
Foto deur Cliffordene Norton verskaf
- Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
“Waag of waarheid?” het die skrywer Joha van Dyk in 2022 tydens Woordfees in my kopie van Branderjaer geskryf.
Ek het die boek teen my vasgedruk, ons het vir vyftien, miskien twintig minute gesels, en toe moes sy hardloop. Eers daardie aand, alleen in my gastehuiskamer, het ek haar boodskap behoorlik gelees. My antwoord op hierdie vraag was onmiddellik: Albei.
Waag én waarheid.
Ek het my kopie van Branderjaer op 2 Februarie 2025 weer uit die rak gehaal, net ná ek skrywer Martelize Faber se Instagram-plasing oor Joha se Branderjaer-reeks gesien het. Ek het die onderskrif twee, drie keer gelees, maar die woorde het nie sin gemaak nie. “Joha” en “RIV” het nie in een sin behoort nie.
Ek het Facebook oopgemaak en An-Mari Do Carmo se huldeblyk raakgelees. Toe nóg een. En nóg een. Dosyne plasings later kon ek dit steeds nie glo nie. Ek was nie net geskok nie – ek was afgestomp. Dit het nie moontlik gevoel nie.

Branderjaer deur Joha van Dyk (Human & Rousseau)
Die verlies van 2024
Ek het nie vir Joha van Dyk persoonlik geken nie. Ek het haar een keer ontmoet en haar op sosiale media gevolg. En ek was ook arrogant genoeg om te dink dat geen skrywer se dood my ná 2024 weer só sou skok nie.
Aan die einde van 2024 het dit gevoel asof elke keer wanneer jy jou omdraai, nóg ’n Afrikaanse skrywer die pad na die hemel gestap het. Met Anastasia de Vries en Breyten Breytenbach was my hartseer persoonlik. Ek en Anastasia het in een kamer gebly tydens die LAPA Uitgewers/Kuier/PEN Afrikaans-skryfskool. En Breytenbach se woorde? Ek het dit die eerste keer op 7de Laan gehoor. Sy poësie het ’n liefde in my laat ontwaak op ’n tydstip toe ek geglo het gedigte is nie vir my bedoel nie.
Maar toe tref Joha se dood my. Mag ek so voel? Mag ek haar rou?
“Kom,” het my niggie en woonstelmaat my uit die huis getrek. Ons het park toe gegaan met ons honde, en ek het die mooi in die dag raakgesien. Dit was 2 Februarie. Ek was reeds uitgebrand. En een van Afrikaans se helderste sterre het pas verskiet.
Hoe kan ek steeds die mooi raaksien? Of dalk móét ek juis die mooi raaksien?
Terug by die huis het ek weer An-Mari se woorde gelees en geglimlag toe ek by hierdie deel kom:
Ek het gedink ons gaan nog lank skryfvriende wees, deel van die klub “onder 30-skrywers”, van boekfees tot boekfees saam kuier, lag oor mense nie ons name kan reg uitspreek nie.
Ek kon dit voor my sien – die blonde en die rooikop/brunet, twee skrywers wat die uitsonderlike hart van tienerwees kon oopskryf. Hoe het hul uitgewershuise dit nog nie benut nie? Dit sou wonderlik gewees het. Dalk sou dit jong lesers, dié wat nog moet ontdek dat boeke vir húlle is, na boekfeeste gelok het.
Die verlies van mense
Sodra ek weer “RIV” en “Joha” sien, sak my hart. Hoekom raak dit my só? Ja, sy was jonk. Ja, sy was briljant. Maar ek het haar nie goed geken nie. Sy was nie ’n beste vriendin of familielid nie.
........
Ek weet net dit: Joha het haar siel in haar woorde vasgeskryf. En ek, en soveel ander, het daardie woorde in ons harte gehou.
........
Ek kan my nie eens begin indink hoe haar geliefdes moet voel nie. Mag ek iets skryf? Verdien hulle nie stilte om in vrede te rou nie? Bring hierdie woorde vir hulle troos, of beklemtoon dit net die verlies en hartseer?
Ek weet net dit: Joha het haar siel in haar woorde vasgeskryf. En ek, en soveel ander, het daardie woorde in ons harte gehou.
Ek het gedink aan Marina Keegan se The opposite of loneliness, ’n versameling essays en verhale wat haar ouers ná haar vroeë dood uitgegee het. Marina het vyf dae ná haar gradeplegtigheid in ’n motorongeluk gesterf. In een van haar gedigte, “Bygones”, staan hierdie reëls:
“Do you wanna leave soon?”
“No, I want enough time to be in love
with everything.”
In haar beroemde essay wat aan die boek sy titel gegee het, het Marina geskryf:
“We’re so young. We’re so young.”
Dis iets wat bygedra het tot die skok van Joha se verlies. Sy was so jonk; wat kon sy nie nog bereik het nie.
Ek het my kop geskud. Sy het rééds baie bereik. Sy was iemand wie se potensiaal reeds gestalte gevind het.
Haar woorde leef voort. Drie gepubliseerde boeke (dalk dosyne ongepubliseerdes), gedigte wat nog gelees en onthou sal word. Eendag gaan iemand Branderjaer optel – dalk ’n tiener wat nie weet wie Joha was nie – en hulle gaan hulself daarin vind. Of daarin verlore raak.
Ek het nie ’n woord daarvoor nie, maar dis meer as net “potensiaal”.
RIV, Joha.
Jy het ’n deel van jou siel in Afrikaans vasgeskryf.
Bronne
Keegan, M. S j. The opposite of loneliness [Essay]. https://www.theoppositeofloneliness.com/essay (10 Februarie 2025 gebruik).
—. 2014. The opposite of loneliness: Essays and stories. Simon & Schuster. https://www.simonandschuster.com/books/The-Opposite-of-Loneliness/Marina-Keegan/An-Inspirational-Bestseller/9781476753911 (10 Februarie 2025 gebruik).
Lees ook:
Elders gesien: Dit was ’n voorreg om Joha se werk uit te gee
Elders gesien: Joha se afsterwe is ’n reuseverlies vir Afrikaans
23-jarige student Joha van Dyk se debuutroman landswyd gepubliseer

