Die oes is groot ma die arbeiders is min

  • 3

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

Opgedra aan Gilmore Bowers en Keenan Rhode

Gisteroggend het ek weer nuus gekry. Dié keer van ’n 17-jarige seun wat net skuins oorkant my ouma bly. My hart het yskoud geword en ek het in my blikkarrentjie geklim en af na my ouma toe gery. Want dit was Gilmore, met die mooi groen oë. Hy was twee weke gelede in ’n skietvoorval gewond. Die dokters het half pass six na sy ma, Teecee, se cell toe gebel om haar in kennis te stel dat haar seun oorlede is. Daar was maar min wat sy half pass six in die oggend kon doen. Hulle het nie ’n kar nie, en sy het ook nie airtime op ha phone gehad om familie te laat weet nie. Al wat sy op daai moment kon doen is om Gilmore se susters wakker te maak en saggies saam te huil, want die res van die huismense slaap nog, en hulle moet werk toe gaan.

By die tyd toe ek in Delphistraat afgery kom, staan almal al buite in hulle nagklere met koppies koffie in die hand. Die prentjie sit vas in my kop. Jy weet daar het iets gebeur as almal só buite staan. Almal behalwe uncle Bapsie oorkant my ouma, wie maar nog al die jare oor sy muurtjie hang en ma op daai way betrokke bly by wat in die straat aangaan. Want dis maar hoe Delphistraat se mense is. Almal weet van almal se dinge. Vandag stry ons, môre baklei ons, maar môre-oormôre is alles weer oor en uit en verby.

Ek gaan stop voor my ouma se vaal hekke, en iets omtrent die hele image drain my energy. My bene is lam soos ek uit die kar klim. Nie net is my ouma se hekke vaal nie, alles lyk vaal. Die lug, die mense, die honne wat in die pad rond drentel, selfs die different-gekleurde muisenethuise lyk daai moment vir my asof dit almal ’n different shade of vaal is. Ek stap in my ouma se huis en kry haar in die kombuis besig om haar hande besig te hou. Ek vra vir haar van Gilmore, of dit waar is. Sy kyk my eers net aan en dan vertel sy my dat sy die vorige aand nog vir hom gaan bid het. Hy het verskriklik siek gelyk en sy kon sien dat hy baie pyn het. Hy het gely, hy het baie gely, sê sy. Sy en ’n werksvriend van Gilmore se ma het saam-saam vir hom bedien met gesange en die Woord. Maar my ouma sê sy kon sien hy gaan dit nie maak nie, maar sy wou nie sy ma sê nie, want sy kon sien dat daar nog hoop in haar oë was vir hom. Daardie nag het sy heelnag gelê en worstel; sy kon nie slaap nie en het heelnag met God gepraat oor Gilmore. Dis asof sy saam hom in daardie laaste stryd was, vertel sy. En dan begin sy bewe. En huil. Ek wou regtig hardop saam haar begin huil, maar ek was te moeg. Van alles. Sy is ook al moeg, my ouma, maar sy huil nog, vir hulle almal treur sy nog.

Eventually is ek uit en stap ek na aunty Moriena se huis toe, dis nou Gilmore se ouma. Ek kry haar in ’n diep stoel sit. Ek buk af en druk haar. Styf. Ek kan nie myself kry om vir haar te sê ek’s jammer vir hulle verlies nie. Ek hou die goue knoop op haar jersey dop. Sy sê toe dat sy maar tevrede is. Sy’s nie gelukkig nie, maar sy’s tevrede, want God weet wat hy doen – niemand het Gilmore se pyn geken nie. Sy vertel ook dat sy nie saam met haar dogter hospitaal toe sal kan gaan nie, omdat sy in die hof moet verskyn, daai selle oggend nog. Ek sluk toe maar, en hou my hart verder sterk. Soes wat ’n mens maar doen, stap ek deur die huis gee vir almal ’n drukkie, maar ek hou my skoene dop, want as die oë die vensters van die siel is, wil ek nie sien hoe die siele van die familie lyk nie, wie hoop gehad het dat hulle seun gesond sou word.

Die Bowers-familie, buite op die sypaadjie die dag van Gilmore se sterfte

Buite die draadheining, wat nou al vir jare nog dieselfde lyk, geroes en skeef, staan al die vroumense, Gilmore se twee susters Devie en Anthea, sy niggie Shannon, sy aunty Barry en hulle vriendinne Essie, Malla en nog ’n paar wie ek nie ken nie. Almal staan met kinders op die heupe. Dis net Shannon wat met ’n handdoek om haar middel gedraai staan. Sy’t drie dae gelede gekraam en haar spierwit, spekvet seuntjie met grou oë lê en slaap in een van die kamers. Hulle gaan sy tweede naam Gilmore gee as hulle die baba se naam gaan opgee.

Ek gaan staan ook toe maar by die dames. Eers praat ons maar van hoe Gilmore, of Gilly, was. Stil. Nooit regtig gepraat nie. Mooi. Anthea het ’n week voor dit haar tweede baby gekry, en sy het in die huis gekraam. Haar aunty Barry het die baby gevang en sy vertel hoe die kind se naelstring om haar nek was. Dit het soos rubber gevoel, maar sy het dit vinnig van die kind se nek af gehaal. Die Here het eers gegee, Shannon en Anthea se nuwe babies, en toe geneem, Gilmore.

Gilmore Bowers se graf, met vars blomme

Almal rook aan een entjie en later vertel Devie van hoe Gilmore nog die vorige aand gelyk het asof hy met hulle wou praat. Asof hy vir hulle iets wou sê. En hoe haar ma vir hom gesê het: “Ek’s lief vijou Boeta, wiet djy mammie is lief vijou?” Hoe sy gesê het “Ek’s lief vijou nè” voor hulle geloop het. Devie se seuntjie, Poera, staan en eet ’n lekker en toe vetel sy sommer oor hoe hy wou weet: “Mammie hoeko huil djy?” Sy’t vir hom gesê: “Gilly is weg” en hy wou weet “Waantoe weg?” “Hy is weg,” het sy gesê en toe sak hy af: “Issie Mammie, jy lieg. Gilly issie weg’ie, jy stiek hom weg, Mammie, jy lieg, Mammie – ek gaan nou vi ouma Teecee vra wa Gilly is.” Almal gee ’n droë laggie af. Ek lag laat die trane rol. Net dié keer is my trane confused.

Gilmore se vriende staan almal rond in die pad. Met hulle hande of voor of agter in hulle broeke gesteek. Keenan, my ouma se oudste agterkleinkind, staan ook daar. Met sy hande op sy krukke. Wawwa en Xavier staan ook êrens in die mix. Net laas jaar nog het hulle drie – Keenan, Wawwa en Xavier – by die dood omgehardloop. Want “omgedraai” is ’n understatement. ’n Spannetjie seuns het oorkant my ouma se huis planne gemaak om ’n game sokker te druk en terwyl hulle besig was om te decide wie op watter span gaan speel, het daar ’n gangsterkind verbygekom, ’n gun uitgeruk en op hulle begin skiet. Vier seuns is getref. Die res het gespat in verskillende rigtings. Keenan was in sy maag en sy getref; hy het voor aunty Wiena se hek gaan val. Wawwa is in sy kop getref en hy het binne-in my ouma se voorhuis gelê, en Xavier het in my ouma se hek gelê – hy was in sy gesig geskiet. Die hele Delphistraat was afgesper met daai geel-en-blou tape van die polisie. Daar was groen neonkringetjies om al die bullet toppies getrek en die seuns is hospitaal toe gehaas. Ek moes daai dag baie hard probeer om nie mal te word nie. Dit het my terug gevat na die 26ste September 2006 toe ek op die ouderdom van 17 die 19-jarige lyk van my broer, Clayon, moes gaan uitken op ’n verlate skoolveld. Daai selfde geel-en-blou tape, bullet toppies, mense wat die hele wêreld vol staan en kyk na sy lyk.

Keenan-hulle was lucky, sê die mense. Lucky. Jy’t by die dood omgehardloop en hulle sê jy’s lucky. Hy het daardie nag geveg vir sy lewe, soos Gilly geveg het. Ek en sy ma, my niggie Jessica, was heelaand by Tygerberg. Hy was in resus. Die dokters kon ons nog nie sê of hy dit gaan maak nie. Wawwa en Xavier het nog in die emergency saal gelê. Die bloed in Xavier se gesig was al hard, en die bullet het vasgesit in Wawwa se kop. Hy’t ’n dik skull. Hy kan die Here dankie sê vir sy dik skull. Nevertheless, Keenan was vir ’n week bewusteloos en vir so drie weke in Tygerberg. Hy het sy 18de verjaarsdag in Tygerberg gevier. Maar hy het verskriklik baie pyn gehad daardie dag. Ek onthou, want hy wou nie van die koek eet wat ek gekoop het nie; my ouma-hulle moes dit maar alles huis toe neem. Daarna is hy na Lentegeur verplaas vir drie maande. Hy is op my ouma se verjaarsdag verplaas, en só het sy haar 78ste verjaarsdag gevier daardie dag, saam haar oudste agterkleinkind in die ambulans op pad na Lentegeur. “As dit is waar ek vandag moes wees, liewe Vader, dan is dit reg,” het sy die aand gesê. Die dokters het gesê Keenan gaan dalk in ’n rystoel moet sit vir die res van sy lewe. Maar hy’t ons surprise en kon op kurke stap toe hy by die huis kom na die drie maande. Ek was baie bly, maar die bullet is nog in hom, soe hy kan nie te veel activities doen nie. Maar ons is bly.

Keenan Rhode die dag van Gilmore Bowers se begrafnis – presies ’n jaar na sy eie skietvoorval

Die rede hoekom ek van Keenan se storie moes vertel, is omdat Gilmore ’n groot rol daarin gespeel het. Hy het baie vir Keenan gaan kuier in die hospitaal, even nadat hy verplaas was Lentegeur toe. En toe Keenan eventually huis toe kom. Het hy amper elke dag my ouma kom help om vir Keenan te versorg. Hy het hom help was en aantrek en sy kos vir hom opgeneem na die kamer toe omdat my ouma nie lekker die muisenethuis se trappe kan klim nie. Later, toe Keenan meer dinge vir homself kon doen, was hy steeds daar, as sy vriend. En hulle twee het maar bo in die kamer gesit en speel op die ou computer wat Keenan vir homself opgebou het. Ek onthou hoe Keenan toe hy kleiner was altyd sy eie karrentjies gebreek het, en dit dan weer reggemaak het, en soms sommer met sy speelgoedjies (dis nou spykers, cooldrink doppies, sakkies met sand, sucker stokkies, gatties, jong, alles wat mal is) aan die slaap geraak het. Die volgende oggend as hy wakker skrik soek hy sy goeters. Hy is baie goed met sy hande en hou van goed regmaak. Ek wens hy kon soos wat hy altyd sy karrentjies reggemaak het, vir Gilmore regmaak, toe hy vir die afgelope twee weke so verbruisel en gebroke gelê het in die hospitaal. Sy enigste vriend wat werklikwaar belanggestel het en hom so getrou bygestaan het.

Gisteroggend het Keenan verlore gelyk, en toe ek hom ’n drukkie gee het hy my net dopgehou met ’n asvaal gesig en ’n skewe smile. Ek weet nie hoe hy dit regkry nie, maar hy doen. En die feit dat hy nog die moed gehad het om op te staan, gee vir my die moed om aan te hou skryf aan die stuk. Want ek wou al opgehou het nog voor ek begin skryf het.

Gilmore is dieselfde aand gewond toe Blok, ’n ex-gangster, doodgeskiet was. Blok is vir ’n aantal jare nie meer betrokke by die gang nie. Hy het ’n honest living probeer maak en dit was sincere. ’n Mens kon dit sien in sy loop, in sy praat, hy was klaar met sy dinge. Sy ma is drie maande voor dit oorlede en hy het sy bes probeer om sy broers en susters te help en hulle gesin bymekaar te hou. Blok se dood het my hard getref, omdat ek besef het dat daar nie ’n safe escape of easy exit is uit gangsterism nie. Dis nie ’n game waar jy kan uit toss wanneer jy nie meer lus het nie. Al maak jy ’n verandering en al probeer jy hoe hard, jy sal altyd ’n target bly. En daarom was daar vier bullets deur sy kop gesit.

Daar word net nooit niks van die sake wat “gang-related” is nie. Of jy nou ’n innocent Gilmore is of ’n guilty ex-gang member Blok is. Jou case bly maar net nog ’n case en jou docket word êrens in ’n stowwerige kas weggesit. Die polisie is op die scene om te kom afsper en neonkringetjies om die bullet toppies te trek. Verder aan ry hulle verby jou en hou jou dop asof jy ’n hond is. Reminds me, gisteroggend toe almal soe buite staan, met hulle nagklere en koppies koffie. Omdat dit nog vroeg was en hulle seker gehoor het Gilmore het afgesterf toe hulle wakker word, het hulle uitgekom, buite gestaan met hulle nagklere. Omdat daai onse mense se way is van sê: “Moenie worry nie, ons is saam julle in die ding.” Toe ry daar ’n polisieman in sy polisiekar verby die mense in Delphistraat en sê: “Sies! Gan was vi julle, julle stink, vuilgatte, gan was vi julle” en een van die girls kap terug: “Voetjek! Gan was vijou, jy’s dan vuil, jou bek stink!” En asof dit nie genoeg is nie, stop hy en praat oor sy walky talky en sê: “Morsige goed! Gan was julle gatte, julle stink! Vuilgatte!” Ons het nie eers baie aandag aan hom geskenk nie, want almal wiet wie die regte vuilgatte is.

Dit is maar van die stories van sommige van die mense in Delphistraat. En daar’s nog Hermusstraat, Anthena Avenue, Jasonstraat. Daar is nog die res van Eureka Estate, Connaught Estate, Clarke Estate. Dis maar nog alles woonbuurte in Elsiesrivier. Nevermind Hanoverpark, Mitchellsplain, Grassypark. En dan het sommige skrywers nog die audacity om te praat van die mense op die Kaapse Vlakte asof almal die mense dieselfde is met dieselfde stories en experiences. Sommer so ’n sambreelterm waaronder almal gegooi word, waaronder almal verstaan kan word, waaronder almal doodeenvoudig net inpas.

My probleem met die Afrikaanse letterkunde na 20 jaar van demokrasie is dat daar steeds nie genoeg bruin skrywers is nie. Of kom ek sê daar is nie genoeg bruin skrywers om die stories van mense soos Gilmore te vertel nie. Diegene wat wel daar is, skryf nog oor familiegeskiedenisse, voorvaders, die patrone op boomstompe, blomtuine en twak. Dis seker maar belangrik, en almal kan seker maar skryf waaroor hy of sy wil, maar in die meanwhile is daar stories wat wemel rondom hulle, by die daggakop op die winkelstoep, onder Shannon se handdoek om haar middel, by die Bai wat snoek verkoep langs die pad. Maar nee, hulle loop krap stories uit ou argiewe en verlate grafte. Ek wens net meer bruin skrywers sal ophou om oor hoogdrawende, pretensieuse twak te skryf. Dis belangrik om te weet waarvandaan jy kom, dis belangrik om te weet wie jy is – ek staan hierdie mosie geensins teen nie. Ek dink net dat daar soveel ander stories is, veral in werkersklasgemeenskappe, wat die gesig van die Afrikaanse letterkunde sal inkleur. Die voorgeskrewe boeke wat Afrikaanse leerders moet lees, is so onrealisties en vervelig vir baie leerders, want jy sit met leerders wat hoog swanger is en dink aan nappy geld, of leerders wat probeer om ophou dagga te rook, en Iris in Kwart-voor-sewe-lelie se innerlike konflik is alles behalwe ’n issue. Dit is nie regtig boeke waarmee leerders kan identifiseer nie. Daar word nie vir almal gecater nie.

En nog iets: ek haat dit as skrywers wat nie ’n benul het waarmee mense regtig deal nie, eendag met ’n boekie en pen op ’n bus sit en per toeval ’n prentjie sien en dan sommer ’n hele verhaal skryf oor iets wat hulle dink hulle verstaan, maar niks van weet nie. As jy die stories van mense wil vertel, loop waar hulle loop, eet wat hulle eet, slaap waar hulle slaap, dan sal jy hopelik voel wat hulle voel. Net as jy voel wat mense voel, sal jy hulle ware ervaringe kan verwoord.

Ma wat sal ons sê van al die dinge. Die oes is groot ma die arbeiders is min.

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die woordrivier: ’n Model ter bevordering van gemeenskapseie woordkuns
– Anneretha Combrink
2012-10-11

Akademies
Die Groot Small – oor die lewe en werk van Adam Small
– Steward van Wyk
2007-06-13
Akademies
Waar is die nuwe generasie swart Afrikaanse skrywers?
– Nèlleke de Jager
2007-06-13
Onderhoude
"poetry oo die liewe annie anne kant" – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantraal oor Chokers en Survivors
– Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal
2013-07-17
Young Voices Conference 2004
A question of diversity
– K Sello Duiker
2004-10-18
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
“Binne ’n halfuur het ek wit geword”: Snypunte van gender, ras en klas in Suid-Afrikaanse fiksionele uitbeeldings van voorkoms
– Jessica Murray
2011-08-10
Essay
Kô lat os praat! #prefablyinkaaps
– Shirmoney Rhode
2013-11-04
Onderhoude
Michael le Cordeur gesels oor Kaaps
– Michael le Cordeur, Naomi Meyer
2013-08-08

Taal
Kaaps in fokus! Verslag oor die simposium aan UWK, 19–20 Julie 2012
– Gunther Pakendorf
2012-07-26

Briewe deur die lug
Mosaïek van kultuur: die vele fasette van EKM Dido
– Marguerite Black
2000

 

  • 3

Kommentaar

  • Shirmoney Rhode – Om te skryf vat talent en talent het nie noodwendig te doen met anties met rollers in die kop, wat Lexington die hele dag suie en Fahfhee (China) speel nie! As ons ‘n impak wil maak dan moet ONS dit SELF doen en nie kla nie. Daar is vandag desktop-publisering en ons moet ons mense help skryf. Jy en ek moet liewers skryf werkswinkels aanbied. Ek skryf drama en is glad nie ingestel op prosa of om te publiseer nie. Ek het vir jare getoer met Teater in die Opvoeding waar ons die voorgeskrewe dramas vir die matrikulante (Graad Twaalfs) opgevoer het vir al die Bruin Hoërskole in die Transvaal, Noordkaap en die Vrystaat. Na twintig jaar is Adam Small se “Krismis van Map Jacobs” die eerste drama wat geskryf is deur een van ons – en die eerste wat voorgeskryf is vir Graad Twaalf. Al die ander was deur wittes geskryf want sien – die Graad Twaalf mark is die mees lonende mark wat daar is. Die tipe dramas wat ons moes doen was net so boring en het niks te make gehad met ONS realiteit soos Krismis van Map Jacobs nie. Ek verstaan wat jy sê en kom ek gee jou ‘n voorsmakie van MY realiteit van my kleinseun wat op ‘n wit skool is - nie een van die ryk top skole nie.

    ‘n Ambulans na Hoërskool FH Odendaal.

    Deur: Anthony SPEEDO Wilson

    12 Mei 2014

    Ek is gister-oggend na Hoërskool FH Odendaal om my kleinseun Shaquille Wilson te gaan haal omdat hy siek geword het. Ek ry by die hoofhek in, terloops die enigste ingang wat ek ken omdat ek soms my ander kleinseun Lee-Andre se rapport by hulle skoolsaal gaan haal het. Ek word deur die tuinier verwittig dat ek die hek net verder oos moet gebruik om by die kantoor uit te kom. Ek is daar in en parkeer onder die bome in die afwesigheid van ‘n kennisgewing-bord. Dit is ‘n baie intimiderende plek waarvan die werf groter is as enige Township Hoërskool en ek was al dwarsdeur die hele Transvaal -, Vrystaat- en Noord Kaapse Hoërskole. In my tyd daar met ons Skoleprogramme het die Vrystaat al die jare net een Bruin Hoërskool gehad – Doktor Blok Senior Sekondêr! Ietwat verlore stap ek maar skool se kant toe en hoor ‘n dame my roep. Ek draai onmiddellik na haar toe en sê sommer met die intrapslag: “Morning. I’m looking for the Office.” Sy vra: “Kan jy Afrikaans praat?” Ek antwoord verbaas: “Ja! Baie goed ook.” Dis nie aldag dat Swartes my vra of ek Afrikaans magtig is nie. “Jy gaan hierso langs die fence - daarso sal jy kry die hek. Lui die klokkie hulle sal vir jou oopmaak.” So gesê - so gemaak. Ek lui die klokkie en kyk stip binne die kamera. As akteur  is ek immers sulke goed gewoond. Ek stap die paadjie af en wil jy glo? Voor ek by die kantoor kan instap is daar nog ‘n kamera; met nog ‘n ysterhekkie; nog ‘n knoppie. Ek kyk stuurs binne die kamera en druk maar weer die knopie. Ek voel gelukkig want ek kan vir Shaquille sien wat op ‘n rusbank lê en slaap. Die kenmerkende kliek en die ysterhekkie gaan oop. Ek stap in en wil by ontvangs gaan rapporteer.  Voor ek by ontvangs aandoen sê ek vir ‘n wit seun: “Die is ‘n BAIE onvriendelike skool.” Hy glimlag net en sê baie vriendelik: “Môre oom!” die Bruin meisies met hom stap net aan - seker embarrassed met die oom wat so hard praat. Ek projekteer eintlik want mense het nie ‘n idee hoe hard ek klink as ek die dag regtig my stem verhef nie. Jy kan vir Regisseur Louis van Niekerk vra wat my eendag in die Hoof Dramateater van TRUK die nota gee dat ek harder moet praat as ek my rug op die gehoor draai. Later sê hy: “Ek en jy hoef nie regtig so hard te praat nie.” Weereens agter ‘n venster en tralies staan die ontvangsdame en ek sê: “Juffrou dié is ‘n baie onvriendelike skool. “ Ek dink nie sy’s gewoond mense praat so met haar nie en ter verdediging sê sy: “Dit gaan oor veiligheid meneer.” Ek kan nie help om te wonder wat nou kwansuis so kosbaar is wat hulle hier oppas en verstaan my mooi – ons kinders is die kosbaarste! “Kan u asseblief vir my hier teken?” stoot sy die boek onderdeur die tralies. Ek teken en vat my kleinkind Shaquille, ‘n baie gedissiplineerde en stil laitie wat net so embarrassed lyk soos die Bruin meisies van vaneffe! Hy is nie soos sy oupa nie want hy maak noot waves nie! Hy’s egter baie bly dat ek hom kom haal het en hy wil nie dokter toe nie. Ons moet by oumie Felicity aandoen want sy, wat elke doktersprogram op televisie en in die Huisgenoot volg, sal raad en medisyne hê. ©Anthony L. Wilson 536 Statice Avenue Eersterust 0022PRETORIA (H/B) 27 012 8067858 Mobile: 27 0823417272

  • Avatar
    Suné van Rooyen

    Goeie stuk Shirmoney. Ek stem saam dat daar hopeloos te min bruin skrywers in die Afrikaanse letterkunde is. Dalk is dit die rede waarom daar nie oor die issues wat na aan ons harte lê geskryf word nie.

  • Sjoe was dit aangrypend en na aan my hart. Vreeslike trane gestort vir Gilmore en die omstandighede. Eerstehands wen altyd; jy kan nie beter as dit voorgee nie. Goeie stuk Simmy hou aan met jou skrywershand. Het my vreeslik dik gelag oor jou probleem lol. Het self my kop geskud toe ek vir kwart voor sewe lelie gelees en gedink het watter klomp nonsense is dit. Trots op jou; mooi bly.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top