’n Onderhoud met Jerzy Koch oor Pole, Rusland en Oekraïne

  • 6

Jerzy Koch. Die foto is twee jaar gelede geneem, digby die Pools-Oekraïnse grens, omtrent 30 km van die plek waar die eerste Russiese bomme onlangs geval het in Jaworów.

...
Ek noem dit om te wys dat baie Poolse mense soos my voorsate direkte ervaring met Rusland, die Russiese kultuur en taal gehad het, want hulle was vir enkele generasies die tsaar se onderdane. En tog was hulle altyd burgers van die tweede kategorie wat gewoon het in die sogenaamde Aan-die-Vistula-Rivierland (Priwislinskij kraj), soos die Russe die geannekseerde Poolse gebiede pejoratief genoem het.
...

Jerzy, die missiele val tans baie na aan die Poolse grens. Is dit moontlik ’n manier om Pole te probeer bang maak? Die Poolse regering steun natuurlik Oekraïne se onafhanklikheid.

Dit spreek vanself dat dit Poetin se poging is om mense ook buite Oekraïne skrik te maak; hy toets ook Navo se reaksie. Ek dink dat elke regering wat self ’n onafhanklike staat wil regeer of dit nastreef, Oekraïne se onafhanklikheid móét steun. Dis óf “ja” óf “nee”. Daar is geen tussenoplossings moontlik nie, des te meer omdat die voorwendsel waarmee die Russe Oekraïne aangeval het, naamlik dat die Oekraïners die Russiessprekende bevolking uitmoor,  gewoon nie waar is nie. Ook dat Oekraïne deur dwelmverslaafdes en fasciste geregeer word, het die Russiese regering as redes vir die oorlog gegee. Albei is uit die duim gesuig en so absurd dat die vermoede ontstaan dat Poetin die internasionale opinie vir die gek wil hou. Zelenski is self Russiessprekend (maar praat vanaf die begin van die oorlog net Oekraïens) en van Joodse afkoms. Poetin gebruik ook ’n ander rede, soortgelyk aan wat Hitler in 1938 in Tsjeggo-Slowakye gedoen het: “Ons moet ons eie mense verdedig” en “Ons laat ons eie mense nie in die steek nie.” Toe het dit oor die Duitsers in Sudetenland (’n deel van Tsjeggo-Slowakye), gegaan en dit was ook nie waar nie. Dit moes eintlik vir almal duidelik geword het dat Poetin na die anneksasie van Krim in 2014 vir die gewelddadige oplossings sal kies.

Geen wonder, dus, dat baie mense, veral op sosiale media, die samestelling “Putler” (Put[in] + [Hit]ler) gebruik nie. Dis die kompakte manier om uitdrukking te gee aan hoe die president van Rusland hom gedra wanneer hy voorwendsels gebruik, die reëlregte oorlog ’n “spesiale aksie” noem en skynbaar opdragte gee om hospitale, woonbuurte, biblioteke, teaters en die mense wat daar bly, aan te val, te vernietig en dood te maak. Dat die woord “oorlog” met betrekking tot Oekraïne nou by die Russiese wet verbied is, is ’n bewys dat daar wel oorlog gaande is. Selfs as jy op die Rooiplein met ’n skoon blad papier bly staan, word jy binne enkele sekondes gearresteer en weggevoer. Hoekom is die president en sy trawante so angstig as hulle nie verkeerd is nie? Hy is al ’n oorlogsmisdadiger genoem. Baie ander mense in die wêreldgeskiedenis vóór Poetin het gedink hulle kan alles doen, vernietig en moor omdat daar geen geregtigheid is nie – dink maar aan ’n klomp Serwiese of Kroatiese oorlogsmisdadigers – die meule van geregtigheid maal stadig, maar vroeër of later word die daders gevang.

In Suid-Afrika loop talle regse mense skielik agter Poetin se leuens aan en probeer dit die hele tyd versprei. Gelukkig is hulle die uitgesproke minderheid. Hoe voel die gemiddelde Pool oor Poetin se aggressie?

Die afgelope weke sedert my terugkeer uit Suid-Afrika kyk ek minder na die Suid-Afrikaanse nuus en veel meer na die Oekraïense. Ek weet dus nie of dit (slegs?) regse mense is nie; vir my was veral die afwagtende houding van die regering in Pretoria verstommend. Wat die reaksies betref van gewone mense wat geen toegang tot die inligtingsdiens se informasie soos die regeerders het nie, moet ons konstateer dat daar altyd mense sal wees wat wêreldgebeure nie verstaan nie en geen onderlinge verband sien nie. Ons behoort dit eintlik op skool te leer, maar daar bly altyd diegene wat nie geluister het nie, of bloot geen vermoë het om oorsake met gevolge te verbind nie. Dat daar ook in Suid-Afrika – met ’n geskiedenis van onreg en geweld en wat uiteindelik gesprekke as oplossing van historiese probleme gekies het – mense is wat dink een groep mense kan ’n ander uitwis, is ongelooflik. Ek praat nie van trolle op die internet nie, maar van mense wat glo die ander kan nie aanspraak maak op hulle eie vryheid nie, maar gun dit wel vir ander groepe êrens in die wêreld teenoor mense soos hulleself.

Daar sal natuurlik altyd bruikbare idiote wees wat hulle laat misbruik. Ek wonder net hoeveel van daardie mense wat die Russiese regering se optrede goedkeur, sal hul eie seuns soontoe stuur om aan die “spesiale aksie” deel te neem? Ongelukkig was die bruikbare idiote altyd en sal altyd wees. Ek moes vir baie jare, veral in die Weste, reeds toe ek as student soontoe begin reis het, en ook later as ondersoeker, vir my Nederlandse, Duitse of Engelse gespreksgenote verduidelik dat ons wantroue en agterdog wat Rusland betref, nie die gevolg is van die vermeende Russofobie nie. Dis die resultaat van die eeue lange ervarings wat in die denke van baie inwoners van Midde-Europa geïnternaliseer is: Jy kan die Russiese staat nooit vertrou nie.

Tsaristiese Rusland het altyd in die Poolse politiek ingemeng en aan die einde van die 18de eeu in drie stappe van 1772, 1793 en 1795 saam met Pruise en Oostenryk Pole geannekseer en die land se grond onder mekaar verdeel sodat die staat Pole vir 123 jaar nie bestaan het nie. In Suid-Afrika was daar ’n interessante eggo daarvan toe J.H. Hofmeyr in Is ’t ons Ernst? Onze eigen fouten en gebreken in verband met onze Taalgrieven (1905) geskryf het: “Het gros der POLEN is ook meer dan honderd jaar onder Pruissische en Russische heerschappij en niettegenstaande de meest desparate pogingen van de eene mogendheid om het volk te ver-Duitschen en van de andere om het volk te ver-Russischen, breidt de invloed van het Poolsch zich dagelijks uit en erlangt de Poolsche letterkunde allengs eene Europeesche vermaardheid in plaats van uit te sterven. (Toejuiching).” Preller wat met hom gepolemiseer het, het ook na Pole verwys is sy Laat ’t ons toch Ernst Wezen! Waar ons lees: “De Poolse volkstaal wortelt in de Poolse nasie, en meer dan een eeuw van vervolging en ‘uitroeiing’ door de overheersers, is nog niet in staat geweest die taal ten onder te brengen – integendeel, een paar weken geleden maar werd wereldkundig gemaakt dat die ‘uitroeiing’ gestaakt en de taal der Polen voortaan door Rusland ge-erbiedigd zou worden.” Miskien moet ek bysê dat die polemiek in 1905 plaasgevind het toe in Rusland en die geannekseerde Poolse gebiede die revolusie 1905-1907 reeds gaande was. Dit wil voorkom die Afrikaner se intellektuele het toe baie van die verre wêreld geweet.

Die gevolge van die Eerste Wêreldoorlog (die opbreek van die Oostenryks-Hongaarse monargie, die verswakking van Duitsland en die revolusie van 1917 in Rusland) het dit moontlik gemaak dat die land weer in 1918 herrys het. Direk daarna het die nuut opgerigte Sowjetunie, waar die revolusie en die teenrevolusie nog gewoed het, oorlog met Pole begin voer. Tussen Februarie 1919 en Maart 1921 het die nuwe revolusionêre regering in Rusland probeer om die herrese Poolse staat te ontwrig en die grond in te palm en die vlam van revolusie oor die lyk van Pole na die Weste te bring, soos die bolsjewistiese propaganda dit genoem het. Aangeneem hulle het werklik vir die vryheid van arbeiders en boere geveg, hoekom het hulle die reg van vryheid aan ander nasies ontsê, is daar geen parallelle met die Oekraïne vandag?

In skooluniform, my oupa Michał van moeder se kant wat op ’n Russiese skool was voor 1914 en gedurende die Eerste Wêreldoorlog selfs in Moskou. Hy het vlot Russies gepraat, soos trouens ook my ouma, sy vrou. Hier is hy op ’n foto, vermoedelik vóór April 1918 geneem, toe hy in Moskou studeer het. Sy skool in Słuck (Slutsk) is na Moskou ontruim voor die Duitsers Słuck begin 1918 beset het.

My oupa aan my ma se kant het aan die begin van die 20ste eeu in die omgewing van Słuck (Slutsk), suid van Minsk en tans in Wit-Rusland, gewoon. In die Eerste Wêreldoorlog, toe die Duitse front nader aan daardie stad gekom het, het die Russiese owerheid die skool na Moskou verskuif en my oupa het dus sy skoolopleiding in die hoofstad van die magtige ryk ontvang. Later in 1920’s het hy met my ouma getrou wat haar jeug deurgebring agter die Oeralgebergte in Siberië waar haar ouer broer oa met hout handel gedryf het. Ek noem dit om te wys dat baie Poolse mense soos my voorsate direkte ervaring met Rusland, die Russiese kultuur en taal gehad het, want hulle was vir enkele generasies die tsaar se onderdane. En tog was hulle altyd burgers van die tweede kategorie wat gewoon het in die sogenaamde Aan-die-Vistula-Rivierland (Priwislinskij kraj), soos die Russe die geannekseerde Poolse gebiede pejoratief genoem het. Jy het jou kanse op sukses vergroot as jy verder na die Russiese binneland gegaan het, soos my ouma se ouer broer, want daar was die samelewing baie multikultureel en oop en as Pool kon jy daar ver van die politieke sentrum ook ’n goeie bestaan maak.

Ek het ’n gedig hieroor geskryf:

truitjie
(ballade)

die sprekende herinnering oorval en vang my
soos ’n net uit rooi woldrade, die droombeeld
is sag en dig gebrei tot ’n warm weefsel

lank gelede het ek eens ’n truitjie gehad
wat my ouma gebrei het, kersierooi en mooi
was die trui en op die kind van vier se maat

voor die kleur sou verskiet, het die trui skril
gekontrasteer met ander kinders se klere
op die speelgrond en teen die blou hemel

die rooi was deurdringend soos suurstofryke
bloed uit die slagaar en uit die verhaal
oor die ou tonele van vergieting van bloed

my ouma het my oor die groot oorlog vertel toe
ek in die oggende wakker word en hardloop om
by haar in die bed te klim en innig te omhels

my koue voete teen haar gladde geswolle
kuite en ek speel met haar grys haarstring
en spits my ore vir die gevlegte verhaal

die grootouers het haar na władek gestuur
die ouer broer wat houthandel gedryf het
in die verre siberië anderkant die oeral

daar het sy na ’n russiese skool gegaan
die lewe was goed, mense vriendelik
en almal nog die tsar se onderdane

die plek was vol bannelinge en fortuinsoekers,
van poolse delinge en mislukte opstande
het zofia met haar broer glo nie veel gepraat nie

op god se onbewerkte plaas het władek
geboer, bome laat kap en op riviere vervoer
in die onmeetlike bosse om roebels te verdien

in siberië het my ouma boeke in cyrilliese skrif
leer lees en my later met my skooltake geduldig
gehelp, my spelling verbeter, my uitspraak verfyn

toe die groot oorlog uitbreek, kantel die wêreld
toe die revolusie als opnuut omverwerp, woed in
daardie siberië van haar nog die spaanse griep

my ouma het my dikwels na haar vriendin gevat
wat in dieselfde straat in donker kamers
alleen gewoon het met baie onbekende boeke

jadzia was in petersburg op ’n meisieskool,
toe die revolusie begin, ontdek sy hoe dit sal
eindig en sy vertel dit vir my dan elke keer weer

hulle het die seekadette soos eende geskiet toe
hulle in hul vlootblou uniforme uit die vensters
gespring het, het sy gesê en herhaal: soos eende

die vroue het gepraat oor die oorloë en revolusies
ek het geluister en saam met hulle vlug ek uit
rusland na die nuwe pole baie jare voor my geboorte

my ma se ou trui was rooi nie vlootblou nie
en gepluis, gerafel en sy kon dit nie meer
dra nie want dit was op die elmboë verslete

wat van goeie drade oor was, kon slegs vir die kind
se truitjie gebruik word en my ouma het dit
oorgebrei want die lewe het haar knaphandig gemaak

die truitjie se knopies was donkerrooi, byna bruin
soos skurfte op my knie toe ek weer geval en
huis toe gestruikel het met die oopgekrapte wond

die voorkant was vinnig verflenter, handsakkies
uitgerek, by die kraag liggies geslyt in sy geheel
uitgewas maar die rooi kleur was nog opvallend

die beeld van die trui keer terug en breek
skielik my slaap oop, my nugter gedagte
steek uit die droom uit soos trompe-l’oeil

Jy het jou jongmensjare in Pole geleef voor die val van kommunisme. Hoe was dit om Rusland se houvas op jou alledaagse lewe te ervaar?

Op voetsoolvlak het ’n mens eintlik nie baie daarvan beleef nie, as jy nie bereid was om goed te kyk of nie wou sien nie. Jy is gebore in sekere maatskaplike omstandighede en jy weet nie van beter nie. Kom ons vergelyk dit met apartheid. Ek ken verhale van André P Brink of van my vriende dat hulle die onreg in hulle eie land goed begin verstaan het toe hulle in Parys of in Amsterdam gekom het en swart mense ontmoet het wat meer van die filosofie of kuns geweet het as hulle. Dit was dieselfde met ons, dws met die jonger geslag wat ná die Tweede Wêreldoorlog gebore is: ons het ook nie van beter of ander geweet nie. Gelukkig was daar ouer generasies se ervarings en verhale. Ons geskiedenisboeke op skool het oor ’n klomp onderwerpe gelieg, maar baie van ons tieners het van die huis af geweet wat die waarheid is. Op belangrike deurbraakmomente het my ouers, wat wou weet wat in hulle eie land aangaan, na die Poolse sender uit München geluister waar Radio Free Europe, wat deur die Amerikaanse kongres gefinansier is, uitgesaai het. Daar was ook die Poolse deel van die BBC se uitsaaiwese. In Pole self was daar in die openbare sfeer die sogenaamde dubbelspraak: Jy het die propagandaplakkate gelees, maar dit nie geglo nie; jy het na die TV of die amptelike inligting of uitlatings van hooggeplaastes geluister, maar jy het geweet dat die werklikheid altyd ’n bietjie anders of selfs heeltemal anders was. As burger het jy min of meer soos skrywers of kunstenaars gewerk: Waar dit moes, het jy selfsensuur toegepas of jou mond gehou en waar moontlik het jy die boodskap tussen die reëls geplaas.

Daar was verskille tussen die lande van die sogenaamde volksdemokrasie (albei dele van die woord eintlik tussen aanhalingstekens, want dit was geen egte demokrasie nie en die volk het ook geen stem gehad nie). My pa was ’n professor aan die tegniese universiteit, maar hy was nooit lid van die kommunistiese Poolse Verenigde Arbeidersparty (PZPR) nie. So iets was in die DDR of in Tsjeggo-Slowakye onmoontlik, want mense in senior poste, soos professore en skoolhoofde, moes lede van die kommunistiese party wees of hulle is nie in daardie poste aangestel of bevorder nie. In Pole was dit anders. Terwyl private grondbesit in die Sowjetunie, die DDR of Hongarye onmoontlik was en in die landbou slegs kolkhosse (plase in gemeenskaplike besit) of sovkhosse (plase in staatsbesit) bestaan het, het my oom sy eie plaas gehad waar ek gereeld my vakansie deurgebring het. Enkele gedigte in my bundel Pleks van plaas (Naledi 2020) gaan juis daaroor.

Die stelsel wat die Russe ná 1945 ingevoer het, het diep in die mense se koppe gewerk en in verskeie lande die sogenaamde homo sovieticus geskep. Daar is natuurlik groot verskille tussen die 1950’s, met die regstreekse Stalinistiese terreur, die 1960’s, met die “klein stabilisasie” in die ekonomie, en die 1970’s, wat ek goed onthou omdat ek toe ’n tiener was. Dit was toe ons vryer was om byvoorbeeld na die Weste te reis en ook die intensiewe groei begin het, maar ongelukkig het die koste van buitelandse krediete opgeloop. Die land moes dit later begin afbetaal en dit het die ekonomiese ellende net groter gemaak. Die kommunisme is ’n sisteem van materiële herverdeling wat nie op demokratiese beginsels berus nie. In ’n demokratiese bestel word besluite geneem oor hoe rykes belas moet word en watter armes ondersteun moet word sodat die verdeling van middele plaasvind en nie die verdeling van tekortkomings en armoede soos dit in die kommunisme die geval was nie. Die foute in die stelsel het in Pole teweeggebring dat daar op die lange duur gebrek aan alles was, soos in die 1980’s. Daar was geen vleis, botter of suiker nie, en selfs basiese produkte moes met voedselkoepons verkry word, soos in die oorlogsjare. Nadat die kommunistiese regering die Solidariteit-beweging (Augustus 1981 tot Desember 1982) onwettig verklaar het, was dit al hoe erger. Toe moes hulle in 1989 met die opposisie begin praat. En toe het alles baie vinnig gegaan, ook in die omliggende lande.

Wat is jou vroegste herinnering aan Rusland?

Ek dink dis die taal. My ouma het na plate met Russiese liedjies geluister en die taal was sagter as Pools, wat ook ’n Slawiese taal is, maar tot die groep Wes-Slawiese tale behoort en nie soos Russies of Oekraïens wat deel is van die Oos-Slawiese groep. Dit het vir my mooi geklink. My ouma het my ook gehelp met my uitspraak en skooltake toe ek vanaf standerd vyf Russies moes leer as eerste addisionele taal. Ja, ook dit is soos in die 19de eeu op ons afgedwing ─ geen Duits, Engels of Frans nie, maar Russies as eerste addisionele taal op skool. As tieners en studente het ons baie gehou van Russiese sangers en liedjies van byvoorbeeld Bulat Okudzhava of Wladimir Wisotski (beter bekend onder sy naam soos dit in Engels geskryf word: Vladimir Vysotsky). Hulle was uiters gewild, maar hulle lirieke was óf vol verbloemde kritiek teen die totalitêre bestel, óf suiwer poëties, en dit het tot ons gespreek. Jy was in ’n soort wydsbeenposisie met aan die een kant ’n kommunistiese bestel wat ons met Rusland/Sowjetunie geassosieer het waarin mense tot ’n ander soort slaaf gemaak word, en aan die ander kant die Russiese kultuur of individuele Russe soos daardie kunstenaars.

Rusland het, ná die VSSR uitmekaar geval het, skynbaar in ’n meer verligte staat ontwikkel. Dit het natuurlik alles weer omgeswaai toe Poetin president geword het. Ken jy Russe wat die beter tye in Rusland beleef het?

Eintlik ken ek daar net ’n klomp navorsers of akademici, en dié groepe is nie verteenwoordigend van die samelewing nie. Daarbenewens dink ek dat sekere gedragsnorme en denkwyses as’t ware in die kultuur ingeprent is ─ die eeue se ervarings praat deur ons; dis in die taal, dis in die kultuur of politiek; dit hang in die lug. Poolse mense, behalwe dié wat nasionaal-megalomaan is, neem gewoonlik ’n verdedigende of defensiewe houding in. Talle Nederlanders kry ’n sekere meerderwaardigheidsgevoel saam met hulle moedersmelk, en daarteenoor leef die heelwat Russe die imperiale gedagte uit. Ek dink baie mense in Suid-Afrika maak ’n growwe fout om imperialisme tot Westerse kolonialisme te beperk. Ons is oor die algemeen geneig om imperialisme eerder aan die Engelse toe te skryf, maar Russiese politiek was ook altyd imperialisties. Die verskil is dat Westerse lande soos Portugal, Spanje, Nederland, Engeland en Frankryk hulle ryke oorsee gebou het. Daarteenoor het Rusland altyd naburige lande aangeval, ingelyf of in ’n soort invloedsfeer in bedwang gehou ─ dink maar aan Pole, die Baltiese lande, Finland, Georgië, Moldowa, Wit-Rusland of Oekraïne nou. Daar is een rooi lyn in die tsaristiese, Sowjet- en nou Russiese politiek: Hulle wil geen buurlande hê wat onafhanklik is en hulle eie politiek bedryf nie. Hulle wil ’n buffersone skep. As jy in die WAT kyk na die woord buffer, wat kry jy daar as voorbeeld? “Pole moes dien as buffer tussen Duitsland en Rusland.” Maar dink ook aan die apartheidsregime – die aangrensende lande moes ook ’n soort buffersone in Afrika skep sodat die “rooi gevaar” van buite nie met die “swart gevaar” van binne saamsmelt nie. Poetin het Rusland weer op die imperiale spoor gesit soos die kommuniste wat in 1968 in Praag eie ontwikkeling nie toegelaat het nie, of vroeër nog in 1956 in Boedapest, of soos die tsaristiese Rusland alle Poolse opstande in 1830–1831 en 1863–1864, of gewapende stryd teen die Delinge van Pole in 1794, bloedig gesmoor het. Ons beleef tans weer die poging om pax russica of die Groot Russiese Gedagte in ander lande in te stel en op mense van ander nasionaliteite af te dwing. Dis die moderne en brutale imperialisme wat binnelands altyd aanhangers vind en buitelands bruikbare idiote.

In Suid-Afrika praat ons gereeld oor die moeilike konsep van erfenis. Wat beteken jou Poolse erfenis vir jou, en hoe het dit moontlik verander toe Pole se verhouding met Rusland verander het?

Ons geskiedskrywing, soos dié van ander lande en nasies, het ontstaan met ’n sekere doel, naamlik veral om die samehorigheidsgevoel te versterk, om die verskille plat te stryk en om een blik op die verlede te vestig. Maar die Poolse erfenis is ryker en meer divers as wat die meeste van ons wil aanvaar. Eeue gelede was dit Rzeczpospolita, rzecz–pospolita, letterlik “ding-gemeen”, ’n soort gemenebes; dit was die letterlike vertaling van res-publica. (Die oudste gedateerde gebruik van die term Rzeczpospolita kom uit 1358; jy spreek dit uit as [ʒɛʧ̑pɔˈspɔlʲita].) Hierdie koninkryk het vanaf 1454 tot die derde en laaste verdeling van Pole in 1795 bestaan, maar ná 1569 het die struktuur verander en die naam was die Pools-Litause Gemenebes of amptelik die Gemenebes van die Poolse Kroon en die Grootvorstedom Litaue. Daar was ’n koning wat die adellikes self gekies het (daardie konings was oa uit die Poolse, Litause, Saksiese, Franse, Sweedse of Hongarse dinastieë) en vorme van demokrasie wat tot hulle groep beperk was, ongeveer 1,5% van die bevolking. Maar die algehele bevolking het naas Pole ook bestaan uit Litauers, Wit-Russe, Oekraïners (of Roetene soos hulle in die ou dae genoem is); daar was Jode en Duitsers, Armene en Tatare, soos die voorsate van die bekende Amerikaanse akteur Charles Bronson – laasgenoemde groep was Moslems en die mees troue onderdane van Poolse konings. Hulle nasate woon steeds in die ooste van die huidige Pole en daar is die ou moskees wat monumente is, maar steeds vir gelowiges diens doen. Ons het in Pole ou geskrifte wat in Arabies geskryf is, maar in ’n idioom wat ’n samestelling van Pools en Roeteens is. Ek noem hierdie besondere verskynsel in my boek A history of South African literature: Afrikaans literature. Part one: From the 17th to the 19th century (Van Schaik 2015) in die hoofstuk oor Arabies-Afrikaanse geskrifte. Rzeczpospolita was dus altyd meer as Pole. Ek kan ook verwys na die beeld van die 18de-eeuse koninkryk wat die Nobelpryswenner Olga Tokarczuk in haar roman Jakobsboeke skets.

Die vraag is dus wat eintlik jou erfenis is, en of dit in ’n land wat histories gesproke altyd multikultureel was, eendimensioneel kan wees. Neem my as voorbeeld. Oor die familie aan my ma se kant het ek al iets vertel. My ma se voorouers het ’n adellike patent gehad wat hul herkoms bevestig het, maar hulle was glad nie ryk nie (ek hoop net hulle het hul adellik gedra). My grootouers is in die laaste jare van die 19de eeu gebore as Russiese onderdane en het direkte ervaring met daardie kultuur gehad, en hoewel hul huistaal Pools was, het hulle Russies op skool geleer en dit uitstekend gepraat. Dit het my oupa nie daarvan weerhou om in die Pools-Sowjet-oorlog (1919–1921) teen die Russe te veg nie (hy was ’n rapportryer in die vierde eskader van die Poolse lugmag, en ek het nog ’n foto van hom met sy magtige motorfiets waarop hy tussen die afdelingsbevelvoerder en sy eskader vliegtuie ry). In die Tweede Wêreldoorlog is hy in Warskou deur die Duitsers  na die konsentrasiekamp Gross-Rosen geneem. Hy is vroeg in 1950 oorlede, want hy was swak en siek.

Oupa Michał met sy motorfiets in die Pools-Sowjet-oorlog as rapportryer vir die lugmag.

Aan die ander kant is daar die familie van my pa. Hulle het in Galisië gewoon, die suidoostelike deel van die ou Pole wat deur Oostenryk beset is. Hulle kom van die Duitse koloniste af wat uit Rynland-Palts in die jare 1783–1784 na die ooste getrek het en hulle in die dunbevolkte gebiede van die Oostenrykse monargie gevestig het. Die keiserin Marie-Therese en haar seun Joseph II was vurige voorstanders van hierdie “josephinische kolonisation”, ’n soort modernisering van hulle uitgestrekte Habsburgse monargie. Hierdie voorsate van my was dus onderdane van die Oostenrykse keisers; hulle het stadigaan begin verpools in daardie mengelmoesomgewing van Pole, Duitsers, Oekraïners, Wit-Russe en Jode. Ek hoor my oorgrootjie het nog ’n Duitse gebedeboek gehad en my ouma kon nog die Swabiese Duitse dialek praat. In daardie tyd het baie mense in my familie Oekraïens geken omdat die platteland in daardie gebied (waar die Russiese missiele waaroor julle gevra het, nou geval het) oorwegend deur Oekraïners bewoon was. Een tante het vloeiend Oekraïens gepraat en haar Oekraïnse buurvrou Pools, maar in hulle gesprek het elkeen haar eie taal gepraat en hul het uitstekend gekommunikeer. Dit klink soos ’n beeld uit die sepie 7de Laan, nie waar nie? My oupa het in die Eerste Wêreldoorlog in die Oostenrykse leër gedien. Hy was ’n hoefsmid soos sy voorvaders en het vir die perde van die kavallerie gesorg. Een van sy broers, die enigste in die gesin wat met groot geldelike moeite opgelei is en selfs matriek deurgekom het, is in 1916 in die Oostenrykse uniform op die slagveld dood.

My oupa Karol in die Oostenrykse leër, vlak voor die Eerste Wêreldoorlog. Hy was drie jaar in diens, toe breek die oorlog uit. Hy moes nog vir vier jaar diens doen en kon eers in 1919 met my ouma trou.

Dit is dus ook ’n deel van my erfenis en daarmee moet jy in die reine kom.

My grootouers se families op vlug voor die Russe, die foto is geneem op 7 Julie 1920 gedurende die Pools-Sowjet-oorlog.

Jou eggenoot is ’n besonderse mens. Sy het soveel van die tale in julle geografiese streek bemeester. Hoe raak die oorlog haar en haar werk?

Magda(lena) het nou ’n sabbatsjaar wat sy deels saam met my in Suid-Afrika deurgebring het, en nou werk sy tuis in Pole. Haar gebied is veral die literatuur uit Serwië, Kroasië, Bosnië en Montenegro. Soos julle sien, hou ons twee van lande met ’n uitdagende geskiedenis en hede! Sy het naas Serwo-Kroaties, soos die taal vroeër geheet het, ook Russies studeer. Haar MA-skripsie het oor Tsjechof gegaan, haar PhD oor die Serwiese skrywer Isidora Sekulić, en nou doen sy navorsing oor die Suid-Slawiese feministiese essay en keer terug na ’n ou liefde van haar met navorsing oor die toneelbedryf. Sy gebruik haar kennis van Russies nou om mense uit Oekraïne te help, want daar is baie Russiessprekende Oekraïners wat geen Groot Russiese Gedagte huldig nie, maar vir wie Oekraïne die vader- en moederland is. Ons het op 12 Maart agt oorlogsvlugtelinge uit Oekraïne ontvang: vyf volwassenes en drie kinders. Hulle is gehuisves in ons ou woning (wat die ouer seun verhuur het om sy lening af te betaal en waar daar toevallig sedert die vorige maand geen huurders was nie). Hulle is tweetalig Oekraïens-Russies; een praat ook Engels, die ander Frans, opgeleide mense – twee aptekers, een hidrogeoloog en een dermatoloog. Tans word die aantal oorlogsvlugtelinge in Pole op meer as twee miljoen geskat, maar dit groei elke dag en die meeste wil digby hul land bly. Ander lande is ook nie gretig om hulle te ontvang nie. Soos ek op die radio gehoor het, is Frankryk bereid om 40 000 mense in te neem ... Nou ja ... Deesdae is daar orals op strate en in winkels Oekraïense taal wat jy hoor.

Rusland en Poetin is gelukkig nie dieselfde nie, maar talle Russe gaan nou weer swaar tye in die gesig staar weens Poetin se oorlog. Het jy ’n idee hoe gewone mense met hul lewens sal voortgaan, noudat Rusland finansieel van die wêreld afgesny is?

Dat die Russe Poetin gekies het en dat hy steeds steun geniet, staan vas. Die skattings beloop 70% se steun vir Poetin. Ons hoop daardie steun gaan vinnig afneem. Maar wie weet? Ek dink die maatreëls soos deur die EU, VSA en baie ander lande toegepas, is ook bedoel om daardie steunbasis te laat krimp. Dat die Russe nie weet wat in Oekraïne werklik aangaan nie, soos partykeer beweer word, glo ek nie. Uit die buitelandse bronne het almal geweet dat McDonald’s of Ikea of ander onderneminge sluit en hulle het na die winkels gestroom en die rakke leeg gekoop. Trouens, ons ken dit uit die geskiedenis van Duitsland of Suid-Afrika dat mense hulle oë sluit as hulle niks wil sien nie, maar as hulle wil, bly hulle ingelig oor die toedrag van sake. Dis beslis vandag die geval, met al die media en sirkulering van inligting. Jy en jou land kan nie deel wees van die internasionale gemeenskap as jy op so ’n brutale wyse die regte van ander mense skend nie. Ek sien met verstomming hoe talle Russe op sosiale media die Z-teken met hul vlae of eie lywe maak en uitstal om steun te betuig aan Poetin en Rusland se oorlog. Dit laat my dink aan die oorlogsentoesiasme voor 1914. Ek kan glo en verstaan dat baie Russiese mense angstig is om hulle afkeur van die oorlog en die regering se optrede te toon want die wette wat nou uitgevaardig is, is werklik drakonies.

Rusland en die land se inwoners het enkele karaktertrekke waarvan ander mense nie altyd bewus is nie. Rusland is hiërargies: Jy moet jou as mens onderwerp en luister. Die idee van ’n burgerlike samelewing het daar nooit posgevat nie. Selfs mense wat in die Weste studeer het of ander lande ken, gedra hulle op daardie manier. ’n Deel van die hiërargiese struktuur is die Oosters-Ortodokse Kerk, wat ’n bondgenoot van die owerheid is en nooit onafhanklik was nie. Die gevolg is dat die mag in Rusland, omtrent soos in die Europese Middeleeue, altyd feitlik heilig is. Maar die revolusie soos in Frankryk, die verandering van die absolutistiese monargie na die konstitusionele soos in Engeland, en die industriële ontwikkeling, het die lewe in Wes-Europa gedemokratiseer. In Rusland was die tsaar, en later Lenin of Stalin, asook die eerste sekretarisse van die kommunistiese party onaantasbaar en soos heiliges of halfgode.

Die ander aspek is ’n sekere mistiek – die aantal sieners, voorspellers of waarsêers is in Rusland enorm en moeilik om te vergelyk met wat in ander lande op hierdie gebied aangaan. Dis natuurlik ’n paradoks as ’n mens die baie jare toe die materialisme en marxistiese dialektiek by die mense ingeprent is, in aanmerking neem. Daar is in Russe iets fatalisties en geheimsinnigs wat hulle dwing om hulle te beroep op die onbegrypbare en die mistiese. Ons sien ook baie duidelik die sindroom van die beleërde vesting wat hulle hulself laat afsonder: Daar is Russe én die res van die wêreld wat sleg is en ’n bedreiging vorm. Die Russe is ook altyd onskuldig – in hul eie oë kan hulle slagoffers wees, maar nooit die boelie nie. In die 16de eeu het die biskop Filoteus, biskop uit Pskof, verklaar dat Moskou “die derde Rome” is. Hierdie teologiese en politieke konsep was later die basis van die imperiale strewe van die prinsdom van Moskou en later die Russiese Ryk. Na die val van Rome (476) en Konstantinopel (1453) sou Moskou groei tot die sentrum van die wêreld, die derde Rome. Dis vanselfsprekend dat daar nooit plek was vir ’n vierde een nie. Hierdie imperiale denke, die partykeer onbewuste grootheidswaan, gemeng met komplekse teenoor die Weste se kultuur en tegniese vooruitgang, het vir die Russiese psige en politiek fatale gevolge.

Rusland is ’n pragtige land, maar is deur ’n reeks vreemde leiers getref. Uit Rusland het van die mooiste kuns, musiek en literatuur gekom. Kan jy Russies lees en verstaan? Op ’n soortgelyke noot: Kan jy die Oekraïense taal lees?

Ek sukkel, omdat my Russies verroes is en die Oekraïnse Cyrilliese skrif ’n klomp ander karakters het as Russies of Serwies. Maar as ek konsentreer, kan ek dit verstaan. En daar is altyd Google Translate wat kan help. Dis nie sonder foute of verdraaiings nie, maar jou eie kennis en hierdie soort middele help. Daar is trouens in Oekraïens en Pools baie woorde wat ooreenstem, baie meer as tussen Russies en Pools. Maar jy moet daaraan gewoond raak. Die afgelope week het ons na die oorspronklike fliek Слуга народу (Servant of the People) met Zelensky begin kyk wat 2015–2019 drie seisoene beleef het en waar hy die “toevallige” president speel wat in sy amp begin groei. Presies wat nou in werklikheid gebeur. Ek verstaan ook die taal steeds beter.

Kan jy dalk enige Oekraïense literatuur aanbeveel?

Oksana Zaboeshko (geb 1960) is baie gewild in Pole. Kort voor die uitbreek van die oorlog is haar essaybundel in Pole gepubliseer en sy het gekom om die boek bekend te stel. Van haar ander boeke is ook vertaal. Sy praat, soos baie Oekraïense of Wit-Russiese intellektuele, vlot Pools. ’n Ander skrywer wat al dikwels bekroon is, is Jurie Andrukhovych (geb 1960). Hy praat uitstekend Pools en Duits. Trouens, die Nobelpryswenner Josip Brodtsky het ook vlot Pools gepraat, want in die Sowjet-tye was Poolse kultuur vir baie burgers van die Sowjetunie die venster na die wêreld. Die ander Oekraïner wat ’n mens kan aanbeveel, is Serhij Zhadan (geb 1974). Die Poolse Akademie vir Wetenskap het hom pas voorgestel vir die Nobelprys vir letterkunde. Uit die jonger geslag kom Kateryna Babkina (geb 1985), ook ’n gevierde skryfster. Ek behoort ook die Wit-Russiese skrywer Svetlana Aleksijevitsj te noem. Al hierdie skrywers is werklik woordkunstenaars uit die boonste rakke.

Lees ook:

Interview with a former refugee, Karina Szczurek

Of Slavic Souls, continued

Godsdiens, oorlog en sneeuklokkies in die winter van Oekraïne

Russians: Hostages of our own state

Die Rusland-Oekraïne-konflik: die geskiedenis en Poetin se wêreldbeskouing

Wat Hobhouse ons van Oekraïne kan leer

Oekraïne: Berigte te velde

  • 6

Kommentaar

  • Angelique v Niekerk

    Dankie aan prof. Koch en LitNet vir die 'tuis'-bring van 'n bekende historiese verhaal en tog onbegrepe ...

  • Leopold Scholtz

    Wat ’n fantastiese onderhoud. Baie dankie, prof. Koch. Jy ken daardie deel van die aarde, die kultuur en mentaliteit wat daarmee saamhang baie goed. Ek kan bevestig: dis my indruk ook dat die steun onder die Afrikaners vir Poetin feitlik uitsluitend uit regse hoek afkomstig is. Dit het, dink ek, te make met die "sterkmansindroom". In elk geval, ek wens jou en jou vrou alles van die beste toe.

  • Corlia Fourie

    Baie dankie, prof Koch, dis werklik insiggewende antwoorde. Een van my oupagrootjies, 'n Latsky, was Pools.

  • Wat 'n interessante en insiggewende uiteensetting van sowel geskiedkundige as huidige toestande, en boonop in helder en elegante Afrikaans. Dankie, prof. J. Koch.

  • 'n Verstommende uiteensetting van die hoogs ingewikkelde Oos-Europese politieke geskiedenis. Hartlik dank, Jerzy!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top