’n Huldeblyk aan Joha van Dyk

  • 0

Aan die einde van Januarie stuur Joha van Dyk vir my een van haar tipies vrolike WhatsApps en sê dat sy die hele Desembervakansie nagmerries gehad het dat ek gaan bedank by NB-Uitgewers voordat sy die Branderjaer-reeks kon klaarskryf.

En nou, Joha ... Hierdie plot twist het ons nie sien kom nie. Ons was nie gereed vir hierdie afskeid, hierdie enorme verlies nie.

As Joha se uitgewer voel dit vir my soos my plig om te praat oor hoe fenomenaal en impakvol haar skryfwerk is (ek sê “is” en nie “was” nie), en om te verhelder hoe belangrik haar literêre bydrae is en te sê watter groot leemte sy in die Afrikaanse boekewêreld laat.

Maar die afgelope twee weke het dit vir my gevoel asof ek nie ’n enkele sinvolle ding het om te sê nie. Die verlies van Joha as ’n mens, as ’n kollega, as ’n vriendin, is net te groot. Vir hierdie Sonskynweskuskind was ek baie lief. Joha het my lewe en my werk eindeloos verryk. Haar idees en entoesiasme en werksvermoë het my verstom. Elke liewe oomblik van werk saam met haar was werklik vir my lekker. Haar boodskappe en stemnotas het my altyd laat glimlag. Ons het baie gelag. Ons het lekker saam gedroom en ons verkneukel aan die wêreld van stories maak.  

En sedert 2 Februarie dink ek net by myself: Hoe broos is die lewe. Hoe broos al die planne wat ons maak, die potensiaal van ons drome. Hoe kosbaar die tyd wat ons vir mekaar geleen word.

Maar ek het besluit om nie te veel swaar en hartseer woorde te skryf nie. Want dit is nie wie Joha was nie. Sy was lig en sonskyn, sy was borrelende vrolikheid en onopgesmukte zest vir die lewe. Sy was liefde – vir al die mooi dinge. Vir skoonheid, vir musiek, vir stories, vir die natuur, vir haar familie en haar vriende. Sy was slim en oplettend en nuuskierig. Sy was ’n skepper en ’n skrywer.  

Vir almal wat lief was vir haar – veral vir haar gesin en vir Johan – wens ek daar was woorde om hierdie ding makliker te maak. Ek hoop eendag sal hulle net trots kan voel op die lewe van hierdie merkwaardige en pragtige jongmens. En weet: Joha het iets reggekry wat baie min mense wat hierdie aarde so voortydig verlaat, kans het om te doen. Sy hét ’n stukkie van haarself hier gelos. Wie sy was, hoe haar kop gewerk het, haar idees en drome oor die lewe, haar liefde vir mense, haar stem, het sy vasgeskryf in haar boeke. Dit is ’n indrukwekkende nalatenskap.

Dit is duidelik uit al die boodskappe en huldeblyke wat ingestroom het sedert die nuus van haar dood, hoe groot haar impak was. En ek weet sy gaan aanhou om mense aan te raak en ’n verskil te maak met haar werk. Daar gaan nog baie jongmense én volwassenes wees wat haar boeke gaan lees en iets van hulleself daar sal ontdek, of ervaar hoe ’n venster op ’n skrefie oopgemaak word om lig in te laat. En sonder twyfel gaan haar werk nog bestudeer en ondersoek word vir die verruimende effek wat dit op die jeugboekwêreld in Afrikaans gehad het. Vir die stem wat sy aan hierdie generasie wou gee – aan die buitestanders en die randfigure; aan die jongmense wat ten spyte van alles waarmee hulle moet deal in hierdie deurmekaar land en wêreld van ons, steeds kaalvuis baklei vir dit wat hulle eie is. Vir liefde.

Joha, die Branderjaers is nou deel van jóú nalatenskap. Ons sal mooi na hulle kyk. En ek belowe jou, as daar ’n manier is om Jak en Ellis se storie klaar te maak, sal ons dit vind.

Dit is ’n welbekende konsep in die literatuur en die kunste dat daar in swaarky en hartseer ook skoonheid kan wees – soos die balans van lig en donker in die wêreld.

In haar kort lewe het Joha ook swaarkry, persoonlike worsteling en seer verlies geken. En met daardie ervaring kon sy met baie volwasse insig en nuuskierigheid oor moeilike temas skryf en by die leser ’n diep emosie uitlok om die skoonheid daarin te ervaar.

As ’n afskeidgeskenk en ’n huldeblyk aan ’n mens wat vir mooi woorde geleef het, het ek dus gaan soek vir iets om voor te dra. En ek was dankbaar om te kon leen by Marlene van Niekerk (een van mý eertydse mentors), wat hier skryf oor heengaan as ’n soort terugkeer, oor hoe die nuuskierige oog skoonheid en hoop in alles kan sien – selfs die dood.

Mei

(Nedereindse Plas 2012)

Marlene van Niekerk

As mens deur ’n verkyker die dood soos fluitekruid kon afloer,
haar in haar onderblom van onmoontlike kant kon nader
by awendlig, die werweling muskiet om haar steë
soos sonnestelsels fyn spinnend in die binneoor,
as jy haar kon inkatrol aan die netvlies soos die godkromme
van ’n swanenek met monstermasker swart-oranje,
die syig kwispelende swemkuns tot in die webbe kon deurskou,
as mens haar opgeblaas op die retina kon binnekoggel
soos die vlugtige koekoek en sy spikkels uit die gemarmerde
lugte van Mei, jou kon verdroom by haar intieme wappering
soos deur ’n veldteleskoop jy die blaar van die fluisterpopulier
se groen en silwer tweespalt twyfelloos aan die hart kan hou,
hoe graag sou mens dan na haar ingaan, voortydig selfs,
met uitvergrote oorgawe soos ’n kind, sy gesig gedruk
in malse gras, hoe maklik oplos in die wete van ’n digbysyn
aan haar onmeetlike detail.

Rus sag, liewe Joha. Ons sien jou steeds.

Lees ook:

Joha van Dyk (1997–2025)

Cliff-hanger: Joha van Dyk het haar siel in haar woorde vasgeskryf

Elders gesien: Dit moet ’n ander Joha wees

Elders gesien: Dit was ’n voorreg om Joha se werk uit te gee

Elders gesien: Joha se afsterwe is ’n reuseverlies vir Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top