’n Onderhoud met Mikyall Harris, een van Suidoosterfees se NATi Jong Sterre

  • 0

Vannie wal, af deur Mikyall Harris
Met: Angelo Bergh en Dean Smith
Regisseur: Amelda Brand

Vrydag 18 Oktober 11:15 | Afr | Arena | 50 min | Gratis

Mikyall, Vannie wal, af gaan oor twee mense wat mekaar wil liefhê, maar dan in die samelewing se vooroordele beland. Wat wil jy laat uitglip?

Wat ek wil laat uitglip, is dat hierdie storie my gedwing het om die mees kwesbare dele van myself te besoek – my eie romantiese trauma wat ek in al my verhoudings ervaar het. Maar veral het dit my uitgedaag om te ontleed wat liefde regtig is, hoe ons liefhet en wat ons bereid is om te doen wanneer ons iemand liefhet. Die skepping van Jethro en Adam was moeilik omdat baie van my eie verhaal in hulle gesit is; hul ervarings is my ervarings.

Hierdie storie het as ’n gedig begin ná ’n baie slegte break-up met een van my eerste ernstige verhoudings. Ek het geweet dat ek iets meer van daardie gedig wou maak. Dit is vir my so belangrik omdat homoseksualiteit selde op die skerm of verhoog uitgebeeld word en daarom het ek dit my missie gemaak om my waarheid te skryf. Liefde is iets pragtig wanneer dit reg gedoen word, maar dit het ook die vermoë om te vernietig as dit verkeerd gedoen word. Dit is wat ek met hierdie toneelstuk wil oordra, en as ’n gay, bruin man kon ek vanuit my eie verwysingsraamwerk en begrip van die wêreld skryf. Hierdie toneelstuk gaan nie oor gay wees nie, dit gaan oor liefde.

Hoe het jy betrokke geraak by die NATi Jong Sterre?

Ek het betrokke geraak by die NATi Jong Sterre-program deur hierdie jaar vir die tweede keer aansoek te doen. My eerste poging was in 2021, toe ek die kortlys gehaal het, maar nie verder gekies is nie. Verlede jaar kon ek nie aansoek doen nie weens akademiese en werksverpligtinge. Hierdie jaar het ek besluit om die kans te vat, aangesien Vannie wal, af al twee jaar in my gedagtes was. Lee-Ann van Rooi, die mentor van die program, het my ook gemotiveer om dit te probeer.

Toe ek die aansoeke op die Jakes Gerwel Stigting se Instagram-blad sien, het ek onmiddellik ’n eerste rowwe weergawe van die teks begin skryf. Ek het my eerste konsep voltooi en dit saam met die aansoekvorm ingedien. Toe ek die e-pos van Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting, kry waarin hy sê ek is op die kortlys, was ek oorstelp van vreugde.

Hulle het my genooi om my konsep aan ’n paneel voor te lê en ek was ongelooflik senuweeagtig. Ek het nie gedink ek sou deurkom nie. Die week daarna het ek elke dag my e-pos verfris en op ’n Vrydagaand in Mei het die e-pos gekom – ek is gekies as een van die min vir die program. Ek was oor die maan!

Sou jy ander dramaturge wat droom oor skryf vir die verhoog, aanraai om ook deel te wees van NATi se program? Hoekom sê jy so?

Ek sou sê absoluut! NATi se program is nie net oor die skryfwerk nie, maar ook oor die mense met wie jy hierdie reis deel. Die vyf ander inwoners van die Paulet Huis het meer as net kollegas geword – hulle het familie geword. Ons het mekaar op ons slegste gesien, mekaar op ons beste gevier en bande gesmee wat ek weet vir altyd sal hou. Selfs in oomblikke van spanning het ons ons verskille oorkom, omdat ons almal ’n gedeelde passie vir storievertelling het.

Hierdie program gee jou die nodige hulpbronne, befondsing en ondersteuning om jou teks van die agterkant van jou gedagtes tot op die verhoog te bring. Dit plaas jou in kontak met mense wat jy andersins nooit sou ontmoet het nie. Dit bied jou die geleentheid om te eksperimenteer, te verken en jou idee tot lewe te bring onder die leiding van ’n wonderlike mentor soos Lee-Ann van Rooi.

Die residensie by Paulet Huis is ook ongelooflik. Jy maak lewenslange vriende, deel in mekaar se stories, huil saam, lag saam en vier mekaar. Jy sien nuwe dinge en plekke en kry die geleentheid om gourmet-etes van die wonderlike sjef, Gilbert, te geniet.

Deur hierdie program kry jy blootstelling en word jy op ’n wonderlike voet geplaas om jou loopbaan as ’n opkomende kunstenaar in hierdie mededingende bedryf uit te brei.

Hierdie program bied jou die geleentheid om ’n beter mens, skrywer en kunstenaar te word en jy leer waardevolle vaardighede en denkpatrone wat jy vir die res van jou loopbaan saam met jou sal dra. Ek is oneindig dankbaar vir hierdie program en al die geleenthede wat dit bied.

Angelo Bergh en Dean Smith het nou jou teks onder hande geneem. Hoe voel dit om jou woorde te sien lewendig word?

Dit is absoluut ongelooflik om my woorde lewendig te sien word deur talentvolle akteurs soos Angelo Bergh en Dean Smith. Angelo en Dean is altwee baie gesout in wat hulle doen en hanteer die teks met so baie oorgawe en sagmoedigheid. Hulle het van die eerste repetisie af hulself heeltemal in die storie ingegooi en dit kan mens sien deur hoe goed hulle met mekaar speel en die storie lewe gee. Daar is iets magies daaraan om te sien hoe die karakters en emosies wat ek neergeskryf het, ’n fisiese vorm aanneem en deur ander mense geïnterpreteer word. Dit gee nuwe dimensies aan die storie en dit laat my besef dat die teks nou meer is as net my eie visie – dit het ’n lewe van sy eie gekry. Dit is ook ’n surrealistiese en nederige ervaring om te sien hoe iets wat ek geskryf het, mense raak en op die verhoog tot lewe kom.

Amelda Brand is jou regisseur. Wat het jy as skrywer by haar geleer?

Ek en Amelda stap nou al ’n lang pad saam met mekaar. Sy het my eerste verhoogstuk wat ek ooit geskep het, gefasiliteer toe ek nog haar student was by Universiteit Stellenbosch. Laas jaar het ek die voorreg gehad om haar as my lektor en oorsiener vir my tesis te hê. Amelda is ’n baie wyse persoon en omdat sy ’n toegepaste teaterpraktisyn en dramaterapeut is, bring sy ’n nuwe benadering in hoe sy die regie van haar werk behandel.

Een vraag wat sy altyd vra, wat by my bly in al my tekste, is: “What are you trying to tell your audience?” Hierdie vraag motiveer alle keuses wat ek maak as ’n skrywer in elkeen van my tekste. Sy het my geleer hoe om op ’n dieper vlak te skryf, hoe om die subteks te kommunikeer en te dink aan wat jy op die verhoog het en hoekom jy dit daar het. Sy het my geleer om my werk op ’n nuwe manier te benader, veral hoe om my teks meer ruimte te gee vir interpretasie en improvisasie.

Sy het my laat besef dat teater nie net oor die woorde op papier gaan nie, maar oor die emosies en energie wat dit op die verhoog kan skep. Haar insigte oor karakterontwikkeling en haar vermoë om diep in die tema van ’n teks te delf, het my denke as skrywer verbreed. Sy het my ook gewys hoe belangrik samewerking is – dat ’n teks altyd kan groei en verbeter deur die regisseur en akteurs se bydraes. Haar kreatiewe leiding het my gehelp om my storie op ’n meer visuele en emosionele manier te benader. Amelda Brand is ’n unsung hero in hierdie industrie en ek sal altyd vasklou aan haar wyshede en manier van hoe sy dinge doen.

Lees ook:

Persverklaring: Gratis teater stel Suidoosterfees NATi Jong Sterre bekend

’n Onderhoud met Diano October, een van Suidoosterfees se NATi Jong Sterre

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top