
...
Waarom laat ons ons jeug so in die steek, en hoe keer ons die situasie om?
...
Met die jaarlikse bekendstelling van die Suid-Afrikaanse matriekuitslae kan dieselfde tendense telkens waargeneem word. Een hiervan is dat leerders wat in hulle moedertaal onderrig ontvang het, oorwegend veel beter presteer as ander leerders.
Die mees kommerwekkende verskynsel is die groot aantal leerders wat uit die stelsel wegraak voordat hulle in matriek kom, vir die eindeksamen registreer of skryf en slaag. Na raming kon byna ’n halfmiljoen leerders wat in 2022 in graad 10 was, nie in 2024 matriek slaag nie.1 AfriForum bestudeer al meer as ’n dekade lank die uitvalsyfers, en telkens verdwyn sowat ’n derde van die jaargroep sonder ’n matrieksertifikaat. Dit verklaar die jeugwerkloosheidsyfer van 45,5% in die derde kwartaal van 2024.2
...
Dit sal wonderlik wees as Suid-Afrikaanse onderwys kan wegbeweeg van die oorbeklemtoning van akademiese prestasie, wat nie vir alle leerders moontlik is of bevrediging gee nie, en reeds op skoolvlak meer praktiese onderrig kan bied sodat iemand na twaalf of dertien jaar op die skoolbanke direk ’n eie besigheid kan bedryf of ’n spesialisloopbaan kan begin.
...
Diegene wat wel matriek slaag, benodig dikwels oorbruggingsklasse om te kan studeer, en jongmense met matrieksertifikate of naskoolse kwalifikasies moet maande lange mentorskappe in die werkplek ondergaan voordat hulle ’n pos selfstandig kan beman.
Waarom laat ons ons jeug so in die steek, en hoe keer ons die situasie om?
Beskikbare navorsing wys probleme uit
Daar is ’n geen tekort aan betroubare inligting oor uitdagings in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel nie. Navorsingsverslae en internasionale peilings soos Pirls,3 Timss4 en Talis5 dui op probleme soos kinders se onvermoë om met begrip te lees en in vakke wat abstrakte denke vereis, soos wiskunde en wetenskap, te presteer.
Tans word die inwerkingstelling van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (beter bekend as die Bela-wet) as oplossing vir vele knelpunte voorgehou, maar so maklik is dit nie. Die verpligte instelling van graad R moet onder meer ’n gebrek aan infrastruktuur, provinsiale begrotings en voldoende onderwyspersoneel te bowe kom. Dan bly die vraag hoe een ekstra jaar op skool dinge gaan verbeter – selfs al is dit ’n kernbelangrike jaar in vroeë kinderontwikkeling.
Vergelykings hieroor met Eerstewêreldlande soos Finland hou nie met plaaslike werklikhede rekening nie. Daar is bekostigbare, betroubare en veilige openbare vervoer. Afstande noodsaak nie dat vyfjariges wat eers in Desember ses gaan word, in koshuise geplaas moet word nie. Daar is nie puttoilette of kinders wat onder bome moet skoolgaan weens ’n gebrek aan klaskamers nie. Studies van die Verenigde Nasies se Kinderagentskap (Unicef) het in 2024 bevind dat 10,1% van kinders in Finland tussen 2019 en 2021 in armoede geleef het,6 versus 23% van Suid-Afrikaanse kinders wat met lewensgevaarlike wanvoeding en verwante gesondheidskomplikasies te kampe het.7 Om onder hierdie omstandighede te verwag dat leerders akademies moet presteer, is onrealisties.
As wegspringpunt om die onderwyskrisis in die land om te keer, sal ’n mens dus moet kyk na voeding en vervoer vir kinders. Waar vervoer ’n probleem is, moet kleiner skole nader aan kinders beskikbaar wees. Maar Bela se een teiken is ongelukkig juis dat kleiner skole in groter skole opgeneem moet word. Groter is nie noodwendig beter nie – in kleiner skole kan kinders meer toegewyde aandag geniet en dissipline makliker gehandhaaf word.
Dissipline en veiligheid in skole is juis nog ’n kwessie wat onderrig knou. Bevindings van die Talis-studie wat in 2019 bekendgemaak is, het aangedui dat meer veiligheidsbedreigende insidente in Suid-Afrikaanse skole plaasvind as in enige van die ander 47 deelnemende lande. Vandalisme, boeliegedrag, aanranding, verkragting en selfs moord vind op skoolterreine plaas.8 Leerders en onderwysers kan nie gedy in ’n atmosfeer van vrees nie. Dit is ook een van die redes waarom onderwysers aan hoë vlakke van stres en depressie ly, en baie die beroep verlaat.9
Wenslysie
Vir hierdie en die vele ander uitdagings wat onderwys in Suid-Afrika benadeel, is daar nie kitsoplossings nie, maar indien ’n mens ’n wenslys vir ’n beter onderwystoekoms kon saamstel, sou die volgende punte beslis deel daarvan moes uitmaak:
- Moedertaalonderrig moet dringend vir meer taalgemeenskappe in die land beskikbaar gestel word – selfs tot matriek.
- Basiese vaardighede (skryf, lees en syfers) moet ’n fokus bly. Kinders wat dit nie deeglik onder die knie het nie, mag nie na ’n volgende graad bevorder word om ’n skool se statistiek goed te laat lyk nie. Dit skep agterstande wat moeilik ingehaal word.
- Skole se infrastruktuur moet uitgebrei word om kleiner klasse moontlik te maak en kinders teen beserings en misdaad te beskerm.
- Meer skole moet gebou word, veral in provinsies soos Gauteng en die Wes-Kaap, waar daar te min skole is om met die groei van leerdergetalle tred te hou.
- Programme moet ingestel word om na die geestesgesondheid van leerders én onderwysers om te sien – ook om kwessies soos depressie en boeliegedrag aan te spreek.
- Onderwysers se werkslading moet verlig word deur onnodige burokratiese rompslomp uit te sny. Dit kan ook dien om die amptenary van die onderwysdepartemente provinsiaal en nasionaal te verminder.
- Onderwysers moet opleiding ontvang om multikulturele klasse te kan hanteer.
- Hulle moet vir die gehalte van die onderrig wat hulle aanbied, verantwoordbaar gehou word, ongeag of hulle aan ’n vakbond behoort of nie.
- Kleiner skole moet veral op die platteland behou en gekoester word.
- Die kurrikulum moet tred hou met die vinnige pas van ontwikkeling in die beroepswêreld. Eerder as wat leerders en onderwysers hulle blind staar teen ’n matrieksertifikaat en die beste moontlike prestasies ter wille van die skool en provinsie se beeld, moet jongmense voorberei word op ’n lewe ná skool, ongeag of hulle verdere kwalifikasies gaan behaal of nie. Dit sluit in dat hulle moet leer om ’n werksetiek te ontwikkel.
- Die verhouding tussen die skoolgemeenskap, skoolpersoneel en onderwysowerhede moet bevorder word. Die skoolgemeenskap kan ’n unieke positiewe rol speel wat aspekte soos skoolveiligheid, steun aan onderwysers en befondsing van projekte soos voedingskemas aanbetref. As die owerhede hierdie mense egter soos vyande behandel, gaan dit nie gebeur nie.
Terug tekenbord toe
Die wenslysie bo beweeg steeds binne die bekende ruimte van ons huidige onderwysstelsel, maar dwing ’n snelveranderende wêreld ons nie juis om aan ons verbeelding vrye teuels te gee nie?
...
Die gewoonte bestaan ook om neerhalend na ambagte te verwys, maar in ’n wêreld wat toenemend meganiseer, gaan die handewerk van uitnemende vakmanne en kunstenaars in die toekoms al meer gesog raak.
...
Dit sal wonderlik wees as Suid-Afrikaanse onderwys kan wegbeweeg van die oorbeklemtoning van akademiese prestasie, wat nie vir alle leerders moontlik is of bevrediging gee nie, en reeds op skoolvlak meer praktiese onderrig kan bied sodat iemand na twaalf of dertien jaar op die skoolbanke direk ’n eie besigheid kan bedryf of ’n spesialisloopbaan kan begin. Daar is skole wat reeds entrepreneursgeleenthede, landbouvakke, robotika, gasvryheidstudies, ensovoorts aanbied. Enkeles bied selfs die geleentheid aan om ’n vlieglisensie te verwerf, maar oor die algemeen is dit geleenthede wat in groter sentra beskikbaar is en wat finansieel groot uitdagings skep.
Die gewoonte bestaan ook om neerhalend na ambagte te verwys, maar in ’n wêreld wat toenemend meganiseer, gaan die handewerk van uitnemende vakmanne en kunstenaars in die toekoms al meer gesog raak. Dit skep nog meer geleenthede waaraan die kind wat akademie haat, selde in skole blootgestel word en waarmee allermins vir meer akademies gefokuste studies teruggestaan hoef te word.
Sol-Tech lei reeds vir vyftien jaar gehalte-ambagslui naskools op. Die instelling spog daarmee dat studente deur die bank werk kry – sommige selfs nog voordat hulle gekwalifiseer het.
In die toekoms moet dit ook vir leerders moontlik wees om soortgelyke ervaring en opleiding op skool te kry, ongeag of hulle welvarend of behoeftig is, in stedelike gebiede of op die platteland woon.
Die Portugese dorpie Sabrosa is meer as 100 km van die naaste see geleë. Daar is ’n aangrypende standbeeld van ’n seuntjie wat met ’n bootjie op ’n waterpoel speel. Dit is opgerig ter ere van Ferdinand Magellaan, wat op 3 Februarie 1480 daar gebore is en die eerste man was wat ’n ontdekkingstog gelei het wat om die wêreld geseil het. Die monument bring hulde aan Magellaan se verbeelding wat hom in staat gestel het om as binnelander die droom na te jaag van ’n wêreldreis deur ongekarteerde waters. Dít is die soort entoesiasme en versiendheid waarmee ons ons kinders moet besiel.

Die monument bring hulde aan Magellaan se verbeelding wat hom in staat gestel het om as binnelander die droom na te jaag van ’n wêreldreis deur ongekarteerde waters. (Foto’s: Alana Bailey)
Pad vorentoe
Die uitdagings en moontlike oplossings daarvoor is nie nuwe nuus nie, want bestaande onderwysnavorsing het dit en meer aspekte reeds geïdentifiseer. Privaatskole en tuisonderrig groei juis omdat dié sake nie in die openbare skoolstelsel aangepak word nie. Die uitdaging lê daarin dat die politieke wil moet bestaan om hieraan uitvoering te gee.
Die nuwe minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, staan voor groot uitdagings. Ter wille van ons land en al die mense wat hier woon, kan ons net hoop dat sy dit met sukses sal kan aanpak.
Notas:
1. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/lae-deurvloeikoers-wys-ernstige-gebreke-in-onderwysstelsel
2. https://www.gov.za/news/media-statements/statistics-south-africa-official-unemployment-rate-third-quarter-2024-12-nov
3. Progress in International Reading Literacy Study
4. Trends in International Mathematics and Science Study
5. Teaching and Learning International Study
6. https://borgenproject.org/child-poverty-in-finland
7. https://www.unicef.org/southafrica/press-releases/23-cent-children-south-africa-live-severe-child-food-poverty
8. https://www.iol.co.za/sundayindependent/news/alarm-over-increase-in-violent-incidents-at-sa-schools-f8e9a491-038a-4789-96ff-a11d9f80f979
9. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/dit-gaan-nie-goed-met-sa-onnies-navorsing
Lees ook:
Hoe los ons die onderwyskrisis op? Faeed Amardien se oplossings
"Onderwys in syfers"-verslag: ’n onderhoud met Riaan van der Bergh


Kommentaar
Ek behartig 'n tuisonderrigsentrum in Worcester. My interaksies met talle kinders en ouers die afgelope 4 jaar het my insig laat kry in van die tekortkominge in skole, en idees oor hoe om dit prakties op te los. Hoe kan 'n "gewone" persoon soos ek, wat beskik oor die passie, ervaring en kennis om te kan bydra tot oplossings my stem gehoor kry? Ek sou graag met mense soos Alana wil gesels. Oor moedertaalonderrig byvoorbeeld - ek het 'n lys van meer as 500 Afrikaanse woorde wat die gemiddelde Afrikaanse kind nie ken of kan gebruik nie. Hoe kan ons moedertaalonderrig bepleit wanneer kinders nie eens 'n basiese werkende woordeskat in hulle moedertaal het nie? Die probleem lê dieper. Die oplossings is (gelukkig) ook makliker. Ek vra daarom of daar enige manier is waarop ek met mense wat meer toegang tot die gange van mag het as ek, kan kontak maak.
Mense ken miskien nie elke woord in hulle moedertale nie. Maar hulle ken nog minder woorde in tale wat nie hulle moedertale is nie. Ek ken byvoorbeeld nie 'n enkele woord in Koreaans nie. Daarom gaan ek nie Koreaans gebruik wanneer ek nuwe konsepte wil leer nie. Daar is berge en berge navorsing wat die waarde van moedertaal bewys uit verskillende vakrigtings. Onderwyskundiges. Sielkundiges. Suid-Afrika se onderwys is treurig, onder meer omdat mense in tale moet leer wat hulle nog vrotter ken as hulle eie tale. Die meeste lande op aarde koester hulle moedertale. Franse leer in Frans. Duitsers in Duits. Chinese in Chinees. Selfs in die res van Afrika word moedertale soos Swahili na waarde geskat.
Maar ons lotjie hier in Suid-Afrika wil tog so graag tweedeklas Engelse wees.
Wat meer is. Die feit dat 'n persoon 'n bepaalde woord nie ken nie, dui geensins op 'n onvermoë van daardie persoon om hulle moedertale te gebruik nie. Woorde verval in onbruik. Raak verouderd. Of is streeksgebonde en mag onbekend wees aan sekere sprekers. Die gemiddelde spreker van enige taal, ken en gebruik slegs nagenoeg 20 000 woorde. Die Engelse taal het vermoedelik soveel as 600 000 woorde. Dit beteken dat die gemiddelde spreker van Engels ken 580 000 woorde in hulle eie taal gladnie.
Wat is jou voorstel? Moet die Engelse nou liewer Engels afskaf in hulle skole? Hulle bloedjies ken dan so min van die Engelse taal se woorde!
Ken jy elke Afrikaanse woord in die WAT? Die laaste volumes van die WAT is nog nie eens voltooi nie.