Baie onlangs het Nathan Trantraal op 'n Facebook-inskrywing geskryf: “Ek wag nog vir iemand wie in die Kaap grootgeword het om die k*k met my te kom praat” en “Hulle is 'n klomp kerk broers die hele lot, hulle almal soek hulle plekkie in die son, maar f*k hulle.” Die “kerk broers” verwys dan nou natuurlik na al die “intellektuele tipes” wat Small en Snyders se bydrae tot die letterkunde eer. Hierdie was 'n reaksie op Heindrich Wyngaard se berig (Rapport, 28 Sep 2013) waarin hy sy mening gegee het oor die hele Small vs Trantraal-debat. Met “die k*k” bedoel Nathan seker hy wag nog vir iemand wat op die Kaapse vlakte in Kaaps grootgeword het en in die taal lewe om vir hom te sê dat Adam Small se Kaapse werke goed is en dat hulle hom eintlik daarvoor waardeer en respekteer. Dis natuurlik omdat Adam Small “snaaks genoeg, nie in die taal lewe nie” en ook nie al die ander “kerk broers” wat net hulle plekkie in die son soek nie. Nathan en sy broer, André, is van die mening dat dit “hoofsaaklik ou konserwatiewe bruin mense” en “oningeligte liberale wit literatore” is wat in Small se werk belê het en hom daarom so hoog prys.
Ek het sedert die bekendstelling van Nathan Trantraal se Chokers en Survivors (2013) alle koerantberigte, resensies, onderhoude, Facebook-inskrywings en kommentaar nougeset gevolg omdat ek my honneursskripsie oor die digbundel gedoen het. Ek het die great debate getrou gevolg en voel nou gereed om my plekkie in die son te soek. Die winter het te lank aangehou en ek kan doen met 'n bietjie sonskyn in my lewe. Maar let asseblief, ek is jonk, my vel kleur is “bruin” en ek is nie 'n akademikus nie. Ek’s 'n doodgewone student wat geen belegging gemaak het in Small se werk nie, wat geen verwagting het dat hy my enigsins met die ander kerkbroers se beleggings terug hoef te betaal nie.
En nou wil ek graag “daai k*k praat” met jou Nathan, in 'n skryftaal wat vir my gemaklik is. Ek is seker jy sal met my saamstem as ek sê daar is niks lekkerder as om in 'n taal te skryf wat aan jou eie tong behoort nie. 'n Skryftaal waarin jy grootgeword, 'n taal wat nie pretensieus is nie en nie aansit nie. 'n Taal wat baie weinig gebruik maak van onnodige groot letterkundige en akademiese terme. 'n Taal wat nie mense laat wonder “wie is dit wat nou eintlik wat hier skryf?” nie. 'n Taal wat nie regtig worry of dit jou gaan laat slim lyk en klink of nie. 'n Taal waarin jy soms mos doodgewoon kan sê wat jy wil, wanneer jy wil en hoe jy wil. 'n Taal wat nie baie dinkwerk verg oor die “regte” Afrikaanse woord nie, omdat dit sommer die Engelse ekwivalent vat. 'n Taal wat diep in jou are vloei, man. 'n Taal waarin jy soms meen niemand jou niks oor kan vertel nie.
Ek verstaan hoekom jy so sterk voel oor Kaaps, Nathan, ek voel ook so, want ek eet, drink en slaap in Kaaps.
En danksy voorgangers soos Adam Small en Peter Snyders kon ek ook al op skool lees in Kaaps.
Anyright, lat ek begin deu te sê, ek skryfie net omdat ek Small en Snyders en allie anne Kaapse skrywers se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde waardeer en respekteerie, ma oek omdat ek nes jy, Nathan, 'n massive liefde het vi Kaaps en die stories van eenvoudige mense oppie vlaktes. Almal se “beleggings” tot die debat volgens jou broer, André, was mos tot dis ver toe nog net van “'n emosionele, sentimentele en nostalgiese aard”. Viskoon my as myne oek soe bietjie na daai kant toe weeg, ma ek kannie helpie, eks nogal erg assit kom by 'n gesprek o Kaaps.
Nathan, die eeste keu toe ek in aanraking gekomit met jou werk was toe ek tydens die bekendstelling van This is my Land, die anthology van UWK se creative writing students, jou en jou vrou se gedigte moes voolees omdat julle daai tyd in Nederland was. Antjie Krog wou op 'n geleentheid gehêrit ek moet die gedig lies waa in jy jou pa se p*** vloek, ma ek het sonder doubt veha gesê ek stanie soe nie. My eie pa is nie worthy om 'n pa genoem te wordtie ma ek het nog nooit da an gedink om hom uit te vloekie. Hoekom sou ek 'n anne man se pa uit wil vloek? Ma anyway, ek het op die meeste geleenthede vi “phycometric” voo gelies, en besides die fact dat almal hulle gebreek het tewyl ekkie gedig lies, het ek altyd na die tyd jamme gevoel vi jou niggie Linda met ha skurwe hakke. Omdat die meeste vannie mense gelag het virrie degrading goed in daai gedig. Om te sê syt skurwe hakke was degrading vi my, wan ek meen Nathan, hoekom was ha hakke skurf? Maybe omdat sy nie ordentlike skoene gehad hettie, of maybe omdat sy heeldag op ha voete in 'n fabriek gewerk het? Ma wag voo ek te sentimenteel word en te diep innit lies, maybe waasit manet omdat sy nie gehou het van wassie.
Ek het oek voo daai op veskillende geleenthede die werke van Small en Snyders voo gelies, en although die uitsprake van sommige woorde bietjie anneste is vannie Kaaps wat ek gewoon an is, was die experience altyd priceless vimy. Nie net omdat die gedigte niks vloekwoorde gehad het nie, of omdat die gedigte my taalhart gevoed het nie, ma oek oo die free kos en wyn (in my geval Appletiser) wat 'n mens narie tyd kon geniet. Jy’s mos mal o daai stukkie? Is dit dan nie hoekal die free wyn wat 'n mens kry wat jou inspire het om poetry te beginne skryfie?
Lat ek aangan. O die hele issue van die gebruik van Kaaps tussen jou en Small: elke taal is onnehewig an verandering. 'n Taal wattie veranderie, is 'n taal wattie groei nie. Adam Small het Kaaps by sy sprekers afgeluister en dit in skryftaal omgesit. Hy het nooit geclaim dat hy innie taal grootgeword het of dat hy da in geliewe het nie. So ek weet nou regtagie hoekom daai soe 'n eina malaina is vir jou nie, Nathan.
Op daai selle punt, omdat 'n taal verander kom da obviously nuwe woordskeppings by, nuwe uitdrukkings en sêgoed, en evens nuwe maniere van praat. Jy kan dis nie vewag dat Small se Kaaps en jou Kaaps presies dieselle moet wies nie. Hyt op 'n anne tyd in Kaaps gedig, dit was mense vannie Bo-kaap se way van praat en as jy die bogenoemde in ag niem, dink ek dis safe om te sê die Kaaps wat hy verwoord het was die Kaaps wat daai tyd gepraat was. Ek vindtie fout damee nie, omdat ek dit vestaan Nathan.
En die issues wat hy in sy werk cover kan oekie dieselle wiesie want os liewe in 'n anne tyd. Hy het die issues getackle wat annie orde vannie dag was, dit maak net sin.
Jou broer sê op 'n Facebook-inskrywing dat Small se werk volgens hom “fake poetry” is, nou wonne ek hoekom dit fake is? Omdat hy nie van tik, buttons, seks en skommel geskryf het nie? Jammer Moses, sê ma vir jou Aron tik was noggie oppie vlaktes daai tyd nie. Small het o relevante issues geskryf, hy het dinge vannie dag aangeraak, nes jy. Dit maak nie jou Kaaps bieter omdat jy o social issues skryf wat applicable is in vandag se liewe. En by the way, van die sentrale temas in Small se werk is tot vandag toe applicable. Ma wag, laat ek my tone bietjie down, voo die “jy’s te sentimenteel en te emosioneel”-hond my byt.
Small en daai Snyders het Kaaps 'n joke taal gemaak? 'n Taal waain da gesing en dans word? Hoe? Kô lat ons sing? Nee man, Nathan, in die meanwhile issit ma hoekal jou Kaapse gedigte, met sy lekker nat vloekwoorde, groot wit kaal vaginas en penisse, en daai “skreeusnaakse humor” wat mense aan die lag het. En wie is die mense wat hoekal soe lekker lag? Wie is die mense wat lees en boeke kan bekostig? Ek ganitie ees uitspellie. Die was mos die einste defence wat jou broer tien Small se werk gebruik het, dat hy geskryf het vi “wit mense” wat boeke kon bekostig het en teaters kon vol sit. Vi wie skryf jy Nathan? Vi mense wat boeke kan bekostig of vi mense oppie Kaapse vlakte? En assit vi mense oppie vlaktes is, wat is jou boodskap nogals aan hulle? Dat laaities na elke meisie van wie hulle hou moet kyk as 'n groot witgekalkte vagina? Of miskien is dit dat hulle ma hulle liewens kan weg tik en doodgaan wan niemand gaan hulle anyway notice nie. Of nee, ek dink dit is eintlik dat armoede die skuld moet kry ve alles wat verkeerd gaan met hulle.
Jou broer beskuldig Small dat hy in sy skryfwerk die “neerbuigende opvatting rondom bruin identiteit bevestig en ondersteun het”. En nou is my vraag an jou, hoe laat jou gedigte osse mense lyk, Nathan? Hoe staan jy op tien die stereotype wat da is o onse mense? Gaan mense ná hulle jou bundel gelees het sê: “Haai foeitog man, al die kleurlinge is darem nie dieselfde nie”?
Nathan, jy hou mos davan dat mense honest moet wies en honestly, die enigste een wat van Kaaps 'n joke taal maak op die oomblik is djy. Want volgens jou vloek en syp en hoer os almal os liewens weg en dis ok, relax, at least maakit ve goeie jokes na die tyd. Die enigste mense wat narie tyd jou jokes gan kan waardeer issie mense wat jou boek op hulle kassie of Kindle het. Ek en jy wiet 99,9% vannie mense oppie Kaapse vlakte wiet skaars wat 'n e-book is. Twie wieke geliede was 'n 15-jarige laaitie se kop afgesny in Ravensmead. Ek wonne hoe lank ganit vat voo daai oek manet nogge Cape Flats joke gan wies. Daais mossie ding van 'n junk liewe Nathan, die feit dat os lekker kan lag oorit na die tyd. Os lag ons way uit die painfulste issues.
Ek het jou boek gelies. Hier en da was gedigte wat my Kaapse hartsnare getokkel het, Nathan, ma my aanklag teen jou werk is tien die tyd sieke al obvious. Jy vloek en latit lyk asof amal op die Kaapse Vlakte ma soe is en soe praat. Tydens “’n lesing” aan UWK oor jou boek het jy gesê “amal vloek” en “arm mense vloek”. Vir jou is dit 'n uitvloeisel van armoede. Ek het die gevoel gekry dat vloek vi jou inherent deel is van Kaaps? Nou Nathan, ek het amper nes jy met 12 mense in een huis groot geword. Ek moes vi drie jaa een paar skoolskoene gedra het, da was tye wa ons ook geworry het oor die volgende dag se meal, maar die Here wiet dit het nie gemaak dat ek vloek nie. Ek het in Elsies Rivier, 'n klipgooi weg van Bishop Lavis af, grootgeword. Buite in die pad het die ma se p’s gewaai ma in my ouer huis was ons geleer om respek te hê. Ek sê nie ek het nooit gevloekie, ek mean soek vimy 'n laaitie oppie Kaapse vlakte wat nogie gevloek hettie? Ma na 'n tyd, toe ek groter word en beginne vestaan wat die woorde eintlik beteken, het ek gekies om nie te vloekie – hoekom vloek 'n mens 'n vrou se vagina? As die vloekwoorde in jou digbundel miskien nog funksioneel was (behalwe soos in “Fifa 06”), sou ekkit dalk in ag geneem het. Ma nee, Nathan, dis net te casual, so asof dit heeltemal ok is, asof dit so moet wees. Die reality is dat baie mense op die Kaapse vlakte vloek en ek kan dit nie weg wens nie, al sou ek wil. Ma jy is verkeerd, Nathan, want jy generalise. Ons amal issie soe nie en os amal praatie soe nie. Da is actually mense wat kan Kaaps praat sonne om te vloek. Miskien wiet jy net nie van hulle nie, ek kan jou voorstel.
My twiede aanklag is die feit dat jou boek net al die negative stories vetel vannie gemeenskap. Vi dieselle reason lees ek oekie Die Son nie, omdat hulle baie min skryf o die goeie dinge wat gebeu oppie Kaapse vlakte. En dan is da die ding wa jy constantly die karakters (Dolfie, antie April, antie Una, Derra met sy septic naels) innie bundel wil degrade, amal is net die swak slegte mense (behalwe jou broer, ma en Ronelda ofcourse). Ek sê wee, ja, die reality is wat dit is, ma da is ook positive dinge wat gebeur in onse gemeenskappe. Ek heg vijou die gedig “’n double side story” aan wat die punt verder vat. Dan gan sommige nou mien is actually omdat jy die goeie wil uitbeeld dat jy o die slegte skryf – regtig Nathan?
Danie Marais het onlangs 'n berig geskryf waarin hy skryf: “Nathan is bang die establishment verander hom in 'n Adam Small.” Honestly, ek dink dis pure nonsense. Jy bang hulle verander jou in 'n Small? Nathan, jy’s veels te stubborn dat enige een jou kan verander. Dit het jy nou al aan os amal bewys. Nathan has arrived, en niemand sal jou kan veranner nie.
En dan dink ek oek almal kyk verby die eintlike ding wat tersaaklik is in die hele debat. Dit is nie iets wat vas gevang sit in letterkundige teorieë en verduidelikings nie, dit is ook nie iets waavoo jy wyd belese hoef te wies ie. Het jy al gehoor van morele waardes? Of respek? As jy 'n mens is, met 'n hart en gevoelens (ons almal is veronderstel om darem van dié goete oek te hê – Nathan, sit gerus jou hand op jou bors, ek’s amper sieke jy sal 'n klop voel). As da een ding is wat ek van kan getuig, is dat baie ouers oppie Kaapse Vlakte hulle kinders leer om ouer mense te respekteer. Dis hoekom ons altyd gehaloep het om 'n Mr Hendricks of aunty Miena te gaan help byrie taxi as hulle 'n klomp sakkies gehad het. En dis oek hoekom ons “aunty” en “uncle” sê al is ons nie related aan mense nie. Jy skuld nie vi Adam Small nie, Nathan. Niemand vewag dat jy ve hom 'n bos blomme en chocolates koep nie. Ma die minste wat jy kan doen is om sy bydrae te respekteer. Jy hoef ook nie eers dankie te sê as jy nie wil nie, want os willie hê jy moet fake wiesie, daavoo is jy net te honest. Jy’t op 'n Facebook-inskrywing gesê: “Ek gee nie 'n f*k om oor Adam Small nie, as ek betaal word vir wat ek skryf worry ek nie want my naam gaan daarmee gepaard.” Ek dog dit gaan oor die arme arm mense wie se stories nooit o geskryf word nie, Nathan? Of hoe? Gaan dit oor die free wyn en geld wat jy maak uit die arm mense se arme stories? Ek hou vannie fact dat jy sulke stories opteken Nathan, ma ek beginne wonne wa o dit regtig gan. En net vi die record, Adam Small en Peter Snyders het nie oor ryk mense gedig nie, dit was oek ma stories van eenvoudige working class mense.
En net in geval jy nou gan wil argumenteer dis omdat ek Afrikaans by UWK swot dat ek nou ge-indoctrinate is deu die kerkbroers se ideologies o Small se werk, dink ma weer. Ek kan praat en dink vi myself, op papier en in die publiek. Ma ek suppose God stuur 'n Aaron ve elke Moses, so dis fine, ek vestaan hoekom jou broer soms namens jou moet praat. En oeja, al my medestudente (ek sal vijou 'n lang lys van name aanheg as jy wil) wil hê ek moet vijou sê hulle hou van Small se werk, en hulle respekteer hom daarvoor.
Next time as jy en André wil praat, Nathan, praat vi julleself. Jy’t gesmeek dat iemand wat oppie Kaapse Vlakte grootgeword het bietjie bek moet in stiek. Da het jy dit.
Shirmoney Rhode
'n double side story
Besides die hoere, die vuilgatte, die prossies van 15 en slegte pa’s wat over die season die hele huis op hol dja,
Besides die tikkoppe en buttongatte, alcoholics, sesse, agge, dixies en you name it
Besides die kinnes wat kinnes kry ennie laities wat vroegie skool los om full time jobs oppie hoeke te occupy.
Is da single ma’s wat sonne die sight van sleg pa’s kinnes reg grootmaak.
Is da oumas wat as djy ve die eerste keer jol toe gaan kamstag heelnag wasgoed was,
kindtie, dais weer om tussen die gewas en gespin jou voo liewe Jesus op te dra,
“Ag Here bewaar.”
Da is aunties wat hulle seuns innie tronk besoek, al sê wie wat.
Mense met harte, gedagtes, gevoelens en siele.
Is da mense wat wiet hoe dit voel om regtag wa lief te hê en seer te kry soema
altwee in een blow.
Nobba hoe stek djy claim djy is,
Os amal het tog een of anne tyd die kussing sloep nat gehuil.
Die reality is warrit is, os kannitie deny nie, ma daas two sides to a story.
Lees "poetry oo die liewe annie anne kant" – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantaal oor Chokers en Survivors.
Lees ook Kaaps is nie 'n joke-taal – Robert J Pearce antwoord Nathan Trantraal.
En lees André Trantraal se bydrae oor Small en Kaaps.
Lees Joan Hambidge se resensie van Chokers en survivors.
Kommentaar
Ek is bly iemand het uiteindelik hul monde bietjie gespoel oor hierdie debat. Ek is van opinie dat die hele debat hoogs irrelevant is. Elke skrywer behoort maar net sy kop te knik vir die wat hom/haar voorafgegaan het en die baan gebreek het. Soos dit vir my klink is dit reeds wat vir Nathan so kwel: die feit dat die grootste baanbreker in Kaapse literatuur nie 'n spreker van Kaaps, soos hy, was nie. Shame
So 'n bek kort jem!
Jy is doodreg jonge dame, os almal isie soe nie! Ons almal vloek nie en nog minder het os net negatiewe stories om te vertel. Daar is goeie stories ook, en die onus rus op ons om die goeie stories die lig te laat sien.
Adam Small, Peter Snyders en SV Petersen het die paadjie vir ons mooi geplavei, maar dis nie waar dit ophou nie, dis waar mense soos Nathan inkom, die pad verder oop te maak en nie die hand afkap wat jou voer nie.
Dit was disrespekvol van Nathan om Small so lelik aan te val, eties gesproke kritiseer 'n mens 'n skrywer se werk en nie die skrywer persoonlik nie.
Ek hoop die skille het nou van oë af geval.
Genade!
Kom by Jan Rap!
My uitroep JUIS omdat ek by is Christo !
nathan wa is jy?
Oooh nou dis wat ek noem opstaan vir jouself! En by the way, ek het nie op die Kaapse Vlaktes groot geword nie,maar op 'n Karoo-dorpie en even vir my was Nathan baie offensive teenoor die sogenaamde kleurlinge van die flatse! Want wat hy beskryf gebeur en identifiseer onse coloureds, is yntlik 'n freakin goeie beskrywing van onse beautiful society!