Onderhoud: Derde illustrasiekursus by die Breytenbach Galery op Wellington begin 15 Augustus 2026

  • 0

Prent: Piyapong Saydaung op Pixabay (©Piyapong Saydaung, gepubliseer op 15 Maart 2021)

Die derde omvattende en onafhanklike illustrasiekursus word hierdie jaar in Suid-Afrika aangebied. Die kursus begin op Saterdag 15 Augustus 2026 en bied aan kunstenaars die unieke geleentheid om aan die hand van gespesialiseerde hulp hul illustrasiedrome te bewaarheid. Die aanbieders praat met Naomi Meyer daaroor.

Daar is binnekort 'n illustrasiekursus wat weer by die Breytenbach Sentrum plaasvind. Wat behels dit? Moet net gevestigde kunstenaars daarvoor inskryf en opdaag?

Mia Oosthuizen: Ons is baie opgewonde oor die illustrasiekursus wat 15 Augustus 2026 begin. Met hierdie kursus kry kunstenaars van verskillende vlakke en vaardighede die kans om ’n pad te stap saam met my en die uitstekende kunstenaar Elizabeth Gunter. Anne-Ghrett Erasmus-Coetzee van die Breytenbach Sentrum se jare lange ervaring in die kunsbedryf en groot liefde vir illustrasies en kinderboeke is van onskatbare waarde.

Ons neem deelnemers deur die nodige kennis van kinderboeke, teikenmarkte en die realiteite van die bedryf terwyl hulle ook wonderlike kunstegnieke leer, visuele narratief ontdek en aan hul eie stories werk. Belangriker nog is die deelnemers wat begelei word om hul eie styl en stem te ontwikkel en ’n prenteboek of ander kreatiewe uitset te lewer aan die einde.

Julle deel die suksesverhale wat uit die vorige illustrasiekursusse voortgespruit het. Vertel asseblief vir ons lesers daarvan.

Mia: Ons is werklik so bly om te kan spog met drie publikasies wat reeds uit die eerste kursus spruit. Die kunstenaar Jeanne Wasserman het ’n ongelooflike geïllustreerde digbundel gemaak en uitgegee oor haar ma en die broosheid van oudword. (Jy hoef dus geensins beperk te voel tot kinderliteratuur nie!)

Die prenteboeke van Tharine Schabort en Jeaneldé Mouton is drukkers toe en sal later vanjaar in boekwinkels wees. Dit is werklik twee ongelooflike en uiteenlopende prenteboeke wat getuig van hoe elke kunstenaar sy of haar eie stempel afdruk. Ek brand om meer te sê, maar julle sal van ons hoor sodra die boeke op die boekrakke is.

Uit die tweede illustrasiekursus kom daar ’n paar lekker projekte. Een van ons deelnemers se manuskrip is reeds aan ’n uitgewer voorgelê en word gunstig oorweeg. Ons het nog ’n jong kunstenaar wat besig is om ’n epiese kinderstorie te skryf en teken. Ek glo dit gaan baie sukses behaal.

Nou begin die derde kursus, en dit is werklik ’n geleentheid, avontuur en lewensveranderende ervaring wat jy nie sal wil misloop nie.

Kinderboeke en illustrasies is die beste vriende onder die son. Vertel bietjie watter een van die twee vertel die grootste deel van die storie – en watter geïllustreerde kinderboeke onthou julle uit julle kinderdae?

Mia: Sonder ’n storie is daar nie illustrasies nie, wel kunswerke. Die storie is dus krities belangrik, al is dit ’n woordelose prenteboek, maar hoe jonger die kind hoe belangriker is die illustrasies. In situasies waar die skrywer en illustreerder nie dieselfde individu is nie, praat ek graag van die eerste skrywer en die tweede skrywer. Ek hou aan verwys na hierdie dinamika selfs by boeke vir ’n bietjie ouer lesers, hoewel die pendulum algaande swaai in die rigting van woorde. Tot die ewewig weer bereik word waar die visuele en geskrewe stories/narratiewe ewe belangrik is. Dink maar aan strokiesprente, grafiese romans, geïllustreerde digbundels en kinderboeke waar die illustrasies so aktief deel is van die teks dat die weglating daarvan tot ’n onvolledige storie sal lei. Ek is tans gaande oor die Perdewêreld-reeks deur Heléne Booyens, wat ’n baie goeie illustrasie van hierdie interaksie is.

Ek, Elizabeth en Anne-Ghrett gesels graag oor ons geliefkoosde illustrasies as kinders. Dit kan verander soos wat die herinneringe sterker en vaer word, maar ek dink die volgende is ’n goeie verteenwoordiging.

Ek onthou die prenteboek Wie vreet die son met ’n kuiken wat histeries raak tydens ’n sonsverduistering en vir almal waarsku dat die son opgevreet word. Die aksie in die diere se lywe en hul gesigsuitdrukkings is fantasties! Ek wens die boek kan weer uitgegee word. Ek het ook ’n ou Ladybird-boek van die Rooi Hennetjie gehad waarvan ek elke liewe illustrasie steeds onthou. Dit was pragtig.

Elizabeth Gunter: Die stories en illustrasies waarmee ek kennisgemaak het in my kinderjare wat vir my uitstaan, is Tyl Uilspieël en al die Grimm-stories. Humoristies, makaber, wreed, en selfs gek.

Anne-Ghrett Erasmus: Ek onthou Alba Bouwer se boeke. Die sketse wat die karakters met slegs 'n eenvoudige lyntjie so akkuraat kon vasvang, was en is steeds vir my so treffend. En dieselfde geld vir Helena Lochner se boeke, soos Kinderland. Trouens, ek kyk steeds met verwondering na daardie boeke.

Dit is vir my baie goeie nuus dat julle kan rapporteer dat uitgewers graag van kunstenaars se werk gebruik maak en nie sommer net vir kunsmatige intelligensie vra om 'n prentjie vir 'n kinderboek te skep nie. Wat is die elemente van kuns wat nie deur KI nageboots kan word nie?

Mia: Ek het nou al telkemale gesien dat daar beslis iets gebeur tussen die kunstenaar se brein of wese, sy/haar hand en die papier. ’n Mens kan seker verwys na “merkmaak”, en dit is ’n baie belangrike punt, maar dit is meer as dit. Iets word oorgedra wat ’n rekenaar nie kan vasvang nie. Ook die proses van foute maak en regmaak wat in sekere gevalle spookmerke laat, is baie belangrik. Al ons kunstenaars gaan iewers oor na ’n rekenaar of tablet, want dit maak die finale prosesse baie makliker, maar hulle merke is gemaak en lewe is ingeblaas op ’n manier wat uniek is aan die kunstenaar.

Ek was redelik onlangs betrokke by twee projekte waar die gekose KI-illustrasies die storie soveel skade aangedoen het, of net nie identifiseerbaar was nie, dat die projekte eenvoudig afgekeur is.

Ek voel ek moet noem dat as die groot doel is om net ’n boekie te maak vir die massamark teen so goedkoop as moontlik, dalk om uiters goedkoop of gratis te versprei, kan KI sekerlik werk. Maar waar ’n mens werk aan ’n storie waarop mense geld gaan uitgee en kieskeurig is oor wat hulle wil koop, haal KI net nooit die paal nie.

Anne-Ghrett: KI sal nooit die mens se verbeelding en merkmaak op papier kan vervang nie. Dis die nuanses van die medium, byvoorbeeld houtskool, op papier en hoe dit aangewend word, wat vir my die groot verskil maak. Dit laat my dink aan toe ons in graad 1 leer skryf het: “Saggies op en hard af."

Elizabeth: KI is nie in staat tot emosie nie. Kuns absorbeer en reflekteer die illustreerder se persoonlik emosionele ervaring, reaksie, aard en uitdrukking. Dit is dan visueel toeganklik, interpreteerbaar en herkenbaar vir die toeskouer. KI kan slegs verbale en numeriese tekste lees. Dus kan dit wel tegniek, proses en maniërisme beskrywend en selfs analities weergee. Die intuïtiewe taal en doen van die kunstenaar kan nie deur KI gedoen word nie, slegs vertel word.

Verskaf asseblief praktiese besonderhede van hoe mense vir hierdie volgende kursus kan inskryf. Wat is die kostes, wat moet hulle saambring, moet hulle prentjies hê wat hulle kan wys?

Mia: Die nuwe kursus begin Saterdag 15 Augustus. Hierna sal ons een maal per maand bymekaarkom, op die eerste Saterdag van elke maand, maar wel in verbinding bly met boodskappe, e-posse en oproepe soos nodig.

Die kursus duur 12 maande en kunstenaars wat ’n bietjie langer wil aangaan het die opsie om hul kursus te verleng. Dit is nogal ’n gewilde opsie.

Die koste is R2 500 per maand. Kunstenaars bring hul eie materiaal, maar ons vra nie groot aankope nie. Die fokus is in die eerste plek om te werk met wat jy het en waarmee jy gemaklik is en dan in oorleg met Elizabeth uit te brei na ander mediums indien nodig.

In die lig hiervan is dit wel belangrik om te noem dat hierdie kursus bedoel is vir mense wat reeds basiese vaardighede, soos teken, het. Daar is ongelukkig nie ruimte in die kursus om te leer teken en dan te illustreer nie. Dit beteken gelukkig ook glad nie dat jy vreeslik baie ervaring hoef te hê nie! As jy kan teken, is jou kop al goed deur.

Aangesien daar beperkte plek is, vra ons dat jy asseblief vir my ’n e-pos by miaoosthuizen@gmail.com stuur met jou aansoek. Hier vra ons vir ’n bietjie inligting oor jou agtergrond en jou behoeftes/verwagtinge van die kursus, sowel as twee of drie sketse of kunswerke wat jy al gemaak het. Ons sal daarna kyk en dan sal ek spoedig na jou toe terugkom.

Ons sien daarna uit om die pad saam met die groep nuwe illustreerders te stap.

Lees ook:

Die tweede illustrasiekursus by die Breytenbach Galery in Wellington: ’n onderhoud

’n Kursus vir Suid-Afrikaanse illustreerders by die Breytenbach Galery: ’n onderhoud met Mia Oosthuizen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top