Onderhoud: Hein Willemse oor Adam Small, Nathan Trantraal, velkleur en dekonstruksie

  • 12

Adam Small (foto: Naomi Bruwer)

Die bekroonde dramaturg, digter, literêre gees, wysgeer, denker, maatskaplike werker en liefhebber van Sokrates, Adam Small, het onlangs die Suid-Afrikaanse en veral die literêre landskap geskok met sy skielike dood. Jason Lloyd het ʼn kenner van Small se literêre oeuvre, Hein Willemse – bekende kultuurkritikus, letterkundige en intellektueel – met ʼn paar vrae gepols.

Lees ook:
Adam Small (1936–2016), ATKV|LitNet-Skrywersalbum
Kaaps is nie 'n joke-taal – Robert J Pearce antwoord Nathan Trantraal
"poetry oo die liewe annie anne kant" – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantaal oor Chokers en Survivors
Hertzogprys 2012: Dankwoord deur Adam Small
Meester van dekonstruksie

Jason Lloyd (JL): Hoe het Small hom teen die einde van sy lewe gesien? As ʼn bruin of swart Suid-Afrikaner? (Dié vraag veral teen die agtergrond dat daar veral onder die intellektuele en middelklas in die sogenaamde bruin gemeenskap nog altyd ʼn baie sterk ontkenning van groepsidentiteit was. Omdat Small destydse gesê het – soos jy onlangs in ʼn artikel geskryf het – “the coloureds were part of the greater black community.” Ook omdat Jakes Gerwel (1946–2012) geskryf het: “Small se kommer en bemoeidheid in sy poësie en dramas is met die armes; nêrens kan ek onthou dat hy etniese bruinheid tot kategorie maak nie”.)

Hein Willemse (HW): Ek weet nie of Adam Small teen die einde van sy lewe in etniese of pseudo-etniese groepsterme gedink het nie. Adam het soos ons almal op ’n stadium in ons lewe kleiner begin leef: na aan die huis, die huisgesin, die familie, die onmiddellike. Groepsidentiteite is konstruksies wat in reaksie op die omringende buitewêreld opgestel word, of hier by ons in Suid-Afrika, toegeken is. Daar is tog seker belangriker dinge as die politieke en sosiale identiteite wat van buite toegeken word of dié wat ons opneem in politieke stryd. As ’n mens Small se rubriek “Counterpoint” oor die laaste paar jaar in die Cape Times gelees het, kon jy agterkom dat hy toenemend ingestel was op die algemeen-menslike en daardie gewone dinge wat ons mense maak.

Trouens, hy skryf meesal as ’n intellektuele liberalis wat die individu en sy belewenis sentraal stel. Maar ek moet byvoeg, in sy skakeling na buite het hy het nooit enige van daardie identiteitstrominge ontken nie: nie sy Afrikaans-wees, sy Afrikanerskap, sy bruin-wees of sy swart-wees nie. Identiteitskwessies is kompleks en Small, soos baie ander mense, het met al daardie subidentiteite saamgeleef. Nie een daarvan was vir hom uitsluitend nie.

JL: Ek vra bostaande vraag veral ook teen die agtergrond omdat Small, volgens ʼn vriend, se skryfwerk aan die begin van sy skrywersloopbaan bygedra het tot die nierassige denke van mense wat aan die begrip nierassigheid geglo het. Ook omdat Small destyds gekritiseer was deur die uppity coloureds in die destydse Unity Movement omdat hy glo met die Nasionale Party se beleid sou ge-flirt het? Toe het Small, volgens die vriend, glo op die vlug geslaan na die Swartbewussynbeweging. In later jare toe ondersteuning vir hom skaars geword het, het hy hom toe skielik tuisgevind in die geledere van die NP/Afrikaners? Inderdaad ʼn uiterse komplekse Small.

Hein Willemse (foto: Naomi Bruwer)

HW: ’n Mens moet onthou dat “nierassigheid” ’n relatief onlangse identiteitskonstruk is. Dit is maar sedert die tagtigerjare dat “nierassigheid” sterk in die Congress-verbonde bewegings soos die UDF na vore gekom het. Die ANC van omstreeks die Morogoro-beraad het ’n perspektief op “nierassigheid” gehad waar die begrip ’n bepaalde siening van “African leadership” gehad het en een wat nie ooreenstem met die soort “ontkenning van ras” wat mense populêr vandag daarin lees nie. Dit is nogal ironies dat vandag so baie mense “nierassigheid” predik maar geen idee het wat die ideologiese impuls is of wat dit beteken nie.

Dikwels word die idee voorgehou as ’n soort probleemlose, ahistoriese “lief-wees-vir-mekaar”- of ’n ewe ahistoriese “ons-sien-nie-kleur-nie”-identiteitskonstruk. Trouens, my gevoel is dat die begrip soos dit dan aangewend word, ’n oningeligte perspektief is wat die lang geskiedenis van stryd ontken en wesenlik ’n soort behoud van historiese bevoordeling voorveronderstel.

Die Unity Movement het sterk gestaan op sy “non-European” alliansies en konneksies en in sy meer radikale vorme idees gevorm wat as “antirassig” eerder as “nierassig” bestempel kan word. Small se skryfwerk was werklik altyd – en jy het vroeër Jakes Gerwel aangehaal – gemik op die belewing van “die armes”, en dit het min uit te waai met die politieke etiket van “nierassigheid”. Sy eerste werke, Verse van die liefde en Klein simbool, en sy hele oeuvre het ’n sterk Christelike onderstroming en veral die liefde kom na vore. Alhoewel daar ietsie polities in hierdie werke is, bly dit verskuild. Dit is eers in Die eerste steen? dat hy hom begin polities uitspreek en daarna volg die res wat meer uitgesproke polities en betrokke is.

Ek dink dit is ’n ernstige vergissing om te dink dat Small ooit met die Nasionale Party “geflirt” het. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Small was dwarsdeur sy lewe lank ’n beginselvaste anti-apartheidsaktivis en ’n welsprekende teenstander van die stelsel en wat dit aan alle mense gedoen het, veral aan diegene wat arm was of wat vanweë iets so triviaal soos velkleur in die lewe teruggehou is.

Mense verwar dikwels Small se wellewendheid, sy bereidwilligheid tot gesprek met inskiklikheid.

Ek was in die laat sewentigerjare en later in gesprekke aanwesig waar Adam altyd bereidwillig tot dialoog was, maar ook die hewigste kritiek in die teenwoordigheid van Nasionale Party-lede en selfs die manne van die Verteenwoordigende Kleurlingraad gelewer het.

Daardie bereidwilligheid tot gesprek, tot dialoog, was vir hom ’n kern van sy opvatting oor die rol van die intellektueel. Hy het dikwels gesê: Jy praat met almal. Al wat die intellektueel het, is die woord.

Die Unity Movement het “die boikot” as ’n taktiek gebruik en soms het dit die grondbeginsel van ’n politieke strategie geword. Hulle het so ver gegaan om mense te verguis en uit te kryt as “sell-outs” en “quislings”. Mense is verguis omdat hulle ander menings gehuldig het. Vir Small het sulke optrede teen sy grein ingegaan – en hy skryf reeds in Die eerste steen? daarteen. Dit was ’n tyd van verskriklike politieke stryd, dis waar, maar by nabaat moet ons erken dat baie mense sleg benadeel en te na gekom is. Ons moenie vandag dieselfde fout maak nie – ’n demokrasie moet die spektrum van opinies kan duld.

“… op vlug geslaan na die Swartbewussynbeweging…”? Dit is ’n frase wat ek nie sou gebruik nie. So ’n uitspraak klink vir my kwaadwillig. Small se opname van Black Consciousness is ’n moment wat gepaardgegaan het met enorme wroeging en een wat vir ’n hele geslag van jong studente en intellektuele in die sewentigerjare ’n keerpunt in hul eie wording was. Jou vriend se opmerking klink of Small in dié tyd opportunisties opgetree het. Dit is ’n mistasting. Small het ’n leidende rol in die formulering van die grondslae van die beweging gespeel en daar was beslis iets meer ondersoekend in die werk wat hy in daardie tyd geskryf het, soos byvoorbeeld sy belangrike artikel “Blackness versus Nihilism” oor Black Consciousness in ’n bundel opstelle oor swart teologie.

Die frase “op vlug geslaan” wat jy aanhaal, is ’n ongelukkige een. Dit is verblydend dat Azapo se Itumeleng Mosala met Small se oorlye een van die eerste kommentators was wat hom gehuldig het. Sy invloed as iemand wat mense oor apartheid se etniese grense beïnvloed het, het dus nie ongesiens verbygegaan nie.

Jason Lloyd

JL: Small het hom ook as ʼn Afrikaner – ʼn hoogs politiese en problematiese sosiale konstruk – beskryf. Hoe sou jy sê het Small geïdentifiseer met die Afrikaner as ʼn “politieke projek” wat grootliks in die 1930’s gegrond was en wat in die laat 1950’s begin ontbind het? Of was dit ʼn manier om kultuur, veral Afrikaans as taal, weg te neem van wit hegemonie?

HW: ’n Mens moet onthou dat Small se ervaring tot op daardie stadium – die laat 1950’s – hoofsaaklik gevorm is in die Boland, die Karoo en tydens sy hoërskooljare op die Kaapse Skiereiland. Dié gebiede en die Wes-Kaapse platteland was in die vyftiger-, sestigerjare oorwegend Afrikaans. Op universiteit het hy waardering gehad vir mense soos SIM du Plessis en later Van Wyk Louw. Op ’n gewoon menslike-ervaringsvlak kan ’n mens Small se perspektief verstaan. Sy eerste volgehoue skakeling met African mense – om daardie onpresiese term te gebruik – was toe hy Fort Hare toe is, en daardie invloede sou hom eers later – in sy Black Consciousness-fase – tref. Ek dink ’n mens moet die kwessie ook ’n bietjie breër beskou.

Ek dink nie die konstruk “Afrikaner” het in die vyftigerjare “ontbind” nie. Teen die sestiger-, sewentigerjare het dit nog baie sterk gestaan. Daar was die invoer van die verkrampte-verligte skeiding wat mense soos Wimpie de Klerk, FW se broer, begin definieer het, die bevraagtekening van die rol van Sabra (Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede) en die afstigting, eers van die Herstigte Nasionale Party (HNP) en later die Konserwatiewe Party (KP), van die Nasionale Party.

Die konsep “Afrikaner” wat die eerste bewuste Afrikanernasionaliste veral in die laat 19de en begin-20ste eeu begin skep het, het teen die 1950’s vir wit Afrikaanse mense nog sterk gestaan.

Daar was mense soos Van Wyk Louw en DP Botha wat die “ Afrikanervolk” breër omskryf het om ook bruin mense in te sluit, maar die hoofstroom politieke opvatting was redelik beperk tot wit Afrikaanssprekendes. Dit is werklik eers in die ‘80’s en ‘90’s dat die konsep meer aangetas is deur die nalatenskap van apartheid en Afrikanernasionalisme.

’n Mens moet nie vergeet dat die begrip “Afrikaner” voorheen eintlik nie net “wit” Afrikaanse mense omskryf het nie, maar werklik mense wat plaaslik en inheems gebore is. Dink maar aan die Bo-Kaapse Moslems, die afstammelinge van slawe, wat tot so onlangs as die sestigerjare na hulself as “Afrikaners” of “Afferkaners” verwys het, dus mense wat plaaslik gebore is. In Namibië is daar ’n lang geskiedenis van ’n groepering wat die naam Afrikaner gebruik. Dink aan Jan Jonker Afrikaner. In die noorde van Suid-Afrika benoem African Afrikaanssprekendes hulle selfs vandag nog as “Afrikaners”. So wanneer die Afrikanernasionaliste daardie begrip vir hulself toe-eien, onderdruk en vervreem hulle alle ander mense wat hulle ook as Afrikaners benoem. Ons vergeet ’n bietjie dat Afrikaner eintlik “African” beteken, maar dit is hoe identiteitskepping werk – as jy ’n definisie sterk omarm, onderdruk jy in die proses alle ander aansprake.

So terug na jou vraag: Small eis sy Afrikanerskap op teen die agtergrond van hierdie geskiedenis van al die ander aansprake. In dié opsig was hy nie alleen nie. Mense soos Sydney Petersen en veral Piet Philander het die breër geskiedenis aangevoel. Philander het selfs in sy Vuurklip oor die Jonker Afrikaner-geskiedenis geskryf. Dit beteken nie dat Small onbekend was met die toe-eiening wat Afrikanernasionaliste gepleeg het nie. Juis nie.

Daardie opdrag – “my mense, die Afrikaners” – van Die eerste steen? is byna ’n direkte verwysing na Van Wyk Louw en Dawid Botha se breër perspektief van Afrikaner, en dus Afrikaans-wees.

Dit is wesenlik ’n definisie wat aandui dat Afrikaans en Afrikaanse kultuur ’n gedeelde taal en kultuurgoedere is. ’n Mens moet onthou dat teen 1960 dit maar 12 jaar was nadat die Nasionaliste (NP) beheer oor die land geneem het. Hul apartheidsprojek het tóé eers begin vorm aanneem en een been daarvan was om ’n ferm onderskeid tussen bruin en wit Afrikaanssprekendes te skep. Neem hul “kleurling”-omskrywing wat die parlement in die wetgewing ingeskryf het as voorbeeld. So in 1960, in Die eerste steen?, maak Small ’n nie te subtiele nie stelling teen dié Nasionaliste wat ’n skerp grens tussen bruin en wit Afrikaanse mense wou skep. Hy skryf teen die tóé dominante opvatting in, want vir hom is Afrikaner-wees ’n omvattende term en hulle – die Nasionaliste – is die afvalliges.

Hy is verguis daaroor en die Kaapse intelligentsia het hom kwalik geneem dat hy die woord gebruik het omdat hy kwansuis met die oorheerser sou heul, maar nou ja, sy kritici het dikwels ook maar eenogig op dié sake gereageer. ’n Jong Small – hy was maar 23 toe hy Die eerste steen? gepubliseer het – probeer ’n standpunt stel wat ingegaan het teen die hegemonie. Maar hy sê ook duidelik: Hoekom verag en verwerp julle my? Ek is ’n mens soos julle; ek praat Afrikaans soos julle; meer as enige mens van Europa is ons as Afrikaanssprekendes verbonde. Hy het die verwerping op ’n persoonlike vlak baie intens aangevoel.

JL: Jy het twee jaar gelede ʼn insiggewende artikel op LitNet oor die sosiale betrokkenheid van skrywers geskryf. In ʼn verwysing na Jean-Paul Sartre skryf jy: “Hy het vir sy geslag na die Tweede Wêreldoorlog die term littérature engagee gegee wat in verskillende literature nawerking gehad het, byvoorbeeld iltizam in Arabies en commitment in Engels.” En dan skryf jy ook: “Skrywers soos André P Brink het in die 1960’s en 1970’s betrokkenheid ʼn modewoord gemaak en sy romans het die literêre aangesig van Afrikaanse betrokkenheid geword.”

In dieselfde asem het jy ook verwys na skrywers soos Czelaw Milosz, Vaclav Havel (van Oos-Europa), Ghassan Kanafani, Mohmoed Darwish (Palestina), Nicolás Guillen, Alejo Carpentier (Kuba), Rubén Dario, Ernesto Cardenal (Guatemala), Chinua Achebe, Wole Soyinka (Nigerië), Ngugi wa Thiong’o (Kenia), Breyten Breytenbach, Nadine Gordimer, Don Mattera, James Matthews, Jan Rabie, Mongane Wally Serote, Sipho Sepamla en Miriam Tladi (Suid-Afrika) wat aan sosiale verandering of betrokkenheid meegewerk het. Small se naam het jy nie genoem nie. Dink jy Small se naam behoort onder bogenoemde skrywersname, veral teen die agtergrond dat Gerwel geskryf het “ʼn tema wat mens deurlopend in Small se sosiale en politieke denke kan naspeur is die van die verhouding tot gemeenskap”?

HW: Ek het daardie opstel tussen verskeie verpligtinge deur geskryf, onder groot publikasiedruk deurnag op ’n trein wat voortgeskommel het oor die Chinese platteland. Onder ander omstandighede sou ek ’n paar van my stellings in daardie opstel wou aanvul of uitbrei, maar dit is nou daarnatoe. Ek het geen twyfel dat Small een van Suid-Afrika se belangrikste betrokke skrywers is nie. Trouens, hy verpersoonlik die betrokke skrywer wat eerlik glo dat sy skryfwerk ook verandering in denke en optrede te weeg kan bring.

JL: Ter aansluiting by die vorige vraag: Hoe sou jy Small se literêre oeuvre beskryf? Sou Small se literêre aktiwiteite beskryf sou kon word as ʼn poging om die sosiale asook literêre persepsies oor swart Afrikaanses, of liewer die “armes” – soos Gerwel dit gestel het – teen te werk.

HW: Small is in hoofsaak ’n sosiaal-bewuste skrywer. Hy skryf aanvanklik gedigte waarin die private gevoelservaring voorop staan, daarna word dit meer sosiaal betrokke in die bundels Kitaar my kruis en Sê sjibbolet.

In sy dramas, veral Kanna hy kô hystoe, Joanie Galant-hulle en Die Krismis van Map Jacobs en die novelle Heidesee word daardie armes sentraal gestel en hulle persoonlike en sosiale stryde verbeeld. ’n Mens kan ook die persoonlike wroeging sien van die denkende individu in Kanna, maar ook in The Orange Earth. En dan is daar Adam Small, die skrywer wat veral vanuit ’n Christelike perspektief oor lyding, vergifnis en liefde skryf, soos in sy laaste gepubliseerde drama, Maria, Moeder van God, en sy eerste bundels.

JL: Baie jare gelede het Rob Antonissen (1919–1972), gerekende literêre kritikus en toe hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan Rhodes-universiteit, die toon van die “skollie”-spreker in ʼn gedig van Small beskryf as “tot apatie verdofde sinisme”. Was daar dan ʼn tema van aanhoudende modieuse sinisme in Small se poësie teenwoordig wat uiteraard tot toenemende sinsverbystering kon gelei het?

HW: Ek weet nie presies wat jy bedoel nie. As jy vra of Small se werk merendeels sinies aandoen, moet my antwoord ontkennend wees. In die klassieke sin van die woord het sinisme te doen gehad met algehele verwerping van waardes ten gunste van ’n ideële perspektief op die wêreld. Dit is nie wat Small in gedagte gehad het nie. Vandag dink ons aan sinisme as ’n beskouing wat ’n soort van algemene krities-afwysende ingesteldheid op die menslike toestand is. Daar is nie by Small se sprekers so ’n algemene ingesteldheid nie. Sy sprekers reageer téén ’n stelsel en hul armoede en hul uitgeslotenheid. Dit is tog nie algemeen sinies nie. Soms is sy sprekers uitsigloos, soms met ’n bewustheid van hul uitgelewerdheid, maar is dit sinies? ’n Mens moet nie vergeet dat die humor wat in Small se werk deurlopend aangewend word, sy ironisering en die satire sy werk van ’n oorheersende indruk van sinisme red.

Nathan Trantraal en Shirmoney Rhode op die voorgrond, met Adam Small in die agtergrond. (Artikel: http://www.litnet.co.za/k-lat-os-praat/)

JL: Die digter Nathan Trantraal het drie jaar gelede groot polemiek ontketen toe hy Small daarvan beskuldig het dat hy en Peter Snyders van Kaaps ʼn “joke taal” gemaak het. Wat dink jy as kenner van Small se literêre oeuvre van dié kritiek?

HW: Ek vind Trantraal se werk ontsettend. Daar is iets kru en bar in sy werk wat miskien aantreklik is vanuit ’n moderne hip-hop-gangsta-kultuur. In ’n sin is sy poësie ’n volvoering van die werk wat Small begin het. By Trantraal bereik dit ’n ekstreme punt, dikwels sonder die intellektuele insig of ambagtelike vaardigheid wat die beste van Small se poësie kenmerk. Ek wil dit byna as ’n feit stel dat sonder Small sou Trantraal se werk nie bestaan het nie. Small is die voorganger op wie Trantraal moet trap om homself te vestig. Small se werk is egter meer as net “jokes”. Soms is daar ’n subtiele gebruik van humor, ironie en satire wat die leser tref – iets wat nie in oormaat by Trantraal teenwoordig is nie. Maar Trantraal is in een opsig reg: Kaaps is nie ’n joke-taal nie. Small het dit in sy voorwoord tot Kitaar my kruis in 1973 reeds so gestel: Kaaps is ’n taal wat “die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra”. Die skryf van dialekpoësie of meer bepaald oogdialekpoësie is ’n kontroversiële kwessie. Ek het baie probleme daarmee omdat skrywers dikwels nie die volle moontlikhede van taalvariasie in hul werk gebruik nie.

Die dialek word ’n kwessie van vertoon en ’n demonstrasie van outentisiteit wat tot gevolg het dat daar in die finale instansie relatief min op die skrywersambag gekonsentreer word. Dialekpoësie misluk dikwels klaaglik om daardie rede. Trantraal ontkom nie altyd aan dié gevaar nie.

JL: Jy het ʼn resensie oor Small se laaste digbundel, Klawerjas (Tafelberg, 2013), vir Media24 se Afrikaanse dagblaaie geskryf. Jou kritiek op dié bundel, vasgevang in die laaste twee paragrawe van jou resensie, lui: “Dit is egter ʼn ongelyke bundel waarin dowwe kolle veral in die papperige slotstrofes van sommige gedigte opval. Die lesers kon ook die digter se aanvegbare, pedantiese uitsprake oor die verband tussen ‘erotiese’, ‘pornografiese verse’, en ‘ernstige poësie’ gespaar gewees het.” As jy hierdie kritiek in gewone omgangstaal vir ʼn klompie skoolkinders moes verduidelik, hoe sou jy dit doen?

HW: Adam het met my gepraat oor my kritiek toe ons mekaar kort na die vrystelling van sy bundel gesien het en hy het “kennis geneem” van my kritiek, veral dié oor sy voorwoord. Hy’t toegegee dat dit miskien afbreuk kon doen aan die bundel. Daar is gedigte wat tegnies goed is, ’n inherente spanning het, en dan is daar gedigte wat meer afrondingswerk nodig gehad het. Dit is hier waar ’n uitgewersredakteur strenger moes ingegryp het en ek dink hulle het dit nie altyd gedoen nie.

JL: In 2012 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys aan Small vir sy hele drama-oeuvre toegeken. Small se bekendste en beste drama in Afrikaans, Kanna hy kô hystoe, het in 1965 verskyn.

Die Akademie se Letterkundekommissie se vergadering het voorspraak gemaak dat Small dié prys lankal moes gekry het en dat dit versoening in die breë Afrikaanse gemeenskap sou onderskraag. Hoe dink jy moes Small die toekenning van dié prys aanvaar het? En het dié doelwitte van die toekenning, naamlik “versoening in die breë Afrikaanse gemeenskap”, teweeggebring?

HW: Ek dink dat Small die prys moes geweier het, selfs al was van my liewe vriende en kollegas vir die toekenning van die prys verantwoordelik. Hulle het bewustelik ’n regstelling van ’n historiese onreg gedoen, maar die prys het nie daardie lang geskiedenis van ontkenning ongedaan gemaak nie. In een van my laaste gesprekke met Jakes Gerwel het ook hy gereken dat Adam miskien nie die prys moes aanvaar het nie.

Om historiese en kultuur-politieke redes was dit belangrik dat daardie gaping as ’n konstante herinnering moes bly bestaan, maar Adam was ’n veels te ordentlike man om dit te doen. Ek vind dit erg patroniserend, maar ook onthullend, dat die Hertzogprys of Adam se vroeëre Akademie-toekenning as “versoenend” gesien word – dit onderstreep die siening dat sulke pryse wesenlik meer polities van aard is as enigiets anders.

Klik op die prent om te lees: http://www.litnet.co.za/poolshoogte-die-oes-is-groot-ma-die-arbeiders-is-min/

JL: In ʼn onlangse onderhoud met Heindrich Wyngaard in Die Burger ná Small se dood het FW de Klerk gesê dié digter en dramaturg het deur sy werk die grondslag vir brugbou tussen wit en bruin Afrikaanses gelê. Stem jy saam met die stelling?

HW: Laat ek net eers sê: hierdie begrip “brugbouer” is ’n problematiese begrip. Ek weet nooit wat mense bedoel wanneer hulle van brugbouery praat nie. Dis nie ’n onskuldige begrip nie. Wat is die inhoud van die begrip? Ek hoor nie voorheen onderdrukte mense van “brugbou” praat nie.

Wie ken die etiket “brugbouer” toe? Is die brugbouery hoofsaaklik ’n wit-bruin-aangeleentheid? Kan wit mense ook “brugbouers” wees of is dit iets wat altyd van voormalige ondergeskiktes verwag word?

Dit is gewoonlik mense wat sake vanuit ’n posisie van oorheersing – of voormalige oorheersing – beskou wat van “brugbou” praat. Gewoonlik is diegene wat gehuldig word as “brugbouers”, mense wat voorheen onder oorheersing gely het en nie té aggressief of té onomwonde hulle standpunte stel nie; nie te veel aanstoot gee nie en bereidwillig is om hand om die blaas te sit in ’n soort van alles-is-vergewe-gemoedelikheid. Priemende, ontstigtende gesprekke en uitsprake word gewoonlik nie beskou as brugbouery nie.

Dié soort brugbou-uitsprake sê meesal: “Dankie tog, hy is nie kwaad vir ons nie”; “Hy is vriendelik”; en bowenal “Hy bedreig ons nie” en ons wittes en bruines is vriende – “alles is vergewe”. Insiggewend word daar nie van “brugbou” gepraat wanneer mense probeer om die durende skade wat apartheid tussen niewit gemeenskappe veroorsaak het, ongedaan te maak nie.

Indien dit FW de Klerk se persepsie van Small se werk is, is dit goed so, want die leser is tog ook medeskepper van ’n teks, maar ’n mens sal daardie uitspraak moet ondersoek teen die agtergrond van wat ek vermoed die ideologiese onderbou van brugbou is.

’n Mens moet terselfdertyd onthou: Small se werk het oor die jare, sedert die begin van die sestigerjare, die vergrype van apartheid te boek gestel en dit het meer as 30 jaar geduur voordat die beleid geskrap is. Die herinnering aan die vernedering van mense as groepe en individue en die skade aan die gees wat die beleid tot gevolg gehad het, duur steeds voort.

Klik op die prent om te lees: http://www.litnet.co.za/poolshoogte-van-labels-en-ghettos/

JL: De Klerk het in 1993 as staatshoof vir Small met die toekenning vir Voortreflike Diens (Goud) vereer. Small was verheug oor dié toekenning en het De Klerk vergelyk met ʼn verlore Afrikaanse broer wat weggeloop het van die huis af en deur die toekenning aan Small teruggekeer het. Is dit maar nie ʼn geval soos in die laaste hoofstuk van Verdwaalde land (1992) van die skrywer Abraham “Ronnie” Phillips nie? Marion Hattingh het dit in Die reis na Paternoster (1997) so gestel: “[H]y (Abraham “Ronnie” Phillips) (is) so beïnvloed deur die dominante ideologie dat sy uiteindelike standpunt, naamlik dat FW de Klerk ‘die voordeel van die twyfel’ moet kry, juis weer sy magteloosheid teenoor dié (Afrikaner) ideologie bevestig.” Kan daar in die twee gevalle ʼn regverdige parallel tussen die twee skrywers Small en Phillips getrek word in verband met Hattingh se mening oor Phillips?

HW: Ek sou nie ’n parallel tussen Small en Phillips wou trek nie. Dis twee verskillende skrywers met uiteenlopende agtergronde en verskillende beweegredes vir hulle skryfwerk.

My perspektief op Small se begrip van Afrikanerskap soos voorheen aangedui, geld hier. Vanuit sy oogpunt was apartheid ’n aberrasie wat die gemeenskaplikheid van Afrikaanssprekers ondermyn het. Small se uitspraak is ʼn logiese voortsetting van daardie perspektief.

JL: Small het onder meer as hoof van die Departement van Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Wes-Kaapland die eerste MA-graad in maatskaplike werk ingestel. Onder Small se leiding het die departement, volgens kenners, die progressiefste maatskaplikewerk-skool in die land geword. Alhoewel sy bydrae tot maatskaplike werk, soos sy literêre oeuvre, buitengewoon is, verdwyn sy werk as maatskaplike werker deurgaans tussen Small die filosoof en Small die digter en dramaturg.

Hoekom? En behoort sy bydrae tot maatskaplike werk ook deurentyd beskyn te word? En hoe het Small se geskooldheid in maatskaplike werk sy – soos Gerwel dit gestel het – “verhouding tot gemeenskap” help bevorder om die oorwegend arm swart Afrikaanse gemeenskap in sy literêre werk aan die woord te stel?

HW: ʼn Mens moet onthou dat Small eers in 1985 na maatskaplike werk as ’n akademiese dissipline gekom het. Hy het toe, alreeds teen 1974, nadat hy by die UWK bedank het, sy merk gemaak as ’n digter, dramaturg en filosoof. Van sy werk tussen en met die armes het ’n mens vroeër, voordat hy weer as akademikus aangestel is, dikwels in sy koerantonderhoude, openbare uitsprake en dies meer verneem. Ek het geen twyfel dat hy op die maatskaplikewerk-vakterrein sy merk gemaak het nie, maar daaroor behoort sy vakkollegas en studente hulle uit te spreek. Ek weet dat daar by die UWK groot waardering vir sy werk is en dat hy selfs ’n paar jaar na sy uittrede daarvoor formeel gehuldig is.

JL: Soos Small is jy nie net ʼn akademikus nie, maar ook ʼn universiteitsgebaseerde intellektueel. In sy boek Intellectuals (1988) klim die historikus Paul Johnson behoorlik onder intellektuele in en beskuldig hulle daarvan dat hulle idees ernstiger opneem as mense. Intellektuele staan dus, volgens Johnson, koud teenoor mense, maar warm teenoor idees. In die konteks van Small (en jou eie sosiale betrokkenheid, veral gedurende apartheid) hoe sou jy dié kritiek van Johnson uitskakel?

HW: Ek het Intellectuals baie jare gelede gelees. Heelwat van die inligting wat Johnson aangebied het, is interessant, maar in die geheel het ek dit ’n nogal onbevredigende, hoofsaaklik antilinkse boek gevind. Die intellektuele wat hy bespreek het, is meesal uit die Europese wêreld met die klem op hul persoonlikheidsgebreke soos hul onpraktiese omgang met die wêreld.

Johnson is wel reg in dié opsig dat intellektuele oor die algemeen idees belangrik ag; sommige van hulle mag selfs dink dat idees die wêreld kan verander of dan ten minste in samehang met optrede en aksie verandering te weeg kan bring. Of die binêre splitsing wat jy uitlig so eenvoudig is, is te betwyfel.

JL: Jare gelede het Marguerite Black na jou in ʼn LitNet-onderhoud as die “meester van die dekonstruksie” verwys. Deesdae is dekonstruksie as ʼn filosofiese diskoers nie meer so gewild soos twee tot drie dekades gelede nie. Stem jy saam met Black se verwysing na jou as die “meester van die dekonstruksie”? En dink jy dekonstruksie is tog nuttig om vandag ʼn teks filosofies en sinvol te ontleed?

HW: Ek dink sy het die begrip “dekonstruksie” breër aangewend as die denkstroming wat Derrida of De Man bekendgestel het. Dekonstruksie bly ’n relevante filosofiese en literêr-kritiese stroming en my studente by die Universiteit van Pretoria kry steeds ’n dosis daarvan.

Maar dekonstruksie het sy beperkings. Ek dink Marguerite het meer my bevraagtekening van kulturele of literêre gemeenplasighede in gedagte gehad.

  • 12

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Hein Willemse het dit klaarblyklik moeitevol gevind om die vrae, weens die manier waarop hulle gelaai met stellings geformuleer is, te beantwoord. Dit is myns insiens 'n wanopvatting dat Afrikanerskap en Afrikanernasionalisme by blankes iets van die verlede is.

  • Bedankt voor deze inzicht gevende woorden. Het is niet altijd gemakkelijk om vanop verre afstand meningen en stromingen te beoordelen. Deze woorden over Adam Small zijn daarbij een grote hulp.
    Antonissen staat bekend als een oordeelkundig criticus, maar wat hij ooit bedoeld heeft met "tot apatie verdofde sinisme" is me nooit duidelijk geweest. Adam Small koppelen aan cynisme? Ik denk dat Antonissen hier ver naast de waarheid zat en de ironische overdrijving bij Small over het hoofd heeft gezien..

  • 'n Diepe ervaringsonderhoud. Hein is beslis die meester van sy ambag.
    'n Intellektueel par excellence en 'n diep denker.
    Hy het my beslis weer op 'n geweldige kragtoer deur die taal geneem. Dankie Hein!

  • Avatar
    Breyten Breytenbach

    'n Boeiende en insiggewende onderhoud oor die lewe en werk van 'n mens - Adam Small - wat "gewapen met die woord" (en die etiese denke) vreesloos sy pad deur die komplekse labirint van Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse geskiedenisse geloop het - al het hy soms voor teenstrydighede te staan gekom. Dankie, Hein Willemse. En waardering vir Jason Lloyd wat selfs Willemse se skerpste weerlegging in sy antwoorde van die gemeenplasighede in die vrae net so gepubliseer het.

  • Avatar
    Marius Coertze

    Dubbele ironie dat die nonchalante veroordeling van Apartheid klakkeloos en met veronderstelde breë gemeenskaplike veroordeel word. Dít, terwyl omgekeerde Apartheid vandag eweneens nonchalant en klakkeloos goed gepraat word. Die wese van Apartheid was onafhanklike selfregering vir die verskillende etniese volke. Presies soos vandag in Oos-Europa na die verbrokkeling van die Kommunistiese eenheidstaat. Iets wat die Afrikaner tans deur oormag gedwing word om te ontbeer. Gee die Afrikaner vandag dieselfde omgekeerde aanbod van Apartheid, en ons sal floreer onder die sg gewaande "onderdrukkende" stelsel. Dis strate beter as huidige onderdrukking en ras-diskriminasie teen die Afrikaner in die NSA en die nuwe kommunistiese eenheidstaat. Minderhede moet beskerm word teen meerderhede, nie andersom nie.

  • Avatar
    Hein Kleinbooi

    Oor die vraag of Adam Small en Peter Snyders van Afrikaaps ’n "joke taal" gemaak het, die volgende: ja en nee. Ja omdat daar 'n oordrewe vorm van Afrikaaps in hul werk is. Niemand wat ek ken praat van "djou" nie al sê on "djy" dit bly jou in meeste mense se Afrikaaps. Dit is maar net een voorbeeld. Die taal waarin Adam Small en Peter Snyders gedig het is op 'n mate afgedwing op hulle. Gewoonlik praat mense wat ander versions van Afrikaans praat in so 'n oordrewe vorm of af te show. (2) Omdat dit nie al was wat hulle gedoen het nie. Hulle was betrokke in 'n stryd om Afrikaaps te bevry. "To remove the way coloured people were shamed for speaking that way." Standard Afrikaans was in die verlede bekend as "algemeen beskaafde Afrikaans"; die taal wat algemeen onder beskaafde mense aangetref word. Daar was groot skaam verbonde aan Afrikaaps (en ander variëteite). In die vroeë werk van Snyders en Small het van hulle karaters al meer soos karikature van regte mense voorgekom.

    • Het valt mij altijd opnieuw op hoe gelijklopend de evolutie van het 'Vlaams' en het 'Afrikaaps' is. De West-Vlaamse mensen in mijn hoek van het Nederlandse taalgebied hadden precies hetzelfde verlangen en dezelfde schroom tegenover het 'Algemeen Beschaafd Nederlands' (ABN), ook al omdat hun dialect zo sterk verschilde van de standaardtaal. Daarom lukt het me af en toe een gedicht van Small of Snyders om te zetten in mijn plaatselijk dialect, maar nooit in Standaardnederlands.

  • Dankie Hein en Lloyd, die rol van en plek van die Kaapse onderdruktes word vandag gemarginaliseer, asof dit nooit daar was op verskeie vlakke nie. Hierdie geleentheid help om lig te werp op die betrokkenheid en werk van die onderdrukte kunstenaars. Mens sou wou hê dat daar meer kunstenaars moes wees gedurende die 70's en 80's. Daar moet wees want die Kaap het gekook op daardie stadium van ons geskiedenis. Skep die platform en gee die goed lig. Die land moet dit weet vanaf die Kaap tot by Musina!

  • Heerlik verfrissend om weer te lees. Hein Willemse se bydrae tot kritiese denke in Afrikaans bly vir my 'n voortdurende opvoedingsreis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top