliks al kan verorber?
...
Die mens wat soos die mitologiese Narcissus met sy eie spieëlbeeld gefassineer bly en nie sal besef dat hy eintlik na ’n droom staar en dit nie die werklikheid is nie.
...
Hoekom die grootdatahongerte van 2024? Geld. KI is slegs ’n spieëlbeeld van wat die mensdom doen. Dit gaan besighede blitssnel maak. Slim. Alles wetend. Dit is waar groot data so broodnodig is. Triljoene en triljoene stukkies inligting oor elke individu wat deur die wolk snel, daar verwerk word en elders versamel word sodat KI sy verbluffende “antwoorde” daaruit kan optower. Hierdie antwoorde keer na jou terug in die vorm van advertensies vir die tekkies op die rak in Mr Price waar jy dalk ’n klein rukkie langer as die res getalm het. Die kitskosrestaurant wie se pryse jy onlangs op jou slimfoon opgesoek het. Die verskeringsmaatskappy van wie jy so pas ’n boodskap ontvang het om jou daaraan te herinner dat jy toe nie daai lewensverskering uitgeneem het soos wat hulle voorgestel het jy moet nie.
Jy is die groot data. Wat jy met jou rekenaar, slimfoon en ander slimtoestelle doen, is die tafel waarop KI se feesmaal gedek word. Jy is geld werd. Maar onthou tog dat die ou reël geld: As jy dit verniet kry, betaal jy op ’n ander manier daarvoor. Die woordverwerkingsprogram wat jy gebruik het. Die digitale tuiste waar jy al jou foto’s en lêers op stoor. Die video’s wat jy op YouTube en TikTok kyk. Die toepassings wat jy gebruik om iemand nuut mee te ontmoet. Maatskappye betaal groot somme geld om die stroom data dop te hou wat jy (deur net te leef en deel te neem aan die digitale era) skep. Jy verklap wie jy is, en – belangriker – wat jy dalk by hulle sal koop.
Dit is te verstane dat ons gefrustreerd raak wanneer ’n internetkabel ontkoppel en ons skielik van ons eie datastroom afgesny word. Dalk gee jy nie om dat maatskappye oor die wêreld heen jou data gebruik om jou netjies in ’n verbruikersboksie te kategoriseer nie. Dalk is jy maar net te bly dat alles werk en jou lewe vinniger en meer gemaklik is.
...
Wat wel belangrik is, is dat jy moet besef dat ons die era van KI-hallusinasie binnegegaan het, die KI-H-era.
...
Wat wel belangrik is, is dat jy moet besef dat ons die era van KI-hallusinasie binnegegaan het, die KI-H-era. Hierdie dataverwerking, hierdie geoes van persoonlike inligting het sy newe-effekte ook. Dieselfde KI wat die wolk dryf, het die mag om jóú te dryf of dalk te laat oordryf.
Ek sien soveel plasings onlangs op my tydlyn verbykom waar mense foto’s deel van ongeloofbare oomblikke en mense wat fantastiese dinge doen wat net op die regte oomblik afgeneem is. Babas wat saam met katte onderwater swem. Arm kinders in Afrika wat pragtige dinge uit plastiekweggooibottels maak. Dis ongelooflik – want dis vals. Dis KI-geskep. Die kommerwekkende ding is dat mense in massas dit vir soetkoek opeet en dit binne ’n splitssekonde aanvaar as die werklikheid en dan met verwondering aanstuur. Totaal onbewus daarvan dat hulle so pas ’n greep van ’n KI-antwoord wat uit groot data gemyn is, help versprei en legitimiteit aan die alternatiewe realiteit gee. Die digitale realiteit.
Dis nóú net prentjies. Teen jaareinde sal dit video’s met klank wees. Daarna herkenbare mense en stemme. Politici. Sterre. Geldghoeroes. Sporthelde. Jou familielede en vriende. Bekende mense wat ons dalk vertrou of verafsku besig om ongeloofbare dinge in video’s te doen en te sê. Dit gaan nie lank vat voordat joernaliste voor die grootste tameletjie van hul bestaan te staan kom nie: Wat is eg? En wat is KI? En hóé kry ons kykers, luisteraars en koerantlesers om tussen die twee te kan onderskei? Hoe sit ons hierdie stroom van groot data stop wat nou Groot Probleme en ’n alternatiewe realiteit veroorsaak?
Die invloed van KI tesame met groot data is sterk want dit gebruik ons een swakplek en die een ding wat masjiene en algoritmes nie het nie, maar sal kan fop: Menslike gevoelens. Jy deel die foto want jy is verwonderd deur wat jy sien. Jy het simpatie. Jy voel trots, dalk. Onthou tog dat woede en magteloosheid en afguns en vrees ook as emosies bestaan. Dit gaan net één KI-video vat van ’n publieke persoon of politici om jou revolusies tot in die rooi te jaag en jou dalk te oortuig om in die werklike wêreld op te tree of aksie te neem. Soos by ’n stembus, byvoorbeeld. Of in ’n oorlog. KI en groot data is ons spieël, ja – maar wat ons daarin gaan sien en daaruit gaan put en die afleidinge wat KI gaan maak, is dalk ons grootste nagmerrie-in-wording.
...
Waar gaan dit ophou? Dit gaan nie. Ons is alreeds aan die datastroom verslaaf.
...
Waar gaan dit ophou? Dit gaan nie. Ons is alreeds aan die datastroom verslaaf. KI sal slimmer en slimmer word. Werklikheid meer en meer moeilik om van die gefoppery te onderskei. Die KI-H-era sal gekenmerk word deur die mens wat soos die mitologiese Narcissus met sy eie spieëlbeeld gefassineer bly en nie sal besef dat hy eintlik na ’n droom staar en dit nie die werklikheid is nie. Tot die werklikheid om hom verwronge raak en vergaan. Die ongelukkigheid oor internetdienste wat stadiger is en toepassings wat nie meer wil werk nie as gevolg van ’n kabel wat gebreek het, is klinkklaar genoeg bewys dat ons alreeds nie meer sonder groot data en KI kan leef nie.
Die invloed van die KI-H-era wat op die ontginning van groot data staatmaak, het die mag om die samelewing by sy elementêre nate los te torring. Dit is, naas die televisie en die drukpers, die grootste kulturele skuiwer ooit. Dinge gaan verander. Dit gebeur stil-stil en blitsvinnig. Tot iets breek.
Lees ook:
In die beeld van die Skepper: ’n kykie in die toekoms van Kunsmatige Algemene Intelligensie (KAI)
Hou KI ’n bedreiging vir skrywers in? | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
To Google or to Chat? Getting information is likely to change
Kommentaar
Fantastiese artikel, Mnr Gilroy!