
Die klipwerk binne-in die St Michael and All Angels Anglikaanse Kerk op Grabouw vier ’n indrukwekkende, generasies oue vakmanskap, soos ook die dik ontblote houtbalke (straks gemaak van die dennebome van die omgewing) wat hóóg bokant jou kop die dak vashou. Maar dit alles maak van dié gebou ’n ysige plek; en buite het die weer ook nie juis saamgespeel nie: Winter in dié geweste bly mos maar ’n triestige affêre, het ek Saterdagoggend weer ervaar – en Saterdagoggende word hier gereserveer vir dorp toe gaan om inkopies te doen en reg te maak vir die middag se rugby, maar vernaamlik ook vir die hou van begrafnisse.
Saam met ander was ek juis op die dorp om afskeid te neem van Bettina Wyngaard, skrywer, prokureur, kommentator en genderaktivis. Uit haar pen het die afgelope byna 20 jaar nege publikasies verskyn, waarvan die misdaadroman Knal die laaste was voordat die koue kloue van kanker haar verlede jaar beetgekry het en, asof ’n karakter uit ’n krimi, die lewe stelselmatig uit haar gewurg het.
Die doodstyding het my die aand van 24 Julie by die Etienne van Heerden Veldsoirée in Nxuba bereik – by wyse van ’n foto en die woorde “RIV Bettina Wyngaard” daarby, wat Ingrid Jones gestuur het – en net die oggend nog sit en gesels ek en Etienne in die voorportaal van die Victoria Manor-hotel oor Bettina en haar afwesigheid by dié verafgeleë, dog swierige, letterkundige samekoms. “Ai nee man,” skryf ek terug aan Jones en verwys na my en Etienne se gesprek die oggend. “Ag nee!” reageer hy toe ek hom, ook per WhatsApp, die nuus meedeel.
Familie, dalk?
Mense wou altyd weet of ek en Bettina familie is. Sy’t my dit ook al by geleentheid vertel: dat iemand haar gevra het of sy my suster is (vleiend), maar iemand anders het selfs op ’n keer hardop teenoor my gewonder of sy dalk my ma is (onvleiend).
My antwoord op dié navrae oor ons veronderstelde gedeelde familiestamboom sou altyd wees: “Wel, ek wens ons was” (wie sal dan nou nie ’n bekende skrywer as familielid verwelkom nie?), “maar ongelukkig is ons nie.”
Ons het mekaar nie eens werklik geken nie. Geweet dat ons van buurdorpe kom, ja – Bettina van Grabouw en ek van Caledon. Maar nooit saam uitgehang, gekuier of ons in dieselfde vriendskaps- of letterkundige kringe bevind nie. Ons was vanselfsprekend darem bewus van mekaar se bestaan – en ek vermoed ons eerste kennismaking was nie te lank nadat haar debuutroman, Troos vir die gebrokenes, in 2009 verskyn het nie.
Dit was toe ek haar genooi het om op Caledon aan ’n byeenkoms deel te neem wat ek gereël het om hulde aan ons dorp se eie skrywerikoon, PJ Philander, te bring; en die woord het op dié dag behoorlik geblom met die digter en Philander-kenner Daniel Hugo, kosskrywer Dine van Zyl en musikant Frazer Barry en sy orkes Tribal Echo, wat ook opgetree het.
Roepstem van ’n skrywer
“Die seerkry, die seermaak, die drankmisbruik, die mishandeling, die verkragting, die moord, die armoede, die geskinder en verskeie ander neerdrukkende aspekte [soos werkloosheid] wat in [Bettina se boek] onder die soeklig gestel word ...,” soos Minnie Lewis die Troos-verhaal in haar LitNet-resensie opsom, sou ewe goed op Caledon en ander dorpe op die Wes-Kaapse platteland kon afspeel. Dit is, skryf Lewis, “die eerlike blik op hierdie kwessies, die worsteling daarmee, die optrede daarteen, wat troos bring vir diegene wat gebroke gelaat is deur een of meer van hierdie kwessies in hulle lewens, in hulle gemeenskap.”
Lewis trek ’n verband tussen Troos en EKM Dido se debuut, Rugdraai en stilbly (1997), waarin enerste temas aan bod kom en spesifiek ook omrede die twee skrywers vroue op die voorgrond plaas. Dit sou vir Bettina, wat ook ’n vroueregteprokureur en koördineerder van die Anglikaanse Kerk se kantoor vir geslagsgelykheid was, altyd so wees. ’n Aanhaling uit Erika Terblanche se profiel in die ATKV LitNet-Skrywersalbum dui daarop: “Elke skrywer is, uit die aard van sy skryfwerk, besig om aan ’n persoon of groep persone ’n stem te gee. Ek probeer ’n stem gee aan bruin vroue en verskillende groepe bruin vroue.”
Maar dié maatskaplike ingesteldheid het nie by Bettina Wyngaard ’n ras-ideologiese ingesteldheid gevestig nie; haar stryd was téén ongeregtigheid en vír medemenslikheid. Hiervan het ’n vriendin van haar wat ’n huldeblyk by haar roudiens gelewer het, getuig. Die vriendin vertel ’n verhaal van ’n tyd wat godsydank nie meer is nie, naamlik die dae toe bruinwees op die kampus van die Universiteit Stellenbosch nog ’n rariteit was.
In ’n klas van sowat 300 studente, sit hulle toe daar, maar slegs drie van hulle na wie as “Smaties” verwys sou word, ’n verwysing na die baanbrekergenerasies van “swart Maties”, oorweldig deur die wit oseaan waardeur hulle omring word, of verswelg word. “Ek kon hulle nie vertrou nie. Ek het hulle almal as rugstekers beskou,” sê die vriendin. Maar Bettina het haar geleer: “Ons is almal net mense – en rugstekers kry jy oral.”
Nogtans, ofskoon sy altyd die mooi en die waarheid raakgesien het en met ’n wye verskeidenheid mense kon omgaan, was sy nie naiëf nie en het sy deurlopend – en heel moontlik weens haar eie ervarings – ’n kampvegter vir die “geïsoleerdes” gebly.
Stories en die Skrif
Uit Lukas hoofstuk 16 haal eerw Lundi Joko in sy Skriflesing in Engels aan, hier verkort van verse 19 tot 25 en uit die Afrikaanse 1953-vertaling: “En daar was ’n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was ’n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.
“En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.”
Getroos: “Een van die eerste gawes wat God ons gegee het, is stories – lánk voordat ons oor doktrines leer,” sê die eerwaarde. “Bettina het die waarde van stories verstaan: deur haar romans, essays, regswerk en as openbare stem vir diegene wat geïgnoreer word.” En so het almal wat haar geken het, hul eie verhale om te vertel oor wie sy was, sê die man van God verder en herinner die begrafnisgangers: “Die dood is nooit die finale einde nie; dit is slegs maar ’n rivier wat ons oorsteek om ons verhale voort te sit in God se tuin.”
In haar eie lewenstuin het Bettina ’n tuiste gebied aan die gebrokenes, armes, diegene wat rou en wat ly; en sy het geweet, sê eerw Joko, hoe om mense gesien en gehoor te laat voel. Toe hy by haar leer – en dit was hul eerste ontmoeting – oor interseksionaliteit, het hy daar niks vooraf van geweet nie, maar agterna besef die doel van haar les was nie om slegs ’n nuwe woord tot sy woordeskat te voeg nie, “maar om my te help om te sien dat agter elke persoon is daar iemand wat deur God geskape is”.
Dit is waarom dit belangrik is – en hy glo dit is die dieper betekenis van Troos vir die gebrokenes – “om kennis te neem van die Lasarus by ons hekke”. Hier vanoggend word elkeen teenwoordig dit op die hart gelê, in sy Xhosa-Afrikaanse uitspraak: “God se genagê ês genoeg.” Op die kop elfuur het die eerwaarde “Amen” gesê.
Bekronings uit die buitebaan
Oor die Jan Rabie-Rapport-prys wat Bettina in 2010 vir Troos vir die gebrokenes ontvang het, het sy destyds aan dié Sondagblad gesê: “Die erkenning, en dat dié soort werk bekroon word, beteken vir my baie. Ek hoop dit gee ander bruin skrywers wat hul stories vertel, meer blootstelling.”
Tot ’n mate hét dit, maar haar wens is nog nie ten volle verwesenlik nie: Die dag ná haar begrafnis is ek deel van WhatsApp-gesprekke oor die nuutste kortlyste vir letterkundepryse en die afwesigheid daarin van bruin of swart Afrikaanse skrywers. Nie slegs die benoemings nie, maar ook die samestelling van die beoordelaarspanele weerspieël die “bruin” bron van kommer: Uit elke drie, gemiddeld, is twee wit en een bruin. Die magsoorwig bly dus aan die kant van wat ’n letterkundige in ’n private boodskap as volg formuleer: “Kriteria > konteks > kanonvorming”.
“Dié soort werk”, soos Bettina na Troos in die konteks van die bekroning verwys het, skyn steeds in die buitebaan van die Afrikaanse letterkunde weg te spring en te hardloop. Soms, wonderbaarlik, kry hulle dit reg om Wayde van Niekerk in die Olimpiese Spele van 2016 na te doen deur teen alle verwagtinge in die wenstreep oor te steek. Ander kere, soos met Kirby van der Merwe se veelbekroonde Eugene, is dit omdat die werk as werklik uniek – én universeel – deur die beoordelaars beskou word. Maar in die meeste gevalle skyn dit asof die verhale met ’n maatskaplike strekking ’n ongemak veroorsaak by diegene in die binnebaan van besluitneming oor publisering, of asof hulle nie eintlik meer aptyt het vir wat moontlik ontvang word as ’n nimmereindigende gesanik oor samelewingsonregverdighede nie: “Ons soek ontvlugting, genade! Ons is moeg om na julle stories te moet luister!”
Die verhaal van die denneboom
Dennebome is oor die jare as onmisbare kenmerk van die Grabouw-landskap beskou, tesame met die vrugtebome van die distrik, verskillende appel- en peerkultivars. En oor die Kerstydperk hoef die mense van dié wêreld nie te ver te gaan soek het na Kersbome nie: Die takke van die denneboom met sy lang naalde en dennebolle was in oorvloed en in nabyheid beskikbaar om opgetower te word met ballonne en veelkleurige crinkle paper. Dit sou ongetwyfeld ook deel gewees het van die kinderherinneringe van oom Abie (of Abraham) en an’ Katie se twee kinders, Hazlette en Bettina.
Maar die wetenskap sê dennebome (Pinus) is uitheemse moeilikheidmakers wat met ’n diep wortelstelsel waterbronne uitput en ook inheemse fynbos afknou. Wanneer dit egter so netjies langs ’n hoofpad of ’n plaaspad staan, uittroon bó mensdom en motors, maak dit tog ’n besonderse indruk. ’n Mens wonder dan, in ’n poging om ’n allemanswaardebepaling te doen oor die rol van skrywers soos Bettina Wyngaard in die Afrikaanse letterkundige ekosisteem, of haar bydrae op ’n manier met ’n denneboom vergelyk kan word.
Die boom se “dun naalde” is die fyn manier waarop sy in die leser se gewete kon klim om die “houtagtige dennebolle” in ons gedagtegange in iets bruikbaars te omskep (soos brandhout vir die vleisbraai) ten einde beter begrip oor “indringer”-kwessies te help vestig. Haar boom as roman- én rubriekskrywer het, soos die denneboom, immergroen gebly en nie haar blare in die winter verloor nie; en, nogmaals soos die denneboom, het die temas in haar skrywerskap manlike en vroulike keëls gedra in plaas van die verganklikheid van blomme.
En noudat sy weg is?
Maar aan die einde sou dit nie letterkundiges en skrywers en mediamense wees wat van haar kom afskeid neem het nie – orraait, die bekroonde skrywer Kirby van der Merwe, skrywer en fotograaf Réney Warrington, tydskrifuitgewer en sosiale kommentator Ingrid Jones, en die joernalis en skrywer Julian Jansen was daar. Die meeste ander was egter familielede en vriende en gewone mense vanuit haar grootwordgemeenskap aan die Overbergkant van Sir Lowry’s-pas, waar die vrugteboorde nou meer sigbaar is nadat lanings dennebome in die afgelope dekade hierlangs afgesaag is.
Soos die algemene ontbossing wat ook hier ingetree het, het die Skepper nou weer eens in die dunwordende bruin (of swart) Afrikaanse skrywersbos gekom kap. Dit vereis dat ons nuwe bome moet begin plant.
- Foto: Izak de Vries
Lees ook:
Elders gesien: Vroeg-Julie voer ek en Bettina dan ons laaste gesprek

