’n Getekende kontrak is dalk nie wat jy dink nie – ’n onderhoud met Robert de Rooy van Creative Contracts

  • 0

Rob de Rooy (foto: https://creative–contracts.com/our–team/)

Op 6 September vanjaar het Robert de Rooy van Creative Contracts op RSG vir Martelize Brink van sy toeganklike kontrakte vir plaaswerkers in strookprentformaat vertel. Die kontrakte is geregistreer as Comic Contracts.

Luister hier na die potgooi van die program.

Robert de Rooy praat met Naomi Meyer hieromtrent.

Robert, die gesprek oor jou werk en waarmee jy besig is, het my verbeelding aangegryp. Hoe lank spits jy jou al toe op kontrakte?

As praktiserende prokureur, al 25 jaar. Maar my belangstelling in hoe om kontrakte te maak vir mense wat nie normale kontrakte maklik kan lees nie, die laaste agt jaar.

As regstudent leer mens altyd van die elemente van ’n kontrak, asof dit die alfa en omega is. Maar die kern van ’n kontrak, het jy so duidelik in die radiogesprek uitgespel, is verstaanbaarheid. Wil jy asseblief jou oplossing met ons lesers deel?

Ja, daar is allerhande teorieë oor hoekom en wanneer ’n kontrak tot stand kom, wat die noodsaaklike elemente is of nie, ens. Die boeke is dik en niemand stem oor alles saam nie. Maar vir die meeste mense is ’n kontrak ’n gesprek of ’n dokument wat twee partye se ondernemings en regte vervat en wat hulle dan deur middel van ’n gebaar of handtekening bevestig.

Die probleem is dat die tipiese kontrakte wat die meeste mense teëkom, baie moeilik is om te lees en moeilik is om te verstaan; en dit is moeilik om al die terme te onthou.

.......

Dit is moeilik selfs vir belese mense, so hoe moeilik is dit dan nie vir mense wat min lees, of min kan lees nie. Veral mense soos plaaswerkers, sekuriteitswagte en huiswerkers. En dan dink ’n mens ook aan mense vir wie die kontrak se taal nie hul eerste of tweede taal is nie. Boonop is die omstandighede waarin sulke mense kontrakte moet lees en teken baie keer glad nie geskik daarvoor nie.

........

Dit is moeilik selfs vir belese mense, so hoe moeilik is dit dan nie vir mense wat min lees, of min kan lees nie. Veral mense soos plaaswerkers, sekuriteitswagte en huiswerkers. En dan dink ’n mens ook aan mense vir wie die kontrak se taal nie hul eerste of tweede taal is nie. Boonop is die omstandighede waarin sulke mense kontrakte moet lees en teken baie keer glad nie geskik daarvoor nie. Die probleem is dat as jy nie weet wat jou regte is nie, dan het hy nie regte nie, en dis nog erger vir mense wat hulself vas teken met kontrakte wat hulle nie verstaan het nie. 

Dit was die kwesbaarheid van mense in die omstandighede wat my laat wonder het hoe ons dit makliker kan maak om kontrakte te lees, te verstaan en te onthou. En ek het toe begin oplees oor visualisering van inligting en begin eksperimenteer hoe om klousules in ’n prentjieformaat akkuraat weer te gee.

.......

Dit was die kwesbaarheid van mense in die omstandighede wat my laat wonder het hoe ons dit makliker kan maak om kontrakte te lees, te verstaan en te onthou. En ek het toe begin oplees oor visualisering van inligting en begin eksperimenteer hoe om klousules in ’n prentjieformaat akkuraat weer te gee.

......

En dit het gelei tot die ontwikkeling van die eerste Comic Contract wat ons in 2016 in Letsitele aan 250 plukkers op een van die ClemenGold–plase voorgelê het en wat geteken is.

Fotobron: https://creative–contracts.com/examples/

Ek het besef dat in ’n land soos Suid–Afrika hierdie gedagte revolusionêr is – ’n kontrak wat in prente geteken is, sodat ongeletterdes dit begryp. Iets wat nie vir iemand vertel of verduidelik word nie. Iets wat hulle self verstaan. Nie net is daar baie ongeletterdes in ons land nie, maar ook soveel tale. Waarom het jou werk begin by verstaanbare kontrakte vir plaaswerkers

Ons doelwit is dat almal, en veral ongeletterde mense, die menswaardigheid moet ervaar om selfstandig hul kontrakte te kan lees en verstaan. Kontrakte is die gom wat ons markekonomie aanmekaar hou, en dis eintlik onaanvaarbaar dat so ’n belangrike en alomteenwoordige ding soos ’n kontrak so argaïes en ontoeganklik bly vir ’n groot gedeelte van ons samelewing.

Ons het om verskeie redes met plaaswerkers begin. In my regspraktyk het ek ’n kliënt, ClemenGold, wat eerstens bereid was om my finansieel te ondersteun om die idee te realiseer. Terselfdertyd is ongeletterdheid bo gemiddeld onder plaaswerkers, en kon ons dit dan ook met hul plaaswerkers toets.

Verduidelik asseblief hoe so ’n kontrak prakties werk.

......

In die meeste gevalle gebruik ons kliënte reeds ’n gewone skriftelike kontrak. Ons ontleed die kontrak om ontslae te raak van foute, klousules en bewoording wat nooit van toepassing is nie en orden die inhoud in ’n logiese volgorde.

Dan herskryf ons die inhoud as ’n eenvoudige draaiboek. Dis ’n proses waaraan almal kan deelneem en insette in kan lewer. Hier beskryf ons die karakters, die agtergrond en hoe ons dink die inhoud van ’n klousule gevisualiseer kan word.

.......

In die meeste gevalle gebruik ons kliënte reeds ’n gewone skriftelike kontrak. Ons ontleed die kontrak om ontslae te raak van foute, klousules en bewoording wat nooit van toepassing is nie en orden die inhoud in ’n logiese volgorde.

Dan herskryf ons die inhoud as ’n eenvoudige draaiboek. Dis ’n proses waaraan almal kan deelneem en insette in kan lewer. Hier beskryf ons die karakters, die agtergrond en hoe ons dink die inhoud van ’n klousule gevisualiseer kan word. Dis lekker, want jy kan jou verbeelding vrye teuels gee en jy hoef nie prentjies te kan teken (ek kan nie) om deel te neem nie.

Dan vat die illustreerders en ontwerpers die draaiboek en hulle skep konseptuele tekeninge waarop ons dan kommentaar lewer om aan te pas soos nodig. Wanneer die illustrasies goed genoeg is, sal ons dit met die kliënt deel vir verdere kommentaar en idees. Dan word die illustrasies oorgedoen met fyner lyne en met kleur, sodat dit aantreklik begin lyk.

Dis op dié stadium dat ons dan vra dat ons kliënt die kontrak se inhoud toets met ’n groep van die werkers vir wie die kontrak bedoel is. Ons neem daai terugvoer en pas die kontrak verder aan. Daar is altyd soveel belangrike en interessante dinge wat ’n mens leer as ’n mens bereid is om te luister. Maar dis ook belangrik dat mense voel hulle word geken in die opstel van ’n dokument wat nie net regstegnies belangrik is nie, maar ook baie keer simboliese waarde het vir mense wat op die buitekringe van die formele samelewing bestaan.

Daarna doen ons die laaste afwerking van die kontrak, en doen die skakerings van die kleure, ens, en dan doen ons die vertalings van die opskrifte en enige bewoording wat in die kontrak is, in die plaaslike tale, en dan word die kontrakte gedruk en by die induksie van die werkers uitgedeel vir hulle om te lees en te teken.  

Fotobron: https://creative-contracts.com/examples/

En ook: Wat van die fynskrif? Daar is tog altyd fynskrif. Hoe beeld mens dit met prente uit?

Fynskrif is gewoonlik kontrakbepalings wat, nadat die geld gevat is, al die risiko op die swakste kontrakparty wil plaas. Dis maklik as die bepalings in fynskrif of in lang moeilike sinne met groot woorde geskryf is, want dit word tegelykertyd geïgnoreer en as onafwendbaar beskou. Maar as ’n mens daai terme visualiseer, kan dit soms lelik lyk, en dwing dit soms ons kliënte om mooi daaroor te dink en dit aan te pas om hulle kontrakbepalings meer regverdig en menslik te maak.

Die ander aspek van jou vraag is of daar fynskrifbepalings is wat dalk nie gevisualiseer kan word nie. In ons ervaring tot dusver het ons nog nie ’n kontrakbepaling teëgekom wat ons nie kon verbeter deur dit ten minste gedeeltelik te visualiseer nie. Selfs al is daar nog gewone teks as deel van die visualisering, of tesame met die visualisering, is dit baie meer motiverend en makliker vir mense om dit te lees en verstaan in die konteks van ’n relevante uitbeelding. Ongeletterdheid is baie min absoluut, maar daar is baie min mense wat kontraktaal wil of kan lees en verstaan.

......

Selfs al is daar nog gewone teks as deel van die visualisering, of tesame met die visualisering, is dit baie meer motiverend en makliker vir mense om dit te lees en verstaan in die konteks van ’n relevante uitbeelding. Ongeletterdheid is baie min absoluut, maar daar is baie min mense wat kontraktaal wil of kan lees en verstaan.

.......

Is dit nie van waarde as aspekte van ’n kontrak juis ’n bietjie verskuil is, sodat mense makliker met iets kan wegkom nie? Ek dink nou aan ’n wêreldwye pandemie wat niemand kon voorsien nie. Hoe sou mens iets soos vis major in ’n kontrak kon uitbeeld – en sou mens nie juis jou maatskappy wou beveilig deur dit nié so vir albei partye uit te stippel nie?

Dit is ongelukkig so dat die party wat die kontrak opstel, onder die versoeking staan om die werklike implikasie van die bepalings so ’n bietjie te verskuil. Die meeste prokureurs weet jy kan ’n klousule so skryf dat dit nie so erg lyk nie. Daar is allerhande maniere waarop dit elke dag gedoen word. Die partye word byvoorbeeld altyd in die derde persoon beskryf. Negatiewe aksies word in die passiefvorm beskryf en ons gebruik lang sinne en sagter woorde. In plaas van “Ek gaan jou kar kom vat” sal daar staan “Die krediteur sal geregtig wees om te vereis dat die debiteur se kar te eniger tyd deur die krediteur se genomineerde diensverskaffer verwyder kan word.” Die gekonkel skep net ellende, en veral met ongeletterde mense, want die implikasies van om iets nie te doen of nie te betaal nie word weggesteek, en dus kan hulle nie hul besluite daarop rig nie. Ons het ’n huiswerker gehad wat altyd finansiële probleme gehad het. Ons het toe vasgestel die arme man het al R43 000 betaal aan ’n R6 000–televisie en R8 000–kas wat hy agt jaar tevore by ’n meubelkettingwinkel gekoop het omdat hy nie die fooie, strafbetalings en saamgestelde rente verstaan het nie. Die tragedie was nie net laakbare finansiële uitbuiting nie, maar die feit dat sy kinders se opvoeding ook amper daaronder gely het, want hy het byna sy kinders uit die skool gehaal omdat hy nie die klein bietjie skoolfonds kon betaal nie. Ons kon hom help, maar hoe baie ellende word daar nie geskep deurdat die maatskappye wat soveel spandeer op bemarking, nie net ’n bietjie moeite doen om kontrakte toepaslik verstaanbaar te maak nie.

.......

Ons het ’n huiswerker gehad wat altyd finansiële probleme gehad het. Ons het toe vasgestel die arme man het al R43 000 betaal aan ’n R6 000–televisie en R8 000–kas wat hy agt jaar tevore by ’n meubelkettingwinkel gekoop het omdat hy nie die fooie, strafbetalings en saamgestelde rente verstaan het nie. Die tragedie was nie net laakbare finansiële uitbuiting nie, maar die feit dat sy kinders se opvoeding ook amper daaronder gely het, want hy het byna sy kinders uit die skool gehaal omdat hy nie die klein bietjie skoolfonds kon betaal nie.

.........

Vis major is toevallig een van die klousules wat juis baie lekker is om te visualiseer, want dit behels goed soos oorlog, vloede en winde.    

Wat is volgende? Wat van mynwerkers, wat van huiswerkers? Wat van sprekers van minderheidstale, of mense wat oor en weer moet verstaan wat onderteken word, maar hulle kan nie mekaar se tale praat nie? Hoe kies mens die vakgebied of arbeidsgebied vir wie sulke kontrakte opgestel sou kon word, om dit so te noem? Wat van internasionale toeriste? Die moontlikhede is eintlik legio.

Ons volgende groot projek is huiswerkers. Die uitdaging is anders, omdat dit nie een kliënt is met ’n spesifieke kontrak en ’n klomp mense wat moet teken nie, maar een kliënt waar ons voorsiening moet maak vir ’n verskeidenheid opsies, en met een of twee werkers. Maar ons het dit gedoen, en dit word binnekort getoets met vriende en familie voor ons mark toe gaan. Dis beskikbaar in Afrikaans, Engels, Xhosa en Zoeloe.

Dink jy ons beweeg in ’n wêreld in waar woorde al minder belangrik word? Waar kontrakte dalk al hoe minder in omslagtige taal beskryf sal word? Maar tog: Is daar nie ook waarde aan hierdie struktuur nie? Wat beskou jy as voordele aan ’n gewone, outydse kontrak – wat woorde in Latyn bevat wat die algemene geletterde leser in elk geval nie sal kan verstaan nie?

......

Die doel van ’n kontrak is vir partye om ’n suksesvolle transaksie of verhouding te kan hê.

.......

Die doel van ’n kontrak is vir partye om ’n suksesvolle transaksie of verhouding te kan hê. As dit die doel is, dan is dit vanselfsprekend dat dit wat gedoen of nie gedoen moet word nie, duidelik en maklik verstaanbaar gemaak moet word. Om ’n kontrak aan iemand voor te lê wat moeilik is om te verstaan is dus dom of dis uitbuiting.

Wat is alles kontrakte? Die gunstelingvoorbeeld op universiteit is mos altyd Kontraktereg 101 – as jy ’n brood koop en jy het die geld gegee en kry ’n kwitansie/strokie en die brood, het ’n kontrak tot stand gekom. Maar wat nog alles? As mens by die strand gaan stap en daar is ’n prent van ’n hond en ’n streep deur hom getrek, is dit ’n kontrak? En so aan.

Baie mense dink ’n kontrak is ’n kontrak slegs as dit ’n dokument is wat lyk soos ’n muur van swart en wit teks. Maar kontrakte kan mondelings wees, of stilswyend, soos die voorbeeld wat jy noem. Dis ook in dié opsig dat daar geen beginselbeswaar kan wees teen ’n prentjiekontrak nie, want ’n prentjiekontrak is maar net nog ’n manier om die bepalings van die kontrak vas te lê.

Wanneer die kontrak baie prentjies het, is dit baie maklik om die teks in verskillende tale te vertaal en so beskikbaar te stel. Ons toets onsself om te sien of die prentjies goed genoeg is en as kontrak vir ons verstaanbaar is, selfs al is dit in ’n taal wat ons nie ken nie. (Ons is mos maar almal ongeletterd in al die tale behalwe die een of drie wat ons ken.)

So ’n kontrak is eintlik ’n revolusionêre oplossing vir baie terreine, en ook in ’n land waar almal in die hof die betrokke taal moet kan praat om te kan deel neem aan die hofprosedure.

Korrek. Dis een ding om ’n kontraktuele reg te hê, maar om dit te kan uitoefen moet jy ook die proses verstaan. Ons het nou juis onlangs ’n opdrag van ’n Duitse instansie ontvang om mediasieprosedures vir ’n projek in Tunisië te illustreer. Ek hoop ons sal eendag so iets ook hier in Suid–Afrika kan doen.

Lees ook:

LitNet Akademies Weerdink: COVID-19 en vis maior, kontrakbreuk en repudiëring

LitNet Akademies-onderhoud: Frederik van Dyk oor grond, grondhervorming en grondonteiening

Vonnisbespreking: Arbeidsmakelaars: Enkelwerkgewer, twee kontrakte en talle onbeantwoorde vrae

Die uitsluiting van middellike aanspreeklikheid van werkgewers in vrywaringsklousules

Aantekening: Die deliktuele klas- of groepaksie in Suid-Afrika

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top