Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd word deur NB-Uitgewers geborg en vind elke drie jaar plaas. In 2012 was die wenner Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach, in 2015 is die kompetisie gewen deur Dan Sleigh, met sy roman 1795, en in 2018 was die wenner Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach. Verlede jaar het NB-Uitgewers 95 inskrywings vir die Groot Afrikaanse Romanwedstryd ontvang.
Vanjaar se kortlys van vyf, in geen spesifieke volgorde nie, is:
- Eugene X deur Kirby van der Merwe
- Die getuienis deur Francois Smith
- Die verleiding van Eva de Winter deur Louis Krüger
- Voorouer. Pelgrim. Berg. deur Ingrid Winterbach
- Simoelégri deur Jaco Fouché
..........
’n Man is midde ’n eksistensiële krisis. ’n Krisismoment wat hom uit die bloute tref, noop hom om te besin oor sy lewe, oor die noodlot, en oor dinge waarin hy in sy gewaande onskuldige dade toe nie so onskuldig was nie.
.........
Kirby van der Merwe praat met Naomi Meyer oor Eugene X.
Baie geluk daarmee dat jou jongste manuskrip op die kortlys van NB-Uitgewers se Groot Roman-kompetisie is! Kan jy die kernidee van jou roman in drie sinne vertel?
’n Man is midde ’n eksistensiële krisis. ’n Krisismoment wat hom uit die bloute tref, noop hom om te besin oor sy lewe, oor die noodlot, en oor dinge waarin hy in sy gewaande onskuldige dade toe nie so onskuldig was nie. En hy verweer homself soos die Protea-krieketkaptein Hansie Cronjé: “In a moment of stupidity and weakness I allowed Satan and the world to dictate terms to me ...” Hy verwys natuurlik nooit na Hansie nie, maar hy probeer ook donker magte die skuld gee vir die krisis waarin hy hom bevind.
Wie is jou hoofkarakters en hou jy van hulle? Waar het hulle uitgebroei – kan jy die dag onthou toe hulle hul opwagting gemaak het?
Eugene, die hoofkarakter, ’n belese en gekultiveerde ouer man, voer ’n rustige en gemaklike bestaan in Johannesburg. Maar daar is ’n ou Kaapse term vir iemand soos hy: ’n gentleman-skollie. Uiteindelik moet hy teenoor homself erken, toe hy onder druk is, ’n mens kan die man uit die ghetto haal, maar nie die ghetto uit die man haal nie.
Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd het verlede jaar midde-in die grendeltyd gesluit. Het die inperkings jou tyd gegee en jou bevry om te skryf? Of het dit ook jou kop gevange gehou en jou aandag van jou skryfwerk afgetrek?
.......
Tydens die inperking het ek besef: Skrap alles, begin met iets nuut en vars. Dié roman is ’n produk van die pandemietyd.
.........
Ek is uit nature ongeduldig en ongedurig en ek moet voor die rekenaar vasgebind word, anders loop ek rond. Was dit nie vir die inperking nie, was die roman nie geskryf nie. Ek het oor die jare notas gemaak vir ’n roman. Tydens die inperking het ek besef: Skrap alles, begin met iets nuut en vars. Dié roman is ’n produk van die pandemietyd.
Hoe doen jy gewoonlik navorsing vir ’n storie en moes jy, gepraat van die virus, met die skryf van hierdie manuskrip op ’n ander manier navorsing doen?
Ek het nie spesifiek vir die roman navorsing gedoen nie. Dit was ’n wyse besluit. Ek het die roman totaal “koud” geskryf, overgeset synde, totaal uit die eter gechannel.
Hoekom skryf skrywers - in ’n tyd van ’n pandemie, in ’n tyd sonder ’n pandemie? Hoekom skryf jy? En hoekom het jy vir hierdie Groot Romanwedstryd ingeskryf?
.........
Ek skryf oor ek nie anders kan nie. Skryf is vir my enersyds verskriklik moeilik. Andersyds ongelooflik bevredigend. Dis ’n Jakob-engel-worsteling.
..........
Ek skryf oor ek nie anders kan nie. Skryf is vir my enersyds verskriklik moeilik. Andersyds ongelooflik bevredigend. Dis ’n Jakob-engel-worsteling. Jy kom mank en gekwes anderkant uit, maar happy. Die wedstryd was ’n uitdaging met ’n sluitingsdatum.
Kommentaar
Dit klink briljant!!
Tog vir my altyd 'n ‘openbaring’ dat skrywe en skep vir vele skrywers 'n hengske stryd is!