Elders gesien: Dit was ’n voorreg om Joha se werk uit te gee

  • 0

NB-Uitgewers skryf op Facebook:

NB-Uitgewers en Human & Rousseau bring hiermee hulde aan die geliefde skrywer Joha van Dyk, wat gister op 27-jarige ouderdom oorlede is.

Joha van Dyk het grootgeword op ’n plaas in Kleinzee teen die Namakwalandse Weskus. Haar PHD-tesis Diamonds are forever: (Re)Building the archive of a prototypical mining town wat sy aan die Universiteit Stellenbosch onderneem het, was in die finale fase en het gehandel oor Namakwalandse storievertelling. Met hierdie proefskrif het sy gehoop om toekomstige navorsing en die bewaring van Namakwaland se mondelinge tradisie aan te moedig.

Van Joha se gedigte en kortverhale is opgeneem in Penseel en Versindaba. Haar eerste roman, Branderjaer, verskyn in 2020 toe sy ’n skamele 23 jaar oud was. Daarna volg die tweede boek in die Branderjaer-sage, Vuurvreter, in 2022 en Kanniedood in 2023.

In 2022 is sy aanvaar vir die Humboldt Universiteit-kortkursus “The Berlin Wall and the Cold War Era” in Berlyn. Sy ontvang die Dudley D’Ewes-beurs en die Harry Crossley-beurs en word ook gekeur vir befondsing van die Nasionale Navorsingsfonds (NRF) om haar PhD te voltooi. In 2024 is sy aangewys as naaswenner in die Kaapse Wynlanddistrik se toekenning vir Fenominale Vroue vir die Bevordering van Afrikaans.

“Joha se verbeeldingryke werk het die ervaring van jong mense in Suid-Afrika op ’n unieke manier beskryf, wat tieners weer opgewonde kon maak om boeke in Afrikaans te lees. Dit is ongehoord dat skrywers op so ’n jong ouderdom al so bekwaam was om ’n stem aan hul generasie te gee,” het haar uitgewer, Simone Hough, gesê.

Dit was ’n groot voorreg om vir Joha te ken en haar werk uit te gee.

Lees ook:

Elders gesien: Dit moet ’n ander Joha wees

Elders gesien: Joha se afsterwe is ’n reuseverlies vir Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top