NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021: Kortlysonderhoud – Louis Krüger

  • 0

 

Ingrid Winterbach, Kirby van der Merwe, Francois Smith, Louis Krüger en Jaco Fouché

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd word deur NB-Uitgewers geborg en vind elke drie jaar plaas. In 2012 was die wenner Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach, in 2015 is die kompetisie gewen deur Dan Sleigh, met sy roman 1795, en in 2018 was die wenner Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach. Verlede jaar het NB-Uitgewers 95 inskrywings vir die Groot Afrikaanse Romanwedstryd ontvang.

Vanjaar se kortlys van vyf, in geen spesifieke volgorde nie, is:

  • Eugene X deur Kirby van der Merwe
  • Die getuienis deur Francois Smith
  • Die verleiding van Eva de Winter deur Louis Krüger
  • Voorouer. Pelgrim. Berg. deur Ingrid Winterbach
  • Simoelégri deur Jaco Fouché

Jaco Fouché is ondertussen as wenner van die kompetisie aangewys.

 

Foto van Louis Krüger: NB-Uitgewers

........

Jy vergeet nooit die dag, die oomblik, wanneer jou karakters uit die donkerte te voorskyn kom nie.

..........

Louis Krüger praat met Naomi Meyer oor Die verleiding van Eva de Winter.

Baie geluk daarmee dat jou jongste manuskrip op die kortlys van NB-Uitgewers se Groot Roman-kompetisie is! Kan jy die kernidee van jou roman in drie sinne vertel?

Twee beskadigde mense (’n data-ingenieur en ’n vroulike staatsaanklaer) wat verlief raak, ’n situasie van owerspel, die wêreld van grootdata, farmaseutiese bedrog en ’n pedofielnetwerk, ’n noodlottige en tegelyk suiwerende ontknoping.

Wie is jou hoofkarakters en hou jy van hulle? Waar het hulle uitgebroei – kan jy die dag onthou toe hulle hul opwagting gemaak het?

Die hoofkarakters is Josua, ’n data-ingenieur, Eva de Winter, staatsaanklaer, en Peter Laksman, die verleier.

’n Skrywer hou altyd op die een of ander manier van sy karakters: liefde, haat-liefde, liefde-haat.

Jy vergeet nooit die dag, die oomblik, wanneer jou karakters uit die donkerte te voorskyn kom nie. Al met die eerste sinne (“Miskien was dit die belangrikste kenmerk van hul huwelik: eerlikheid. Dié dag het hy hom verwonder aan die openhartigheid waarmee Eva hom vertel het van haar ontmoeting met Peter Laksman ...”) was die drie belangrikste figure al daar: Josua, Eva, Laksman. En toe al het die owerspel in die lug gehang. Daarna het die boaardse element bygekom, saam met die wete hoe dit sou eindig.

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd het verlede jaar midde-in die grendeltyd gesluit. Het die inperkings jou tyd gegee en jou bevry om te skryf? Of het dit ook jou kop gevange gehou en jou aandag van jou skryfwerk afgetrek?

.........

Niks so goed en inspirerend vir skryfwerk as ’n pandemie nie. Dit het my die tyd en ruimte gegee om die roman betyds klaar te kry, en daarvoor is ek natuurlik baie dankbaar.

............

Niks so goed en inspirerend vir skryfwerk as ’n pandemie nie. Dit het my die tyd en ruimte gegee om die roman betyds klaar te kry, en daarvoor is ek natuurlik baie dankbaar.

Hoe doen jy gewoonlik navorsing vir ’n storie en moes jy, gepraat van die virus, met die skryf van hierdie manuskrip op ’n ander manier navorsing doen?

Soek, praat met mense uit jou romanwêreld, lees, stel vrae, vra jouself af, kyk rond, dink.

Hoekom skryf skrywers - in ’n tyd van ’n pandemie, in ’n tyd sonder ’n pandemie? Hoekom skryf jy? En hoekom het jy vir hierdie Groot Romanwedstryd ingeskryf?

Dis dieselfde as om te vra: Hoekom dink mense, hoekom wonder mense, hoekom droom hulle? Maar veral: Hoekom hunker ons? Waarna verlang ons? Wat gaan agter die werklikheid skuil? Hoe in vredesnaam het ons hier beland? En wat is “hier”? En wie is “ons”?

Miskien is die eintlike rede waarom ’n mens skryf:

We shall not cease from exploration
And the end of all our exploring
Will be to arrive where we started
And know the place for the first time.

Of in Afrikaans: 

As jy die ding wat in jou is, nie uitbring nie,
sal die ding wat in jou is vir jou doodmaak;
as jy die ding wat in jou is uitbring,
sal die ding wat in jou is vir jou red. 
(Met erkenning aan Etienne van Heerden)

Wat betref die Groot Romanwedstryd: Inskryf is altyd beter as nie inskryf nie. Nee het jy, ja kan jy kry. Of miskien ook nee behou.

Lees ook:

NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021: Kortlysonderhoud – Jaco Fouché

NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021: Kortlysonderhoud – Kirby van der Merwe

NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021: Kortlysonderhoud – Francois Smith

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top