Ons gesondheidskwaal

  • 1

Die losmaak van haar hare dui op die losmaak van volledige geheue. (Foto: Engin Akyurt | Pixabay)

Verbrandingspraktyke

Die 19de-eeuse filosoof Friedrich Nietzsche het gesê dat die godin van die toekoms gesondheid sal wees. Sy voorspelling was onthutsend akkuraat – ons sien vandag hoe veral op die Sabbat, wat letterlik “rus” beteken in Hebreeus, massas mense ritualisties fietsry en hardloop om sodoende die puntetelling op hulle mediese fondse te verhoog. Waar die liggaam eens as die tempel van God beskryf is, word die liggaam binne spieëlgevulde gyms vertoon as doel in sigself, terwyl die genoemde instellings in feite die tempels van die gesondheidsgodin geword het. Agter die narsistiese selfaanbidding skuil daar dus ’n nuwe vorm van despotisme.

Dit is veelseggend én kommerwekkend. Maar hoe verstaan ons vandag gesondheid? Mens sou kon aansluit by James Joyce se bekende uitspraak: “Modern man has an epidermis before he has a soul” om aan te dui dat die mens se uiterlike belangriker as sy siel geword het, terwyl die siel ook toenemend met medikasie en terapie reggedokter word. (Abigail Shrier verwys selfs na “terapiekultuur” wat dikwels patologie stimuleer in plaas van kuur.) Die uiterlike dinge bepaal dus die welstand van die siel.

Ons samelewing is egter nie die eerste wat sterk op die uiterlike ingestel is nie. Soortgelyk aan die Middeleeuse vagevuur-gedagtegang, word mens se sondes (of kalorieë soos dit vandag bekend staan) “verbrand” op jou Sondag-fietsry-en-koffie drink-ekspedisies. Jy hoef weliswaar nie aan iemand te bely nie – die toepassings en outomatiese meedelings van jou kilometers met ander gesinkroniseerde gebruikers maak van ander die priesters wat oorsig hou oor jou verbrandingspraktyke (of jou bergfiets meer kos as jou huisbediende se hele jaar se salaris is egter nie ter sprake nie). Dit word alles bewerkstellig deur die inskakeling van mens aan masjien deur sy polshorlosie. Waar masjiene voorheen slegs in uiterste gevalle gebruik is om funksies te meet, word die menslike bestaan en veral die begrip van gesondheid toenemend slegs in terme van funksie uitgedruk.

Smaak

Afgesien van die uiterlike, is dit wat in ons liggame ingaan, oftewel die “insette” in funksionele taal, ook van belang. Om te bepaal wat vir die mens gesond is, word dieetkundige debatte dikwels bepaal deur die vraag: Wat het mense aanvanklik geëet? In die agtergrond hiervan is daar ook die ou gesegde van Feuerbach: “Man ist was man isst”, of “jy is wat jy eet”. Was die mens oorspronklik karnivoor, herbivoor of omnivoor? Steeds blyk daar geen finale uitsluitsel te wees nie. Daar is sekerlik waarde te put uit sulke studies, maar dit mis ’n wesenlike punt wat die dieetaskete geneig is om te ignoreer. Die mens is naamlik van meet af as “sapien” beskryf, homo sapien, die een wat smaak. Verder nog is sapia etimologies gekoppel aan sofia, wysheid. Om goeie smaak te hê is om wys te wees. Afrikaans, wat dinge dikwels in meer tasbare terme beskryf, gaan nog verder deur smaak in terme van “lekkerte” te beskryf, wat op ervaring sowel as gevoel kan dui. Lekker is afgelei van lek of proe.

Die geheim van ’n goeie skottel is om die kos te laat wees soos wat hy is. (Foto: Cattalin | Pixabay)

Kos is meermale nie vanself lekker nie, dit verg vaardige voorbereiding, geduld en vernuf. Daar is iets magies aan die omskakeling van die rou produk tot iets wat heerlik is, wat ook verduidelik waarom kosprogramme so gewild is. Die kospot is in Marthinus Versfeld se woorde die “towerkruik, die kruispot waarin die wisselwerking tussen mens en natuur bewerk word”. Mens wil egter ook nie te veel inmeng by die kos sodat dit wat ingeneem word, ontneem word van sy aard nie: “Die geheim van ’n goeie skottel is om die kos te laat wees soos wat hy is, net soos die geheim van ’n goeie politieke beleid is om die mense te laat wees soos wat hulle is.” Om mense te laat wees soos hulle is beteken om hulle talente te kultiveer, en om kos te laat wees soos wat dit is beteken om die natuurlike geure na vore te bring. Hierdie natuurlike geure is meermale heilsaam.

In die kern van die mens is die siel, wat in die antieke tyd met die asem verbind is. Die sintuig wat by die mens die swakste ontwikkel is, en wat deur die vaardigheid van kookkuns en veral wynmaak na vore kom, is reuk. Aangesien die mens se reuk swak ontwikkel is, kan hy nie bepaal of kos skadelik is voor hy dit in sy mond sit nie, en is voorbereiding van kos en fynproewing nie alleen belangrik vir estetiese ervaring nie, maar vir die mens se oorlewing. Voorbereiding, wat tegelyk iets verander maar ook sy aard, sy substansie, sterker na vore bring, beteken om dit na ons asem, na ons siel, te bring. Die siel, dit wat agter ons uiterlike sit, help ons ook om dit wat agter en binne ander dinge is, te bepaal en na vore, of soos dit in ons taalgroep uitgedruk word, te berde te bring (berde is afgelei van bord).

Ons ligprobleem

Daar word vir ons vertel dat kunsmatige intelligensie-masjiene instem tot menslike behoefte. Die teendeel is eerder waar: Ons is besig met die meganisering van die bewussyn deur onsself te begryp en uit te druk as verwerkbare informasie gekoppel aan energienetwerke. Ofskoon die liggaam se funksies ’n groot mate van konstantheid benodig, is blootstelling aan die omgewing en seisoene, soos ek sal uitwys, ook belangrik ter wille van aanpassing. Die meganiese roetine skakel hindernisse uit en verskraal die liggaam tot die abstrak-meetbare: 10 000 tree, ’n sekere hartklop, bloedsuiker, cholesterol, ens.

Die konstantheid van die meting, ook in ons slaap, het ’n meer bepalende rol in ons gedrag as wat ons besef. Dit verhinder ons meermale om die domeine van nag in ons bestaan, dit wat verborge lê, op ons te laat inwerk. In NP van Wyk Louw se Asterion word daar verwys na die “ligprobleem”, eie aan die moderne beskawing:

Glans! Heers jy oor ons!
Laat nooit die brand óphou nie:
lig by ons oë in, heers in ons oë.

Die Grieke het verwys na Mnemosyne (moeder van geheue), die dogter van hemel en aarde en suster van Kronos, Vader Tyd, om die oorgang tussen die verskillende ordes van ons bestaan uit te stippel. Kronos, die titaan, se begrip van tyd is dit van konstante herhaling sonder verandering (hy het sy eie kinders verswelg). Dit was ook hoe Mnemosyne ingestel was totdat Zeus (Kronos se seun wat hom verslaan het) by haar kinders, naamlik die muses, verwek het. Die ritme van die kunste is anders as die meganiese en titaanse ritme. In Friedrich Hölderlin se gedig “Mnemosyne” word daar verduidelik dat die muses in die nag verwek word, die nag waarin Mnemosyne se hare losgemaak word en Zeus, die ordegewer, se gordel ook. Die losmaak van haar hare dui op die losmaak van volledige geheue. Dit dui op ’n afwyking van die normale, die vergeting, wat nodig is. Masjiene en sosiale media vergeet nie, dit bind ons aan Kronos, aan die verswelging van afwyking. Ritme in kuns is meervoudig in moontlikheid.

Die liggaam se taal is baie meer as dit wat gemeet word, die liggaam praat op ’n aantal maniere. Sielkundige probleme is meermale die liggaam se vertraagde reaksie op verskynsels wat aktief deur die brein onderdruk word (meermale aangehelp deur tegnologie wat korttermyn resultate meet). So ook is liggaamlike kwale dikwels toe te skryf aan geestelike stres. Die verskynsel van uitbranding en die daaropvolgende depressie is een daarvan. Ons dwing ons liggame met medikasie om te funksioneer wanneer die brein moeg geword het, of om hormoonwanbalanse soos dopamien in die brein, dikwels meegebring deur werk, met oefening teen te werk in plaas daarvan om die probleem van oorwerk in sy kern aan te spreek. ’n Blote ekwilibrium in die liggaam dui nie noodwendig op harmonie nie.

Harmonie

Harmonie moet gevind word tussen liggaam en siel, maar ook voorkoms. Hierdie drie aspekte hou verband met die kernaspek van die mens, naamlik smaak. Sodanige harmonie stem die mens daartoe in om ten eerste ’n selfstandige handelende eerder as ’n behandelde wese te wees wat op prikkels reageer.

Volgens Plato kan mens aan die siel se beweging dink as siklies, en die liggaam s’n as liniêr. Die siel is verbind aan die sterre se beweging en die liggaam aan die aarde, aan die domein van begin en einde. Die siel is ewig en die liggaam tydelik. Die patroon van siklisiteit is egter ook belangrik vir ons liggame, omdat siklisiteit langdurigheid toebedeel aan die liggaam. Om hierdie rede stem die siel die liggaam daartoe in om langdurigheid na te streef deur aktief te bly. Die aardse bestaan, ofskoon dit liniêr in terme van begin en einde gemeet word, bevat ook elemente van siklisiteit in die vorm van seisoene, dag en nag. Hierdie siklisiteit is deel van die werklikheid waarvan ons reeds deel uitmaak, ’n werklikheid waarin afwisseling noodsaaklik is. Die siel kan daarom nie bloot voorskriftelik en afstandig aan die liggaam voorskryf nie. Dit moet vernemend deur die sintuie en deur die krag van die liggaam bewus bly van sy siklisiteit in en deur die natuur, maar ook van die vlietende oomblik wat betekenis en waarde aan sy bestaan verleen. Soos die liggaam bydra tot die siel se bewustheid van ons omgewing en ons onmiddellike bestaan, so is die siel die self wat aan hierdie bestaan deurlopendheid verleen. Self en bewussyn hoort bymekaar, siel én liggaam.

Soortgelyk aan hierdie kenmerke is brood maak ook beskou as iets wat die geheel saamvat. (Foto: xmmr89x | Pixabay)

Die menslike voorkoms, saam met sy siel en interne liggaamlike funksie, is ook belangrik. Kosmetika dui op die kosmiese, op die groter orde. Om ’n mens te verfraai is dus om ’n spieël van die skoonheid van die geheel te wees, maar ook om die geheel deur die partikuliere skoonheid as meervoudig en onbepaald voor te stel. Soortgelyk aan hierdie kenmerke is brood maak ook beskou as iets wat die geheel saamvat, in hierdie geval deur die vier elemente te kombineer: water, lug, vuur en grond. Die gesondheidstitane ken nie kuns en die wonder van brood maak en die geselligheid van brood breek nie, hulle is te besorg oor hulle figure. Die samespel tussen kookkuns en liggaamlike gesondheid word só deur Versfeld saamgevat: “Die kookkuns en die heelkuns bevat albei iets magies. Dit geskied omdat hulle die mens in die wêreld plaas en die heelheid van die heelal in hom laat werk.”

Lees ook:

Die noodsaak van die kultuurmens in die tyd van uitsetverknegting

Moed steeds nodig vir denke

Die ontluistering van die wêreld

  • 1

Kommentaar

  • Frederik de Jager

    Uitstekende artikel, soos ons al van Herculus leer verwag het. Ekonomies, helder en elegant van segging. Deurspek van insig en wysheid, wat teruggaan op die oorsprong van die woord “wysbegeerte”. Nie die soort virtuose vertoning van tegniese mikroanalise wat ons m.i. verontmenslik nie. Dit verbaas my nie dat hy Martin Versfeld aanhaal nie. Hy praat self Versfeld se taal deur die kontemporêre leesbaar te help maak met die bril van die klassieke op.

    Oor die oorgawe in ons tyd aan konstante monitering en meting (“die meganisering van die bewussyn deur onsself te begryp en uit te druk as verwerkbare informasie”): iets is aan die gebeur soortgelyk aan meting op kwantumvlak: die waarneming self verander die waargenome.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top