’n Onderhoud met Nelandi Boshoff, een van Suidoosterfees se NATi Jong Sterre

  • 0

Hoek, lyn en sinker deur Nelandi Boshoff
Met: Karli Heine en Roland du Preez
Regisseur: Roland du Preez
Vrydag 18 Oktober 14:30 | Afr | Arena | 50 min | Gratis

Nelandi, Hoek, lyn en sinker is ’n kabaret wat handel oor ’n jong mens wat grootword en vrae vra oor haar geloof. Wat anders wil jy laat uitglip?

Ek sou sê dis juis ’n jong mens wat grootword sonder om ooit die nodige vrae te vra. Sy’t juis dit alles op haarself geneem en net besluit daar is iets fout met haar. En daarom gaan sit sy vas in ’n tipe van skaamte en skuld wat haar op die ou einde oorval. Maar die skaamte en skuld is meer teenoor haar ma as haar God, want die vrou het haar hele lewe toegewy aan die kind en haar boonop op die hande gedra. Sy is immers God se wonderwerk. Haar ma, saam met haar pa, het gesorg dat sy alles het wat sy ooit kon nodig hê. Tog sit die kind met ’n verskriklike minderwaardigheidskompleks en sy sukkel met nagmerries. En hoekom? Hoekom is daar ’n diep gevestigde onrustigheid binne haar? Dit is wat die gehoor saam met Marijke tydens die show gaan wil vaspen.

Hoe het jy betrokke geraak by die NATi Jong Sterre?

Ek weet nou al ’n rukkie van hierdie projek en wou nog altyd betrokke wees, maar was nog nie gereed nie. En toe sê ’n medeskrywer en vriendin vir my dat mens nooit gereed is nie en dat ek net moet inskryf met die storie wat ek reeds het, maak nie saak wat die uitkoms is nie. En toe, wraggies, was dit die beste uitkoms moontlik. Ek is daarom verskriklik dankbaar teenoor beide my vriendin en die paneel wat geloof in my storie het.

Sou jy ander dramaturge wat droom oor skryf vir die verhoog, aanraai om ook deel te wees van NATi se program? Hoekom sê jy so?

Sonder twyfel! Die proses tot dusver het al my verwagtinge oortref. Én die mense wat jy ontmoet! Jy maak vriende en konneksies vir die res van jou lewe. Maar behalwe dit alles, op die ou einde kan hierdie proses jou lewe net verryk. So wie of wat ook al jou teruggehou het tot dusver, vergeet daarvan en skryf in. Jy sal nie spyt wees nie. 

Karli Heine en Roland du Preez het nou jou teks onder hande geneem. Hoe voel dit om jou woorde te sien lewendig word?

Wel, op hierdie stadium het ek nog niks gesien nie. Maar ek is so opgewonde om selfs net te sien wat hulle twee tot dusver mee opgekom het vir die voorlesing by New Voices. Dit is altyd wonderlik om te kan waarneem hoe die blootstelling van ’n nuwe aanslag en energie tot ’n teks wonderwerke kan verrig.

Roland du Preez is ook jou regisseur. Wat het jy as skrywer by hulle geleer?

Ek en Roland was nog nie fisies in dieselfde vertrek vanaf hulle die rol van regisseur ingeneem het nie. (Op hierdie stadium is ek tog net te verlig dat hulle ja gesê het!) Ons het nog net oor die foon gekommunikeer. Maar van wat ek al gesien het en met alles wat ek al van ander mense in die industrie gehoor het, is hulle die perfekte persoon om hierdie projek aan te pak en ek sien uit om te sien wat ons as span gaan vermag ná die eerste voorlesing se feedback.

Lees ook:

Persverklaring: Gratis teater stel Suidoosterfees NATi Jong Sterre bekend

’n Onderhoud met Mikyall Harris, een van Suidoosterfees se NATi Jong Sterre

’n Onderhoud met Diano October, een van Suidoosterfees se NATi Jong Sterre

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top