An-Mari Do Carmo skryf op Facebook:
Ek het vanoggend net gaan sit in die kerk, toe kry ek die boodskap dat Joha van Dyk weg is. Ek het geweier om dit te glo. Dit kan nie waar wees nie. Dit moet ’n ander Joha wees. ’n Cruel grap. ’n Aaklige misverstand. Sy is dan net 27. Gesond. Sy moet dan nog die Branderjaers klaarskryf, en haar PhD kry, en so baie ander boeke skryf. Sy gaan dan eendag een van die Grotes in die Afrikaanse boekwêreld wees.
Die res van die diens het ek in die kerk se badkamer gesit en huil terwyl ek desperaat deur sosiale media en die nuus blaai en hoop dit is nie waar nie. Ek wil vir haar ’n boodskap stuur en vra om vir my te sê dis net ’n slegte rumour. Almal met wie ek praat, is in skok. Niemand wil dit glo nie. Dit kán nie waar wees nie.
Maar dit is.
Ek bly haar heeltyd voor my sien. Altyd laggend en warm. Altyd met haar rekenaar of notaboek voor haar. Sy was vir my so ’n inspirasie. Ek het gedink ons gaan nog lank skryfvriende wees, deel van die klub “onder 30-skrywers”, van boekfees tot boekfees saam kuier, lag oor mense nie ons name kan reg uitspreek nie.
My hart wil dit nog steeds nie glo nie. Ons gaan jou verskriklik mis, Joha. Jy laat ’n leemte in ons harte en in ons boekrakke agter.
Lees ook:
Elders gesien: Joha se afsterwe is ’n reuseverlies vir Afrikaans
Elders gesien: Dit was ’n voorreg om Joha se werk uit te gee