23-jarige student Joha van Dyk se debuutroman landswyd gepubliseer

  • 0

Joha van Dyk

’n Jong student aan die Universiteit Stellenbosch se debuutroman is onlangs landswyd gepubliseer. Die 23-jarige Joha van Dyk, wat tans besig is met haar meestersgraad in Engels, se Afrikaanse roman, Branderjaer, het middel-Oktober op winkelrakke verskyn.

Human & Rousseau het 2 500 eksemplare van die roman uitgegee, en vir Joha is dit maar nog net die begin van haar skryfloopaan.

Joha vertel meer.

Joha, vertel asseblief hoe dit gekom het dat jy op 23-jarige ouderdom jou eerste boek publiseer het? Neem ons asseblief deur die proses van hoe dit realiseer het.

Ek was al aan die skryf vanaf ’n jong ouderdom en dit was nog altyd my droom om ’n skrywer te wees. Ek het op ’n punt gekom in my derde jaar op universiteit waar ek net besef het, “Wel, ek wou nog altyd ’n skrywer wees; hoe lank wil ek nou nog wag voordat ek kanse begin waag en my manuskripte instuur vir publikasie?” Ek het begin werk aan ’n manuskrip, wat toe aanvaar is deur Human & Rousseau. In 2019 was ons besig om dit te proeflees en te herskryf toe ek die eerste keer die woord “branderjaer” hoor.

Ek het begin werk aan die verhaal van Branderjaer, maar baie informeel – net notas en dialoog hier en daar. Teen die einde van 2019 het die ander manuskrip nie gerealiseer nie – ek wou in ’n ander rigting gaan met die manuskrip – en toe nooi Simone Hough (my uitgewer) my vir koffie by Media24. Sy het gevra dat ek idees moet saambring en ek het toe vir haar vertel van Branderjaer. Sy het vir my haar kaartjie gegee en gevra dat ek haar e-pos wanneer ek ’n manuskrip het.

Joha met ’n eksemplaar van Branderjaer

Ek het toe druk begin werk aan Branderjaer en binne so twee tot drie maande was dit klaar. Ek en my ma het dit so tussen ons geproeflees en redigeer voordat ek dit ingestuur het na Simone, en op 2 September 2019 het ek uitgevind ek gaan gepubliseer word en my kontrak ontvang. Daarna was dit natuurlik baie redigering – ek het ook in die begin van lockdown baie dele van die boek herskryf, hoofstukke oorgeskryf in ander perspektiewe, karakters en tonele gesny. Maar dit was alles vir die beste, want ek is ongelooflik tevrede met die eindproduk.

Joha by ’n bekendstelling van haar boek

Hoe was dit vir jou om die eindproduk op winkelrakke te sien?

Onwerklik. Daar is baie woorde wat mens kan gebruik om daardie gevoel te beskryf, maar uiteindelik is dit my droom om ’n skrywer te wees. Dit was my droom om gepubliseer te word, en om die boek daar te sien, op die rak, is my droom wat waar word.

Die hele proses van publikasie is baie lank, so daar is hierdie klein “bursts” van emosie – wanneer jy die manuskrip kry en daar is goeie kommentaar; wanneer jy die eerste keer die voorblad/agterblad sien; wanneer jy die boek kan onthul aan die publiek; wanneer jy jou eerste onderhoud doen; wanneer jy die boek fisies vashou. So, in daardie oomblik het dit gevoel asof ek al daardie klein oomblikke van ekstase op een slag beleef; dis asof alles saamgekom het uiteindelik. Kortliks … dit was onwerklik en net …’n oomblik van pure geluk.

Jy sê dit is iets wat jy nog altyd wou doen ...?

Definitief. Ek het nog altyd gedroom daaroor om ’n skrywer te wees en om gepubliseer te wees. Ek onthou hoe ons by kuiers of braaie met mense gesels en wanneer hulle vra “Wat doen jy?” of “Wat wil jy doen?”, het ek altyd gesê ek wil ’n skrywer wees. Toe ek die kontrak geteken het en dit begin werklik word dat dit gaan gebeur, kon ek uiteindelik sê “Ek is ’n skrywer”, alhoewel my vriende eers vir my moes por om dit te sê.

Wat beteken dit vir jou om hierdie mylpaal op so ’n jong ouderdom te bereik en wat is jou raad vir ander jongmense wat ook graag hul werk wil laat publiseer?

Ek voel baie gelukkig. Baie lucky. Ek wou ’n jong skrywer wees; ek wou vroeg begin juis omdat ek nog so baie stories het om te vertel, en om nou in die posisie te wees waar ek dit kan doen, beteken alles vir my. Ek dink ons het ’n leemte vir ander jong skrywers en ek hoop daar is nog baie meer wat die kans waag en hulle werk instuur vir publikasie.

Dis intimiderend – die idee dat almal jou werk gaan lees, dat jy moontlik gekritiseer gaan word of getypecast gaan word as ’n sekere skrywer – maar dis eintlik onbelangrik. My beste raad aan jong skrywers is: “Skryf net. En skryf álles neer.” Branderjaer het begin by ’n woord wat my op ’n baie lukrake oomblik gevang het.

Ek was nie op soek na ’n nuwe storie nie, maar die storie het my gevind. Inspirasie en idees kom op die vreemdste oomblikke, so skryf dit neer. As iets jou laat vashaak – ’n mooi liriek, ’n woord van ’n vreemdeling, ’n naam, iets wat voor jou gebeur, ’n storie wat jy hoor – skryf dit neer. Jou volgende verhaal lê dalk in een van daardie woorde. So … skryf net.

Vertel asseblief meer oor die inspirasie agter die boek?

Vir my 21ste verjaarsdag het my ma hierdie lekker gesin-celebration gereël in die Kaap – ons was toeriste in ons eie land! Ons het die rooibus gedoen, Tafelberg ens. Op die rooibus het ek die woord “branderjaer” gehoor en eers gehuiwer voordat ek dit neergeskryf het in my notaboek, maar dankie tog ek het! ’n Paar maande later toe sien ek weer die woord in my boek en haak daarby vas. Ek het ’n gevoel gehad ek moes iets daarmee doen en het toe in ’n blokkiesraaiselwoordeboek rondgeblaai vir “prompts”, vir sinonieme onder andere, enigiets om net vir my idees te gee of wat my in ’n rigting kan stuur.

Ek kom toe af op die woord “ekstremis” en langs dit was die woorde “kanniedood”, “vuurvreter”, “stokebrand”, “bittereinder” en “klipvreter”. Ek besef toe … hier is my karakters. Van daar af het ek deur gesprekke, flieks en net … die verloop van die lewe die res van die verhaal ontwikkel. Ek voel nooit asof ek dit uitdink nie; dit voel meer asof dit nog heeltyd daar was – ek moet net stuk vir stuk “onthou” of dit “uit figure” soos was ek aangaan.

Op winkelrakke

Jy is tans besig met jou meesters in Engels. Hoe het dit gekom dat jy ’n boek in Afrikaans publiseer?

Ek was altyd van plan om in Engels te skryf, maar in my tweede jaar op universiteit het ek al hoe meer Afrikaans gelees, veral gedigte en toe later self begin dig. Afrikaans het vir my lekker geword om in te skryf. Ek skryf heeltyd in Engels, maar in ’n akademiese konteks – met my Meesters kon ek nou weer ’n slag kreatief raak in Engels – maar dit was ’n goeie kontras om vir die lekkerte in Afrikaans te kon skryf. Dit het ook baie temake met die verhaal, met die storie. Branderjaer sou nie in Engels kon begin nie. Ek het aan Branderjaer begin werk en dit was net natuurlik om in Afrikaans te skryf.

Jy kom van die Namakwaland, maar studeer Engels - hoe het dit gebeur?

Dis altyd die nommer 1-vraag. Mense doen nogal ’n double take en vra: “Wag, wat?” Ek is baie lief vir lees al van ’n jong ouderdom af en ek het redelik baie Engelse boeke gelees. Ek het ook ’n wonderlike Engels-onderwyseres gehad in laerskool, Mrs T, wat my liefde vir Engels aangemoedig het.

Ons het ook ’n gastehuis op ons plaas, so van kleins af is ek omring met baie interessante, dikwels buitelandse gaste wat met my Engels gepraat het en dit het definitief ’n invloed gehad. Dit was ook redelik natuurlik – ek was nog altyd net lief vir tale, maar dit kom dikwels hand aan hand met ’n liefde vir lees.

Joha in die Namakwaland

In my derde jaar het ek amper nie aansoek gedoen vir my English Studies-honneurs nie, want ’n medestudent het my laat twyfel of ek goed genoeg is. Gelukkig het Darren Carolissen, my vriend van hoërskooldae wat altyd my stories en skryfstukke gelees het tydens Drama-periode, my aangemoedig om dit as my eerste keuse op te sit. Ek het nog my TEFL-kursus gedoen daardie November, omdat ek so vroeg klaar eksamen geskryf het, en ek het besluit dat as ek nie inkom vir Engels nie, gaan ek net oorsee en gee Engels. Ek is baie bly ek het ingekom, want my honneursjaar in 2019 was seker die beste jaar van my hele universiteitsloopbaan.

Sal jy in die toekoms daarna kyk om ’n boek in Engels ook publiseer?

Ja, ek het ’n paar stories waaraan ek aan-af werk en ek sal hulle graag wil uitbrei en klaarmaak. Ek het onlangs fiktiewe kortverhale geskryf oor Kleinzee, die dorp waar ek op laerskool was, waarbuite ons plaas geleë is, so ek sal graag wil kyk of daar potensiaal daar is vir ’n groter projek.

Joha teken ’n eksemplaar

Wat hou die toekoms vir jou in? Jy oorweeg dit om jou PhD te doen? Sal jy nog boeke wil skryf?

Ek wil graag volgende jaar met my PhD begin. Voorlopig gaan ek nog ’n rukkie in Stellenbosch wees en ek is tans druk besig met ’n opvolg vir Branderjaer. Sodra my meestersverhandeling ingelewer is, gaan ek aandag gee aan my PhD-proposal en die volgende boek. Ek is tans op soek na werk vir volgende jaar, so ek is konstant op LinkedIn. Ek werk ook aan ’n bucket list vir volgende jaar– ek het besef ek is al amper ’n dekade in Stellenbosch en ek het nog nie naastenby alles gedoen wat ek wou nie, so ek maak ’n lys van moontlike avonture vir volgende jaar en hopelik kan ek ’n bietjie aandag gee aan dit in 2021.

  • Foto's: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top